Johannes 18:39-19:16 – “wat gely het onder Pontius Pilatus”
Inleiding
Ons fokus die volgende drie weke op die kruisigingsverhaal van Jesus tot en met Goeie Vrydag. Die verhaal word in Johannes 19 in vier bedrywe vertel. Hieruit is die derde en vierde artikel van die apostoliese geloofsbelydenis geformuleer: “wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.”
Die eerste week is die eerste bedryf aan die orde: “wat gely het onder Pontius Pilatus”. Volgende week fokus ons op die tweede bedryf: “gekruisig is”. Die laaste week tot en met Goeie Vrydag fokus ons op die laaste twee bedrywe: “gesterf het en begrawe is”.
Paassondag fokus ons op die ontknoping van die kruisigingsverhaal in Johannes 20 waaruit die vyfde artikel van die apostoliese geloofsbelydenis geformuleer is: “wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode”.
Die aand vóór Goeie Vrydag gaan ons ook ‘n Tennebrae diens hou Donderdagaand 29 Maart 18:00. Ons fokus met video, woord en lied op Jesus se kruisiging met die titel: Dit is volbring!
Almal welkom!
STILTETYD
Rus: Fokus jou gedagtes op Pilatus se uitspraak oor Jesus: “Kyk, daar is die mens!” (Joh 19:5). Dink na oor hoe mense na Jesus gekyk het dié dag van sy kruisiging. Hoe kyk jy na Hom?
Hoor: Lees die verhaal van Jesus in Johannes 18:39-19:6 en leef jou daarin in. Merk al die karakters. Dink na oor elkeen se gedagtes, gevoelens en gedrag. Dink na oor wat Jesus vir elkeen sê en ook nie sê nie. Dink na oor wat Jesus self voel en wat Hy doen en wat Hy kies om nie te doen nie. Hoe spreek dit jou aan? Watter boodskap het dit vir jou? Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies wat die Gees by jou laat opkom. Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat. Dink na oor wat God deur hierdie verhaal van Jesus se lyding onder die hand van Pilatus vir jou wil sê.
Leef: Neem tyd vandag om na te dink oor Jesus se uitspraak in vers 11: ”U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie.” Wat sê dit vir jou van Jesus? Wat sê dit vir jou van God? Watter sekerheid gee dit jou vir situasies waarin jy jouself bevind waar ander mag het oor jou?
Loof die Here in gebed vir die insig wat Hy hierdeur vir ons gee van sy voorsiening.
KLEINGROEPTYD
Ingenooi deur God: Vertel vir mekaar wat tans in jul lewens aangaan op julle reis met God.
Ingaan in God se tyd: Laat iemand Johannes 19:5 biddend voorlees: “Kyk, daar is die mens!” Dink na oor hoe mense na Jesus gekyk het dié dag van sy kruisiging. Hoe kyk jy na Hom? Gee tyd vir stilgebed.
Luister na God se Woord: Lees Johannes 18:39-19:16. Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer: wat staan vir jou uit, wat raak jou? Julle kan ook die vrae in die Stiltetyd hierbo gebruik.
Luister na mekaar: Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.
Luister na ander en die tye: “Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ’n sweep wat uit ’n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.
Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel nie. Die uitlewering van ’n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ’n verkragting van die Romeinse regstelsel.
Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ’n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.
Wat ’n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ’n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.
Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee. Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.
Hoe verskriklik kink die woorde van die Jode nie: ‘Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.’ Daarmee voltrek hulle ‘n oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié Een wat vir hulle die lewe kon gee.”
Bespreek die boodskap daarvan vir julle.
Luister weer na God se Woord: Herinner mekaar weer aan gedeeltes uit Johannes 18:38-19:16 wat vir jou bybly. Vertel mekaar hoekom?
Fokus op wat God nou doen: Waarvan oortuig die Here jou nou? Wat gee Hy vir jou?
Antwoord met ons lewe: Bid saam. Reageer op wat julle uit die Woord gehoor het. Bid ook vir mekaar. Dink veral aan die geduld wat die Here Jesus in lyding geopenbaar het.
FAMILIETYD
Rus: Vertel vir mekaar wat tans in jul lewens aangaan. Bid vir mekaar.
Hoor: Lees Johannes 18:39-19:16 soos ek dit hier uit die Nuwe Testament vir Kinders aanhaal:
18:38–40 Pilatus is toe weer buitentoe: “Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie. Maar julle weet mos dat ek met die paasfees altyd iemand vrylaat. Moet ek nie die koning van die Jode laat gaan nie?” “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas,” skreeu hulle. Barabbas was ’n moordenaar.
19:1–7 Pilatus laat Jesus toe met ’n sweep slaan. Die polisie het sommer ook ’n kroon van doringtakkies gemaak. Hulle het dit op Jesus se kop gedruk. Hulle het ook vir Hom pers klere aangetrek sodat Hy kamma soos ’n koning lyk. Toe spot hulle Hom. Hulle het mooi nadergekom om Hom soos ’n koning te groet en Hom dan geklap.
Pilatus het weer met die Jode gaan praat: “Jesus is onskuldig. Ek gaan hom hier na julle toe bring om dit self te sien.” Jesus kom toe uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings op gehad en die pers mantel gedra. “Kyk, hier’s die man,” sê Pilatus toe.
“Kruisig hom! Kruisig hom,” gil die Joodse leiers toe.
“Doen julle dit maar. Ek dink nie hy is skuldig nie,” antwoord Pilatus.
“Ons wet sê hy moet dadelik doodgemaak word. Hy’t gemaak of hy die Seun van God is.”
8–11 Toe Pilatus dit hoor, het hy nogal geskrik. Hy is weer na Jesus toe. “Waar kom jy vandaan?” wil hy by Jesus weet. Jesus het hom nie geantwoord nie. “Hoekom sê jy nie iets nie?” vra Pilatus. “Weet jy nie dat ek jou kan laat vry gaan of jou kan doodmaak nie?”
Jesus sê toe: “Jy kan niks aan My doen as God nie wil nie. Die een wat My by jou kom aankla het, het ’n baie groter fout gemaak as jy!”
12–16 Pilatus het probeer om Jesus los te laat. Maar die Jode het vir hom geskreeu: “As jy Jesus loslaat, is jy nie ’n vriend van die keiser nie. Hierdie Jesus wil homself koning maak.”
Toe Pilatus dit hoor, gaan sit hy op sy stoel. Die mense het die plek die Kliptrappe genoem, of Gabbata in Hebreeus. Dit was omtrent sesuur die môre. Die Jode was besig om alles reg te maak vir die fees. Pilatus het Jesus laat kom. Pilatus sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning.”
“Weg met hom!” skreeu die Jode toe. “Weg met hom! Kruis toe!”
Pilatus vra hulle toe: “Wil julle regtig hê ek moet julle koning kruisig?”
Die Joodse leiers sê toe: “Hy’s nie ons koning nie. Ons het net een koning en dit is die keiser van Rome.” Pilatus gee Jesus toe aan die Jode oor om Hom te kruisig. Hulle het Hom weggeneem.
Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.
Leef: Gesels met mekaar oor Jesus se geduld in lyding. Hoe laat dit jou voel? Sê vir Hom dankie daarvoor.