Liefde wat ons laat sien – Johannes 9
Om Jesus te sien en te beliggaam in donker oomblikke…
Die vraag is nie “hoekom” of “wie se skuld is dit” nie. Die vraag is: “hoe kan ek vir Jesus in hierdie donkerte sien?”
Hierdie man in vandag se storie, leer vir Jesus ken deur worsteling. Dit is te midde van die teëstand wat sy kennis van Jesus al meer uitkristalliseer, wat sy verstaan van wie Jesus is ontwikkel. Totdat hy kan bely en, uiteindelik, kan aanbid.
Dis ook hoe dit in ons lewens werk. Dis dikwels juis in ellende, hartseer, pyn, swaarkry, worsteling en verlies wat ons God se genade die helderste sien. Hoe slegter dit gaan, hoe meer kan ons onder die indruk kom van God se genade en versorging. Hoe slegter dit gaan, hoe meer raak ons bewus van ons afhanklikheid van God en hoe beter leer ons hierdie God ken.
Ons moenie die fout maak om ons so blind te staar na die donkerte, dat ons die Lig mis nie. Om so die donker te vervloek, dat ons nie die Lig aanbid nie.