Skip to main content

Dag 12: Gebedsfokus op herlewing: Vul jou siel met Sy heerlikheid

Saterdag 24 April 2010

Dag 12: Gebedsfokus op herlewing: Vul jou siel met Sy heerlikheid

Hebreërs 3:2-3: Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ‘n huis bou, meer eer waardig is as die huis.

Oordenking: Jesus se heerlikheid is gegrond op wat die Vader van Hom dink. Jesus se getrouheid is bewys en daarom het God Hom verhef tot die hoogste ereposisie. Ons word nou genooi om hierdie vertroue wat God in Jesus stel, te reken as die versekering dat Jesus vir ons kan doen wat God van Hom verwag – om ons na die Vader te lei.

Persoonlik: Ons reaksie op die vertroue tussen God die Vader en Jesus is om Hom te aanbid. Kyk op na Jesus en aanbid Hom tot jou hele siel gevul is met die kennis van Sy getrouheid aan die Vader en aan jou. Laat hierdie heerlike werklikheid jou hart vervul met volkome vertroue in Hom.

Gemeente: Bid dat Jesus se getrouheid die Kerk met hoop sal vervul, sodat die Kerk weer in die waarheid van God en Sy Woord sal glo. Bid dat die Kerk ‘n nuwe vlak van geloof en gehoorsaamheid sal bereik.

Dag 13: Gebedsfokus op herlewing: Die sonde van ongeloof

Sondag 25 April 2010

Dag 13: Gebedsfokus op herlewing: Die sonde van ongeloof

Hebreërs 3:12: Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

Oordenking: Alle ongeloof is sonde. Ongeloof is nie iets wat as ‘n swakheid geduld kan word nie. ‘n Ongelowige hart het tot so ‘n mate gevul geraak met duisternis dat die persoon God buite rekening begin laat en Hom tot leuenaar maak. Ongeloof mag geen plek in ons harte hê nie.

Persoonlik: Die manier om ongeloof teen te werk, is om na God te draai in die volle vertroue dat Hy is wie Hy sê Hy is. As jy vermoed dat ongeloof besig is om in jou hart in te kruip, begin dan dadelik om Hom in stilte te aanbid en die waarheid uit te spreek oor wie Hy is. Sê vir God dat jy glo dat Hy die Waarheid is en dat alles wat Hy sê, die Waarheid is. Laat jou hart toe om die teenwoordigheid van die lewende God te ervaar. Hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jou hart met geloof vervul word.

Gemeente: Ongeloof ontstaan ook as gevolg van te min gemeenskap met God. Bid dat jou mede-gemeentelede gemeenskap met God sal hê deur gereelde gesamentlike en individuele gebed. Voortdurende gesprekke met God, veral om te leer om Sy stem te hoor, stimuleer geloof.

Sondag 18 April 2010 – Dag 6: Gebedsfokus op herlewing: Waarskuwing teen die verwaarlosing van jou redding

Hebreërs 2:1-4: “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.”

Oordenking: Die redding van mense is God se grootste prioriteit. Om dit te kon vermag, het Hy die hoogste prys betaal, die offer van Sy Seun. Waarom, dink jy, is die redding van mense so belangrik vir God?

Persoonlik: Die inwoning van die Heilige Gees in ons is die oortuigende bewys van ons redding. Redding is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie, maar is die herstel van die eer en heerlikheid van God se roem onder die nasies. Bring jou lewe hierdie eer aan Hom? Indien nie, buig voor Hom neer en vra vir die getuienis van die Heilige Gees in en deur jou lewe.

Gemeente: Baie lidmate van die Kerk is net Christene in naam, nie in leefwyse nie. Bid dat elke gemeentelid deur die Heilige Gees oortuig sal word, tot ware redding en om kragtige getuies vir Hom te wees.

Saterdag 17 April 2010 – Dag 5: Gebedsfokus op herlewing: Geregtigheid en vreugde

Hebreërs 1:8-9: “Maar van die Seun sê Hy: ‘U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.'”

Oordenking: Geregtigheid is hoe God ons karakter toets aan Sy standaard van reg en verkeerd. Wat beteken die woord “karakter” vir jou? Hoe het Jesus karaktergewys aan God se standaarde voldoen?

Persoonlik: Kan jy eerlik sê dat vreugde die oorweldigende, aanhoudende toestand van jou siel is? Indien nie, het jy jou al ooit onderwerp aan God s evaluering van die toestand van jou siel? Wil jy dit nie nou doen en Hom vertrou om jou van enige ongeregtigheid te oortuig nie?

Gemeente: Die karakter van die Kerk is die weerspieëling van die gemeenskaplike reaksie van die gemeentelede teenoor God self. Bid dat gemeentelede sal reageer op die Heilige Gees se verlange om mense na God te trek.

Vrydag 16 April 2010 – Dag 4: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “…die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: As Jesus die ewebeeld van die Vader is, kan ons dan die ewebeeld van Jesus wees? By implikasie – as die heerlikheid van God uit Jesus straal, moet die heerlikheid van Jesus dan nie uit ons straal nie?

Persoonlik: Glo jy dat God Sy natuur op jou wil afdruk deur ‘n persoonlike, intieme verhouding met Hom? Sê vir Hom dat jy verlang om die onsigbare heerlikheid van God deur Sy werk in jou te sien, om jou sodoende te herskep na die beeld van Sy Seun.

Gemeente: Bid dat jou gemeente die heerlikheid van God so sal uitstraal dat die hele plaaslike gemeenskap Hom sal sien.

Donderdag 15 April 2010 – Dag 3: Gebedsfokus op herlewing: Die heerlikheid van die Seun

Hebreërs 1:2-3: “… die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”

Oordenking: Hoe kwalifiseer Jesus om deur God aangewys te word om Hom by die mense te verteenwoordig?

Persoonlik: Hunker jy daarna om deel te hê aan die verhouding tussen die Vader en die Seun? Verwoord hierdie verlange in ‘n gebed tot Jesus om een met Hom te wees.

Gemeente: Bid dat die lidmate van jou gemeente ‘n honger sal ontwikkel om God intiem te ken en met Hom een te wees soos wat Hy beloof het.