Skip to main content

HuisGeloof 16-22 Junie 2014

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar waarvoor julle bang is. [Dit is belangrik dat kinders weet en beleef dat ouers ook die Here vertrou met hul bekommernisse. Kinders kan egter maklik bang raak en onseker voel. Wanneer jy ’n vrees kies om te deel, kies iets wat nie jou kind bedreig of onseker sal laat voel nie, maar waarvoor hulle saam met jou kan bid, bv. “dat ek nie al my werk betyds gedoen sal kry nie”.]

Sondag was Vadersdag! Hier is ’n lekker aktiwiteit vir Vadersdag, vanaf Vibrant Faith @ Home:
Laat almal beurte maak om ’n muntstuk te gooi. As die muntstuk op “stert” land, vertel die speler van iets wat hulle in die verlede geniet het om saam met hul pa te doen (soos boek lees, bal speel, in die tuinwerk). As die muntstuk op “kop” land, vertel hulle van iets wat hulle sal geniet om in die toekoms saam met pa te doen. Volwassenes speel ook saam en gesels oor hul pa’s. (As kinders sukkel om aan aktiwiteite te dink, help hulle om iets vir elke seisoen binne en buite te dink.) Oorweeg om ook ander belangrike mans in jul kinders se lewens by die speletjie in te sluit, soos oupas, ooms, peetpa’s en familievriende.

BYBEL LEES

Lees Matteus 10:26-30

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor dié goed waarvoor jy bang is?
  • Dalk kan julle ’n speletjie daarvan maak om mekaar se hare te probeer tel en gesels oor hoe God vir julle sorg.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid hierdie week elke dag saam vir dié goed waarvoor julle bang is. As julle 1c-stukke in die hande kan kry, dra dit met julle saam of plak dit iewers om julle te herinner dat God vir julle sorg.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Huisgodsdiens 9-15 Junie

OMGEE GESPREKKE
Wie ken julle wat ’n goeie getuie van Jesus is – wat deur wat hulle sê en doen vir ander mense vertel van Jesus?

BYBEL LEES
Lees Matteus 28:19-20
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Hierdie is Jesus se “laaste opdrag” – die belangrikste deel van Christen-wees. Hoe kan julle aan hierdie opdrag gehoorsaam wees?

GEWOONTES EN GEBRUIKE
Dit is belangrik dat Christene getuig – vir ander mense vertel hoe lief hulle vir Jesus het en wat Jesus vir hulle beteken. Oefen julle “getuienis” teenoor mekaar – vertel vir mekaar wat Jesus vir julle beteken.

GESEËN OM TE SEËN
• Vind uit wie al ons gemeente se sendelinge is. As julle nog nie hulle gebedsbrief kry nie, vra by die kerkkantoor hoe julle kan inteken op hul gebedsbrief. Skryf vir hulle ’n briefie om te sê julle bid vir hulle – en bid gereeld vir hulle.
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

26 Mei – 1 Junie Huisgodsdiens

OMGEE GESPREKKE
Ouers vertel vir kinders van Pinkster toe julle kinders was.

BYBEL LEES
Lees Lukas 4:18-19
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Vertel vir mekaar watter vorme van (letterlik en metafories) armoede, gevangenskap, blindheid en onderdrukking in ons omgewing is.
• Jesus het met sy Hemelvaart (wat ons Donderdag vier!) vir die kerk – ons! – gesê ons moet aangaan met sy werk op aarde. Daarvoor gee hy vir ons die Heilige Gees om ons te help. Hoe kan ons aangaan met Jesus se werk wat in hierdie teksgedeelte beskryf word?

GEWOONTES EN GEBRUIKE
Pinkster begin Sondag. Bid vir al die dominees wat Pinkster gaan aanbied, se voorbereiding. Bid ook dat die Gees met julle sal praat tydens Pinkster. Onthou om Donderdag 18:30 saam Hemelvaartdiens toe te gaan.

GESEËN OM TE SEËN
• Watter deel van die teksgedeelte het julle die meeste aangespreek? Wat gaan julle in reaksie daarop doen?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.