Skip to main content

Tag: hoop

Advent 1 Hoop Habakuk Preek

Bo:  Preek opname

Segun Soyemi – Ave Maria

Segun Soyemi – Away in a Manger

Segun Soyemi – O come all ye faithfull

Segun Soyemi – Sing choirs of angels

Segun Soyemi – Joy to the world

Is jy geduldig of ongeduldig?  Dit hang natuurlik af van die konteks.  As vir iets moet wag.  In ’n ry moet staan.  Jou bestuurslisensie moet hernu,  of iets by Binnelandse Sake moet doen…  Party mense hou hulleself besig met ‘n selfoon, speel speletjies of lees.  Ander beweeg op en af, heen en weer. Soms is daar selfs mense wat net rustig tjoepstil sit.

Ek is oor die algemeen gereed vir wag, want ek het altyd iets byderhand om te lees.  Wat ek nie kan verdra, is dit:  “Configuring Windows updates… Do not turn off your computer”.

Maar daar is baie erger dinge in hierdie lewe as ’n rekenaar wat stadig vat om programmatuur af te laai.

Continue reading

Johannes 1 Oujaarsdiens Deel die Hoop

Dit is die verhaal van God wat liefdevol uitrek na die wêreld – ’n verhaal van onwaarskynlike rolspelers. Van Josef, ’n timmerman.  Maria, ’n jong meisie.  Herders.  Vreemdelinge uit ’n vreemde land.

Van Johannes.  Markus se beskrywing beeld hom uit as ’n vreemde, onwaarskynlike karakter, met kameelhaar-klere wat leef van veldheuning en sprinkane.

Ook van my; en jou. Onwaarskynlike karakters wat God kies, red en stuur.  Wanneer ons deur Advent gewag het op hoop, oor Kersfees herinner is aan ons hoop – dan stuur God ons om in die nuwe jaar as agente van hoop te leef.

Niemand voel opgewasse tot hierdie taak nie!  Ons voel ons weet nie genoeg nie.  Of ons doen te veel sonde.  Kan nie genoeg Bybelverse aanhaal nie.  Is self te bang en broos en onseker.

Tog… God kies ons, in ons swakheid en broosheid en vrees en onsekerheid.  En God stuur ons.

Continue reading

Jesaja 55 Water, Hoop en Advent

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

Hierdie woorde klink anders vandag as ’n paar jaar gelede.  Die belofte aan water, wanneer daar nie water is nie.  Ons munisipaliteit beleef van die ergste droogtes in mense heugenis. Teen Woensdag was ons damme gesamentlik op 28.69% kapasiteit.

Ons situasie is nog nie eers so erg soos die droogte in die Wes-Kaap nie!

Die afgelope week was daar boonop nuusberigte oor ’n wyn tekort – globaal, die ergste in 50 jaar.  Wat mense natuurlik laat uitroep:  wat kan nog verkeerd loop?!  Net nie die wyn nie!

Ek lees die week ’n artikel deur Nadia Marais, ’n dosent in dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch, getiteld #rainmustfall  – ’n teologiese refleksie op droogte, dors en die water van die lewe.  Sy vra o.a. of #rainmustfall ’n roep van wanhoop is, of juis van hoop?  Of is dit ’n wens?  ’n Gebed?

Wat dit ook al is, ons lees hierdie belofte aan water vandag met meer erns en ’n groter begrip van die waarde van water, as ’n tydjie gelede.  Ons besef in ons are:  water is lewe.

Continue reading

Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent

Hoop en Verwagting

Ons vier tans Advent.  Die tyd voor Kersfees.  Dis ’n tyd van refleksie, afwagting, verwagting, hoop.  Die vier Sondae van Advent het gewoonlik vier temas:  hoop, vrede, vreugde en liefde.  Vanjaar fokus ons elke Sondag op dieselfde tema:  hoop.

Daarom het Kobus verlede week begin in die kokende vuuroond van Daniël.  Vandag klim ons uit die vuuroond in die vallei van droë bene.

Want sien, hoop is nie ’n maklike of idealistiese suikerlagie bo-oor ons stukkende realiteit nie.  Ware hoop vat ons op reis na ’n paar uitdagende plekke.  Dit stap verby die vrolikheid van “Sleigh Bells Ringing in the Snow”, na die diep vreugde van Kersfees, van God met ons.

Hoop is ’n geskenk.  En hoop is werk.

Hoop kan twee goed gelyk doen.  Dit berei voor vir Kersfees, vir die koms van Christus.  Maar dit sien ook oral langs die pad die teenwoordigheid van Christus, hier en nou.

Ek wil jou regtig nooi om nie vanjaar dadelik te spring na die trifle en blinkertjies van Kersfees nie.  Daardie goed het ’n plek en dis goed.  Maar bly ook vir ’n paar oomblikke in die skaduwees.  In die stilte.  In die valleie.  Staan saam met my stil.  Kyk.  Kom ons soek hoop.

Continue reading

Jeremia 32 Preek

Ek was die afgelope week  by die Universiteit van Pretoria.  Dinsdagoggend het ons teetyd gehad op kampus, met filterkoffie en cupcakes (kolwyntjies), toe ’n groep studente singend en dansend ingestap kom.  Dit was nogal snaaks:  hulle gesigte was op ’n knop, hulle kom maak nou moeilikheid.  Maar toe hulle die eet- en drinkgoed sien, verhelder hul gesigte:  jackpot!  Hulle het ingestap en ons eet- en drinkgoed gevat.  Iemand het vir hulle ’n skinkbord gehou en gesê:  “Julle kan kry,  maar gedra jou, vra mooi.” So die studente het ’n ry gemaak, een-een gevat, dankie gesê.  Met die uitstap (ek het by die deur gestaan) het hulle dankie gesê.

Terwyl ek in Pretoria gesit het, lees ek dat hier donderbuisie en rubberkoeëls gebruik is.  Ek weet nie wat gebeur het nie, ek het nog nie met studente gepraat nie.  Maar as ek hierdie storie vertel, is die reaksie byna universeel woede.  Soos die outjie van Touwsrivier.

Dis hoekom ons Jeremia 32 moet lees.  Want ons land is droog en die universiteite is toe en die paaie is vol brandende bande of slaggate.  Dan praat ons nog nie eers oor kinders wat nie leef soos ons hulle geleer het of probleme van hul eie in die gesig staar of ons eie finansiële nood of huweliksmaats wat net nie… tsu.  En Jeremia koop grond.

Continue reading