Matriek-uitstuurdiens Filippense 3
Vanoggend is ons jaarlikse Matriek-stuurdiens. Juis hier aan die begin, voor jy die wêreld op jou eie betree, is dit goed om te vra: hoe definieer jy sukses? Wat is sukses vir jou? (Dis natuurlik ook vir ons wat ouer is – of jonger – goed om dieselfde vrae te vra.) As jy oor 10, 20, 50 jaar terugkyk na jou lewe: wat moes jy gedoen het, sodat jy kan voel jy was suksesvol? Sal jy geleerd moet wees? Beroemd? Ryk? Hoe ryk? Hoe gaan jy dit meet? Moet jy getroud wees? Kinders hê? Hoe gaan jy sukses meet?
En wat as jy nié daardie dinge bereik nie?
Toetrede
Lied 175 Majesteit Afr., Eng.
Votum
Psalm 19
Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
8 Die wet van die HERE is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die HERE is betroubaar, dit gee wysheid aan die eenvoudige. 15 Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, HERE, my Rots en my Verlosser.
Seëngroet
(Filippense 1:1b-2)
Verwelkoming
Matrieks , Nuwe lidmate, Verjaarsdae,
Lofsang
Flam 21 v1-3 In die hemel is die Heer
Toewyding
Dink bietjie na: wie is jy? Wat het jy al bereik?
Paulus praat in vanoggend se teks oor sy CV, oor alles wat hy bereik het. Hy sê (uit die Boodskap vertaling) in Filippense 3:4b-11
4Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word, 5is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom.
6In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie.
7Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. 8Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander.
Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame.
Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, 9maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. 10Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. 11Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap.
Paulus sê twee goed:
Eerstens dat ons aan God behoort, deel het God se liefde en genade, nie omdat ons so goed is, die regte dinge doen en reëls nakom nie, maar omdat ons glo. Die doop herinner ons daaraan. Jy het waarde, want jy is God se kind. God self jou sy kind gemaak. In ons wêreld voel ons dikwels ons moet liefde en aanvaarding en status verdien, deur prestasies of deur die regte goed te doen. Dis nie so met God nie. God se liefde is genade. Maak nie saak hoe jou CV lyk – God het jou lief omdat Jesus Christus jou syne gemaak het.
Verder sê Paulus dat die goed wat ons dink so belangrik is, waaraan ons waarde en sukses meet, eintlik glad nie so belangrik is as wat ons dink nie. Dit beteken natuurlik nie dat al die dinge wat jy bereik het, die saak maak nie. Paulus sê daardie dinge kan wel jou aandag aftrek van wat regtig belangrik is, naamlik om Jesus te ken. Wat waarde en sin aan die lewe gee, die een ding waarop dit die moeite werd is om te fokus, is ons verhouding met Jesus. Dit help ons om al die ander dinge wat ons opslurp, waaraan ons ons eiewaarde kan begin heg, in perspektief te hou.
Lofsang
Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees
Gebed
Skriflesing
Filippense 3:4b-14
Inleiding
Wie het al Ironman, Ironman Corporate of Ironkids gedoen? Ek weet van Ironman niks en verstaan dit nog minder. Daarom het ek vir Salomé Loots gevra om met my te gesels oor Ironman.
Hoeveel Ironmans het jy al gedoen? (Gaan volgende week Turkye.) Wat verg dit om ’n Ironman te doen? [is ‘my’ ding; kan ander dinge doen. Vat baie tyd, fokus, oefen] Tydens ’n wedloop: wat laat ’n mens aanhou? [fokus op einde, visualiseer volgende punt, eindpunt, as nie lekker voel – kramp, pyn – fokus op iets verder]
Integrasie
Sukses?
Vanoggend is ons jaarlikse Matriek-stuurdiens. Ek is altyd effens ongemaklik met die benaming. Ons stuur nie die matrieks uit die kerk uit nie. Ons stuur julle wel in die wêreld in. Ons moedig julle aan vir die eksamen. Dan gaan julle die wêreld pak. Ons weet julle gaan groot hoogtes bereik.
Juis hier aan die begin, voor jy die wêreld op jou eie betree, is dit goed om te vra: hoe definieer jy sukses? Wat is sukses vir jou? (Dis natuurlik ook vir ons wat ouer is – of jonger – goed om dieselfde vrae te vra.) As jy oor 10, 20, 50 jaar terugkyk na jou lewe: wat moes jy gedoen het, sodat jy kan voel jy was suksesvol? Sal jy geleerd moet wees? Beroemd? Ryk? Hoe ryk? Hoe gaan jy dit meet? Moet jy getroud wees? Kinders hê? Hoe gaan jy sukses meet?
En wat as jy nié daardie dinge bereik nie? Wat as volgende jaar universiteit toe gaan, maar oor twee jaar opskop omdat jy eenvoudig nie die mas kon opkom nie? Wat as op 50 geskei is? Drie keer bankrot gespeel het? Wat as jy worstel om jou maandelikse motorpaaiement te betaal, terwyl jy elke dag lank in die verkeer sit op pad na ’n werk toe waarvan jy nie hou nie, net om vanaand laat terug te gaan? As jy dag tot dag deur die gewone, alledaagse lewe gaan en op geen manier uitstaan nie. Sal dan steeds voel jy was suksesvol?
Wat is dit wat nut en sin aan jou lewe gee? En as daardie goed dan nié gebeur nie – as jou vriende jou verlaat en jy op jou op eie eindig – gaan dit beteken jou lewe is nie meer sinvol nie, het nie meer nut nie?
Die onderstebo wêreld
Verlede week het ons die gedeelte net voor hierdie een gelees. Ons het gesê die wêreld waarin ons leef, se waardes is onderstebo. Ons het gepraat oor die manier waarop die wêreld heeltyd sê ons moet boontoe, die leer van sukses klim, terwyl die Gees ons altyd af ondertoe lei, na diensbaarheid en nederigheid.
Vandag se teks sê presies dieselfde. Ons wêreld is onderstebo. Ons wêreld beskryf presies die verkeerde goed as sukses.
Dit maak ons seer. Want as sukses is om baie geld en status te hê, beeldskoon te wees, deur jou portuurs bewonder te word… dan is ons nooit suksesvol nie. Want jy sal nooit genoeg geld hê, mooi genoeg wees, genoeg status hê nie.
Ons probeer ander oortuig ons het die perfekte lewe. Ons neem foto’s van heerlike (gesonde!) kos. Rek ’n spier om die perfekte foto van die perfekte vakansie te neem – sodat mense nie kan sien dat ons eintlik in ’n sandput in iemand se agterplaas sit nie. Eintlik is ons besig om te jok. Want ons weet ons is nie goed genoeg nie. Ons voldoen nie aan die wêreld se standaarde nie. Al is ons lewe nie perfek nie, kan ons minstens ander se respek kry, omdat hulle dink dis perfek.
Maar ons is nooit tevrede, nooit gelukkig nie. Want dit voel altyd asof ons nie goed genoeg is nie. Ons gaan nooit kan stilstaan en sê: “nou is ek suksesvol” nie. Dis hoekom Paulus sê: “ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” Hy is besig om die wêreld weer reg om te draai. Sukses te herdefinieer, alles net weer in perspektief te plaas.
Di beteken nie dat jy nie meer daarna hoef te streef om suksesvol te wees, dat jy nou maar alles kan los en hier op kerk se stoep kom plak nie. Wanneer ons die Gees toelaat om ons lewens reg om te draai, bly ons steeds besig met baie van dieselfde goed. Jy leer steeds hard vir die eksamen. Jy gaan steeds universiteit toe. Jy kan steeds trou, kinders kry. Jy gaan steeds hard werk aan jou loopbaan. Maar jou fokus is nie op daardie goed nie. Dit definieer nie ons sukses. Dis soos met Ironman – terwyl ons besig is met hierdie goed, fokus ons vorentoe.
Waarop fokus ons dan?
10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
As jy oor 10 of 50 jaar wil terugkyk en wil tevrede wees, wil voel jy is besig met die regte goed – volg dan hierdie raad.
1. om Christus te ken
’n Jaar of wat gelde het die tieners die in kategese o.l.v. Annelet ’n reeks gedoen getiteld “Follower, not a fan”. Die groot Deense teoloog Kierkegaard het gepraat van bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus. Bewonderaars – fans – dink baie van Jesus en sy leer, stem op punte saam met Hom, haal Hom graag aan en beskou Hom as ‘n besondere mens. Leerlinge staan veel nader aan Hom. Hulle wil van Hom leer. Hulle neem in wat Hy gesê het, bestudeer dit, bespreek dit en kan dit later selfs op hulle beurt vir ander leer. Dissipels egter, is nie net verbonde aan sy leer nie, maar aan Jesus self. Hulle lewens, en is in sy hande. Dit is meer as net kop-kennis, een of ander intellektuele insig of teoretiese kennis. Dit is hartskennis, wat ons vandag dikwels ’n persoonlike verhouding noem. Dit is die intieme kennis van ’n gedeelte lewe.
2. die krag van sy opstanding te ondervind
Om op hierdie manier in Jesus se lewe te deel, beteken dat ons ook die krag van sy opstanding ondervind. Efesiërs 1:19-20 spel dit aangrypend uit:
hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek … het:
Die mag van die dood is baie keer deel van ons lewens. Soms in ons verhoudings, wanneer ons mekaar seermaak, afbreek. Soms in ons verstaan van onsself, wanneer ons idees oor wie en wat ons moet wees, ons lig laat verdof. Soms in ons werk, wanneer dit ons moed breek.
Maar waar Jesus is, is daar lewe.
Jesus se opstanding is nie net iets wat in die verlede gebeur het nie. Dit is ’n daaglikse realiteit. Dis die realiteit van opstanding, krag en lewe, ook in moeilike, pynlike situasies. Dit is waarop Paulus sê hy wil fokus: op die krag van Jesus. Krag wat wonderbaarlik in ons lewens werk, wat lewe bring.
3. deel te hê aan sy lyding
Dan sê Paulus die derde ding waarop hy wil fokus, is om deel te hê aan Jesus se lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Want dit is hoe ons deel kry aan hierdie lewe saam met Jesus – deur saam met hom te sterf.
Ons mense is maar simpel. Ons wil altyd graag nog reëls hê. Ons dink altyd alles is ons werk. Selfs ons verlossing, selfs ons deel aan God se liefde, aan die lewe met Jesus, aan die opstanding – ons dink ons moet dit op ’n manier verdien.
Maar ons kry deel aan Jesus, deur te glo dat hy vir ons aan die kruis gesterf het. Deur dit te aanvaar en ons lewens aan hom oor te gee. Wanneer ons babatjies doop, word ons hieraan herinner: dat ons in ons doop saam met Jesus sterf, sodat ons saam met hom kan leef. Dis ’n geskenk, wat Jesus vir ons gee.
Op pad na die wenstreep
Wat Paulus sê, is dat hierdie die goed is waarop ons oë moet hou terwyl ons die resies van die lewe hardloop.
12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Dis soos Ironman. Paulus sê hy het nog nie alles al bereik nie:
Daar gaan nog doodsheid in ons lewe wees, plekke waar dinge nie reg verloop nie. Daar sal altyd seerkry in die lewe wees. Maar ons hou ons fokus op Jesus.
Ons gaan nie in hierdie lewe vir Jesus kan ken soos wat ons wil nie. Ons kan altyd nog groei in ons verhouding met hom. Ons hou ons fokus op Jesus.
So jy gaan aan met jou lewe, met die dinge wat die wêreld sukses noem. Jy leer hard vir die eksamen. As jy gaan studeer, werk hard. Wanneer jy begin werk, werk hard sodat jy suksesvol kan wees. Begin ’n lewe met geliefdes.
Maar soos ’n Ironman sorg dat hulle fiks bly, so sorg jy dat jou fokus op Jesus bly. Terwyl jy die dinge doen, onthou dat dit nie die doel van die wedloop is nie.
As jou lewe gaan gaan oor jouself, oor geld, status, verhoudings – dan gaan jy jou lewe lank onbevredig en ongelukkig wees. Maar as jy fokus op Jesus, dan sal ook hierdie goed – jou werk, dalk selfs geld maak, spesiale verhoudings met geliefdes – vir jou sin maak.
Dit geld natuurlik nie net vir die matrieks nie, maar vir ons almal. Terwyl ons vanoggend spesiaal fokus op die matrieks: As julle die wêreld ingaan, wens ons julle die sukses van die wêreld toe. Ons bid dat dit goed sal gaan eksamen. As jy gaan studeer, bid ons dat jy ’n veld sal vind wat jou passie is, dat jy jou studies sal geniet, suksesvol sal wees. Wanneer begin werk, bid ons dat jou werk jou passie sal wees. Dat werk vir jou vreugde sal wees. Dat jy werk sal vind wat nie net jou lewe verbeter nie, maar ‘n impak sal maak in die wêreld, werklik sal bydra daartoe dat hierdie ’n beter wêreld word. Ons bid dat jy heerlike, opbouende verhoudings sal hê. Dat die Here mense sal stuur om in jou lewe te deel, wat jou verryk en wie verryk word deur jou teenwoordigheid.
Maar meer as alles, bid ons dat jy Jesus sal ken. Dat jy jou hele lewe lank op hom sal fokus. Dat jou besluite, jou keuses, jou waardes, uit jou lewe met Jesus gebore sal word. Daarom is die gebed wat ons vir jou wil bid, Flam 22
Gebed
Flam 22 Ek soek U, o God (Koor en ensemble)
Afkondiginge
Dankoffer
Slotsang
Vonkk 83 Kom ons wandel in die lig van God Afr., Eng. Afr.
Seën
Respons
Lied 450 refrein
Filippense 3, matriek, matriek-stuurdiens, matriek-uitstuurdiens, matrieks, preek, stuurdiens, sukses, uitstuurdiens