Skip to main content

Jesaja 5:1-7 Preek

Picture1’n Mens besef nie altyd wanneer jy midde-in geskiedenis leef nie.  Dat die oomblik wat jy nou beleef, ’n oomblik is waaroor die wêreld vir jare gaan praat nie.  Maar ek dink die twee laaste weke was so ’n tyd.  Suid-Afrika het opgestaan en begin sê:  “Nie weer nie.  Genoeg.”  En in ’n ikoniese beeld wat waarskynlik vir altyd in ons kollektiewe geheue geëts sal wees, het vier vroue bewend opgestaan – tjoepstil – en mag op sy kop gekeer en onreg ontbloot.  So op die vooraand van vrouedag, wat ons herinner aan die onreg van ons verlede en die vroue wat opgestaan het en gesê het: “genoeg.”  Vrouedag.  Vier vroue met handgeskrewe plakkate wat ons herinner dat 1 uit 3 vroue in SA verkrag word (sommige statistieke sê 1 uit 2), dat daar elke 6 dae ’n vrou in SA deur haar lewensmaat vermoor word.

Wat ’n ironiese tablo was die afgelope twee weke nie!  Die skrille kontraste wat in gelid staan.

Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.

sê Jesaja 5.

Continue reading

Kolossense 2:6-23 – Christus in ons verander ons “hiermaals”

pilgrim-18Ek is op ‘n plek in my geestelike lewe wat ek al hoe meer van twee goed bewus raak – die “hiernamaals” waarheen God ons wil neem, en die suigkrag van die “hiermaals” wat ons die vreugde van God se teenwoordigheid kan ontneem.

Ek is aan die een kant al hoe meer bewus van die bestemming wat God vir ons as kinders van die Here het. Hy wil ons as sy kinders verwelkom in sy koninkryk om “heilig, sonder foute en onberispelik” voor Hom te lewe – die “hiernamaals” wat Paulus in hoofstuk een van Kolossense uitgespel het (1:27). Dit is die grootste geskenk wat enigiemand kan kry. Nie net omdat dit ‘n wonderlike uitsig is nie – en dit moet jy goed hoor – maar omdat dit hiérdie lewe heeltemal verander. As ek weet waarheen ek op pad is, kan ek bykans enigiets wat met my hier gebeur, hanteer. Om die waarheid te sê, my ewige bestemming verdryf my vrees vir enige bedreiging op hierdie aarde. Dit is ómdat ek ‘n “hiernamaals” het waarna ek uitsien, dat die “hiermaals” – soos Lina Spies daarvan praat – nie net vir my draaglik word nie, maar deurdrenk met die teenwoordigheid van God self.

Ek is egter aan die ander kant ook al hoe meer bewus van die suigkrag wat die “hiermaals”, dié wêreld, op ons uitoefen, die beklemming van die verydeling wat ons hier beleef, en ons van die vreugde van dié bestemming en van die reis daarheen wil beroof. Die wêreld se waardes en lewenstyl raak soos molasse waarin jy trap, wat jou vryheid beperk, wat jou menswees inkort, wat jou verhouding met die Here vervlak en uiteindelik tot stilstand kan ruk.

Dit is in dié beklemmende situasie wat Paulus se helder woord uit Kolossense 2:6-23 my tref en terugbring by die hoop op die heerlikheid wat daar in Christus Jesus is. Die geheim van hierdie lewe, van die “hiermaals”, is Christus. Die geheim van die volgende lewe, van die “hiernamaals”, is ook Christus. Dit was die punt van Paulus se boodskap in hoofstuk 1. “Christus is in julle (die hiermaals), Hy is die hoop op die heerlikheid (die hiernamaals).” (1:27).

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Continue reading

Kolossense 1:13-2:6 – heilig, sonder foute en onberispelik voor God

holyspiritmotion1Ons verloor baie keer perspektief op wat op die spel is in die evangelie van Jesus Christus.  Ons lê klem op die inhoud van die evangelie, op die liefde wat Hy vir ons het, op die vrede wat Hy bring, op die bevryding deur die vergifnis van sondes.

En dit is reg so, want dit is die goeie nuus wat ons deel geword het in Christus.

Maar, ons vergeet van die feit dat ons “uit die mag van die duisternis gered” is en “verplaas” is “na die koninkryk” van God se “geliefde Seun”.  Die goeie nuus het vir ons ‘n werklikheid geword midde in die duisternis van hierdie sondige wêreld.

Jesus wil ons “heilig, sonder foute en onberispelik” voor God stel.

Dit is dus waarheen ons op pad is.  Om aan die einde van die tyd in ‘n groot kosmiese skouspel, as “heiliges”, mense wat sonder foute is, mense wat onberispelik is, voor God gestel te word, sodat God Homself in ons kan verlustig, en kan sê, sien julle, daar is my mense, dié mense wat ek nou vir ewig in gemeenskap met My intrek en vir ewig met hulle sal lewe.  Hulle is my volk, en Ek is hulle God.  Ons hoort nou bymekaar vir ewig.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Continue reading