Skip to main content

Wat as ek bang is? 1 Sam.17 Erediens 20 Jun 2021

Ons lees 1 Samuel 17…Die bekende verhaal van Dawid en Goliat. Dit is relevant ongeag hoe jonk of oud jy mag wees, want dit spreek die vreesfaktor in ons lewens aan. Ons is almal, van die skrikkeriges tot die brawes (of altans, die wat dink hulle is braaf) onder ons, bekend met die ervaring van: om bang te wees. “Goliat”, daardie persoon, gebeurtenis, verwagting, daardie “ding”, wat die ervaring van vrees by ons aanwakker, neem verskillende gedaantes op verskillende stadiums van elkeen van ons se lewe aan. Waarvoor is jy bang? Wees eerlik en laat God jou help. Een van die frases wat die meeste in die Bybel gesê word is: Moenie bang wees nie. Deur die verhaal van Dawid en Goliat gee God vir ons as mense wat onsself maar gedurig betrap met vrees in ons harte, drie vastrapplekke sodat ons as Sy kinders Sy opdrag kan uitvoer: Moenie bang wees nie. Mag jy nie deur vrees oorweldig te word nie, maar te midde van bedreigings, bekommernisse, “vrees”-like situasies, die oorweldigende vrede van die Here kan beleef, soos wat Dawid het, nie net in hierdie situasie nie, maar voortdurend in sy lewe.

Follow the leader Ligkids 6 Junie 2021

Hoekom dink jy sê mamma en pappa/ ouma en oupa vir jou sekere dinge om te doen en nie te doen nie? Somtyds voel dit of hulle sommer net lelik is met jou en nie wil hê dat jy iets moet doen wat jy graag wil nie. Ons wil ook nie altyd na hulle luister nie, of hoe? Kan jy ‘n keer onthou wat jy ongehoorsaam was? Wat het toe gebeur? Ek onthou nog toe ek klein was het my mamma vir my gesê om nie op die nat vloer te loop wat sy gewas het nie…en toe, het ek gegly en hard geval. God weet dat ons partymaal iemand nodig het wat beter as ons weet en ons kan help. Daarom gee Hy mense vir ons sodat hulle ons kan leer, help en vir ons ‘n voorbeeld kan wees van wat om te doen en wat om nie te doen nie. Dit was al van die Bybelse tyd af al vir God belangrik dat daar mense sal wees wat kan leiding neem, na wie ons kan opkyk en volg. Ons lees vandag saam uit 1 Sam. 8 om meer hiervan te leer. Kom speel, leer en doen saam!

Wie volg jy? 1 Sam.8 Erediens 6 Junie 2021

Die verhaal van 1 Sam.8 laat ons nadink oor die manier waarop ons as kinders van die Here die landskappe van die lewe navigeer. Die eis van ‘n koning in v. 5 & 10 verklap die volk se behoefte aan iemand wat voor kan loop, leiding neem en voetspore agterlaat vir hulle om in te volg. Ons vind vandag steeds ons pad op voetspoor van ander. Ons lewens is vol stelle spore wat na iewers lei, wat ons dikwels op ‘n dwaalspoor lei oor watter spoor ons behoort te volg. Maar het jy geweet, dat dit vir ‘n spoorsnyer moontlik is om selfs uit ‘n klomp spore wat oormekaar getrap is, een spoor te identifiseer en dit te volg? Uit die gedeelte van 1 Sam.8 is dit duidelik dat ons kan onderskei tussen verskillende “spore” en kies watter een ons volg. God gee ons die opdrag en nooi ons om “op spoor van Hom” te leef en Jesus se voorbeeld na te volg. Ons laat ook voetspore na… Het jy al opgelet na die voetspoortjie van ‘n mier? Wat van ‘n mossie? ‘n Olifant? Elkeen laat ‘n spoor. So ook elkeen van ons, oud en jonk, belangrik en onbelangrik. Daar waar ons was, sal iets agterbly. Dit het ons sekerlik geleer uit die vinnige manier waarop Covid-19 kan versprei wanneer een geinfekteerde persoon aan iets gevat het en ‘n volgende doen dit dan ook. Daar waar ons gaan, sal mense ons volg, al dan nie. Kinders, familie, skool, werk, die wêreld, almal op wie ek en jy ‘n invloed het. Ons is nie hier of enige ander leier is nie hier om God se plek in te neem nie. Ons speel ‘n ondersteunende rol in die verhaal met God as hoofkarakter en ons voetspore behoort ander na God te lei.