In Jesus sien ons liefde wat uitreik na almal in nood. As sy volgelinge kan ons nie anders as om dieselfde te doen nie. Wat sal dit beteken om “met wysheid op te tree teenoor die mense wat nog buite die gemeente is”? Dit veronderstel sekerlik dat ons nou saam met God leef, afhanklik van die leiding van die Gees. Wat van: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig”? Ons kan sekerlik nie prekerig en opdringerig wees nie? Om te weet hoe om elkeen te antwoord, vra voorbereiding. Dit beteken ons moet intensioneel uitreik na ander.
Ons is deur liefde geskape vir liefde. Die lewe gaan dus nie oor besittings, posisie, invloed of selfs geluk nie. Om God lief te hê en ander lief te hê, om liefde te gee en te ontvang – dis eintlik waaroor die lewe gaan. Geen wonder nie dat Jesus sê: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ (Matt. 27:37-39)
Ongelukkig kom dit nie natuurlik vir ons nie – selfsug heers dikwels in ons harte. Maar deur God se genade kan ons leer om te dien en ander lief te hê. In die kerk, deur ons saam-leef met ander gelowiges, gee God se Gees vir ons ’n skool waar ons leer om lief te hê. Erediensbywoning, kleingroepe, stiltetyd – hierdie is van die maniere wat ons groei in ware liefde. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. God, wat liefde is, maak dit in ons en deur ons moontlik om ander lief te hê.
Hebreërs 5:7-8 Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Alhoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.
OORDENKING: Wat Jesus vir ons wou doen, moes hy eers vir Homself doen. Om te kwalifiseer vir die werk om ons te heilig, moes Hyself eers geheilig word. Hy moes leer om as ‘n menslike wese in ‘n verhouding met God te staan. Die feit dat Hy met ‘n luide stem en trane gebid het, dui op Sy geweldige worsteling met die swakhede van mense. Hy het Sy eie wil tersyde gestel en die angs vir die dood deurgemaak omdat Hy die beloftes van God verstaan en gehoorsaam aan God se wil was.
PERSOONLIK: Die toets vir Jesus was gehoorsaamheid. Wat Hy gedoen het, wil Hy ons ook leer doen. Hy weet wat dit kos om jou eie wil prys te gee. Hy ken ook die krag wat vrygestel word as ‘n persoon dit kan doen. Sy dood en opstanding stel ons in staat om Sy voorbeeld te volg omdat Sy hemelse krag tot ons beskikking is. Vertrou jy Christus genoeg om bereid te wees om Hom die hele pad te volg? Kom dan na Hom toe en praat met Hom oor jou gehoorsaamheid.
GEMEENTE: Bid dat die Kerk die waarheid sal hoor oor die groot werk wat Jesus gedoen het en dat die waarheid die Kerk in staat sal stel om volkome gehoorsaam te wees aan die wil van God. Bid dat God se wil uitgevoer sal word in die lewe van elke lidmaat van jou gemeente.
Hebreërs 5:4-5 Niemand eien hom die eer as hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. So het Christus Hom ook nie die waardigheid as hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee, toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader. En op ‘n ander plek sê Hy: “Jy is ‘n priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”
OORDENKING: God het Jesus gekies as die mensdom se verteenwoordiger by Hom. Hy wou geen ander persoon of wese hê om die werk te doen nie, behalwe Sy seun. Dit was slegs Sy Seun wat God se hart vir mense verstaan het. Omdat Hy van God gekom het en na God teruggekeer het, kan Hy ons ook daarheen neem. Omdat Hy een is met God, kan Hy ons ook een maak met God. God het hierdie heerlike taak aan Hom toevertrou: die versoening tussen God en die mens.
PERSOONLIK: Jesus ontvang groot eer wanneer Hy vir sondaars intree. Dit is waarom Hy gekom het en waarom Hy die heerlikheid wat Hy saam met die Vader gehad het, prysgegee het. Elke keer as ons tot Jesus pleit vir genade, ontvang Hy eer. Elke keer as ons ‘n belofte van God glo en vir Jesus vra om dit te vervul, word Hy in die Vader se teenwoordigheid verheerlik. Wil jy Hom ook eer?
GEMEENTE: Bid dat die Kerk die waarheid van God se Woord en Sy beloftes sal begryp en sal begin om Jesus daarvoor te eer deur tot Hom te bid en om vir Hom te vra om daardie beloftes te vervul. Geloof is presies dit – om te glo dat God se beloftes die waarheid is en dat dit vervul sal word as gevolg van Jesus.
Hebreërs 5:1-2 Elke hoëpriester is ‘n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sonde te bring. Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes omdat hyself aan swakheid onderhewig is.
OORDENKING: Die twee vereistes vir ‘n hoëpriester is dat hy deur God aangestel moet wees en ook moet kan simpatiseer met diegene wat hy voor God verteenwoordig. Jesus het aan beide hierdie vereistes voldoen. Jesus is deur God geroep om die mense voor Hom te verteenwoordig! Die werk van die Heilige Gees is om ons te oortuig van God se goeie bedoelings met ons en om ons te help om Jesus te vertrou deur ons die waarheid oor Hom te leer. Is jy oortuig dat God se bedoelings nét goed is?
PERSOONLIK: Jesus is ook swak gemaak sodat Hy ons volledig kon verteenwoordig. Hy het Sy triomf verdien omdat Hy bereid was om soos mense te ly. Lyding en swakheid was Sy kenmerke op aarde. Nou in die hemel wil Hy almal verteenwoordig wat swak is en swaarkry. Dit is Sy ewigheidswerk: om jou te verteenwoordig! Wil jy hierdie Jesus leer ken? Bid dat die Heilige Gees dit vir jou werklik sal maak en jou Sy verteenwoordiging sal laat ervaar.
GEMEENTE: Bid dat die Kerk tot die besef sal kom dat die Here vír hulle is en nie teen hulle is nie. Bid dat hierdie besef ‘n diepe nederigheid sal meebring, wat veroorsaak dat die Kerk nie trots en arrogant sal wees in hulle omgang met ongelowiges en sondaars nie. Bid dat die hart van Christus in die Kerk sigbaar sal wees..
Hebreërs 4:16: Kom ons gaan dan met vertroue na Sy genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word
OORDENKING: Ons vertroue is gegrond op dit wat ons oor God se karakter glo. Die Here se genade beteken dat wanneer ek na Hom toe kom met my skuld, sondigheid en onwaardigheid, ek daarvan verseker kan wees dat Hy my sonde sal vergewe en my sal aanvaar. Hy sal dit doen. God se genade beteken dat die innerlike hemelse werking van God se Gees binne-in my my volledig kan verander sodat ek ‘n weerspieëling van Christus Self kan word.
PERSOONLIK: Elke persoon moet vir hom-/haarself die genadige liefde van God toe-eien. Verstaan dat die ganse werk van Christus bedoel is om jou te laat kwalifiseer om met vertroue met God te kan verkeer. Wil jy Hom nie nou hiervoor dank nie? Sit ‘n rukkie stil en dink oor Hom en aanbid Hom.
GEMEENTE: Bid dat die Kerk hierdie genadige liefde van God sal ervaar, en om daarop te reageer met suiwer en nederige aanbidding. Bid dat die waarheid van God se liefde die Kerk in ‘n gemeenskap vol liefde, genade en guns sal transformeer.
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.