Skip to main content

Luisterblad vir Kleingroepe – 8-14 Oktober 2017

Ons teksgedeelte kom uit Jesus se profetiese rede.  In die profetiese rede vertel Jesus sewe gelykenisse almal met die oproep dat ons waaksaam en gereed moet wees om Hom by sy tweede koms te ontvang.  Want, dit sal wees soos in die tyd van Noag, toe baie mense nie die tekens van die tye kon lees nie en onverhoeds deur die vloed oorval is.

Jesus roep ons op om Hom te verwag en te herken, om Hom met alles in ons te dien, nie net privaat in ons binnekamer of in ons persoonlike lewe nie, maar na buite in die diens wat ons vir ander mense lewer.

Die rede hiervoor is dat Jesus kom om te oordeel. Sy oordeel sal vryheid en geregtigheid vir sommige beteken, dié wat met die verwagting van sy koms geleef en daarvoor gereed is. Vir ander sal dit veroordeling beteken, omdat hulle op die verkeerde golflengte ingeskakel was, nie ingestel op dit wat werklik saak maak nie, nie in diens aan God en hulle naaste gelewe het nie.

Kom ons lees Matteus 25:31-46.

1.  Die koninklike troon vorm die sentrale punt in die ontvouende drama. Die Seun van die mens kom in al sy majesteit, vergesel van al sy engele, om sy plek op die troon in te neem.

Vertel vir mekaar wat julle alles van sy heerlikheid in die teks kan raaksien.  Watter effek het dit op julle?

2.  Na Jesus se heerlike verskyning volg die tweede stap. ‘n Proses van skeiding word voltrek. Die onoorsigtelike skare deel in twee. Soos ‘n Oosterse wagter wat sy diere ken, skei die Seun/Regter die “skape” en die “bokke“. Die skeiding wat die oordeel bring, sny deur alle menslike verbintenisse. Jou lidmaatskap van dit, jou bande met dat, of jou familie van oorsprong, jou aangetroude familie, of die belangrikheid van jou werk, jou status in die lewe, dit alles maak geen verskil nie.

Watter effek het hierdie beskrywing van ’n skeiding tussen mense by die oordeel op julle?

3.  Die motivering vir die oordeel word kort en kragtig in vers 40 en 45 ten opsigte van elk van die twee groepe gegee. “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” En: “Vir sover julle dit nie gedoen het nie.

Wie dink julle is hierdie geringste broers en susters vandag?

4.  In die eerste plek sou ‘n mens aan die volgelinge van Jesus kan dink, dié wat die boodskap van die evangelie in die wêreld uitdra en daarom vervolg word en aan allerlei beproewinge blootgestel word. Die onderskeiding tussen die skape en die bokke wentel dus om hulle hart vir dissipels – die geringste broers (en susters) – wat nood het: hongeriges, dorstiges, vreemdelinge, mense sonder klere, siekes, en mense in die tronk.

Maar, daar is ook ‘n wyer kring van mense waaraan ons kan dink.  Dit sluit ook die geringstes onder die doodgewone mense rondom ons in wat honger is en smag na iets om te eet; mense wat dors is en smag na iets om te drink; vreemdelinge sonder huisvesting wat onderdak nodig het; mense sonder klere wat naak is; wat siek is en sorg nodig het; wat in die tronk is en deur eensaamheid en wroeging verteer word, met ander woorde, alledaagse verskynsels.

Hoe help hierdie verduideliking julle om die oordeel te kan verstaan?

5.  Martin Luther het by geleentheid gesê: Die wêreld is vol van God. In alle stegies, voor jou deur, vind jy vir Christus. Moenie na die hemel gaan en sê: ‘Ag, as ek onse Here en God tog net kon sién, hoe sou ek Hom alle moontlike dienste bewys nie? As jy My wil dien, sê die Here, moenie onder die engele na My soek nie. Ek sal in jou huis kom, jy sal my honger en behoeftig sien, maak net jou oë oop. As jy My wil liefhê, betoon liefde aan jou naaste. Ja, ons soek Hom waar Hy nie te vinde is nie. Hy het uit die hemel neergedaal … maar ons wil daarheen opstyg!

Jesus kom elke dag na ons toe. Hy kom in soveel gedaantes en gestaltes, op ongeleë tye.  Die vraag is of ons Hom sal herken in die gedaante van die geringstes en gereed sal wees. Dit is die skarnier waarop die oordeel van God draai.

Hoe ervaar jy dit in jou daaglikse lewe?

6.  Boet Pretorius is ‘n voorbeeld van iemand wat God se doel met sy lewe bo sy eie gestel het, en bereid was om regtig te dien. Boet het ‘n plaas besit waarop hy geboer het in Zimbabwe. Op ’n dag in Augustus 1998 daag daar ‘n groep soldate op sy plaas op om sy plaas oor te neem as deel van hulle grondhervormingsprogram. Boet word gearresteer en spandeer ‘n paar maande in die tronk. Nadat hy vrygelaat is, doen hy die ondenkbare! Hy gaan terug na sy eie plaas toe wat nou deur ‘n nuwe eienaar besit word. Hy vra die nuwe eienaar of hy kan dien as een van die werkers op die plaas met die doel om van die plaas ‘n sukses te maak. Hy begin toe ‘n vriendskap met die nuwe eienaar en help hom om die beste te maak van sy nuwe boerdery!

Boet raak toe so suksesvol dat ‘n paar ander Afrika-boere hiervan hoor en vra of hy hulle ook sal bystaan. Vandag staan Boet aan die hoof van ‘n organisasie met die naam “Foundations for Farming” en help hy Afrika-boere van Suider-Afrika tot in Midde-Afrika om deur middel van gesonde boerdery beginsels, suksesvol te boer op hulle onderskeie plase. Boet se woorde oor sy ervarings oor die afgelope paar jare? Hy sê:  “I once owned a farm in Africa. Today Africa is my farm.”

Is dit ’n voorbeeld wat jy sou kon navolg?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.