Paasfees Johannes 20

In Maria Magdalena se liggaamlike bewegings by die leë graf, volg ons die patroon van ons eie ontmoetings met Jesus:  huil, omdraai, vashou en gaan.

Verwelkoming

Jesus leef!
Vandag vier ons die beste nuus ooit:  Jesus leef.

‘n Bejaarde oom is met ‘n terminale siekte gediagnoseer.  Hy het sy sake in orde begin kry, en onder andere die dominee gevra om ‘n draai te kom maak om sy laaste wense te bespreek.  Hy het gesels oor die liedere by sy begrafnis, die Skrifgedeeltes wat gelees moet word.  Toe dit tyd word vir die dominee om te vertrek, sê die oom:  “Daar is ‘n laaste wens. Ek wil met ‘n vurk in my regterhand begrawe word.”  Die dominee het nie geweet wat om te sê nie. ‘n Vurk?  Die oom het verduidelik:  Al die jare was daar gereeld etes by die kerk.  Wanneer die borde weggeneem word, sou iemand gewoonlik sê almal moet hul vurke hou.  Dan was die oom altyd opgewonde, want hy het geweet iets lekkers kom, die beste deel van die hele ete.  “Hulle gaan nou sjokoladekoek of appelpastei bedien.
Ons gaan ons vurke nodig hê. So, wanneer mense my met ‘n vurk in my hand in my kis sien lê, en vra ‘Wat gaan aan, waarom ‘n vurk,’ moet dominee asb. vertel ek herinner hulle net: ‘Hou jou vurk, die beste is aan die kom!'”

Kom ons groet mekaar met die groet: Jesus leef! En ons met hom!

Toetrede

Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke? (staan)

Votum

Langs die graf het figure wit geklee
eerste woorde aan dié boodskap gegee:
“Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”
Die vroue, oorbluf deur die leë graf,
het met dié tyding na Petrus gedraf:
“Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”
Deur die hele streek het mense geluister na hierdie gerug,
bakhand gefluister: “Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”
Met sy vingers op die verwonde sy
het ook Thomas, die twyfelaar, bely:
“Hy hét opgestaan.Hy het waarlik opgestaan.”
Pinkster het Petrus vir massas gesê
dat hierin redding vir die wêreld lê:
“Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”
In Tarsus, in Rome, selfs in ’n sel
het Paulus aan almal dié nuus vertel:
“Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”
Twintig eeue lank dra die kerk dié boodskap oor,
en vandag laat ons die wêreld weer hoor:
“Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.”

Neels Jackson

Voorganger: Die Here het opgestaan!
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!
V: Dood, waar is jou angel?
G: Doderyk, waar is jou oorwinning?
V: Die dood is ingesluk.
G: Die oorwinning is behaal!

Lied 425 Kyk die Heer het opgestaan (staan)

Seëngroet

Voorganger:
Jesus leef!
En ons met hom!
Genade vir julle
en vrede
van God die Vader
Gemeente: Hy sorg vir ons!

V: en van die Seun
G: Hy het waarlik opgestaan!

V: en van die Heilige Gees
G: Hy leef in ons! Amen

Lofsang

Lied 417 Jesus, ons eer U, opgestane Heer (staan)

Doop

Gebed

Video

Skriflesing

Verlede Sondag  het onsPalmsondag gevier, Jesus se intog in Jerusalem. Ons het gesê Jesus regeer anders as die wêreld, as wat ons ken of verwag.  Vrydag het ons gehoor hoe die lydensverhaal in Johannes verkondig dat Jesus koning is.

Die Johannes evangelie het van die mees aangrypende verhale van die opstanding, met verskeie karakters.  Elkeen se geloof is anders.  Elkeen het op ‘n ander manier reageer op die nuus van die opstanding.  Ons gaan vanoggend net enkele van hierdie reaksies lees, maar die belangrik om kennis te neem daarvan, want geloof lyk nie dieselfde vir ons almal nie. Ons reageer verskillend op die openbaring van God in Christus.  Om die waarheid te sê, selfs die  openbaring is nie presies 100% dieselfde vir almal nie.

Ons lees bv. nie vanoggend van die dissipels wat vreesbevange in die bokamer sit – ná hulle die leë graf gesien het – of Tomas twyfelende geloof nie.  Tog is dit belangrik om daaraan vas te hou.  Onthou dat die manier waarop ons tot geloof kom, die tyd wat dit vat om tot geloof te kom, verskil.

Johannes 20:1–18

Inleiding

Die Skrifgedeelte wat ons vanoggend gelees het, vertel o.a. van Maria Magdalena.  In ou kerk tradisies, word sy altyd uitgebeeld met ‘n eier in die hand – gewoonlik ‘n rooi eier!

Mense is onseker waar die gewoonte vandaan kom, maar daar is ‘n paar legendes:
Een is dat, nadat Jesus opgevaar het na die hemel, Maria Magdalena na Keiser Tiberius in Rome is om te vertel van Jesus se opstanding.  Sy het ‘n eier saamgevat om die boodskap te illustreer.  Sy het die eier opgehou, gesê: “Jesus het opgestaan!” Die keiser  het haar uitgelag en gesê Jesus het net so min opgestaan as wat die eier rooi is!  Onmiddellik het die eier rooi geword!

Jy kan hoor dis waarskynlik ‘n storie. In ‘n ander tradisie het sy ‘n mandjie vol hardgekookte eiers saamgeneem op pad na die graf, waarskynlik vir ontbyt terwyl sy wag vir iemand om die klip weg te rol.  Toe sy by die graf aankom, was die klip reeds weggerol en sien sy die eiers in haar mandjie het helder rooi geraak.

Ons weet nie wat die waarheid oor Maria Magdalena en die eier is nie, maar ons weet dat Christene paaseiers as simbool gebruik het van die vroegste tye af – reeds in die apostels se tye. Eiers was nog altyd, in baie kulture, selfs voor Christus, ‘n simbool van skepping en wedergeboorte.  Na Jesus se opstanding het dit nuwe betekenis gekry, ‘n simbool van nuwe lewe wat uit die graf voortkom. Mense nie kon lees / skryf nie, en eiers is gebruik om die goeie nuus van die opstanding te verduidelik.

Die eiers is dikwels rooi geverf, om te herinner aan Jesus se dood.

Vandag het ons steeds paaseiers.  Eier herinner ons aan lewe, groei, lewe uit iets wat dood lyk.  Ons eiers is lekker, soet eiers, wat ons herinner aan die gawe van lewe wat ons by Christus ontvang. En, eiers vandag, as jy dit oopmaak – is dit leeg!  Dis onverwags.  Soos Maria by die graf verwag het om Jesus se liggaam te kry – en toe is die graf leeg!

(die wat mag / wil – kom kry stukkie paaseier na die tyd)

Preek

Voordat ek verder uitbrei op die verhaal by die graf, net eers ietsie oor Maria Magdalena:  wat ons van haar weet, wat ons nie van haar weet nie.  Iewers langs die pad – in waarskynlik een van mees suksesvolle en blywende smeerveldtogte in geskiedenis, het die idee begin ontstaan dat Maria Magdalena ‘n prostituut was.  Daar is géén gronde, geen geskiedkundige bronne, beslis nie geen Bybelse gronde vir hierdie gerug nie.  Dalk word Maria Magdalena verwar met die vrou in Lukas 7, wat uit dankbaarheid vir die vergifnis wat sy ontvang het, Jesus se voete met olie salf, met haar trane natmaak en haar hare skoonmaak.

Twee goed hieroor: eerstens, dis nie Maria Magdalena nie.  Tweedens, die aard van haar sonde word nooit genoem nie!  Dis vreemd hoe mense oor eeue aangeneem  het dat seksuele sonde die enigste sonde is waartoe vroue in staat is.  Hierdie historiese obsessie met sogenaamd seksuele sondes sê meer van die mense wat die sonde so intens bespreek het, as van die mense wat volgens hulle daaraan skuldig was – of van die verlossing wat Jesus bring.

Goed, so kom ons sê eers vir mekaar: Maria Magdalena was nie ’n prostituut nie.  Wat ons van haar weet, is dat sy een van Jesus se volgelinge was, dat sy teenwoordig was by sy kruisiging en dan hier – dat sy die eerste getuie van die opstanding was.

Huil

Wat dit aanvanklik glad nie verstaan nie!  Wat oorweldig deur smart en desperaatheid by die leë graf staan en huil.

Maria word heeltemal verblind deur haar hartseer. Twee engele verskyn aan haar, maar sy is so gefokus op haar missie, so oorweldig deur verdriet, dat sy hulle nie sien vir wat hulle is nie.

En dan sien sy vir Jesus!  Maar haar trane maak haar blind. Jesus staan reg voor haar. Maar sy kan hom nie sien nie.

Jesus vra: “Vir wie soek jy?”  Soos wat hy gevra het vir die eerste dissipels in hoofstuk 1.  Vir die soldate in Getsémané.  Wie soek jy?  Hierdie vraag omraam die evangelie en konfronteer elkeen van ons met ons eie naarstigtelike soeke.  Wie soek jy?  Elkeen van ons wat dit waag om in die verhaal van die evangelie in te klim,
word met hierdie vraag gekonfronteer: wie soek jy?  Wat is jou diepste soeke, jou diepste begeerte?  Dié soeke en hunkering, wat net volledig bevredig kan word in ’n ontmoeting met Christus?

Maar Maria, natuurlik, bly blind vir Jesus se teenwoordigheid. Dit is die opgestane Heer self wat met haar praat,
haar diepste hartsbegeerte, die een na wie sy soek – en sy kan hom nie sien nie.

Omdraai

En dan lees ons hierdie aangrypende vers: 20:16 (AFR1983)

Jesus het vir haar gesê:
“Maria!”
Sy draai na Hom toe
en sê in Hebreeus vir Hom:
“Rabboeni!”
Dit beteken leermeester.

Haar liggaamlike beweging simboliseer ’n dieper beweging – ’n verandering van perspektief, inderdaad ’n bekering, ’n ommekeer.

En wat veroorsaak hierdie ommekeer?  Jesus wat haar op haar naam noem. Maria. Jesus, die Goeie Herder wat sy skape op hulle name noem en hulle lei.  Jesus is toe regtig die Goeie Herder wat sy skape ken.  Dit is waar van Maria Magdalena en van elkeen van ons. God ken ons op ons name.

Daarvan is die doop ’n teken en ’n waarborg.  Die teken op ons voorkop, dat ons gedoop is in die Naam van Vader, Seun en Gees.  Jesus roep jou op jou naam.

Daardie roeping laat ons omdraai, wegdraai van die desperate soeke van voorheen, na die een wat ons naam ken, wat ons lief het, wat ons bevry.

Vashou

Maria se onwillekeurige reaksie, kan ons aflei, is om Jesus vas te hou.  Dit klink nogal hard as mens dit so lees, die woorde aan ‘n desperate vrou wat ‘n geliefde weer lewendig vind:  Moenie aan my vat nie!

Maar dit moontlik dat die probleem nie is met vat, met aanraking nie – immers net hierna nooi Jesus Tomas om aan hom te vat. Dalk is die probleem eerder met vashou, met vasklou.  Die Griekse woord vir “vashou” (N.A.V.) / “aanraak” (OAV), is απτου / hapto: vashou, met ‘n konnotasie van beheer, besit, definieer, manipuleer, koöpteer.  Byna soos Moses toe hy vra wat God se naam is – omdat hy God wil vashou, beheer, definieer.

Dalk is wat Jesus hier vir Maria leer, dat die opgestane Here homself nie sal laat vashou nie.  Dat ons hom nie kan beheer, in ons boksies plaas, in ons kategorieë pas nie.  Om die waarheid te sê, ons leer Jesus eers ken wanneer ons Jesus toelaat om Jesus te wees en ophou om hom te probeer vashou, ophou om hom te probeer maak wat ons wil hê hy moet wees.

Aartsbiskop van Canterbury, Rowan Williams, sê:

There is a clinging to Jesus that shows itself in the longing to be utterly sure of our rightness. We want him where we can see him and manage him, so that we know exactly where to turn to be told that everything is all right and that he is on our side. We want to stand still and be reassured, rather than moving faithfully with Jesus along a path into new life whose turnings we don’t know in advance… Perhaps when Jesus tells us not to cling to him, one of the many things he says is, “Do not use me, do not use any vision of what is true or good, to keep yourself from recognising the real and potential evil in you. Don’t cling; follow. Take the next step, putting your feet in the gap I have cleared, conscious of how you may make mistakes, but trusting that I can restore you and lead you further, that I can deal with the residues of evil in you heart and in every heart.

Gaan

Jesus stuur Maria in die rigting van die geloofsgemeenskap.

Huil, draai, vashou, word: gaan.  Vertel. 20:17 (AFR1983)

‘Ek vaar op na my Vader toe,
wat ook julle Vader is,
na my God,
wat ook julle God is.’ ”

En daar is die evangelie, die goeie nuus van Paasfees, die gevolge van Jesus se lewe, sterwe en opstanding:  ’n nuwe verhouding met God!  My Vader is nou jou Vader.  My God is jou God.

12Maar aan almal wat Hom aangeneem het,
dié wat in Hom glo,
het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Johannes 1:12

John 20:18 (AFR1983)
18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê:
“Ek het die Here gesien!”

Dankoffers

Slotsang

Vonkk 5 Vreugde! Vreugde! (staan)

Seën

V: Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
G: Hy is ons vrede.
V: Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
G: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid. Amen

Respons

Vonkk 5 Vreugde! Vreugde! refrein (staan)

     

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment