Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent
Hoop en Verwagting
Ons vier tans Advent. Die tyd voor Kersfees. Dis ’n tyd van refleksie, afwagting, verwagting, hoop. Die vier Sondae van Advent het gewoonlik vier temas: hoop, vrede, vreugde en liefde. Vanjaar fokus ons elke Sondag op dieselfde tema: hoop.
Daarom het Kobus verlede week begin in die kokende vuuroond van Daniël. Vandag klim ons uit die vuuroond in die vallei van droë bene.
Want sien, hoop is nie ’n maklike of idealistiese suikerlagie bo-oor ons stukkende realiteit nie. Ware hoop vat ons op reis na ’n paar uitdagende plekke. Dit stap verby die vrolikheid van “Sleigh Bells Ringing in the Snow”, na die diep vreugde van Kersfees, van God met ons.
Hoop is ’n geskenk. En hoop is werk.
Hoop kan twee goed gelyk doen. Dit berei voor vir Kersfees, vir die koms van Christus. Maar dit sien ook oral langs die pad die teenwoordigheid van Christus, hier en nou.
Ek wil jou regtig nooi om nie vanjaar dadelik te spring na die trifle en blinkertjies van Kersfees nie. Daardie goed het ’n plek en dis goed. Maar bly ook vir ’n paar oomblikke in die skaduwees. In die stilte. In die valleie. Staan saam met my stil. Kyk. Kom ons soek hoop.