Skip to main content

Tag: Matteus

Ek sal julle rus gee – Matteus 11:25-30

Jaar van die Bybel
Tema: Ek sal julle rus gee – Matteus 11:25-30
Somerstrand 12 Julie 2030 Youtube 09:00

Verwelkoming

Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.

Die mense wat in Februarie met die Psalms begin het, het vanoggend Psalm 117 gelees. Dit is die kortste Psalm, trouens die kortste hoofstuk in die Bybel. Dit is ook die middelste hoofstuk in die Protestantse Bybel. Daar is 594 hoofstukke daarvoor en 594 hoofstukke daarna, in totaal 1 189 hoofstukke met Psalm 117 ingesluit.

Die Psalm is eintlik net een lang sin.

1 Loof die HERE, alle nasies,  besing Hom, alle volke,  2 want magtig oor ons is sy troue liefde,  ja, die trou van die HERE is vir ewig.  Halleluja!

Die Psalm roep alle nasies saam met die Godsvolk op om God te prys en wel om twee redes.

  1. GOD SE LIEFDE IS ONMEETLIK HOOG. Peterson vertaal dit só: “His love has taken over our lives.” (The Message).
  2. GOD SE TROU IS ONEINDIG WYD. Daar IS geen einde aan God se trou is nie. Soos God se liefde se “hoogte” oorweldigend groot is, is sy trou iets waarvan ‘n mens nie by die einde daarvan kan kom nie.

Dit asof God se liefde as ‘n vertikale werklikheid geteken word, en sy trou as ‘n horisontale werklikheid. Sy trou kom vanuit die oneindigheid van die ooste en strek tot die oneindigheid van die weste. Dieselfde van die suide af tot in die noorde. Daar is geen einde aan God se trou nie.

En as jy dié twee dinge saamgooi, sy groot liefde, en sy oneindige trou, kan ‘n mens dit só opsom: God is oneindig betroubaar in sy onmeetlike liefde vir ons. Daarom moet God geprys word.

Verjaarsdae

Geluk Jolanda Broodryk en Eli du Preez. Geluk ook aan Jean Le Roux (12).

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit B vir Bybel in haar Geloofsalfabet. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet! https://youtu.be/JaPtQOPNyok

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje en Cecile. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan weer oor die tema van Seks: Wat sê die Bybel? Net vir bo-13’s. Ouers kan met die lied ná die kindertyd hulle kinders onder-13 net verskoon. Ds Pieter Nel van Hoogland gaan dit hanteer.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

28Kom na My toe, almal wat moeg is en swaar dra aan laste, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus vind. 30Want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:25-30 – ASV)

Continue reading

HuisGeloof 16-22 Junie 2014

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar waarvoor julle bang is. [Dit is belangrik dat kinders weet en beleef dat ouers ook die Here vertrou met hul bekommernisse. Kinders kan egter maklik bang raak en onseker voel. Wanneer jy ’n vrees kies om te deel, kies iets wat nie jou kind bedreig of onseker sal laat voel nie, maar waarvoor hulle saam met jou kan bid, bv. “dat ek nie al my werk betyds gedoen sal kry nie”.]

Sondag was Vadersdag! Hier is ’n lekker aktiwiteit vir Vadersdag, vanaf Vibrant Faith @ Home:
Laat almal beurte maak om ’n muntstuk te gooi. As die muntstuk op “stert” land, vertel die speler van iets wat hulle in die verlede geniet het om saam met hul pa te doen (soos boek lees, bal speel, in die tuinwerk). As die muntstuk op “kop” land, vertel hulle van iets wat hulle sal geniet om in die toekoms saam met pa te doen. Volwassenes speel ook saam en gesels oor hul pa’s. (As kinders sukkel om aan aktiwiteite te dink, help hulle om iets vir elke seisoen binne en buite te dink.) Oorweeg om ook ander belangrike mans in jul kinders se lewens by die speletjie in te sluit, soos oupas, ooms, peetpa’s en familievriende.

BYBEL LEES

Lees Matteus 10:26-30

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor dié goed waarvoor jy bang is?
  • Dalk kan julle ’n speletjie daarvan maak om mekaar se hare te probeer tel en gesels oor hoe God vir julle sorg.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid hierdie week elke dag saam vir dié goed waarvoor julle bang is. As julle 1c-stukke in die hande kan kry, dra dit met julle saam of plak dit iewers om julle te herinner dat God vir julle sorg.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

3-9 Mrt – Onverwagse Opbrengste – Matt 6:25-30

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat God vir jou gesorg het. Op watter maniere sorg die Here nog vir julle? Is daar dalk iets spesifiek waaroor een van julle op die oomblik bekommerd is en God se sorg nodig het?

BYBEL LEES

Lees Matteus 6:25-30
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Vertel hierdie week elke aand voor julle gaan slaap vir mekaar waarvoor julle vandag dankbaar was.

GESEËN OM TE SEËN

• Net soos wat God vir die voëls en die gras sorg, sorg hy vir mense – maar hy gebruik bv. vir ons om deur ons vir ander mense te sorg. Hoe gaan julle hierdie week vir iemand anders sorg? Maak bv. saam ekstra kos en sit dit Sondag na kerk in die vrieskas in die Ark. Of julle kan die babas by Ithemba Lam in Forest Hill help of die straatkinders wat gehelp word by Maranatha , ook in Forest Hill (onthou, as ons vir kinders by robotte geld gee, help ons hulle nie, maar hou ons hulle op straat, waar hulle aan baie gevare blootgestel is).
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

24 Feb – 2 Mrt – Nuwe Wyn! – Matt 26

OMGEE GESPREKKE

Ouers vertel vir die kinders van julle ervaring van die Nagmaal.  Hoe het dit gewerk toe julle kinders was, die eerste keer dat jy Nagmaal gebruik het, ’n spesiale Nagmaal wat jy onthou, wat Nagmaal vir jou beteken, ens.

BYBEL LEES

Lees Matteus 26-26-30

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Gesels oor die Nagmaal en wat dit beteken.  Laai die boekie met riglyne oor hoe om met kinders oor die Nagmaal te gesels, hier af.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Die Nagmaal is een van twee gebruike – sakramente – wat God vir ons gegee het:  goed wat ons kan sien en voel waaraan ons kan vashou in ons geloof.  Vier hierdie week saam Nagmaal!  As een van julle Sondag vir die eerste keer gaan Nagmaal gebruik, kontak die kerkkantoor vroegtydig sodat ons spesiaal vir julle kan welkom sê.

GESEËN OM TE SEËN

  • As een van julle ’n musiekinstrument kan speel, kan julle Sondag in die erediens saam met die groepie speel!  Kontak vir Janneke Jacobs of die kerkkantoor 041 583 5115.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.