Skip to main content

Tag: Romeine

God laat alles ten goede meewerk – Romeine 8:26-30

Jaar van die Bybel
Tema: God laat alles ten goede meewerk – Romeine 8:26-30
Youtube 09:00 19 Julie 2020 Somerstrand Familiediens

Kyk op Youtube

Kyk na kleiner video (171 MB)

Luister na klankbaan (89 MB)

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Die mense wat van Februarie die Psalms deurlees, het die week begin met Psalm 119, die langste Psalm, 172 verse! Psalm 119:65-72 wat vanoggend gelees is, se boodskap is: U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Omdat God goed is en goed eon, wil die Psalmis ons oorreed om God toe te laat om ons te onderrig.

Hoekom? Want, God se woorde, sy bevele, sy voorskrifte, sy opdragte, sy wet, en sy onderrig is die enigste goed: “Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.”

Wat ‘n voorreg om vandag as gemeente voor God te vergader sodat Hy ons kan onderrig!

Verjaarsdae

Baie geluk aan Theresa du Plessis, Sarolien Heunis, Liésl Knipe, en Graham Stander (10) verjaar vandag. Lee-Ann van Vuuren word ook 10 jaar oud hierdie week. Só ook Jason Hoops. Geluk ook aan Eben Schoeman (9), Robert Pienaar (8), Elle Marais (3) en Danie Kritzinger (2).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit C vir Christus in haar Geloofsalfabet. Ds Pieter Nel staan vir haar in. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet! https://youtu.be/IL3VkS0T4eY

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje en Cecile. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan oor die tema van ‘n verhouding met mense van ‘n ander geloof. Hoekom moet ek my geloof met iemand anders deel? Elspeth Liebenberg gaan dit hanteer.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

28 Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is. (Rom 8:28)

Kindertyd

Gebed

Loflied

Lied 154 en 220 Kom nou tesaam en Met ons harte sing ons, Here

Skriflesing en prediking

Het jy al ervaar dat dinge net heeltemal verkeerd loop?

Ek lees die ware verhaal van ‘n koor in Beatrice, Nebraska, wat die Saterdagmiddag (1 Maart 1950) sou oefen van so 19:15 af. Die predikant het die plek gereed gemaak en gou huis toe gegaan vir ‘n vinnige aandete. Hy was net reg om terug te gaan toe hy sien sy dogter se rok was vuil. Die rok wat sy toe wou aantrek, moes eers gestryk word, so hy was laat.

Een van die hoërskool meisies, Ladona, het gesukkel met haar wiskunde en wou dit eers klaarmaak. Twee ander se motor wou nie vat nie, so hulle bel toe vir Ladona om hulle op te tel, so hulle al drie was laat.

Mevrou Schuster moes haar jong dogter by haar ma gaan los, want dié wou nie saamgaan nie, en sy was laat.

‘n Ander wou eers ‘n belangrike brief skryf. Nog ‘n ander was doodgewoon lui en wou wag tot die allerlaaste minuut. ‘n Ander het die horlosie nie dopgehou nie, en so lekker gekuier dat hy ook laat was.

Die pianis Marilyn Paul wou vroeg kom, maar het aan die slaap geraap en die dirigent, haar ma, was gevolglik laat saam met haar.

Om 19:25 het die kerk opgeblaas. Die dak het ingeplof en die mure het omgeval, weens ‘n lekkende gassilinder. Maar die koorlede was almal laat. Iets wat nog nooit tevore gebeur het nie.[1]

Dit is nie verbeelding nie.

God laat alles ten goede meewerk.

Kom ons luister na wat Paulus ons hieroor wil leer.

Romeine 8:26-30

As jy nie weet wat om te bid nie

As Paulus skryf oor die lyding van hierdie wêreld, die feit dat dinge nie werk soos dit moet nie, nie in die skepping nie, ook nie in ons lewe nie, en hy praat oor die sug wat daar in ons lewe is na verandering, dan skryf hy oor die Gees en sê die volgende:

26 So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie;

Dit het al baie met my gebeur dat ek bid oor ‘n saak, maar ek nie regtig weet wat ek moet vra nie. Daar is ‘n stuk onsekerheid in my oor wat die regte pad vorentoe sal wees. En dan is ek eintlik maar net stil voor die Here.

Soms is die stilte so lank dat ek eintlik by myself wonder of ek nie maar moet ophou nie. Die versoeking is daar om op te hou bid, om maar Gods water oor Gods akker te laat loop, want wat gaan my gebed, veral so ‘n stil gebed, nou eintlik help!

Tree die Gees vir jou in

Maar, sê Paulus, dit is juis wanneer jy jouself as swak beleef, as jy nie verder weet nie, as jy stil geraak het, wat jy moet aanhou bid. Want dit is dán wat die Gees aan die werk kom, sê Paulus.

… maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.

Hierdie hulp van die Gees is iets wat in ons hart gebeur, wat ons op ‘n baie besondere manier verbind aan ons Vader wat in die hemel is. Die Gees tree vir ons deur vanuit ons hart, vanuit ons ongevormde gedagtes, met God in gesprek te tree. Hy bring ons sugte voor God in die vorm van sy eie versugtinge, om dié dinge wat ons nie weet nie goddelike terme aan die Vader te bring.

Hy is immers die Helper, die Voorspraak, die Trooster, die Advokaat.

Wanneer ons swak is en nie mooi weet waarvoor ons behoort te bid nie, dan kom die Gees ons te hulp!

Wat ons van onsself moet verstaan is dat ons tussen twee wêrelde lewe. Die huidige wêreld wat onder die oordeel van God is, en die toekomstige wêreld waar ons vir ewig in God se teenwoordigheid sal lewe.

En die Gees is nie net die eerste gawe in ons van die toekomstige bedeling nie, maar Hy is ook die Een wat aktief in ons binnekant aan die werk is om die suigkrag van die huidige wêreld tot niet te maak en ons in die vryheid wat God vir sy kinders bedoel het, te laat lewe.

Daarom hou ons aan bid, selfs al is dit ‘n worsteling, selfs al weet ons nie presies wat ons moet bid nie.

God weet wat die bedoeling van die Gees is

En dit is dan wat die wonder gebeur:

27 Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.

God wat weet wat in ons hart, in ons gedagtewêreld, aangaan, weet ook wat die bedoeling van die Gees is. En Hy weet dat die Gees volgens die wil van God intree vir ons as die heiliges, die kinders van God.

God reageer dus nie net op ons eie onbeholpe woorde nie, maar juis op die gebed van die Gees wat seker maak dat God se wil in ons lewe sal plaasvind.

God sorg dat alles ten goede meewerk

En dit is daarom dat:

28 Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is;

Dit is die belofte wat ons daarom kan vasgryp. Dat maak nie saak of ons presies weet wat moet gebeur nie. God weet wat moet gebeur. En sy belofte is dat alles ten goede sal meewerk vir hulle wat God liefhet, vir ons wat volgens sy voorneme geroep is.

So, ons weet nooit presies hoe dinge gaan uitwerk nie. Ons weet nie hoe negatiewe dinge wat met ons gebeur kan meewerk ten goede nie. Maar, ons het ‘n belofte waaraan ons kan vasgryp wat vir ons ‘n idee gee.

Paulus sê dat God besig is met ons lewens sodat die volgende met ons sal gebeur:

29 want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; 30 en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Die woordjie vir “vooruit gekies” (proginōskō) kan ook vertaal word as “vooruit geken.” Dit is omdat God ons vooruit geken het, van ons geweet het selfs nog voor ons gebore is, dat Hy ons bestem het om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word.

God wou hê dat Jesus nie alleen as mens in die hemel saam met Hom sal wees nie, maar dat daar ‘n skare broers en susters vir Hom sal wees, ‘n nuwe geloofsfamilie.

Jesus is die prentjie wat God vir almal van ons het. Hy is die Eersgeborene (prōtotokos), die sjabloon, die templaat, die “mold” van die tipe mens wat God van almal van ons wat in Hom glo, wil maak.

Prakties

Dit is die doel van alles wat met jou gebeur. Die goeie en die slegte. God laat alles ten goede meewerk in jou lewe sodat jy gelykvormig (summorphos) kan word aan die beeld van sy Seun.

Dieselfde sagte aanslag wat Jesus het, wil die Here in ons skep. Dieselfde nederigheid wat Jesus het – dit wat ons in Matteus 11 verlede week geleer het – dít wil die Here in ons skep.

  • Sagtheid kan net kom as die harde en ongenaakbare kante van ons menswees deur allerlei swaarkry en beproewinge afgebreek word.
  • Nederigheid kan net kom as ons arrogansie en selfsug uitgedaag word; deur dié dinge waaroor ons geen beheer het nie; deur dié dinge wat ons onafhanklikheid uitdaag.

Ek is self deur tye van beproewing die afgelope vyf jaar op baie terreine in my lewe, waarvan die verlies van ‘n kleindogter die mees onlangse was. En die effek op my is dat ek begin leer om die Here Jesus toe te laat om my al hoe meer in sy juk in te span, sodat ek van Hom kan leer, en sy sagtheid en nederigheid kan aanleer, soos Hy kan wees.

Die voorbeeld van Josef

Dit is so wonderlik om die verhaal van Josef te lees en te herlees. Want, hy is só ‘n goeie voorbeeld van wat die Here doen met beproewings in jou lewe. Hoor net weer wat sê Josef as tweede in bevel van Egipte as hy sy broers vergewe.

Julle wou my kwaad aandoen, julle het dit nie goed bedoel met my nie, julle het my verkoop as ‘n slaaf, maar:

God het my lewe vir iets goeds bedoel (Gen 50:20).

Dit is wat die Gees met ons lewe wil doen

Dit is die doel van hierdie grootste werk van die Gees in ons harte en in ons lewens. Die Gees wil ons gelykvormig maak aan die beeld van die Seun, sodat ons soos Hy sal wees. Kinders van God. Sy verteenwoordigers. Wat al hoe meer soos Hy lewe.

Dit is die belangrikste ding wat God wil doen in jou lewe. Om gelykvormig te raak aan sy Seun. En alles wat met jou gebeur – die goed en die sleg – span God in om jou daarby uit te kry. Want, as God kan slaag in sy doel om jou soos Jesus te maak, dan sal jy ook kan erken, alles werk ten goede mee, vir dié wat God liefhet.

God is goed en God doen goed.

So het ons geleer in Psalm 119 waarmee ek die diens begin het. Hy wil ons sy voorskrifte leer. Want wat Hy met ons lewens wil doen, is die enigste goed.

God sal alles ten goede vir jou laat meewerk.

Gebed

Toekoms

Ek fokus van volgende week af op die lewe van Paulus tot en met Advent. Uit die boek Handelinge en gefokus op sy dertien briewe. Die storie van die kerkperspektiewe uit die briewe van Paulus.

Weer met ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Bid dat die Here my sal lei en in staat sal stel om dit te kan uitvoer!

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Slotlied

Ons sing daardie pragtige lied: As vreugde my deel is, of smart my verteer (Vonkk 156 – die bekende It is Well with my soul).

Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle.

En die gemeente sê: “Amen!”

[1] Tan, P.L., 1996. Encyclopedia of 7700 Illustrations: Signs of the Times, Garland, TX: Bible Communications, Inc.

Romeine 8:12-17 Preek: Aangeneem

Ek is nou al in my 40’s.  My ouers het meer as ’n dekade gelede al getrek uit die huis waarin ek grootgeword het.  Wanneer ek by hulle gaan kuier, moet ek die klokkie lui.  Dan word die deur oopgemaak, word ek ingenooi, word daar vir my koffie gemaak – spesiale koffie, wat hulle spesiaal vir my aanhou, want hulle weet van my.  Terwyl ons koffie drink, word daar vir my sleutels van die huis gegee.  Nou is ek tuis.  Ek hoef nie te vra as ek iets wil hê nie.  Hiervandaan maak ek vir myself – en vir die ander – koffie.  Het ek self sleutels.  Al was ek lanklaas daar – ek is tuis.

Om God se kind te wees, beteken jy is altyd welkom by God.  Selfs al het jy drooggemaak.  Selfs al het jy érg drooggemaak, so erg dat jy gedink het jy gaan nóóit weer met die sleutels vertrou word nie, wat nog te sê in die huis ingelaat word.  As God se kind, is jy altyd welkom by God, al het jy afgedwaal.  Al het jy lanklaas gebel, al het jy jou rug op God gedraai.

Continue reading

Rom 8:12-17 Week vanaf 28 Mei 2012

Huisgodsdiensmateriaal

Week van 28 Mei tot 2 Junie 2012

RUS

  • Kyk terug oor die week se Pinkster-dienste.  Wat staan vir jou uit?  Wat het die Gees die afgelope week vir jou geleer?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Romeine 8:12-17 uit Die Nuwe Testament vir Kinders.

12–13 Omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie lelike dinge doen nie. Laat die Heilige Gees julle help om nee te sê vir sonde. Dan sal julle vir altyd lewe.  14–15 Die Here se kinders laat toe dat die Heilige Gees hulle lei. Die Gees is glad nie kwaai nie. Hy sorg dat julle nie bang vir God is nie. Hy maak julle God se kinders. Die Gees sorg dat ons baie lief vir God is. Hy leer ons om God as ons Vader te ken. Ons kan nou elke dag vir Hom “Vader” sê.  16–17 Die Gees wys vir ons dat ons regtig God se kinders is. Hy sê dit hier in ons binneste vir ons. Omdat ons God se kinders is, erf ons by Hom. Kinders erf mos by hulle ouers. God het ons name in sy testament geskryf omdat ons in Christus glo. Ons gaan eendag ’n plek in God se nuwe wêreld kry! Nou kry ons swaar hier op aarde. Ons ly saam met Jesus. Maar eendag gaan ons by Hom bly. Dan sal Jesus ons soos konings daar by Hom ontvang.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Maak eers seker almal verstaan al die woorde.  Deel dat vir mekaar wat vir julle uitstaan in die teks.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. 
  • Kyk gou in die teks hoeveel goed julle kan kry waarmee die Heilige Gees ons alles help.
  • Hoe lei die Heilige Gees ons?  (Gee kans dat almal sê.  Dit kan moontlik aangevul word met:  deur die Bybel, deur ander gelowiges, deur ons gewete.)
  • Wat beteken dit om God se kind te wees?

LEEF

  • Wat vra die Here nou van jou?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Rom 8:12-17 Week vanaf 28 Mei 2012

Huisgodsdiensmateriaal

Week van 28 Mei tot 2 Junie 2012

RUS

  • Kyk terug oor die week se Pinkster-dienste.  Wat staan vir jou uit?  Wat het die Gees die afgelope week vir jou geleer?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Romeine 8:12-17 uit Die Nuwe Testament vir Kinders.

12–13 Omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie lelike dinge doen nie. Laat die Heilige Gees julle help om nee te sê vir sonde. Dan sal julle vir altyd lewe.  14–15 Die Here se kinders laat toe dat die Heilige Gees hulle lei. Die Gees is glad nie kwaai nie. Hy sorg dat julle nie bang vir God is nie. Hy maak julle God se kinders. Die Gees sorg dat ons baie lief vir God is. Hy leer ons om God as ons Vader te ken. Ons kan nou elke dag vir Hom “Vader” sê.  16–17 Die Gees wys vir ons dat ons regtig God se kinders is. Hy sê dit hier in ons binneste vir ons. Omdat ons God se kinders is, erf ons by Hom. Kinders erf mos by hulle ouers. God het ons name in sy testament geskryf omdat ons in Christus glo. Ons gaan eendag ’n plek in God se nuwe wêreld kry! Nou kry ons swaar hier op aarde. Ons ly saam met Jesus. Maar eendag gaan ons by Hom bly. Dan sal Jesus ons soos konings daar by Hom ontvang.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Maak eers seker almal verstaan al die woorde.  Deel dat vir mekaar wat vir julle uitstaan in die teks.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. 
  • Kyk gou in die teks hoeveel goed julle kan kry waarmee die Heilige Gees ons alles help.
  • Hoe lei die Heilige Gees ons?  (Gee kans dat almal sê.  Dit kan moontlik aangevul word met:  deur die Bybel, deur ander gelowiges, deur ons gewete.)
  • Wat beteken dit om God se kind te wees?

LEEF

  • Wat vra die Here nou van jou?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Rom 7:15-25 – Son 6 Jul 08

Inleidend 

Die gedeelte is seker een van die mees betwiste gedeeltes in die Romeine brief.  Die meeste uitleggers lees die gedeelte as ’n blik op Paulus se innerlike stryd teen die sonde.  Ben Witherington (in sy Paul’s Narrative Thought World) lees dit egter op ’n ander manier.Volgens hom tref Paulus aan die begin van hoofstuk 7 ’n kontras tussen die lewe voor Christus en die lewe in Christus, die lewe in die vlees teenoor die lewe in die Gees.  In vers 5 praat hy byvoorbeeld in die verlede tyd van Christene se vorige lewe: “Toe ons nog ‘n sondige lewensbestaan gevoer het …” en in vers 6 in die teenswoordige tyd: “Maar nou is ons vrygemaak …”  

In die verse wat ons nou gaan lees, sê Witherington, stel Paulus as illustrasie iemand in sy lewe voor Christus aan die woord, die menslike kondisie, en beskrywe die stryd wat daar in só ‘n persoon is, selfs in die goeie mense.  Die “ek” in die verse is dus soos iemand voor Christus sou leef, terwyl aan die einde van hoofstuk 7 en dan veral in hoofstuk 8 Paulus wys hoe ‘n Christen in Christus lewe, in die kragveld van die Gees. 

Romeine 8 is dus die “normale” lewe van die Christen in Christus en nie Romeine 7 nie.  Anders, sê Witherington word hoofstuk 7 te maklik ‘n verskoning vir die sonde en neem dit nie die vryspraak wat Christus gebring het ernstig genoeg nie.  Ons wat in Christus is, hoewel nie perfek of sondeloos nie, kan protesteer en breek met die sonde, omdat Christus ons vrygemaak het, en die Gees daarin vir ons bystaan.

Hoe ook al – jy kan dit ook op die tradisionele manier lees.


 

Woordverkondiging 

Daar is ’n klassieke storie wat hierdie gedeelte van Paulus volmaak vasvang.  Robert Louis Stephenson se The Strange Case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde.

Dit gaan oor die gerespekteerde dr Jekyll wat ’n middel ontdek wat sy persoonlikheid verander en van hom ’n ander persoon maak. Deur sy uitvinding geskok en tog ook gefassineer, gee hy toe aan die versoeking om in die nag Mnr Hyde te word, wat allerlei misdade pleeg – selfs moord.

Gedurende die dag is hy die sagmoedige dr Jekyll en in die nag is hy ’n moordenaar en ’n gewelddadige skurk. 

So gaan dit ’n tyd lank aan, totdat hy een oggend wakker word en tot sy ontsteltenis bemerk dat hy mnr Hyde se hand behou het.  Eers was dit moeilik om Mnr Hyde se persoonlikheid aan te neem, maar gaandeweg was dit al moeiliker om weer terug te keer na die goedhartige dr Jekyll!

Hy het al meer besef dat hy besig was om beheer te verloor oor sy goeie self en dat die slegter self die oorhand begin kry.

Toe hy later verplig was om ’n keuse te maak, het hy besluit om eerder dr Jekyll te bly. Ongelukkig het die geneigdheid tot misdaad in hom so sterk geword dat dit by hom die oorhand gekry en hom uiteindelik vernietig het.

Toe iemand vir Stevenson vra waar hy die model vir sy hoofkarakter gekry het, het hy geantwoord: “I found it in my nature.”  Hy het eerstehands belewe wat Paulus bely: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”( vs19)  Ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.

Soos Augustinus geskryf het:  “Wat ook al ons is, ons is nie wat ons behoort te wees nie!”

Of soos Mark Twain tong in die kies vertel: “Man was made at the end of the week, when God was tired.”

Ja maar hoe?

Hoe gemaak met die Mr/Mrs Hyde in ons lewe?

Soos ’n predikant vertel hoe hy ’n boek by ’n kennis geleen het. Terwyl hy dit gelees het, was sy belangstelling geprikkel deur die onderstreepte gedeeltes, met die letters JMH in die kantlyn geskryf. Hy het toe vir die kennis gevra wat dit beteken.  Die onderstreepte gedeeltes was dit waarmee hy saamgestem het en JMH het gestaan vir “Ja, maar hoe?”

Deur Christus ons Here

Vers 25 gee die oplossing:  Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Ons het nou al twee Sondae hierop gefokus.

Die spil waarom die boodskap van hoofstuk 6 draai, is die vryspraak van Christus.  Hy het ons vrygespreek van die mag van sonde waarvan die uiteinde, die beloning, die dood is.  Hy het ons van die mag van die sonde verlos.  Die sonde se mag oor ons is gebreek, ons is deel van ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van Christus.  Ons is gedoop in sy dood, sodat ons ook kan lewe, soos Hy, vir altyd, vir God. Vir beide die liberale Grieke en Romeine, wat sonder die wet gelewe het, en vir die konserwatiewe Jode, wat met die wet gelewe het, het daar uitkoms gekom, die vergifnis en genade van Christus.

Daarom sê Paulus moet ons rekening hou daarmee, ons moet ons gedagtes daarmee vul, ons is nou in die domein van God, waar ons vir Hom kan lewe en ons nie net die belofte van ‘n ewige lewe het nie, maar ook die bewussyn van sy nabyheid en sy sorg en sy krag.

Die eerste Ja-Maar-Hoe is dus om oor jouself te begin dink as vrygespreekte, iemand wat vry is van die sonde en wat lewend is vir God.  

Dit is waarom lofprysing en danksegging so uiters belangrik vir ‘n Christen is, want dít is die punt waar ons ons gedagtes volmaak met die wonderlike werklikheid van die vryspraak van Christus.Maar, het Paulus ons aangemoedig, ons moet in dié domein léwe.  Ons moet as’t ware as slawe van God lewe, anders bly ons slawe van die mag van die sonde, en dit nie net persoonlik nie, ook slawe van die mag van die sonde van die heersende kultuurmagte. 

En dit is die tweede Ja-Maar-Hoe, om te lewe in die kragveld van die Gees.

 


Leef in die kragveld van die Gees  

Paulus sê, reeds in hoofstuk 7:6, maar meer volledig in hoofstuk 8, dat die geheim van die lewe vir God, is deur te lewe in die kragveld van die Gees.

“Die werk van die Gees,” sê Coenie Burger, “is soos ’n kragveld. Dit is ’n dinamiese omgewing waarbinne jy bewus word van ’n ander krag as jou eie” (1999).

Een van die hindernisse vir ons om dit raak te sien, is natuurlik dat ons baie keer die Christelike lewe sien as ‘n eindpunt en nie genoeg as ‘n beginpunt nie.

Vryspraak is nie die doellyn of die wenstreep nie.  Dit is die wegspringplek.

Soos die storie wat ek van ’n gradeplegtigheid gehoor het, waar die studente hulle diplomas ontvang het van die kanselier.  Terwyl hy hulle hande geskud het, het hy met ‘n harde stem gesê:  “Veels geluk!” En dan met ’n sagter, maar ferm stem het hy vir elke gegradueerde gesê:  “Hou aan beweeg!”

Dis ook God se woorde aan ons  “Veels geluk, maar hou aan beweeg…” Die Christelike lewe is ‘n lewenstyl wat doelbewus ingeoefen moet word.

Kyk die lewe is soos gholf: hoe meer jy jou golfswaai oefen en oefen en oefen, hoe meer raak dit deel van jou “spier-geheue”, sodat jy later die golfswaai uitoefen sonder dat jy bewustelik daaroor dink.  Maar as jy ‘n slegte golfswaai het, dan raak jy beter met die slegte golfswaai, as jy ‘n goeie golfswaai het, dan raak jy al beter met die goeie golfswaai.

Ons moet ons dus inoefen om in die kragveld van die Gees te lewe – dit is die golfswaai wat ons moet inoefen!

Nog ‘n voorbeeld: in Jack London se klassieke storie, WHITE FANG, is White Fang half-hond, half-wolf. Nadat hy in die wildernis geleef het, word hy mak gemaak en leer hy om tussen mense te lewe!

White Fang was egter mal oor hoenders! Op keer het hy in ’n hoenderhok gevaar en 50 henne doodgemaak. Sy baas, Weeden Scott, het met hom geraas en hom toe weer in die hoenderhok ingeneem.

Hy het vir White Fang reg in die middel van die hoenderhok laat sit. Dit was ’n groot toets! Toe White Fang sy gunsteling kos sien, was sy natuurlike instink om te gaan vir ’n sappige hoendertjie! Maar hy was onmiddellik in sy spore gestop deur sy baas se stem!  Hulle het vir ’n tyd lank in die hoenderhok gebly. Elke keer as White Fang na ’n hoender wou hap, het sy baas se stem hom gekeer. So het hy geleer wat sy baas wou hê en so het hy geleer om hoenders te ignoreer.

Weeden Scott se pa het geredeneer dat jy nie ’n “hoender doodmaker” kan genees nie, maar Weeden het sy pa uitgedaag en so het hulle vir White Fang die hele middag in die hoenderhok toegesluit! Luister as Jack London self hierdie toneel beskryf:

“Locked in the chicken yard and there deserted by the master, White Fang lay down and went to sleep. Once he got up and walked over to the trough for a drink of water. The chickens he calmly ignored.  So far as he was concerned they did not exist. At four o’clock he executed a running jump, gained the roof of the chicken house, and leaped to the ground outside, whence he sauntered gravely to the house.” 

Toe voeg Jack London hierdie woorde by:  “He had learned the law.”

Watter wet was dit?

Die wet van gehoorsaamheid – hy het gemaak soos sy baas sê!  Weeden het hom geleer, en White Fang het hom laat leer, dit ingeoefen.

‘n Tweede hindernis is dat ons dink die werk van die Gees is altyd bonatuurlik.

Nou, dit is waar, sommige kere is die bewussyn van die Gees bonatuurlike ervarings, soos met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2, of toe die Gees die eerste keer in Sesarea uitgestort is oor mense wat nie Jode was nie (Hand 10). Daar word gewoonlik hierna verwys as die besonderse gawes. Dit is uitsonderlike gebeure wat die Gees gee, sommige openbaar en ander privaat. Maar die Gees werk natuurlik nie net as daar ’n bonatuurlike ervaring of ekstase betrokke is nie. Die teenoorgestelde is eintlik waar wanneer ’n mens na die verhale in die Bybel kyk. Meestal is dit “gewone”, natuurlike ervarings wat mense tot die oortuiging laat kom van die werk en die bedoeling van die Gees.

Hoe werk dit dan?  Waarop moet ons fokus?

Om in die kragveld van die Gees te lewe, is om bewus te raak van hierdie “gewone” ervarings, Frederick Marais en Willem Nicol noem dit bewegings, in jou. In Staying in Touch maak ons baie van die Stop-Look-Listen metodiek gebruik.  Dit is om die afgelope 24 uur te oordink, die goeie goed, die slegte goed, en dan baie spesifiek te probeer agterkom, waar het ons God se spore in ons lewe agter gekom.

Jy fokus dus nie op goed wat jy doen nie, maar op wat die Gees doen.  En een van maniere om dit agter te kom, is om te oorweeg of daar ‘n:

 

  • beweging van eie belang na ander se belang, van selfgerigtheid na liefde vir ander was. Want, as ek agterkom dat ek in my keuses van die vorige dag geklou het aan iets waarvan ek self hou, as ek agterkom dat ek in my keuses die vorige dag eintlik op my eie wil bly, dat ek isolasie verkies, dan is dit alreeds die Gees wat dit doen. Ons gehegtheid aan onsself is immers uiters moeilik om raak te sien, soos een woestynvader gesê het, ons ekkigheid is vir onsself so sigbaar soos ’n mier op ’n swart klip teen middernag. En as jy dan op die fyn stemmetjie van jou gewete reageer wat sê: Jy stel jouself eerste, dan vorder jy. En as jy in volgende Stop-Look-Listen oefeninge agterkom, ek begin dit regkry om na ander se werklike belange beweeg, dat ek gemeenskap met ander begin bou, al voel dit pynlik om van eiebelang weg te beweeg, dan is dit ’n teken dat die Gees jou begin lei, dat jy in sy kragveld begin leef.

So is daar ander bewegings in onsself en in ons bewussyn waarop jy kan fokus:

  • Ingewikkeldheid na eenvoud – die oplossings wat ons onder die Gees se leiding kry, is dikwels eenvoudig.
  • Selfgesprek na Godsgesprek – ware Godsgesprek is wanneer ek agterkom dat ek regtig met die Here praat oor ‘n saak en regtig oop is vir sy leiding.

En so is daar ‘n hele paar ander bewegings waarop ons kan fokus om in die kragveld van die Gees te beweeg.

Slot

Ek sluit af – ons is vrygespreektes. 

Christus het daarvoor gesorg. 

Ons leef in die kragveld van die Gees. 

Ons het nodig om ons denke daarmee vol te maak, en te begin fokus op die Gees se bewegings in ons.

 

Rom 6:12-23 – Son 29 Jun 08

Die tweede deel van Romeine 6 roep ons as gelowiges op om God te dien met alles wat ons is en het.  Doen wat God wil (en nie wat die sonde wil nie).

Paulus gebruik 3 teenstellings in hierdie teksgedeelte om sy punt te maak:

·         Sonde versus God: Sonde is die mag wat teenoor God staan en is nie net persoonlik nie, maar ook die mag van die lewenswyse van jou kultuurgemeenskap.

·         Slawerny versus vryheid: Ons almal is óf slawe van die sonde en in gewaande vryheid van God óf slawe van God en vry van die sonde.

·         Beloning versus geskenk: Die sonde gee die beloning van die ewige dood, maar God gee vir sy mense die geskenk van die ewige lewe.

Sonde versus God

Soos ons verlede week in Romeine 6:1-11 gesien het, sonde is ‘n mag wat teenoor die mag van God staan.  En dit is nie net ‘n persoonlike morele begrip, jy mag nie dit nie, of jy mag nie dat nie.  Dit is ook veral ‘n kultuur begrip.  Sonde is die manier van leef van die heersende kulture van jou tyd:

·         Vir die liberale Grieke en Romeine was dit in Paulus se tyd om sonder reëls en wette te lewe: goddeloos (asof God nie bestaan nie) en onsedelik (asof God se wil geen rol in jou manier van lewe speel nie).

·         Vir die konserwatiewe Jode was dit in Paulus se tyd om met reëls en wette te lewe: maar dit was eie geregtig (hulle het gedink hulle kan God se guns daardeur verdien) en baie eksklusief (hulle het gedink hulle is beter as die heidene en wou nie met hulle assosieer nie).

Om vry te kom van hierdie mag van sonde, het God sy genade in die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus gegee, sodat beide die liberales as die konserwatiewes, beide die Grieke en Romeine as die Jode, die vryspraak van vergifnis van sonde binne ‘n geloofsverhouding met Jesus kan kry.  Daarmee het Hy gelowiges uit die domein van die sonde na die domein van God verlos, vanuit die heerskappy van die sondige wil van die heersende kultuur na die heerskappy van sy wil in die gemeenskap van gelowiges.  En waar die sondige lewenstyl van die Grieks-Romeinse kultuur die botoon in hulle lewens gevoer het, het nou die lewenstyl van gehoorsaamheid aan God in sy gemeente die botoon in hulle lewens gevoer.

En ons sal goed doen om ons eie lewens te ondersoek watter domein in ons lewens tans die botoon voer.  Is dit die domein van die sonde of die domein van God?:  Vra jouself af:

·         Lewe jy asof God nie bestaan nie (soos praktiese ateïste) of vertrou jy Hom met jou hele lewe binne die gemeenskap van gelowiges?

·         Lewe jy onsedelik (soos praktiese hedoniste, d.w.s. jy hanteer seks nie volgens God se wil nie, maar volgens jou eie behoefte – en dink ‘n bietjie na oor die impak wat TV en flieks op ons manier van dink het) of lewe jy met die oog op die belang van jou maat en van die gemeente?

·         Lewe jy eie geregtig (dink jy dat jy God se guns verdien omdat jy dink dat jy beter is as ander, soos die Fariseër eenmaal oor die tollenaar gedink het) of lewe jy afhanklik van God se genade, sonder vooroordeel en veroordeling saam met dié wat jou broers en susters in geloof is?

·         Lewe jy uitsluitend (jy besluit wie in is en wie uit is op grond van jou eie maatstaf, hetsy taal, of kleur, of intelligensie, of vermoëns of besittings) of lewe jy met die vraag: vir wie kan ek ‘n naaste wees sonder dat kultuur oorwegings jou liefde bepaal?

Ons moet telkens onthou, herinner Paulus ons, God het ons vrygemaak van die domein van die sonde sodat ons in sy domein, die domein van sy heerskappy in gemeente en gemeenskap, kan lewe.

 


Slawerny versus Vryheid

Want sien, ‘n mens leef altyd in ‘n verhouding van slawerny aan óf vryheid van dié magte: jy is óf ‘n slaaf van die sonde óf jy is ‘n slaaf van God – jy is óf vry van die mag van God óf jy is vry van die mag van die sonde.

Dink maar net ‘n bietjie aan hoe die lewe werk:

·         Om ‘n professionele musikant te word, ‘n konsert pianis, vat ‘n 8 uur ‘n dag fokus van baie kleins af.  Ek onthou hoe skrikwekkend die fliek Shine vir my was. Dit is die verhaal van David Helfgott, ‘n bekende pianis, en hoewel daar baie kritici is wat sê dat die fliek nie regtig ‘n ware weergawe van die werklikheid was nie, bly die uitmergelende oefensessies my by, die absolute fokus om Rachmaninoff foutloos, nie net te speel nie, maar ook te vertolk. Totale fokus!

·         Om ‘n Springbok rugbyspeler te word, vat ‘n commitment wat die meeste van ons nie voor kans sien nie – dit is pyn en sweet en koue en nogmaals pyn van baie vroeg af in jou lewe.  Al baie keer na Hannes Marais geluister oor die opofferings wat hy moes deurmaak: die op en af hardloop van die koppie (lyk vir my meer soos ‘n berg!) in Spreeukloof; die skrum wat op ‘n keer letterlik sy enkel afgedraai het, toe sy studs vasgesteek het in die gras en die skrum gedraai het; sy oog wat uitgepluk is toe hy vir ‘n drie oorgeduik het, en hy moes kies, die oog of die drie.   Totale fokus!

·         Om ‘n graad te kry, veral as jy dit nagraads wil doen, vat ure se sit en lees en dink en worstel en uiteindelik skryf oor ‘n baie lang tyd.  Ek onthou self die lang ure vroeg oggend om my D klaar te skryf – my hele slaappatroon het geskuif as gevolg daarvan.  Totale fokus!

En jy word eintlik ‘n slaaf van dit waarop jy fokus: darem meesal uit vrye keuse.  Dit kan natuurlik ook in ‘n verslaafdheid verander, jy kan nie meer balans handhaaf met ander prioriteite in jou lewe nie, en begin ander dinge afskeep.  Maar die verslaafdheid bevestig eintlik maar net nog sterker die punt: jy is altyd ‘n slaaf van iets: jy is verbind aan jou musiek en daarom vry van iets soos lees; jy is verbind aan studie en daarom vry van iets soos TV kyk; jy is verbind aan ‘n sport en daarom vry van iets soos vrye tyd.

En dít is ook hoe die Christelike lewe werk.  Dit neem ook ‘n totale fokus!  En met reg ook – want jy is óf ‘n slaaf van die domein van die sonde, ‘n slaaf van al die oorwegings en oortuigings en lewenstyl van die gemeenskappe waarin ons lewe, en die voorkeure en behoeftes van jou eie hart en lewe, óf jy is ‘n slaaf van die domein van God, ‘n slaaf van al die oorwegings en oortuigings en lewenstyl van die geloofsgemeenskap, en die voorkeure en behoeftes van God vir jou en die gemeente se lewe.

En daar is nie middelgrond nie … en jy kan nie neutraal bly nie … want ‘n keuse vir middelgrond of vir neutraliteit diskwalifiseer jou vir God se domein, en jy bly ‘n gevange van die sonde, beide op persoonlike vlak as op gemeenskapsvlak.

Dit sal goed wees as ons goed hieroor nadink – wat is die gehalte van die commitment wat ons aan God en sy gemeente het?  Wat sou ander sê van my commitment – sou hulle my lewe beskrywe as dat ek ‘n slaaf van God is … of nie juis nie …?

 


Beloning versus Geskenk

Paulus sluit af met ‘n laaste teenstelling, die teenstelling tussen die beloning wat sonde gee, die dood, en die geskenk wat God gee, die ewige lewe. 

Die sonde hét ‘n beloning: as jy lewe volgens die lewenstyl van die heersende kultuur, het jy die voordele daarvan, maar waarvan die einde, die beloning, die dood is. 

God beloon egter nie op dieselfde manier nie.  Om die waarheid te sê, daar is baie keer lyding en ontbering wat verbind is aan gehoorsaamheid en getrouheid aan die Here. 

Wat doen God dan?  Hy gee die geskenk van die ewige lewe. 

Teenoor die korttermyn voordele en uiteindelike negatiewe beloning van die sonde staan die korttermyn uitdagings en die uiteindelike positiewe geskenk van die ewige lewe vir ‘n lewe wat in gehoorsaamheid aan God geleef is.

En laat ons nie swig voor die beswaar van die heersende kultuur nie, wat sê die ewige lewe is ‘n “Pie in the sky when you die, bye and bye.” 

Daar is iets in die vooruitsig van die ewige lewe wat ‘n hoop en volharding gee wat alle verstand te bowe gaan.  En dit is reg deur die eeue so.  Dit is insiggewend om te lees oor die eerste Christene dat hulle nie soseer verkwalik is vir hulle leerstellings nie, maar vir hulle halstarrigheid! 

·         Jy sien dit al in Petrus en Johannes voor die Joodse Raad: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Hand 4:19-20). 

·         En jy sien dit in Stefanus wat nie stilgebly het in die aangesig van die veroordeling en uiteindelike steniging deur die Joodse Raad nie.  Toe die Jode nie sy wysheid kon troef nie, die wysheid wat die Gees hom gegee het in die situasie nie, en die pragtige uitleg wat hy van die Skrif gegee het nie, en selfs hulle woede en gekners op hulle tande hom nie van stryk kon bring nie, het die Joodse Raad hulle ore toegedruk en hom doodgegooi om hom stil te maak (Hand 7).

·         En in Paulus in die tronk by Philippi, wat die Romeinse polisie en stadsbestuur dwing om hom self los te laat na hulle hom teen hulle eie reëls in gevange laat neem , geslaan en in die tronk gesit het: ”Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.” (Hand 16:37)

Daarmee het hulle ‘n voorbeeld gestel vir Christene van alle tye: om te volhard in gehoorsaamheid aan Christus, maak nie saak wat oor jou pad kom nie.

Geen wonder dat Plinius, goewerneur in Bithinië in Klein-Asië, vandag Turkye, wat die gewoonte gehad het om ‘n Christen 3 keer geleentheid te gee om Christus vaarwel te roep, voordat hy so iemand vonnis en straf, skryf aan keiser Trajanus dat hy net nie die Christene se halstarrigheid (obstinacy) kan verstaan nie, want hulle wil nie sy toeskietlikheid aanvaar nie. 

Trajanus, wat eintlik ‘n goeie keiser was, maak dan ‘n reëling wat vir ‘n paar eeue gegeld het, dat die Christene nie voor die voet vervolg moet word nie, maar net as iemand hulle aankla, ongelukkig ‘n maatreël wat baie keer deur bure misbruik is! Maar telkens dat ‘n Christen voor dié keuse gestel is, om Jesus te verloën om straf vry te spring, het hulle geweier. 

Terloops, daar is ‘n pragtige font Trajan wat ontwerp is om van die inskripsies uit sy tyd te moderniseer, wat pragtig is: trajan PRO (Ek het dit gekies vir my PowerPoint om daardie rede!  Dit is in hoofletters, want sy inskripsies was net in hoofletters!)

Daarom lees ons telkens van ons Christen voorvaders dat hulle halsstarrig was, onwrikbaar in hulle geloof, selfs al moes hulle met hulle lewens boet vir hulle getrouheid aan Jesus Christus:

·         Ons lees van Ignatius van Antiochië, genoem “die draer van God” na aanleiding van ‘n legende dat hy die seuntjie was wat Jesus een keer in die midde van die dissipels geplaas het om vir hulle van nederigheid in die koninkryk te leer, wat skryf in 107 n.C. aan sy volgelinge wat hom wou kom bevry nadat hy ter dood veroordeel is: “If you remain silent about me (d.w.s. as julle niks doen om my te bevry nie), I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.”

·         En sy jonger vriend Polycarpus verklaar in die jaar 155 n.C. aan ‘n regter wat dreig om hom lewendig te laat verbrand: “For 86 years I have served him, and he has done met no evil.  How could I curse my king, who saved me?” En dan bid hy hardop: “Lord Sovereign God … I thank you that you have deemed me worthy of this moment, so that, jointly with your martyrs, I may share in the cup of Christ … For this … I bless and glorify you.  Amen.”

En die deel in die voorbeeld van Christus, veral in die eenwording met sy dood, maar ook in die heerlike vooruitsig dat hulle daarmee dan ook sal deel in sy lewe, die ewige lewe, soos Paulus ook hier skrywe in 6:8, was die motivering vir hulle halstarrigheid.

Slot

Ek sluit af:

·         God het ons uit die sonde verlos om onder sy heerskappy te lewe. 

·         Ons moet dit met alles in ons doen binne die gemeenskap van die gelowiges.

·         Ons moet dit tot die einde toe doen, selfs al bars die bottel.

 

Chris van Wyk