Reik saam uit – dagstukkies
Dag 8
Lees Kolossense 4:5-6
In Jesus sien ons liefde wat uitreik na almal in nood. As sy volgelinge kan ons nie anders as om dieselfde te doen nie. Wat sal dit beteken om “met wysheid op te tree teenoor die mense wat nog buite die gemeente is”? Dit veronderstel sekerlik dat ons nou saam met God leef, afhanklik van die leiding van die Gees. Wat van: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig”? Ons kan sekerlik nie prekerig en opdringerig wees nie? Om te weet hoe om elkeen te antwoord, vra voorbereiding. Dit beteken ons moet intensioneel uitreik na ander.
Dag 9
Filippense 1:27b: … dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.
“Ons” is baie sterker as “ek”. Ons kan nie sonder die Gees se hulp en leiding werk nie. Maar ons behoort ook saam met ander gelowiges te werk.
Een ding wat ons kan doen, is bid. Gebed is een manier om te soek en seker te maak dat ons in lyn is met God. So bid vir die geleentheid om te dien. Bid dat God die harte sal voorberei van die mens(e) na wie jy uitreik. Bid vir jouself vir deernis. Bid vir sensitiwiteit.
Dag 10
Lees 1 Petrus 4:9
Ons huise is vir baie van ons ’n veilige skuilplek. As Christene is ons huise egter een van ons bronne wat God vir ons geleen het. Ook ons huise behoort aan God en is ’n manier om ander in te sluit en te betrek. Vir party van ons is dit maklik. Vir ander is dit ’n groot opoffering. Maar vir ons almal is dit ’n kans om met liefde uit te reik. Hoe kan jy jou huis gebruik om in liefde uit te reik?
Dag 11
Lees Romeine 15:7
Jesus het ons lief en offer sy lewe vir ons (Rom. 5:8). Hy nooi ons uit, roep ons, verwelkom ons. Dit is die voorbeeld waarvolgens ons teenoor ander moet leef – nie net teenoor ander gelowiges nie, maar (soos Jesus) teenoor alle mense, veral diegene wat ons sien as “buitestanders”.
Jesus het mense ontmoet waar hulle is, hulle aanvaar en liefgehad. Die uitdaging vandag: doen jy dit ook!
Dag 12
Lees Romeine 12:16
Ons word almal gevorm deur ons interaksie met ander. Wat hulle sê en doen, is deurslaggewend in ons vorming en geloof – veral diegene naaste aan ons.
Hoe gaan mense wat nie vir Jesus ken nie, sy liefde ondervind anders as deur ons? Hoe langer jy ’n gelowige is, hoe meer behoort jy intensioneel uit te reik na ongelowiges. Maak vriende met ongelowiges en wees opreg lief vir hulle.
Dag 13
Lees 1 Johannes 3:18
Liefde wat nie tot dade oorgaan nie, het geen substans nie. Elkeen van ons in liefde uitreik en ’n verskil maak aan die behoeftes wat ons sien. Ons kan die bronne, tyd, vermoëns tot ons beskikking in liefde aanwend. Hoe kan jy vandag praktiese liefde wys?
Dag 14
Lees Kolossense 3:17
Die oomblik wat ons Jesus begin dien, word ons ook sy verteenwoordigers op aarde. Dit beteken dat sy liefde en waardes in en deur ons sigbaar word. Hoe kan Jesus sigbaar word deur jou woorde en dade?