Skip to main content

Dag 20: Gebedsfokus op herlewing: Die Woord is aktief

Sondag 2 Mei 2010

Hebreërs 4:12-13 Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur tot selfs die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor Sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Oordenking: Die Woord van God is die swaard van die Gees. Ons verstaan dit gewoonlik binne die konteks van geestelike oorlogvoering teen die bose, maar hier is dit duidelik dat die eerste doel van die Woord is om ons harte binne te dring, en om daar die oorgeblewe duisternis in ons te konfronteer. Die Woord van God moet op so ‘n wyse gelees en gebruik word dat die bedoelings van ons harte geopenbaar word. Is jy op so ‘n wyse by die Woord betrokke?

Persoonlik: Jou interaksie met God hang af van jou interaksie met Sy Woord. Die Woord is die Waarheid. Jou lewe moet by die Waarheid aangepas word. Wanneer jy die Woord lees, moet jy die Woord toelaat om jou lewe te ondersoek en jou van jou sonde te oortuig. Bely jou oortredinge en vra die Heilige Gees om jou optrede aan te pas in ooreenstemming met die Woord. Laat jou hart toe om naak en ontbloot voor God se oë te staan.

Gemeente: In tye van herlewing kom geloofsoortuiging grotendeels wanneer die Woord in krag en in waarheid verkondig word. Bid dat die Kerk na die stewige fondament van die Woord sal terugkeer. Bid vir predikers wat die Woord sonder kompromie preek, sodat dit soos ‘n swaard is wat mense se harte sal binnedring.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.