Die Pad na Lewe IV – Kruispaaie – Matteus 7 Preek
Wanneer ‘n mens gaan vir jou bestuurslisensie, moet jy eers ‘n leerlinglisensie kry. Vir ‘n leerlinglisensie kan jy nog nie bestuur nie, maar jy moet die tekens ken. Jy moet die tekens langs die pad kan sien en weet wat dit beteken. Baie van daardie tekens, is waarskuwingstekens: “Moenie hier ry nie. Wees versigtig hier. Gee hier toe. Ry stadiger. Wees wakker. Pasop, hier kom ‘n draai of ‘n spoedhobbel.” Wanneer jy ry, moet jy nie net die pad ken nie, jy moet ook die tekens kan onderskei.
Ons het die laaste paar weke gesels oor die pad na lewe. En die pad na lewe is Jesus. Soos wat Jesus in Johannes 14 sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Hier aan die einde van die bergpredikasie sit Jesus ‘n paar padtekens neer. Waarskuwingstekens, wat soos op ‘n snelweg vinnig verbykom.