So dalk moet ons tema nie “vreesloos” wees nie, moet ons nie streef daarna om glad nie bang te wees nie. Nie vreesloos nie, maar dapper. Ook nie lafhartig nie, maar leef vanuit krag en liefde en selfbeheersing. Waag in geloof. Om ten spyte van ons vrees, te midde van ons vrees, steeds lief te hê.
Enige iemand kan bestuur as hulle op hul pa se skoot sit. En enige iemand kan bid as hulle op hul Pa se skoot sit. Gebed is om op God se skoot te sit en ons hande op sy stuurwiel te sit. Hy sal die spoed en die skerp draaie hanteer. Maar ons kan met hom praat. Ons kan vra: neem hierdie beker weg. Hierdie siekte; hierdie finansiële krisis; hierdie gevaar en haat en konflik; hierdie droogte, hierdie korrupte leiers. Dis al wat gebed is.
As jy meer aandag aan die storm gee as aan die een wat in die storm loop, gaan jy sink.
Ons kan nie kies of daar gaan storms wees in ons lewens nie. Ons is redelik verseker van storms. Ons kan kies waar ons kyk te midde van die storm.
Jesus se oproep om te glo, om nie bang te wees nie, is nie ’n oproep tot naïwiteit nie. Hy vra nie van ons om soos volstruise met ons koppe in die grond te sit nie. Die lewe is vol storms – oorweldigende storms wat ons wil laat sink. Jesus vra nie dat ons dit ontken nie.
Ons taak is om die aanslae van die storms te balanseer met ’n uitkyk op God.
Al moet ons polisse hê, moet ons op God vertrou, nie op die polis nie. Die probleem is nie die die ryk man se rykdom of skure nie. Dis die feit dat hy fokus dáárop, dat hy dít vertrou, dat dit moet sorg dat hy veilig is, dat sy skure vir hom moet voorsien. Daardie skure het dan die manier om voor God in te skuif, soos die maan voor die son tydens ’n sonsverduistering.
Daar is niks wat ons so dapper maak, soos ’n helder verstaan van God se genade nie. En daar is geen beter teelaarde vir vrees as onkunde van God se genade nie.
Volgens God is jy op ’n wonderbaarlike wyse geskep (Ps. 139:14). Kunstig aanmekaargeweef (Ps. 139:15) – interessant, dis nie eers in die N.A.V. vertaal nie! God kan nie ophou aan jou dink nie – sy gedagtes oor jou is meer as wat daar sand is (Ps. 139:18).
Jou waarde is nie gegrond in hoe mense jou behandel nie. Jou waarde is gegrond in hoe God jou behandel. God, wat die hare op jou kop tel. Wat vir jou SÊ dat jy kosbaar is, dat hy lief is vir jou. Wat dit vir jou wys deur sy lewe af te lê.