1 Korintiërs 3:10ev
Jare gelede het ek gelees van ’n fenomeen in ’n sekere area in die VSA – Austin, Texas. Hulle noem dit “Austin Clay”. Dit ’n tipe grond wat glad nie anders lyk as ander grond nie. Dit lyk maar soos gewone grond. Maar as jy ’n huis daarop bou, gaan jy probleme hê. As daar baie reën val, word die klei sag – so sag, dat die huis effens wegsak. As daar droogte is, word die klei kliphard, sodanig dat dit die huis opdruk en die huis effens skuif. Dan kan deure nie toemaak nie, vensters nie oopmaak nie en daar verskyn krake in die fondasie. Sommige fondasies kan selfs middeldeur skeur, sodat die huis sink.
Blykbaar is daar ook baie rots in Austin. Mense neem net aan – omdat daar so baie rots is – dat hul huise op rots gebou is. Tot die dag wanneer hulle uitvind dis op Austin Clay gebou. Dan is dit tickets vir jou huis.
Dis natuurlik dieselfde hier in Somerstrand. Jy kan nie sommerso ’n effense fondament gooi en begin bou nie. Jy moet ekstra moeite in die fondament insit, sand kompakteer, die fondament breër bou – anders, as jy weer kyk, gaan die mure gaan begin kraak en gaan jou huis begin wegsak in die sand.
Die fondament waarop jou bou is lewensbelangrik. Dis dieselfde wat Jesus sê in Matteus 7, wanneer hy praat van dwase wat hul huis op sand bou en wyses wat hul huis op rots bou.