Skip to main content

Om die skottelgoed te was – Filippense 2 preek

Ons onderstebo wêreld van gedien word

Die wêreld leer ons die ideaal waarna ons moet strewe, is om gedien te word, beslis nie om te dien nie.  Ons is “upwardly mobile”.  Ons wil bo uitkom, die sosiale leer klim, ’n hoër lewenstandaard bereik, ’n hoë posisie beklee.  Selfs in ons godsdiens mik ons hoër, fokus ons op ’n hemel daar ver, wil ons weg van die aardse na die hemel daar bo.

Maar die Gees lei ons af ondertoe.  Tot heel onder.  Na die posisie van diens.

Ons hele prentjie van die wêreld is onderstebo.  Ons prentjie van God is onderstebo. Filippense 2 kom draai ons wêreld weer reg om, herinner ons weer aan wie God in God se wese is.

Toetrede

Lied 176 Halleluja! U is Koning

Lied 177 Jesus, gróót bo almal

Votum

God het Jesus tot die hoogste eer verhef

en Hom die Naam gegee

wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus

elkeen wat in die hemel

en op die aarde

en onder die aarde is,

die knie sou buig,

en elke tong sou erken:

“Jesus Christus is Here!”

tot eer van God die Vader.

Seëngroet (Fil 1:1-2)

Aan almal in Somerstrand wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.  Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! [deur die werking van die Heilige Gees]

Lofsang

Lied 215 Besing die lof van Jesus saam

Wil van God

Filippense 2:1-5

Toewyding

Vonkk 226 Neem, Heer, my hart

Bemoediging

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Respons

Lied 308  v1,3 en 5 Neem my lewe, laat dit Heer

Gebed

Skriflesing

Fil 2:1-13

Preek

Wie gaan die skottelgoed was?

Wie gaan die skottelgoed was?  Dit was een van die sentrale vrae van my kinderdae.  Ek en my broer het altyd beurte gemaak.  Om die een of ander rede kon ons nooit onthou wie gisteraand skottelgoed gewas heet nie.  Gevolglik was daar altyd ’n bakleiery, oor wie se beurt dit is om skottelgoed te was.  Toe kry ons later jare nog ’n kleinboetie ook by.  Nou is ons drie.  As ons nie kon onthou wie se beurt dit was toe ons twee was nie, kan jy dink hoe ons sukkel het toe ons 3 is!

Dit was vir my so erg, dat ek later ’n teorie ontwikkel het dat ouers kinders kry sodat hulle nie self skottelgoed hoef te was nie.  Teen die tyd wat ek ’n tiener was, het ons ’n skottelgoedwasmasjien gehad.  Maar is dit ooit gebruik?  Nee.  Die kinders moes die skottelgoed was.

Ek het selfs op skool, toe ons vir ’n Afrikaans mondeling moes betoog, betoog teen skottelgoedwas/  Ek het gepraat oor die fisiese en emosionele skade wat ’n mens opdoen weens die voortdurende skottelgoed wassery.  Die onderwyseres het my notas geneem en vir haar ouers gevat.

Want dis net so ’n groot storie vir volwassenes!  Ek het dit al hier gesien.  Gelukkig maak blokke beurte om Sondae skottelgoed te was.  Dit mak my hart warm wanneer ek sien hoe mense vriendelik agter die wasbak staan en kuier.  Maar min mense hou van skottelgoedwas.

Skottelgoedwas het mettertyd vir my ’n simbool geraak van leierskap.  Die paar keer wat ek genooi is om te gesels oor leierskap, het ek elke keer die beeld gebruik:  as jy ’n leier wil wees, moet jy bereid wees skottelgoed te was.  Veral as jy ‘n Christelike leier wil wees.

Ons onderstebo wêreld van gedien word

Dis natuurlik presies die teenoorgestelde van wat die wêreld ons leer.  Die wêreld leer ons die ideaal waarna ons moet strewe, is om gedien te word, beslis nie om te dien nie.  Ons is “upwardly mobile”.  Ons wil bo uitkom, die sosiale leer klim, ’n hoër lewenstandaard bereik, ’n hoë posisie beklee.  Selfs in ons godsdiens mik ons hoër, fokus ons op ’n hemel daar ver, wil ons weg van die aardse na die hemel daar bo.

Die reg om wêreld van Filippense 2

Maar die Gees lei ons af ondertoe.  Tot heel onder.  Na die posisie van diens.

Ons hele prentjie van die wêreld is onderstebo.  Ons prentjie van God is onderstebo.

Filippense 2 kom draai ons wêreld weer reg om, herinner ons weer aan wie God in God se wese is.

Ek is besig om ’n boekie te skryf oor Kersfees (wat Vrydag ’n week gelede al moes in wees, terloops), so ek wil julle herinner aan die verhaal van Kersfees, van God wat mens word…

Aan ’n engel wat aan ’n jong, ongetroude meisie verskyn – ’n meisie wat God baar.

Aan ’n egpaar wat nie blyplek in ’n herberg kon kry nie en God wat in ’n vuil, stink stal gebore word, tussen die diere.

En nie in die hoofstad waar die godsdienstige en politieke elite vergader nie, maar in ’n agterlike dorpie waaroor mense grappies maak.

Aan engele wat nie eerste aan ryk, geleerde, belangrike mense verskyn nie, maar aan onrein herders, onbelangrike mense op die rand – of die onderkant – van die samelewing.

Ek wil jou herinner aan ’n ster, wie se boodskap deur vreemdelinge, heidense sterrekykers, herken word.

Aan ’n God was as ’n babatjie vlug, broos en uitgelewer aan die magte van die dag.

Jesus wat sy dissipels se voete was.  Dalk sou dit vandag die ekwivalent wees van ander mense se toilette was.

Van God wat gemartel word, vermoor word.

Jesus wat homself prysgee, Sy bestaan saam met sy Vader opgee, om soos ’n mens te word.  Heeltemal soos ’n mens.

En toe hy mens geword het, het hy nie deel geword van die godsdienstige en politieke elite nie.  Hy roep vissermanne, arbeiders.  Hy spandeer sy tyd saam met die onderste klas van die samelewing, die gepeupel, die “rank and file”, die verworpenes, diegene op wie die godsdienstige, geleerde, gerekende mense teen hul neuse afkyk.

3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Dieselfde gesindheid

Dieselfde gesindheid.  Die Gees lei ons af.  Ondertoe.

Dis nie maklik om te hoor, wat nog te sê op te neem in ons lewe en ons wêreldbeeld nie.  Dit is so heeltemal, volledig kontra-intuïtief.  Dit is presies die teenoorgestelde van ons kultuur.  En dit is wat dit beteken om ’n Christen te wees.  Om ’n Christelike leier te wees.  Om ’n dissipel van Jesus te wees.

Om ’n Christen te wees, is om die skottelgoed te was.

Dis tough.  Dis vir ons nou al maklik om te aanvaar dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het.  Dat hy homself vir ons gegee het.  Maar die idee dat ons op dieselfde manier onsself moet prysgee?  ….

Ons kan nou al die eenheid tussen Vader, Seun en Gees waardeer.  Maar om ons eie “regte” en belange op te gee t.w.v. hierdie eenheid? …

Dalk is dit net te veel gevra.  Dalk is dit hoekom ons eerder fokus op die eenvoudiger goed van die wet:  jy mag nie steel nie, mag nie vloek nie, los die pornografie en die dwelms.  Want dis makliker as die allesomvattende aanspraak van die evangelie:  Gee jouself.  Offer jouself.  Jou regte, jou belange, jou status, jou voorkeure, jou gemak.  Gee alles in diens van God  en in diens van ander.  Was die skottelgoed.

Ai.  Regtig?

Daarom is dit so belangrik dat ons vers 13 saam met die res van die gedeelte lees:

dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

God gee wat God vra

God vra nie van ons iets wat nie vir ons gee.  Vers 12 lees in die BDV:  “werk met vrees en bewing aan julle verlossing”.  Dit kan veroorsaak dat ons dink dis óns werk.  Ons moet net harder probeer.  Harder op onsself – en veral op mekaar – wees, dan sal ons nederiger wees.  Maar die Gees gee vir ons wat God van ons vra.

Hoe ons daaraan werk, is om te leer om al meer sensitief te raak vir die stem van die Gees.  En dan te leer om al meer in gehoorsaamheid oor te gee aan die werk van die Gees.

Voorbeelde van die afwaartse leiding van die Gees

Waar het die Gees die afgelope week aan jou verstaan van die wêreld en jou plek in die wêreld getorring?

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk by ’n kuiergeleentheid opdaag (of na die diens hier in die voorportaal van die kerk staan).  Dalk sal jy iemand op die rand sien staan.  Iemand wat ongemaklik lyk.  Iemand wat nie deel is van jou groep nie. Dalk sal die Gees sal jou na daardie persoon stuur.  En dalk sal jy die brug word wat mense op die rand van die gemeenskap intrek na die binnekant.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk in ’n invloedryke posisie wees.  En dalk sal daar ander mense wees – dalk mense met meer invloed as jy – wat van jou vra om hulle te ondersteun.  En hulle sal jou kan beloon vir jou ondersteuning.  Maar dalk sal die Gees jou lei om jou invloed te gebruik tot voordeel van diegene wat nié invloed of mag of dieselfde voorregte as jy het nie – die hawelose, die siekes, die armes, die werkloses, die vreemdelinge.  Dalk sal die Gees jou nooi om by hulle te gaan staan, eerder as by die belangrike, invloedryke, sogenaamd suksesvolle mense.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk agterkom dat iemand kwaad is vir jou of skinder oor jou.  En alles in jou sal hulle wil afskryf of wil terugkry.  Maar die Gees sal jou lei om in nederigheid na hulle uit te reik en die vrede te probeer herstel.  Dalk sal die ander persoon so kwaad of onseker wees dat hulle in woede reageer.  Maar jy kan weet:  die Gees werk in jou.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk saam met jou vriende kuier en hoor hoe hulle ’n ander persoon of groep afkraak, blameer, praat asof hulle beter is.  En jy sal weet dat as jy reageer, jy jou status en posisie in jou vriendekring in gedrang gaan bring.  Maar dalk sal die Gees jou lei om dapper en in liefde van hulle te verskil en op te staan vir die persoon of groep wat hulle beswadder.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk laat by die huis kom en daar sal skottelgoed rondstaan of klere rondlê.  Goed wat iemand anders moes opruim.  En jy sal in jou gedagtes solank die toespraak wil begin oefen van hoe jy vir hulle gaan regsien.  Maar dalk sal die Gees jou bewus maak daarvan dat hulle dalk ook moeg is of oorweldig voel.  En dalk sal jy sal jy die klere optel of die skottelgoed was.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk in die kerk wees en iemand sal iets in die erediens doen wat jou nie aanstaan nie.  Dalk sal ’n kind raas of ’n ouer persoon ’n desperate mamma aangluur wanneer haar kind huil.  Dalk sal die Gees jou dan herinner dat jy nie net aan jou belange moet dink nie, maar ook aan dié wat ander behoeftes het as jy, anders aanbid as jy.

Wanneer jy na die Gees luister, sal jy dalk iewers in ’n openbare plek kom en ’n vreemdeling sien.  Dalk iemand wat duidelik anders is as jy, aan ’n ander groep en selfs godsdiens behoort as jy.  En dalk sal die Gees jou lei om anders op te tree as wat daardie persoon verwag, om hulle menswaardig, in liefde en diensbaarheid te hanteer.  En dalk sal hulle in jou gedrag beleef dat God werklik is, dat die Gees deur jou werk.

Wees oop vir die fluistering van die Gees

Die Gees sal ons altyd lei tot liefde en tot diensbaarheid en tot nederigheid.  Die Gees sal ons altyd lei om ander in ag te neem.   En dis ’n proses.  Aanvanklik sal dit vir ons vreemd en ongemaklik wees.   Dalk sal dit ons bang maak of selfs kwaad of rebels maak.  Maar die Gees sal ons nie los waar ons is nie.  Die Gees sal ons steeds afwaarts lei.

Daarom wil ek afsluit deur jou aan te moedig om spesifiek hierdie week jou oë en ore oop te hou vir die fluistering van die Gees.  Wees hierdie week op die uitkyk vir geleenthede waar die Gees jou afwaarts lei.  En volg hom.

Gebed

Dankoffer

Koor: Vonkk 200 Daar is ‘n Verlosser:  Jesus, God se Seun

Slotlied

Lied 541 Ons bring aan U, Heer Jesus

Seën

Filippense 2, preek, Rethie van Niekerk

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.