Vreesloos 01: Vrees vir God – Hemelvaartdiens
As dit lank terug was dat ons beeld van God ons knieë lam gemaak het, dan verklaar dit ook hoekom ons vrese ons verlam. Want wanneer Christus groot is, is ons vrese nie. Hoe groter ons beeld van Christus is, hoe kleiner word ons vrese.
Votum
Openbaring 5
“Die Lam wat geslag was, is waardig
om die mag en rykdom,
die wysheid en sterkte,
die eer, heerlikheid en lof
te ontvang.”
“Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid.” Amen
Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Loflied
Lied 589 Verheerlik aan Gods regterhand
Epiklese
Skriflesing
Matteus 17:1-8
Preek
Vandag is natuurlik Hemelvaartdag, maar hierdie verhaal wat ons nou gelees het, is nie die verhaal van hemelvaart nie! Dis die verhaal van die verheerliking. Dis soms maklik om die twee te verwar, nou maak ek dit nog erger deur op hemelvaart oor die verheerliking te preek!
Ons Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang is. Vanaand gesels ons oor die een vrees wat sin maak, die een ding waar die Bybel sê vrees ’n gepaste reaksie is: vrees vir God.
Wanneer die wêreld vir ons gevaarlik en bedreigend voel, probeer ons goed in bokse plaas. As ons dit net kan verklaar, kan beheer, dan hoef ons nie bang te wees nie. Bokse verleen orde aan die wêreld.
Natuurlik is dit in ons koppe ook waar van God! Ek het ’n paar jaar gelede tydens ons reeks oor Godsbeelde die storie vertel van die volwassene wat vir die kinders vertel dat God nie pas in ’n boks nie. Waarop een van die kinders reageer: Gebruik ’n groter boks.
Dis natuurlik presies wat ons doen. Gebruik ’n groter boks. ’n Boks waarin ons God krampagtig vasklou, ’n god wat ons kan beheer, kan voorspel. Wat eintlik – maak nie saak ons mooi teologiese taal nie – in ons diens staan, wat sorg dat ons gelukkig is, dat alles goed gaan met ons.
Dan lees ons die teks van vanaand. Ons het ook die teks mak gemaak! Maar kyk wat gebeur hier:
2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.
Dit laat ’n mens dink aan 1 Joh. 1:5:
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Of 1 Tim 6:16:
16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.
Hierdie is nie Jesus “meek and mild” nie. Hierdie is Jesus, die Christus, in sy goddelike vorm. In ’n oogwink is Petrus en Johannes en Jakobus soos muskietjies in die teenwoordigheid van ’n arend.
Natuurlik, hulle het vir Jesus op water sien loop, sien brood vermeerder, praat met wind, duiwels uitdryf, selfs dooies opwek. Maar nou staan hulle in die teenwoordigheid van die Christus, die Lig vir die wêreld. Nog meer: Moses en Elia staan by hom – die wet en die profete in die Lig van die Woord.
En Petrus? Wel. Petrus. Petrus wil onmiddellik ’n boks maak. Hy noem dit ’n hut. Maar dis ’n boks – ’n manier om vir Jesus te beheer, vas te hou. Hy verstaan net mooi niks. Hy dink Jesus en Moses en Elia moet saam hier bly – asof Moses en Elia waardig is om by Jesus te bly!
Terwyl hy nog praat, praat die hemel self:
het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
Geliefde seun. Van onskatbare waarde. Uniek. Enig. Daar is geen ander soos hy.
Petrus en Johannes en Jakobus het gesien at geen ander mens in die geskiedenis gesien het nie: die Christus, in sy volle glorie. Daar is nie woorde vir so ’n oomblik nie. Jy kan dit nie vasvat nie, nie bêre in ’n boksie nie.
Toe hulle dit besef, het hulle gesigte bleek geword en hul knieë ingegee. Hulle het bang geword en op die grond neergeval.
Dis die gepaste reaksie.
Hulle het die Een gesien wat gedans het met die skepping, wat die sterre in die hemel gestrooi het; wat profete met vuurwaens weggevoer het en Farao in die see laat dryf het.
Vrees is die gepaste reaksie.
Meeste vrese is giftig. Dit neem juis die vrede weg wat God belowe. Dit maak ons lam, verander ons in slawe. Maar daar is niks neuroties aan die vrees vir God nie.
God openbaar homself aan ons, laat homself ken in Christus, sodat ons die REGTE dinge kan vrees. Soos Ellen Davis sê: Fear of the Lord is the deeply sane recognition that we are not God.
Kan jy hierdie vrees onthou? Daardie diepe ontsag vir die Here in jou vel en been, wat jou op jou knieë dwing en asem uit jou longe jaag? Wanneer laas het ’n kykie op God wat verbybeweeg jou sprakeloos en uitasem gelaat? Ek raai vir meeste van ons is dit nogal ’n tydjie.
As dit lank terug was dat ons beeld van God ons knieë lam gemaak het, dan verklaar dit ook hoekom ons vrese ons verlam. Want wanneer Christus groot is, is ons vrese nie. Hoe groter ons beeld van Christus is, hoe kleiner word ons vrese.
’n Groot God lei tot groot moed. ’n Klein beeld van God lei tot kleingelowiges wat klein en lafhartig onder die komberse lê, vreesbevange vir die monsters onder die bed.
God in ’n boks pas dalk maklik in ons teologie, of ons skedule of ons daaglikse lewe…. maar hy verander niks aan ons vrese vir die toekoms en die ekonomie en geweld en onreg nie.
Ek dink dis een van die redes waarom Jesus sy vriende saamgeneem het by die berg op. Hy het geweet wat vir hulle voorlê: verloëning, tronk, vervolging. As hulle God in ’n boks gepas het, sou hul uitdagings hulle ondergekry het. Daarom het Jesus het hul boks uitmekaar geblaas.
Mag hy ook ons bokse uitmekaar blaas.
Ons het hierdie Christus nodig. Die Een wat straal met die lig van die son, wat opgevaar het na die hemel, wat aan die regterhand van God sit, op die troon, met engele wat sing “Heilig heilig heilig.”
Dis ons Here. Kyk na hom. Moenie jou vrees mors op aardse goed nie. Hou dit vir hom – en die ander vrese sal vervaag, verdwyn.
Psalm 27:1
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
In CS Lewis se Narnia boek “Prince Caspian”, sien Lucy vir Aslan, die die leeu, vir die eerste keer in baie jare. Hy’t verander sedert sy hom laas gesien het. Sy is verras deur hoe groot hy is – wat sy ook vir hom sê.
“Aslan”, said Lucy, “you’re bigger.”
“That is because you are older, little one,” answered he.
“Not because you are?”
“I am not. But every year you grow, you will find me bigger.”
En so is dit met Christus. Hoe langer ons hom ken, hoe groter word hy vir ons. Dis nie hy wat verander nie, maar ons wat meer van hom sien. Ons gooi die ou bokse weg. Die ou arrogante sekerhede kan net verdwyn en plek maak vir die begeerte om meer en meer van Christus te leer ken.
Dan is dit gepas dat ons ook op die grond neerval. Wanneer ons op die grond neerval, in die vrees vir die Here, dan reageer hy soos wat hy daar op die berg teenoor Petrus en Jakobus en Johannes reageer het. Die lig soos die strale van die son steek sy hand uit, raak ons aan en sê:
Staan op en moenie bang wees nie.
Jesus is groot genoeg.
Ons gaan in die week wat kom hierdie gedagte ondersoek: Staan op en moenie bang wees nie.
Gebed
Soak SA in prayer – South African Council of Churches.
Slotsang
VONKK 277 U is die lig wat deur die donker skyn
Seën
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
hemelvaart, Hemelvaartdiens, preek, Rethie van Niekerk, vreesloos