Die oggendlig breek stadig oor die berge. Die paadjie is koel onder my voete. Ek stap al vinniger af na die hek. Die koerant is gelukkig al daar. Ek het die hele nag gewag vir dié oomblik. Gretig slaan ek dit sommer daar in die oprit oop. In die middel, want dit is waar die lyste van name is. Ek soek my skool se naam. Die A’s, B’s, C, en dan die D’s. My vinger gly deur die name op die lys van Hoërskool Durbanville. En dan die verligting. Van Wyk, ACV. Ek is deur. ‘n Klein tekentjie vir universiteitstoelating.
Dit bly lekker om jou naam op ‘n lys te soek en te kry, nie waar nie? Matriekuitslae. Sportspanne. Universiteitsvakke. Die vreugde as jy jou naam kry. Die skop in die maag as jy egter jou naam nie vind nie. As jy dit nie gemaak het nie. Dis asof jou binnekant in mekaar krimp. Asof die wêreld gaan stilstaan. Asof jy dit net nie kan glo nie. Dit kan mos nie waar wees nie? Maak ek nie ‘n fout nie? Het hulle nie ‘n fout gemaak nie?
Daar is ‘n donker storie van ‘n man wat ‘n towerbeker gevind het. Elke keer as hy in die beker gehuil het, het sy trane verander in pêrels. Hy was egter nog altyd ‘n gelukkige man, al was hy arm, en het baie min gehuil. Daarom het hy maniere gekry waarop hy hartseer kon word, sodat sy trane hom ryk kon maak. Soos die pêrels opgehoop het, het sy gulsigheid gegroei. Die storie eindig met die man wat op ‘n berg pêrels sit, mes in die hand, hulpeloos besig om te huil in die towerbeker met sy geliefde vrou se dooie liggaam in sy arms. (Khaled Hosseini in The Kite Runner).
Gulsigheid ken geen perke nie
Gulsigheid ken geen perke nie. Gulsigheid is ‘n groot “onbeskeie begerigheid”. Die HAT beskryf mense wat aan gulsigheid lei as gulsaards, gulsbekke, gulssakke, vrate. Dit is mense met ‘n “onversadigbare lus vir vleis”, soos Numeri dit uitspel.
Iemand het gesê: “Gierigheid is ‘n vet duiwel met ‘n klein mondjie. Niks wat jy hom voer, is ooit genoeg nie.” (Janwillem van de Wetering). Dieselfde geld gulsigheid.
En dit is nie iets waaraan net arm mense ly nie. Soos die profeet sê: “’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood.” (Habakuk 2:5).
Ek wil vanaand vir julle vyf verhale vertel en ‘n paar ander gee vir verdere nadenke. Want, dit is hoe die Here ons harte aanraak, deur verhale. Soos ons luister, kan die Gees dit gebruik om diep in ons hart in te kom en ons te verander. Julle kan ook die blaadjie gebruik dié week om met ander te gesels en na hulle verhale te luister
Paulus se roepingsverhaal
Die eerste verhaal is dié een wat ons in 1 Korintiërs 9:19-23 lees. Dit is die meesterverhaal waarmee die Here met ons praat vanaand.
Dit het ons amper twee jaar geneem om by Kades uit te kom. Deur dik en dun was die Here daar vir ons in die woestyn. Deur die Rietsee. In die oorlog teen die Amalekiete. In die honger en dors tye met die manna en die water. Selfs waar Hy opgetree het teen die rebelle. Korag, Datan, Abiram. Selfs teen Mirjam en Aäron! Ek kon amper nie glo dat hulle dit gewaag het om Moses aan te vat nie. Ons moes sewe dae vir haar wag dat die Here haar velsiekte genees.
Regdeur dit alles het die Here ons egter gelei. Soos die wolk opgelig het, het ons agter Hom aangetrek. Wanneer dit gaan staan het, het ons kamp opgeslaan. Selfs in die nag was ons van Hom bewus. Die lig wat van die vuurkolom uitgestraal het, het tot in elke tent lig gemaak.
Elke keer dat ons onseker was, het die Here sy wet vir ons uitgelê. Dit het ons gehelp om elke oomblik van die dag van Hom bewus te bly. Elke keer wat ons gesondig het, kon ons om vergifnis gaan smeek by die Tabernakel. En soos die offers se rook opgetrek en die priesters ons van God se genade verseker het, kon ons sy vrede in ons harte voel neerdaal.
By Kades het die droom van die beloofde land egter binne bereik gekom. Ek was so bly dat die Here die oggend in die Paranwoestyn aan Moses verskyn het. Die opdrag was om twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners aan te wys. Ek kon my geluk nie glo toe ek aangewys is om my stam Juda te verteenwoordig nie.
Moses het ons gestuur om as verkenners op te tree. Ons moes nie net die toeganklikheid van die stede en die paraatheid van sy mense toets nie, maar ook die vrugbaarheid en geskiktheid van die land ondersoek. Moses wou spesifiek hê ons moes van die vrugte saambring as ons kon. Die manna was immers goed genoeg, maar ‘n druiwetros of ‘n bietjie dadels sou darem vorentoe smaak. En dit sou die volk opgewonde maak, het hy gereken.
Die student Sibongile Mani het hierdie week ‘n algemene gesig geword in die media. Sy het per ongeluk R14 miljoen gekry en in ‘n kort tydjie reeds R818 000 daarvan uitgegee.
Nou, ek wil haar nie “shame” nie. Ek wonder wat ek sou gedoen het as ek só baie geld in my rekening gehad het. Wat sou jy gedoen het? Jy kan gaan kyk wat NMB studente geantwoord het op dié vraag.
En al sou jy die regte ding gedoen het en die geld teruggegee het, die punt is dat sy nou die geld skuld, want sy het dit uitgegee.
So, kry hierdie prentjie in jou kop. Sibongile word voor die raad gedaag en gevra om die geld terug te betaal. Want, sy skuld dit vir die owerhede.
Maar, sy kan nie. Daar is nie ‘n manier nie. Iemand het uitgewerk hoeveel jaar dit sou neem as sy ‘n goeie werk sou hê en dit moet terugbetaal. Dit sal haar meer as twintig jaar neem, as sy elke maand R8 000 terugbetaal.
Nou, stel julle voor dat Sibongile begin pleit dat hulle haar moet vergewe … en die raad stem in. Hulle skryf dit af. Sy loop as ‘n vry mens daar uit. Sy kan aangaan met haar lewe. Sy hoef nooit weer daaroor te wonder of te wroeg nie. Sy is vry. Sy het geen skuld meer nie. Sy is vergewe.
Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan. Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref (Numeri 21:1-3).
‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is. Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45). En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.