Skip to main content

Lukas 24 Preek: Op pad tussen nou en nog nie

Skoenlappers is nie net ’n goeie simbool van die graf en opstanding nie, maar ook van ons lewe en geloof, van die tussen-in tyd – tussen dood en lewe, tussen wanhoop en hoop, tussen blind en sien.  Die woord wat mense dikwels vir hierdie tussen-in fase gebruik, is liminaliteit.  Blykbaar kom dit van die Latyn “limen”, wat “drempel” beteken.

Verwelkoming & Afk

Toetrede

Lied 415 v 1 en 2 Jesus leef en ons met hom!

Votum

Voorganger: Gemeente, Die Heer het opgestaan!  En daarom sê ons almal:

Gemeente:  Die Heer het waarlik opgestaan!

Seëngroet

Wees gegroet met dieselfde woorde waarmee Jesus die bang en onseker dissipels in die bovertrek gegroet het:  Vrede vir julle!

Lofsang

Lied 421 Die Here Jesus lewe

Toewyding

Voorganger: Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

Gemeente:  Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

V:  Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword.

G:  Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!”

V:  Die Here is genadig en regverdig,

G:  ons God ontferm Hom oor ons.

V:  Die Here beskerm die hulpeloses:

G:  ek was magteloos, maar Hy het my gered.

V:  Ek moet nou tot rus kom,

G:  die Here het goed aan my gedoen:

V:  U het my van die dood gered, U het ’n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes.

G:  Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my

V:  en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie.

Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?

G:  Met ’n drankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep.

V:  My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.

Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

G:  Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vry gemaak.

V:  Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep.

G:  My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk,

V:  in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem!

G:  Prys die Here!

Psalm 116 v 1, 2 en 5 (staan)

Dankoffer

Gebed

Skriflesing

Lukas 24:13-35

Preek

Skoenlapper

Skoenlappers is van die oudste simbole van Paasfees.  Ons het om die een of ander rede meer hasies en eiers, maar skoenlappers is ‘n simbool van lewe uit iets wat doodgegaan, van die wurm van die aardse lewe, deur die kokon van die graf, tot by die skoenlapper van die opstanding.

Liminaliteit

Ek dink skoenlappers is nie net ’n goeie simbool van die graf en opstanding nie, maar ook van ons lewe en geloof, van die tussen-in tyd – tussen dood en lewe, tussen wanhoop en hoop, tussen blind en sien.  Die woord wat mense dikwels vir hierdie tussen-in fase gebruik, is liminaliteit.  Blykbaar kom dit van die Latyn “limen”, wat “drempel” beteken.

Liminaliteit is daardie fase waar die skoenlapper begin om uit die papie te kom, maar nog nie heeltemal uit is nie.  Of dis net uit, die vlerke is nog nat (? Is skoenlappers se vlerke nat?  Of net swak?) Dis kwesbaar.  Dis nie meer wat dit was nie, dis op pad om iets nuuts te wees, maar is nou iets tussen-in.  Dis as’t ware in flux, is proses, maar die proses voel ook half staties.  Dis uit die papie uit, maar nog nie in staat om te vlieg nie.

Die vreemde Emmaus-pad

Die pad na Emmaus is op ’n manier so ’n liminale pad.  Hier stap twee dissipels – ek sal nou-nou iets sê oor wie, maar kom ons begin eers by   waarheen:  Emmaus. Niemand weet waar dit is nie!  Daar is geen rekord, historiese verwysing of argeologiese opgrawings wat van Emmaus praat nie.  Die teks sê dis amper 12 km van Jerusalem af.  Maar ons bly onseker.  Asof sekere dinge aspris vir ons vaag gelaat word.

Hier stap twee dissipels.  Jesus verskyn, stap saam met hulle – maar hulle erken hom nie!  Daar is al baie geskryf oor hoekom hulle hom nie herken nie.  So spekuleer mense bv. dat Jesus se opstandingsliggaam gemaak het dat hulle hom nie herken nie.  Wat nie die antwoord kan wees nie, want later en elders is dit duidelik dat die opstandingsliggaam, hoewel verheerlik, herkenbaar is.  Ons verstaan in elke geval nie lekker die verheerlikte/ opstandingsliggaam ding nie.  Dit bly vir ons vaag.

Dis ’n tema dwarsdeur Lukas: mense wat sien, maar nie sien nie.

Die teks sê:  “hulle oë is verhinder om hom te herken”.  Wanneer hulle Jesus herken, sê die teks:  “toe is hulle oë geopen.” N.A.V. vertaal dit meer passief, “oopgegaan”, maar dis duidelik God self wat gemaak het dat hulle nie vir Jesus herken nie.  Dis God wat hulle laat sien.  God wat vaag hou, wat hulle in die liminale ruimte hou – tot hulle gereed is om te sien.

En wie is hulle?  Ons weet nie!  Ons kan hoogstens spekuleer.  Julle moet vandag bietjie geduldig met my wees, want ek gaan spekuleer oor hul identiteit, om ons te help om iets van hul ervaring te verstaan.  Hulle word geïdentifiseer as twee “van hulle”  – volgelinge van Jesus.  Een se naam is Kleopas.  Daar is geen ander verwysing in die Nuwe Testament na Kleopas nie.

Johannes 19:25 beskryf Jesus se kruisiging en aan die voet van  kruis ’n paar vroue, dissipels van Jesus.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.

Klopas is ’n wisselvorm van Kleopas.  So kom ons veronderstel vandag die twee reisigers was Kleopas en sy vrou, Maria.  Dit beteken Maria was 3 dae gelede aan die voet van Jesus se kruis.  Naby genoeg om alles te sien, alles te hoor.  Sy het vir Jesus sien sterf.

Daar, aan die kruis, het haar hoop en haar drome gesterf.  Haar hele verstaan van die wêreld en van haar geloof het daar aan daardie kruis gesterf.  As dissipels van Jesus het hulle gedink hy is die Messias – hy is die een wat die Joodse volk sal bevry van onderdrukking.    Toe vang die onderdrukkers hom.  En vermoor hom.

Hulle het hul vertroue, hul geloof, op die verkeerde plek geplaas.  Dis ’n reusagtige fout.  Dis nie die fout van “oeps, ek het vergeet van ’n afspraak” of “oeps, ek het jou verjaarsdag vergeet” nie.  Dis die fout van trou met iemand en dan dekades later ontdek dat hulle jou nog die hele tyd verneuk het.  Dat hulle glad nie is wie jy gedink het hulle is nie.  Dit is ’n fout van jou hele lewe bou op iets wat uiteindelik ’n leuen is.  Hulle drome, hul geloof, hul verstaan van die wêreld, is verpletter.  Shattered.

Maria het daar aan die voet van die kruis gesien hoe meer as net ’n vriend sterf.  Hul droom van die koninkryk van God en hoe dit lyk, is dood.  Die toekoms waaraan hulle die drie laaste jaar van hul lewens gewy het, is dood.  Die droom wat gemaak het dat mense hul beroepe laat vaar en vir Jesus volg… is dood.

Hoe maak ’n mens vrede daarmee wanneer die wêreld so radikaal anders is as wat jy gedink het?  As jy gedink het daar is ’n sekere orde en doel in die lewe – en jy ontdek dramaties, gewelddadig, dat jy radikaal verkeerd was.

Nou kom daar mense met allerhande stories wat eenvoudig nie sin maak nie.  Die graf is leeg?  Het iemand die liggaam geskuif?  Fake news?  Sameswering?

So Kleopas en Maria gaan maar Emmaus toe.  En die pad na Emmaus is vir hulle ’n liminale pad.  ’n Pad tussen die verpletterde hoop en die toekoms wat hulle nog nie kan sien nie. ’n Pad sonder vaste merkers, sonder begrip en sekerheid.

Op pad tussen nou en nog-nie

Liminaliteit.  Die teoloog en geestelike mentor Richard Rohr sê liminaliteit is ’n plek waar mense haat om te wees.  Dit is ook die plek waarheen God ons altyd lei.  Dit is die drumpel-plek wat ons nodig het om te transformeer – van ’n wurm na ’n skoenlapper, as jy wil.

Dikwels is dit ’n krisis wat ons by liminaliteit uitbring.  Hoe jy gedink het goed werk, is toe die hele tyd nie hoe goed werk nie.  Die dinge wat jy voorheen gedink het werk, die manier van doen en leef, werk nie meer nie.  Ou sekerhede, daardie tyd toe almal hul plek geken het en gedoen het wat hulle moes, die ou wêreld, val weg.  En jy kry niks om dit mee te vervang nie, al gryp jy hoe desperaat.

Dis Abraham wat sy land en mense verlaat op pad na onbekende land.  Dis Josef in ’n put.  Dis die Israeliete in die woestyn tussen Egipte en die beloofde land.  Dis Jona in die maag van ’n vis.  Dis Maria wat huil by Jesus se graf.  Dis die dissipels gebuk in die bovertrek.  Dis die twee op pad na Emmaus.

Dis ek en jy, waar ons wêrelde uitmekaarval en ons ontdek dat ons nie beheer het nie;  dat ons nie die finansiële markte kan beheer nie; dat ons nie ons geliefdes of ons kinders of ons gesondheid kan beheer nie.

Dis nie ’n lekker pad nie.  Ons probeer allerhande dinge om vinniger by ons einddoel uit te kom, om vaste sekerhede te kry.  As mense net weer sal dít of dít.  As ons net só of só ’n regering sal hê.  As ek net kan ophou hiermee of hiermee.  In desperate pogings om weg te kom van die goed wat ons nie kán beheer nie, probeer ons om alles en almal anders te beheer.

Liminaliteit is die plek waar ons illusies wegval; waar ons klein wêreldjie uitmekaarval en ’n baie, baie groter wêreld aan ons openbaar word; waar ons pogings om te verklaar en te fix, niks doen nie.

Dit is in hierdie liminale ruimte, wanneer ons wegkyk van ons planne en ons begrip, dat ons oop is vir die Gees se werk.  Rohr noem dit God se wagkamer, waar God vir ons openheid en geduld leer.

God neem ons aanhoudend op ’n pad van liminaliteit, waar ons broos en kwesbaar voel, ’n pad wat deur die dood beweeg, voordat dit by opstanding kan kom.

Oop oë en nuwe lewe

En dan kom daar ’n oomblik, onverwags, wanneer ons gereed is, dat God ons oë oopmaak.

Die Emmausgangers is nie besig om te bid of Bybel te lees nie.  Hulle stap langs die pad, besig om met mekaar te gesels oor die lewe.  Besig met die gewone, alledaagse lewe, toe hul oë oopgaan.

Wanneer ons oë oopgaan, word ons bewus dat God die hele tyd daar was, dat hy saam met ons gereis het, dat hy die hele tyd besig was om ons voor te berei, om dinge stuk-stuk in plek te laat val vir wanneer ons gereed is om te sien.

Soos Frieda van den Heever sing:  Nou sien jy waarna jy nog heeltyd staar, asof vir die eerste maal. Die bos het heeltyd gebrand en ek het my skoene aan.  Die grond was altyd gewyd, maar my oë gesluit.  Om u in die hemel te gaan haal, maar al die tyd was u nader as my voete val, my moedertaal, my asemhaal.

Dan kom ons deur die pad wat aan die voet van die kruis in wanhoop gestaan en ween het, deur die onsekerheid en vra, tot by die plek van opstanding en nuwe lewe.  En opstanding is dikwels net so ontstellend as kruisiging.  Dit neem ons uit ons gemaksone.  Daar moet eers dood wees voordat daar nuwe lewe kan kom.  Maar wanneer opstanding kom, word ons op ons voete getel en gestuur.  Wanneer ons van die kruis deur die liminaliteit na nuwe lewe gestap het, sal ons dit met ander deel.

Ek weet nie waar jy op hierdie reis is nie. Dalk aan die voet van die kruis, besig om te kyk hoe jou drome en verstaan van die wêreld doodgaan.  Dalk is jy op pad tussen nou en nog nie, liminaal, onseker.

Waar jy ook al is, jy kan weet God is besig om met jou te werk.  God is besig om nuwe lewe te skep.  Dis nie altyd lekker nie.  Jy raak soms moeg.  Jy voel uitgelewer, kwesbaar.  Jy wil te gou, te haastig gryp na vaste grond.  Maar wanneer jy  Gees toelaat om in jou te werk, tyd gee om uit die papie te wikkel, vir jou vlerke om sterk te word, bring God, eventueel, nuwe lewe en nuwe hoop.

Gebed

Slotsang

Lied 527 Die werk behoort aan U, ons Heer

Seën

Respons

Lied 314

Emmaus, emmausgangers, liminaliteit, preek, Rethie van Niekerk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.