• Home
  • Preke
  • Liefde werk deur Lyding – Johannes 19

Liefde werk deur Lyding – Johannes 19

Toe dit verby was, en jy met

Sy vriend Johannes huis toe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy toé die boodskap goed verstaan?

(Elisabeth Eybers)

Verwelkoming

Vandag is beide Palmsondag en Passiesondag – gemeentes kies normaalweg om óf te fokus op Jesus se intog in Jerusalem óf op Jesus se passie aan die kruis.  Ons gaan vandag albei doen.  Ons gaan die liturgie begin met die vreugde van die intog en dan saam met die dissipels beweeg na die diepte van die kruisiging.

Toetrede

Lied 175 Majesteit

Votum

Liturg:  Kyk, ons Koning kom na ons toe.  Hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.

Gemeente:  Prys die Seun van Dawid!  Loof hom wat in die Naam van die Here kom!  Prys hom in die hoogste hemel!

Seëngroet

Liewe gemeente, ek groet julle in die Naam van die Koning – hy wat in die Naam van die Here kom!

Palmprosessie & Lofsang

Vonkk 100 By Die Intog In Jerusalem

Flam 171 Hosanna In Die Hoogste

Verootmoediging

(Gebaseer op die sogenaamde “Stasies van die kruis”.)

Voorganger (V): Here, U het vir u dissipels gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg.” In u Naam bid ons:

Gemeente (G): Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

V: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u woord verwerp en u onskuld verag is.

G: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

V: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.

G: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

V: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.

G: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

V: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.

G: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

V: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle ’n verbyganger gedwing om dit te dra.

G: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.

V: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.

G: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

V: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.

G: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.

V: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.

G: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.

V: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.

G: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.

V: Ontbloot en bespot, het U die vernedering verduur sonder om daaroor te kla.

G: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.

V: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.

G: Wees ook so tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.

V: Toe U offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.

G: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.

V: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.

G: Maak ons trou en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.

V: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.

G: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.

V: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof, skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God. Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons. Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan, waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.

G: Amen.

Doop

Flam 80 Weet jy?

Epiklese

Met die intog in Jerusalem is die dissipels opgevang in die uitbundige vreugde van die geleentheid, van Jesus as oorwinnaar.  Soos wat ons nou voel na hierdie wonderlike genademiddel waarin ons kon deel.

Maar vir die dissipels het dinge baie vinnig verander.  Die een oomblik is hulle nog deel van ’n uitbundige skare… toe was Jesus hulle voete en sê een van hulle gaan hom verraai.  ’n Paar uur later kruip hulle in agterstrate en gehuggies weg terwyl Jesus aangekla en verhoor word.  En Petrus… Petrus verraai vir Jesus.

Wat het nou gebeur?  Wat gaan aan?  Hoe verander dinge só skielik?

Lied 395 v 1 en 3 My Verlosser aan die kruis

Gebed

Skriflesing en preek

Johannes 19:16-30

Chris het verlede week gelees tot by vers 16.  Ons tel vandag die verhaal op presies dieselfde plek op en lees verder.

Ek het die afgelope week ’n kursus bygewoon waar die prof. gesê het ons mensdom is vandag on-verstom.  Ons sien die graf is leeg en ons voel “meh”.  Inplaas daarvan dat dit ons asems wegslaan.  Ons het dit al gesien, het al daardie storie gehoor. Ons is on-verstom

Een manier om weer stomgeslaan te word, is gewoon om die Bybel met aandag te lees.

Veral wanneer ons die evangelies lees, is die verskille veelseggend.  Dan kan ons fokus op die spasies en verstommende dinge raaksien.

En die Evangelie van Johannes is asemrowend!  Johannes skryf in lae.  Elke ding wat Johannes sê, beteken eintlik nóg iets, wys eintlik ook na iets anders.  Elke keer wat ek Johannes lees – en oor Johannes lees – ontdek ek nog iets.

So ons gaan vandag gewoon die teks soos dit voor ons is lees en dit vanuit ’n paar hoeke bekyk.

16Toe het hy [Pilatus] Hom [Jesus] op hulle [priesterhoofde] versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.

18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

Kruis

Kon jy agterkom wat ontbreek?  Wat in Matteus, Markus én Lukas is, maar duidelik afwesig in Johannes?

Simon van Sirene.  Die man van wie daar in die ander evangelies vertel word dat hy vir Jesus help dra aan die kruis.

Maar in Johannes dra Jesus alleen aan sy kruis.  Daarmee beklemtoon Johannes dat Jesus in beheer is.  Die hele tyd bly Jesus volledig in beheer.  Weereens wat Chris die afgelope tyd beklemtoon het:  Jesus kies om sy kruis te dra.

Die kruisiging is nie iets wat Jesus aangedoen word nie.  Dit is iets wat Jesus kies om te doen, uit liefde.  Uit liefde vir jou.

Wanneer iemand in Jesus se tyd ter dood veroordeel is, is die vonnis onmiddellik voltrek.  Die veroordeelde moet sy kruis dra na die plek waar hy tereggestel gaan word.  Maar hulle gaan nie direk daarheen nie.  Hulle vat die lang pad.  En voor die veroordeelde stap iemand met ’n bord waarop die rede waarvoor hierdie mens gaan moet sterf, neergeskryf is.

Die rede hiervoor – vir die lang pad en die klag wat vertoon word – is sodat enige iemand wat miskien in die persoon se guns kan getuig, wat miskien kan sê dat hy nie skuldig is nie, kans het om vorentoe te kom en die prosessie te stop.   Daar is nog kans vir appèl.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

Kroon

Die Koning van die Jode.  In die drie groot tale van die drie groot nasies van die era. Daarmee eintlik, simbolies, in al die tale van die wêreld.  Hiermee word vir die hele wêreld gesê:  Jesus is die Koning van die Jode.

Pilatus het natuurlik bedoel om die Jode met so ’n lekker onderlangse stekie beet te kry.  Dié dat hy dit só verwoord.  Maar in die proses verkondig hy die evangelie:

Jesus is die koning.  ’n Omvattende waarheid wat vir die hele wêreld geld.

Hy is die koning van die Jode.  En hy is ons koning.

Hy is nie ’n koning soos die konings wat ons ken nie – soos wat ons ook die afgelope paar weke beklemtoon het.  Hierdie Koning het die hele wêreld lief.  Maar hierdie koning het nie ’n weermag en ’n paleis nie.  Hy stuur nie troepe om oorlog te voer nie.  Hy lê sy lewe af.  Omdat hy die wêreld lief het.  Omdat hy vir jou lief het.

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:

“Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.”

Dit is wat die soldate gedoen het.

Kleed

’n Krimineel wat ter dood veroordeel is, is gewoonlik vergesel van 4 soldate.  Een van die byvoordele van die soldate se werk, is dat hulle die veroordeelde se klere kon kry.  Elke Jood het 5 kledingstukke gedra:  skoene, hoofdoek, gordel, onderkleed en bo-kleed.  Elkeen kry ’n kledingstuk.  Maar dan bly die onderkleed oor.

’n Onderkleed wat tradisioneel deur ’n man se ma geweef is en dan, wanneer hy in die wêreld uitgaan, aan hom oorhandig word.

Oor hierdie kosbare kleinood wat Maria met liefde aanmekaargeweef het vir haar seun, word daar gedobbel.

Maar die beskrywing van Jesus se kleed in Johannes is dieselfde beskrywing as die kleed wat die Hoëpriester gedra het op die dag van versoening, wanneer ’n bok geoffer is ter versoening van die volk se sonde en om die volk te reinig.

Onthou, ’n priester is ’n brug – ’n brug tussen God en mens.

Jesus is die perfekte hoëpriester, die brug wat die pad vir ons na God oopmaak, wat ons versoen, sodat ons tot God mag nader en met God kan leef.

Verder is hierdie gebeure natuurlik ook ’n vervulling van Ou-Testamentiese profesie (Psalm 22:18). Dis belangrik, want Jesus is nie God se plan B nie.  God het nie eers ’n klomp ander goed probeer en toe dié nie werk nie, besluit om maar vir Jesus te stuur nie.

God het van die begin af beplan om sy Seun te stuur.  Dit is hoe God is.  Dit is wie God is.  ’n Verlosser aan die kruis.  God wil hê dat ons hom ken.  Hy wil dat ons hom ken as die een wat deel word van ons lewens, van die pyn en gemors van menslike bestaan, wat ons laste op hom neem, wat sy lewe vir ons gee, uit liefde vir ons.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Kind

Hierdie gedeelte het my die afgelope week aan die hart kom ruk.

Maria, nooi uit Nasaret.

Jesus se ma.  Aan die voet van die kruis, waar haar seun onskuldig dood gemartel word.  Waar hy beskaam en bespot word, nakend oopgesper op die grootpad, ’n spektakel vir almal wat verbystap.

In die Evangelie van Johannes lees ons net twee keer van Jesus se ma.  Geen romantiese geboorteverhaal vir Johannes nie.  Onthou, Johannes begin sommer met kosmiese waarheid:  In die begin was die Woord daar en die Woord was by God en die Woord was self God…

Die eerste keer dat ons van Maria lees, is by ’n bruilof in ’n dorpie genaamd Kana.  Daai slag toe die wyn opgeraak het.  En sy dit vir Jesus gaan sê het en Jesus vir haar gaan sê het:  my tyd het nog nie gekom nie.

Maar sy is sy ma.  So Jesus verander water in wyn.  Sy eerste wonderteken, die begin van sy openbare optrede.  Die Lewende Water.

En die eerste keer dat ons dan weer van Maria lees, is hier:  aan die voet van die kruis.  Aan die begin en die einde van Jesus se openbare bediening.  Wanneer sy tyd wel aanbreek.

Op hierdie broosste oomblik van Jesus se bediening, is sy ma by.  In wat waarskynlik ook die broosste oomblik van haar lewe is.

Ons weet mos dat Jesus se dissipels weggehardloop het, dat Jesus effektief in sy lyding alleen was, behalwe enkeles, soos die groepie vroue.  Baie kommentare sê dat die vroue daar kon wees omdat hulle onbelangrik was, omdat hulle niemand bedreig het nie.

Maar een kommentaar sê nee, dis nonsens.  Hulle was in net soveel gevaar as die ander dissipels.  En liefde is in elke geval altyd gevaarlik.  Maar hul liefde het hulle gedwing om daar te wees, om in Jesus se pynlikste oomblik – wat ook vir hulle pynlik was – daar te bly.

En net soveel as wat hulle liefde hulle dwing om daar te wees, net soveel dwing Jesus se liefde hom om vir hulle te sorg – om steeds na sy ma om te sien.

Hierdie is die beste voorbeeld van wat dit beteken om ’n dissipel, ’n volgeling van Jesus te wees.  Om Jesus te dien, gaan om ’n verhouding.  ’n Wederkerige verhouding.  Dit beteken dat ons vir Jesus lief het, dat ons hom volg, in hom bly.  En dit beteken dat hy ons lief het, dat hy vir ons sorg.

Dissipelskap, om Jesus te dien, gaan oor dáár wees, oor opdaag, oorbly, oor verhouding.

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan [kruik] vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.

Kruik

Die Lewende water, die een van wie ons drink om in ewigheid nooit dors te kry nie, sê:  “Ek is dors”.

Soos gister voel dit dat hy nog water in wyn verander het.  Nou kry hy suur wyn uit ’n kan wat sommer daar staan.

Op ’n hisoptakkie.  ’n Vreemde keuse.  ’n Mens sou dink hulle sou ’n stok of ’n spies gebruik – iets wat lank genoeg is om bo by die kruis uit te kom; sterk genoeg om ’n spons nat van afgewaterde asyn-erige wyn te hou.  Maar hisop is ’n bos, ten beste maar ’n gras van ’n halwe meter lank.  Daarom was geleerdes vir jare verward oor die hisop hier, het hulle gedink Johannes bedoel seker iets anders.

Maar Johannes bedoel hisop.

Soos met die instelling van die Pasga, destyds in Eksodus, toe hulle nog in Egipte was en God vir hulle gesê het om ’n lam te slag, ’n bossie hisop te neem, in die lam se bloed te doop en die bloed aan hul deurkosyne te smeer, sodat die dood hulle verbygaan.

Net ingeval jy vergeet het wat hier aangaan.  Ingeval die pyn en die emosie van ma en seun jou aandag afgetrek het.  Ingeval jy so verstrengel geraak het in die hartseer en die pyn en moedeloosheid van hierdie lewe, is hier ’n hisoptakkie.  Wat jou herinner daaraan dat God mense kies en afsonder.  Dat God ’n Paaslam gee, wie se bloed mense beskerm, sodat daar vir hulle – vir ons… vir jou – lewe is.

30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Klaar

‘n Engel het dit self gebring,

die vreugde-boodskap – en jy het

‘n lofsang tot Gods eer gesing,

Maria, nooi uit Nasaret!

 

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink, eenmaal sou HY

die heel wêreldskande dra?

 

Toe jy soms met ‘n glimlag langs

Jou liggaam stryk … die stilte instaar …

wis jy met hoeveel liefde en angs

sou HY sy hellevaart aanvaar?

 

Die nag daar in die stal – geeneen

om in jou nood jou by te staan –

het jy geweet dat HY alléén

Getsemané sou binnegaan?

 

Toe vorste uit die Ooste kom

om nederig hulde te betoon,

wis jy hoe die soldate hom

as koning van die volk sou kroon?

 

En toe Hy in jou arms lê,

Sy mondjie teen jou volle bors,

het jy geweet dat HY sou sê,

toe dit te laat was, Ek het dors?

 

*

Toe dit verby was, en jy met

Sy vriend Johannes huis toe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy toé die boodskap goed verstaan?

(Elisabeth Eybers)

Gebed

Dankoffer

Terwyl offer bring, dink aan offer – die offer van die Paaslam, die offer aan die kruis.

Slotsang

Paasfees – of dan nou die Groot Lydensweek tref my vanjaar onverwags, te skielik. Dalk is dit omdat daar nie vakansie is voor Paasfees nie, maar dit voel vir my ek het nog nie tot rus gekom nie, nog nie geestelik gefokus soos wat ’n mens moet doen in Lydenstyd – en veral die laaste paar dae op pad na Paasfees nie.

Daarom wil ek jou nooi om regtig die komende week te fokus.  Maak tyd om elke dag genoeg tyd in gebed en met die Bybel te spandeer.  Soek die Here se aangesig.  Verootmoedig jou voor hom.

Kom ons betree hierdie week met fokus en verwagting.

Ons gaan vanoggend na die seën after the benediction geen respons of “amen” sing na die seën nie.  Ons sluit nie hierdie diens af met ’n punt nie, maar met ’n komma.  Hierdie hele week wat voorlê is die Groot Lydensweek– ’n week van waak en bid.

Lied 391 vv 1, 3 en 5 Vervul, o Heer, my hart

Seën

     

Tags: , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment