Skip to main content

Dag 2 – Wie God is – 17/11/09

Lees Openbaring 8:1

Net soos God die Vader Homself die Alfa en die Omega (die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet) noem, netso noem Jesus Christus Homself in Openbaring 22:13 die Alfa en die Omega.  Daar is niks wat God Drie-enig voorafgaan nie, en niks wat op Hom volg nie.  Hy is die Skepper van materie en energie, en ruimte en tyd.  Hy is die grondliggende realiteit en alles is van Hom afgelei.  As die grondliggende werklikheid in ‘n tydlose Persoon beliggaam is, dan is die hoogste goed vir die mens om hierdie Persoon te ken en deur hom geken te word.  In die Bybel word dit duidelik dat Jesus as die Seun van God, dit vir ons moontlik gemaak het om in ‘n egte verhouding met die Vader te kom.  Matteus 16:26 lui:  “Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor …”  ‘n Mens kan baie wen, maar terselfdertyd alles verloor.  Ons hoogste prioriteit moet wees om ons lewe, ons alles, te gee aan die Een wat die mens gemaak het.

Dag 3 – Wie ek is – 18/11/09

Lees 1 Johannes 2:15 – 17

Ons perspektief behoort ons prioriteite te bepaal, en ons prioriteite ons praktyke.  ‘n Bybelse perspektief hou in dat alles wat ons van die liefde van die Vader weghou, eintlik afgodery is, ongeag hoe goed of lofwaardig dit mag wees.  Op ‘n manier is dit nie korrek om te sê dat ‘n Christen se prioriteite God eerste, familie tweede en beroep en bediening derde moet wees nie.  As Christus ons lewe is (Kolossense 3:3 – 4), dan verdra hy geen kompetisie of rangorde nie.   ‘n Christus-gesentreerde lewe beteken dat alles in verhouding tot Christus gesien moet word.  “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.  Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,  want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kolossense 3:1 – 3). In Lukas 10:38 – 42 lees ons van Marta wat vir ons as waarskuwing dien dat ons so maklik deur die sorge en bekommernisse van die wêreld in beslag geneem kan word, dat ons die heel belangrikste in die lewe mis.  Die sorge van hierdie lewe, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande dinge, kan die Woord van God in ons lewe verstik en onvrugbaar maak (Lukas 4:19).  Kyk na jou lewe deur die lens van die heerskappy van Christus.  Wat is die implikasie van hierdie manier van sien?

Dag 4 – Hoe dit werk – 19/11/09

Lees Filippense 3:12 – 14

Paulus het verstommend baie bereik in die ongeveer twintig jaar waarin hy as apostel opgetree het.  Die kerke wat hy geplant het en die briewe wat hy geskryf het, het ‘n vormende invloed op die Westerse kultuur gehad.  ‘n Deel van Paulus se vermoë om so baie te bereik, word in Filippense 3:13 gegee waar hy sê:  “Maar een ding doen ek …”  In Handelinge en in Paulus se briewe lees ons dat Paulus geleef het in werklike omstandighede en werklike keuses moes maak.  Hy moes, soos elkeen van ons, besluit wat om te doen en wat om nie te doen nie.  Hy het duidelik wyse keuses gemaak.   Hy het aan werklik belangrike sake aandag gegee.   Sy prioriteite het begin by “… hierdie een ding doen ek …”  Sonder ‘n enkele, bepalende prioriteit kan daar geen sinvolle prioriteite vir ‘n lewe gestel word nie.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.  Prioriteite help ons om ja en nee te sê vir dinge wat belangrik of onbelangrik is.  Maar meer nog, ‘n omvattende prioriteit herdefinieer hoe ons ja sê en hoe ons lewe om hierdie ja ‘n werklikheid te maak.

Dag 5 – om met prioriteite te leef – 20/11/09

Lees Jeremia 9:23 – 24

In die gelese gedeelte word ons aangemoedig om ons lewe te evalueer en ons prioriteite te herrangskik.  Die belangrikste fokus moet wees om die Here te ken en te verstaan en te dien.  As jy dit doen, dan sal jy in staat wees om dit wat werklik belangrik is, te kies en nie toe te laat dat die druk van die lewe jou fokus en jou keuses bepaal nie.

Dag 1 – om met integriteit te leef – 09/11/09

Lees 1 Samuel 12:1-4

Elkeen van ons besluit self waarvoor ons onthou wil word, wat ons nalatenskap gaan wees.  Kyk in v 3 wat vir Samuel belangrik was.  Samuel se integriteit het elke aspek van sy lewe deursuur.  Dit het bepaal hoe hy sy besittings hanteer het, besigheid gedoen het en hoe hy diegene wat swakker as hy was, behandel het.  Hy was verantwoordbaar teenoor die mense wat hy gelei het.

Samuel se voorbeeld roep ons elkeen om dieselfde hoë standaard van integriteit te handhaaf.  Of jy nou ‘n multi-miljoen randse maatskappy of ‘n tweejarige kind lei, laat jou persoonlike verbintenis aan integriteit elke dag sigbaar wees.

Dag 2 – Wie God is – 10/11/09

Lees Hebreërs 13:8

God se karakter verander nooit nie.  Sy liefde, trou en goedheid word nie deur eksterne faktore beïnvloed nie.  Gevolglik kan ons vir God vertrou, want sy onveranderlike karakter is die fondament van sy beloftes.  Kyk ook na 1 Samuel 15:29 en Maleagi 3:6.

Oordink God se onveranderlike karakter.  Kyk in watter kontras dit met mense staan.  Watter implikasies het God se perfekte en konstante karakter vir jou verhouding met hom?  Is daar enigiets wat verhoed dat jy hom vertrou?