Skip to main content

Psalm 118 was die stimulus dat jy vandag die Bybel in Afrikaans kan lees!

John-WycliffeDat jy vandag die Bybel in jou eie taal kan lees, begin by Psalm 118 en die impak wat dit eeue later op die Engelse filosoof, teoloog, vertaler, prediker en Hervormer, John Wycliffe (1329-1384), gehad het.

John het ‘n droom gehad om alle mense die Bybel in hulle eie taal te laat lees. Sy vyande in die kerk het egter niks daarvan gehou nie, en wou hê dat net die geleerdes die Bybel in Latyn en die oorspronklike tale lees. Hulle het hom selfs verbied om te preek. Op 52 jarige ouderdom het hy as ‘n baie siek man afgetree.

Toe sy vyande selfs op sy siekbed hom geteister het met die idee dat hy sy “sonde moet bely” om die Bybel vir alle mense toeganklik te maak – kan jy dít glo! – het vers 17 van Psalm 118 hom te binne geskiet, en het hy dit vir hulle aangehaal: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.”

Net daar en dan het John besluit om die hele Bybel in Engels te vertaal. Dit het hom drie jaar geneem en hy het dit voltooi net voor hy op 55 jarige ouderdom oorlede is. Sy passie vir die Woord het ander geïnspireer om dieselfde te doen. Die Tsjeg Johannes Hus (1369-1415) het ‘n proses begin om die hele Bybel in Boheems te vertaal en Maarten Luther (1483-1546) het daarop voortgebou en self die hele Bybel in Duits vertaal. En só het al die vertalings van die Bybel begin, in 2014 is alreeds die hele Bybel in 531 tale, en gedeeltelik in 2,883 tale, vertaal – uiteraard ook in Afrikaans.

Dat jy dus die Bybel in jou eie taal in jou hand kan hou, is te danke aan die visie en passie van hierdie Hervormers. En Psalm 118:17 was die inspirasie wat die Here in die lewe van John Wycliffe gebruik het om sy lewenswerk te voltooi.

Luister hier na die majestueuse melodie van Psalm 118, geskryf in 1545 deur Guillaume Franc in Straatsburg ‘n jaar voor Luther se dood (gespeel deur Dick Sanderman): http://www.psalmboek.nl/zingen.php?psID=118&psvID=1&s=rit6

BYBELSKOOL OOR PSALM 107-150

Psalm107Die Psalms bly steeds die mees praktiese boek in die Bybel.  Dit leer ons hoe om na God te luister en insig te kry in sy wil vir ons lewe.  Dit leer ons hoe om te bid, beide wanneer dit sleg gaan en wanneer dit goed gaan.  Daarom is daar klaagpsalms sowel as lofpsalms.  Die wye verskeidenheid van Psalms leer ons dus hoe om God te loof en te aanbid in alle omstandighede.  En dit leer ons hoe om saam met ander vir Hom te leef.  Die Psalms spreek daarom ons hele menswees aan.

Die Psalms help ons om nie net “oor” God te praat nie, maar “met” Hom.  Dit is dan ook die fokus van die volgende Bybelskool oor die laaste en vyfde Psalmboek – Psalm 107-150.  Ek wil jou help om aan die hand van dié Psalms met God besig te raak.

Ons gaan die 43 Psalms van die vyfde Psalmboek elke weeksdag lees, behalwe Psalm 119 wat weens die lengte daarvan in 22 dele gelees gaan word.  Dit gee 64 “Psalms” wat in die derde en vierde kwartaal gelees gaan word.  Die bydraes begin 31 Augustus en eindig 7 Desember.  As jy dit nog nie gedoen het nie, skryf in by Bybelskool om dié bydraes elke weeksdag te ontvang.

EERSTE BYEENKOMS: 2 SEPTEMBER 18:00-19:00 IN DIE KONSISTORIE

Chris van Wyk

Bybelskool: 1 en 2 Kronieke

1 en 2 Kronieke BybelskoolDie Bybelskool oor Kronieke skop dié week af. Ons lees 1 en 2 Kronieke saam met die ooreenstemmende gedeeltes in Samuel en Konings waarvan ons ‘n gedeelte in Die Storie gaan lees. Laai die Word dokument by bybelskool.com af, waar dié Skrifgedeeltes langs mekaar geplaas is vir jou leesgerief. Druk dit dan vir jou uit om Kronieke saam met die dele wat dit uit Samuell en Konings aanhaal, te lees. Daar is ook kaarte wat jy kan gebruik. Onthou die Bybelskool is dié kwartaal weer gesinkroniseer met die kleingroepmateriaal en die eredienste se fokustekste uit Samuel-Konings. Registreer by bybelskool.com om die bydraes op weeksdae te ontvang. Almal is welkom by ons eerste byeenkoms Woensdag 17 April om 18:30 in die konsistorie by Somerstrand kerkgebou.

Bybelskool oor Spreuke

Slagspreuke vir die lewe

spreuke-logoDie boek Spreuke is saamgestel uit hoofsaaklik kort stellings of spreuke. Hierdie spreuke vang lewenswaarhede of –wyshede vas sodat jy daaruit die beginsels van die lewe kan leer ken, met groter onderskeiding jou eie en ander se gedrag kan beoordeel en met meer oorleg kan leef (1:2). Hierdie versameling God-gegewe oortuigings, oor die breë spektrum van die lewe, is daarom ‘n goudmyn van slagspreuke vir die lewe: “the scrapbook of common grace” (Martin).

Praktiese benadering tot die lewe

Spreuke leer jou die geheim ken van die lewe coram Deo (voor God), sodat jy met wysheid en oorleg kan leef (1:3) en die dwaasheid kan vermy (1:7).

Spreuke wil jou inspireer om die wysheid na te jaag, nie net in terme van wat in die boek self opgeteken is nie, maar ook om ons eie oortuigings in ons lewe saam met God en mekaar te vind en formuleer. Die boek werk nie soseer met groot of abstrakte teorieë of selfs godsdiens-kategese as sodanig nie, maar met ‘n doodgewone common sense praktiese benadering tot die lewe voor God en die wêreld, geïllustreer met vele stories, beelde, onthoubare slagspreuke en gesegdes. Maclaren beskryf die boek daarom as “portable medicine for the fevers of youth” en voeg by dat dié medisyne werk of jy die dokter ken of nie (Zondervan Bible Commentary, 654)!

Bou jou kapasiteit vir wysheid

Met die waarhede en wyshede van die boek Spreuke as gids kan ook jy ‘n ekspert in die lewe word! In die proses bou Spreuke jou kapasiteit vir wysheid, en vir wyse gedrag, sodat jy:

  • kan weet wanneer iemand verstandig praat (1:2) – bv “’n Oorwoë mening is diep waters, ‘n verstandige mens skep daaruit” – 20:5 (18:4) – verstandigheid het met diepte te make;
  • ‘n sin vir regverdigheid kan ontwikkel (1:3) – bv “’n troon word deur regverdigheid bestendig” – 16:12 – Spreuke was die King III Corporate Governance uitgawe van sy tyd!;
  • met oorleg kan optree (1:4) – bv “My seun, behou die takt en oorleg, moet dit nie uit die oog verloor nie” – 3:21;
  • tot dieper insig kan kom (1:5-6) – bv “Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid” – 13:15;
  • nie sal toegee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10) – bv “Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense” – 4:14.

Kom leer by die wyses uit die verlede sodat jy nie net self wys kan leef nie, maar ook ‘n wyse kan word.

  • Registreer by bybelskool.com om die dagstukkies elke weeksdag te ontvang.  Eerste dagstukkie 25 Julie.
  • Skryf in by die kerkkantoor (0415835115) om die byeenkomste Woensdagaande te kan bywoon (tot 12 Sept).  Eerste byeenkoms Woensdag 25 Julie 18:30

Bybelskool oor Prediker en Hooglied

Prediker

  • Inleiding – 11 April
  • 1:1-11 – 12 April
  • 1:12-2:26 – 13 April
  • 3:1-15 – 16 April
  • 3:16-22 – 17 April
  • 4:1-16 – 18 April
  • 4:17-5:16 – 19 April
  • 5:17-6:9 – 20 April
  • 6:10-7:29 – 23 April
  • 8:1-17 – 24 April
  • 9:1-12 – 25 April
  • 9:13-10:15 – 26 April
  • 10:16-11:6 – 27 April
  • 11:7-12:8 – 30 April
  • 12:9-14 – 1 Mei

Hooglied

  • Inleiding – 2 Mei
  • 1:1-11 – 3 Mei
  • 1:12-2:7 – 4 Mei
  • 2:8-17 – 7 Mei
  • 3:1-5 – 8 Mei
  • 3:6-11 – 9 Mei
  • 4:1-5:1 – 10 Mei
  • 5:2-8 – 11 Mei
  • 5:9-6:3 – 14 Mei
  • 6:4-8:4 – 15 Mei
  • 8:5-14 – 16 Mei

Bybelskool Eerste Kwartaal 2012

Lees saam met ons hierdie kwartaal Paulus se vier briewe wat hy uit die gevangenis in Rome skrywe aan die gemeentes in Filippi, Kolosse en Efese, sowel as aan Filemon.  Ons sluit af met sy drie pastorale briewe aan Timoteus en Titus.  Die briewe aan die gemeentes in Filippi en Efese (Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle in Open 2:1-7) sal ook in die lig van die uitvoerige verhale oor die stigting van dié gemeentes gelees word soos Lukas ons in die boek Handelinge vertel. Elke weeksdag is daar ‘n bydrae by www.bybelskool.com, waar jy meer kan lees, jou kommentaar kan lewe, en ook jou vrae kan vra.  Registreer by die bybelskool.com webtuiste om die bydraes ook elke weeksdag per  e-pos te ontvang.  Skryf in by die kerkkantoor – 0415835115 – indien jy die Bybelskool byeenkomste in die Konsistorie elke Woensdagaand wil bywoon om 18:30-19:30, vanaf 18 Januarie tot aan die einde van Februarie.  Chris van Wyk