Vreesloos 02: Hoekom is ek bang – Sondagoggend

Vrees is die siekte van ons tyd.  Blykbaar is gewone kindertjies vandag banger as psigiatriese pasiënte in die 1950’s!  Dis hoe diep vrees in ons psige sit.  Vrees deel nie graag nie.  Vrees en geluk woon nie saam nie.  Vrees in onproduktief.  Dit hou ons vas, hou ons terug, verlam ons.

Maar wat as ons ’n lewe sonder vrees kon leef?  Kan jy jou so ’n lewe indink?  ’n Lewe waar jou eerste reaksie op bedreigings nie vrees is nie, maar geloof.

Hier is vandag se YouVersion  Bybel Toep Geleentheid.

Toetrede

Lied 512 Nader my God by U

Votum en seëngroet

N.a.v. Psalm 46

Liturg:  God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming;

Gemeente:  Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

Liturg:  Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Gemeente:  Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Liturg:  Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

Gemeente:   Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Liturg:  (Seëngroet) Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Loflied

Lied 444 Kom kyk!  Kom kyk!

Doop

Epiklese

Lied 519 Wees stil en weet (sit)

Skriflesing

Matteus 8:23-27

Preek

Vrees en vreugde woon nie saam nie

Dis opvallend hoe vrees ons die afgelope paar maande oorval het.  Dit was aanvanklik ‘n ongemaklike geknaag in ons onderbewussyn, maar toe ons die woorde “junk status” hoor, het die vrees soos ’n taai dryfsand geword wat ons vasgryp en vashou.

Tog was dit reeds daar.  Vrees is die siekte van ons tyd.  Blykbaar is gewone kindertjies vandag banger as psigiatriese pasiënte in die 1950’s!  Dis hoe diep vrees in ons psige sit.

En vrees deel nie graag nie.  Vrees en geluk woon nie saam nie.  Vrees in onproduktief.  Dit hou ons vas, hou ons terug, verlam ons.

Maar wat as ons ’n lewe sonder vrees kon leef?  Kan jy jou so ’n lewe indink?  ’n Lewe waar jou eerste reaksie op bedreigings nie vrees is nie, maar geloof.

Dit is die moontlikheid wat ons in vandag se teks hoor, wanneer Jesus vra:

 “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Wat eintlik amper is soos om te vra waarom is jy nat terwyl jy swem!  Want hierdie vraag word gevra in die middel van ’n storm.

Kom ons begin by die begin en luister hoe een van die mense vir wie Jesus hierdie woorde gesê het, die storie laat onthou:

Matteus 8:23-27

23Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. 24Skielik het daar ’n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het.

Lewe en dood storms

Hierdie was ’n hewige storm.  Die BDV noem dit ’n “geweldige storm”.  Daar is baie woorde wat Matteus kon gebruik, wat gewoonlik storms beskryf.  Maar hy slaan al daardie woorde oor en gaan onmiddellik vir die ergste:  σεισμος.  ’n Aarde wat bewe en ruk onder jou voete.    Seismos.  ’n Aardbewing. ’n Storm wat jou tot in jou wese ruk.

Matteus gebruik hierdie woord net twee ander plekke:  In Matt. 27:51-54, wanneer Jesus sterf aan die kruis en 28:2, wanneer Jesus uit die dood opgewek word.

Hierdie is nie sommer enige storm nie.  Dis ’n storm om lewe en dood.

En dis onverwags!  “Skielik”, vertel Matteus.  Kan jy die onverwagsheid van hierdie storm hoor?

Jesus het in die skuit geklim, sy dissipels het Hom gevolg.  En skielik het daar ’n hewige storm losgebars.

Die dissipels het Jesus gevolg!  Ons verwag, wanneer daar vertel word van gelowiges wat Jesus volg, dat daar gelukkige gevolge sal wees.

Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik was daar ’n pragtige reënboog in die lug en ’n trop wit duiwe het in pragtige formasie oor die boot gevlieg terwyl die see soos ’n spieël geglinster het.

Dis hoe ons dink dit moet wees, wanneer ons die Here volg.  Ons was dan nou gehoorsaam!  Ons het hom dan gevolg tot hier!  Nou is dit sekerlik sy taak om te sorg dat die see saggies glinster.

Maar Jesus belowe nêrens ’n gladde see nie.  Inteendeel, Jesus sê:  In die wêreld sal julle dit moeilik hê; (Johannes 16:33). Ons het ons ore uitgeleen aan voorspoedteologie wat sê ons sal gesond wees en voorspoed beleef.  Maar dis nie wat Jesus sê nie.

Wat Christene anders maak as ander, is nie ’n gebrek aan storms nie.  Wat ons anders maak, is Wie ons in die storm ontdek:  ’n onverstoorde Christus.

V24 Maar Jesus het geslaap.

Jesus slaap in storms

Donderweer brul.  Branders slaan oor die dek.  Die bootjie word heen en weer geslinger.  Jesus slaap.

Wanneer Markus hierdie storie vertel, voeg hy ’n interessante detail by:  Jesus het in die agterstewe van die boot op ’n kussing gelê en slaap.

Op ’n kussing!

Hierdie was ’n voorbedagte sluimer.

Vrees vernietig vertroue

En dis waarskynlik die ergste ding vir die dissipels:  nie die storm nie, maar dat Jesus slaap!

25Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”

Here red ons!    Ons vergaan!

Markus verwoord hoe hulle gevoel het:  gee U dan nie om dat ons vergaan nie? (4:38)

Hulle gee nie om oor Jesus se vermoë – kan hy die storm stilmaak – nie;  of oor sy kennis – weet hy van die storm – nie.  Nee, hul vrees veroorsaak dat hulle twyfel oor sy liefde:  “Here, gee u  nie om nie?”  Want dis wat vrees doen.  Vrees vernietig ons vertroue in God se goedheid.  As God kan slaap in ons storms, as God se oë kan toe wees terwyl ons bootjie water skep, gee hy dan regtig vir ons om?  Saam met die branders van die storm, looi vrees ons met brander na brander van twyfel en onsekerheid.

Dan wil ons begin beheer.  “Doen iets!”, is die implisiete opdrag agter die dissipels se uitroep.  Wanneer vrees veroorsaak dat ons voel dat ons beheer verloor, dan begin ons om almal rondom ons te probeer beheer. Hoe meer onseker ons voel, hoe gemener raak ons – soos ’n dier wat in ’n hoek vasgekeer is.

Hierdie vrees veroorsaak geheueverlies.  Die dissipels het alle rede om Jesus te vertrou!  Hulle was saam met hom, nou net nog, toe hy “elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak”  (Matt. 4:23) het.  Hulle het gesien hoe hy mense gesond maak met ’n aanraking – of net ’n woord!  Hoe duiwels op die vlug slaan.  Maar toe die storm opkom, toe vergeet hulle.

Vrees veroorsaak geestelike geheueverlies.  Dit laat ons vergeet wat Jesus gedoen het en hoe goed God is.  Wanneer vrees oorneem, word veiligheid ons god.  Ons aanbid die risiko-vrye lewe.

En vrees kan nie liefhê nie.  Liefde is ’n risiko.  Vrees kan nie na die armes omsien nie, kan nie die naaste liefhê nie – wat nog te sê die vyand!  Vrees kan nie droom nie – kan nie waag nie, soos ons gemeente se waardes verwoord.

Jesus maak oorlog met vrees.

26Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Moenie bang wees nie

Die opdrag wat Jesus die heel meeste gee, is in die “moenie bang wees nie”- genre.  In die Evangelies gee Jesus ongeveer 125 opdragte.  21 hiervan is van die “moenie bang wees nie” – genre:  “Moenie bang wees nie.  Hou moed.  Moenie ontsteld wees nie.”  Verreweg die meeste van Jesus se opdragte, het daarmee te doen om nie toe te laat dat vrees ons oorweldig  nie.  Die tweede meeste opdragte sê ons moet  God liefhê, ons naaste liefhê.  Daar is 8 sulke opdragte in die evangelies.  Moenie vrees nie:  21 keer.  Jesus neem vrees baie ernstig op.  Die een ding wat ons meer by hom hoor as enige iets anders, is:  Moenie bang wees nie.

Vrees per se is nie ’n slegte ding nie.  Vrees is die kanarie in die myn wat ons waarsku van gevaar.  Maar wanneer vrees ons oorweldig en verlam, ons histeries maak en oorvat, dan is dit nie van God af nie.

2 Timoteus 1:7

7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Ons wêreld mag vol vrees wees, maar ons harte hoef nie vol vrees te wees nie.  Ons hoef vrees nie in te nooi, te nooi vir ete – of erger nog, ’n kamer in die huis aan te bied nie.  Jesus roep ons altyd tot geloof.  En geloof is dapper.

Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. 27Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”

Jesus hanteer ons groot storms met groot kalmte.

“Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”

Watter soort mens, inderdaad.  Miskien die soort mens wat glad nie ’n mens is nie.  Miskien die soort mens wat ons kan vertrou, in wie ons geloof kan hê, ook in die stormagtige see van hierdie lewe.

Gebed

Dankoffer

Koor lied 600 Die heiliges, beklee met heerlikheid

Slotsang

Lied 578 Jesus wat my lief het, Heer 

Seën

Respons

Lied 444 Kom kyk!

     

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Genévieve Young

    |

    ASAP

    Ek is n 2de jaar Argitek student, van NMU.
    Ek is dringend opsoek na n tuinwoonstel.

    1 or 2 bedroom/s
    1 or 2 bathroom/s
    Kitchen
    1 or 2 Parking/s (secured)
    Space to work (medium space required)

    Kontak my groot asb.
    Genévieve Young
    060 6514 417
    Of Morné Young
    082 4211 984

  • Avatar

    Anita

    |

    So jammer ek het nie voorheen kommentaar gesien nie. Sy is geholpe. Dankie

  • Avatar

    Carla

    |

    Hi, is die woonstel nog beskikbaar?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Elizabeth, jou vraag is relevant. Vir my gaan dit alles oor konteks. Die regte ding in die verkeerde konteks kan ‘n mens ontstel, terwyl in die regte konteks dit ‘n mens kan ophef. Die idee van Jesus as die Heer van die dans kan goed met sy eie opmerkings oor sy boodskap in hierdie teks verbind word. In ander kontekste kan dieselfde boodskap oor die dansende Jesus afbreek doen aan sy Goddelikheid. Groete.

  • Avatar

    Elizabeth

    |

    Dankie vir die preek..
    Ek het die lied in ‘n video gesien waar daar ballet gedans word met die ” Tema Dance with Me”. Dit was pragtig maar ek het gevoel dit pas nie.
    Was ek verkeerd?
    Ek het hulp gesoek en -Kom na My toe – en op hierdie preek afgekom.
    Baie dankie dit was verfrissend.
    Goeienag.
    Elizabeth