Skip to main content

Tag: huisgodsiens

Huisgeloof: 26 Okt – 1 Nov 2015

Liefde

OMGEE-GESPREKKE

  • Deel met mekaar hoe jy weet of iemand vir jou lief is.
  • Deel daarna hoe jy dink ander mense weet dat jy vir hulle lief is.

BYBELLEES

  • Lees Romeine 13:8-14 saam.

Hier is die Bybel vir almal se vertaling:

8 Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. 9 Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk* pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” 10 As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra. 11 Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het. 12 Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen. 13 Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik** lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie. 14 Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.

 

*Jy mag nie egbreuk … wil hê nie: Kyk Eks 20:13-15,17 en Deut 5:17-19,21. Egbreuk: Wanneer ’n man seks het met ’n ander man se vrou, dan pleeg hy egbreuk. Wanneer ’n getroude vrou seks het met ’n ander man, dan pleeg sy egbreuk. Jy moet … jouself is: Kyk Lev 19:18. Naaste: Die mens wat naby jou is.

** Onsedelik lewe: Wanneer ’n persoon seks het met iemand met wie hy nie getroud is nie, dan lewe hy onsedelik.

 

  • Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
  • Hoekom dink jy sê hierdie teks dat die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê?
  • Wie is almal ons medemense?

 

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  • Gesels bietjie oor tye wanneer julle sukkel om julle medemens lief te hê en hoekom julle sukkel?
  • Wat is dinge wat julle kan doen om ander beter lief te hê
  • Dink as ‘n gesin saam ‘n definisie vir die woord “LIEFDE” uit. Skryf dit iewers neer sodat julle dit nie vergeet nie en mekaar die hele tyd daaraan kan herinner.

Huisgeloof: 19-25 Oktober 2015

OMGEE-GESPREKKE

  • Gesels bietjie oor verskillende tipes bordspeletjies en die reëls wat daardie speletjies het.
  • Hoekom dink julle is daar reëls by speletjies?

BYBELLEES

In ons teksgedeelte van hierdie week lees ons oor hoe ons nie meer vasgebind word deur reëls nie, maar dat Christus ons vrygemaak het.

  • Lees Galasiërs 3:23-29 saam.

Hier is die Bybel vir almal se vertaling:

23 Die wette was vir ons soos ’n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo.24 Die wette het ons opgepas soos ’n mens ’n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes.25 Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. 26 Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus.27 Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. 28 Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een.29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.

 

  • Dink julle daar is vandag nog “wette” waaraan ons vashou omdat ons dink dis iets wat ons moet doen om aan Jesus te behoort?
  • Dink julle daar is wel sommige wette of voorwaardes wat sin maak om te volg?
  • Hoekom dink julle sê hierdie teksgedeelte dat die wette ons nie meer oppas nie, maar dat Jesus ons vrygespreek het?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sondag vier ons Hervormingssondag. Dit is die dag waar ons onthou dat die Bybel die bron is wat ons moet glo oor wie God vir ons is en hoe Hy ons roep om in Hom te  glo, eerder as wat mense vir ons sê hoe ons in God moet glo en wie Hy vir ons is.

  • Dink as gesin saam aan een stelling(nie ‘n wet wat julle navolg nie) van wie God vir julle is en maak dit julle leuse vir die week.

Huisgodsdiens 9-15 Junie

OMGEE GESPREKKE
Wie ken julle wat ’n goeie getuie van Jesus is – wat deur wat hulle sê en doen vir ander mense vertel van Jesus?

BYBEL LEES
Lees Matteus 28:19-20
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Hierdie is Jesus se “laaste opdrag” – die belangrikste deel van Christen-wees. Hoe kan julle aan hierdie opdrag gehoorsaam wees?

GEWOONTES EN GEBRUIKE
Dit is belangrik dat Christene getuig – vir ander mense vertel hoe lief hulle vir Jesus het en wat Jesus vir hulle beteken. Oefen julle “getuienis” teenoor mekaar – vertel vir mekaar wat Jesus vir julle beteken.

GESEËN OM TE SEËN
• Vind uit wie al ons gemeente se sendelinge is. As julle nog nie hulle gebedsbrief kry nie, vra by die kerkkantoor hoe julle kan inteken op hul gebedsbrief. Skryf vir hulle ’n briefie om te sê julle bid vir hulle – en bid gereeld vir hulle.
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.