Die terugkeer huis toe – Haggai 1 (21-27 Julie)
Die boeke Esra en Nehemia wys vir ons hoe jy te werk gaan om ‘n geloofsgemeenskap weer op te bou ná ’n tyd van chaos (ballingskap). Ná die Kronis (waarskynlik Esra self) in 1 en 2 Kronieke sy waarderende blik op die verlede gegooi het om daaruit dinge te neem wat identiteitsvormend is, vertel hy in Esra-Nehemia verder van die drie leiers ná die ballingskap, naamlik:
- Serubbabel wat die verhouding met God herstel deur die bou van die tempel en die herstel van die liturgiese omgang met God – Esra 1-6 (met die profete Haggai en Sagaria wat die volk bemoedig),
- Esra wat die fokus op die reflekterende lees van die Bybel plaas sodat dit die hele lewe kan deursuur – Esra 7-12 (met Ester wat êrens in die 80 jaar wat verloop tussen Esra 6 en 7 die veiligheid van die volk vanuit die vreemde verseker), en
- Nehemia wat op die herstel van die muur van Jerusalem fokus sodat die geloofsgemeenskap kan gedy in ‘n veilige ruimte waarin lewe kan floreer (met Maleagi wat die volk steeds laat fokus op dié dinge wat die geloofsgemeenskap in hulle verhouding met God sal laat floreer).
Dit begelei die teruggekeerde ballinge om weer ’n groeiende en florerende geloofsgemeenskap voor God in hulle eie land te word. En dit gee vir ons prentjies van hoe ons met God kan saamwerk in ons eie tyd wat uiters inspirerend is.
Kleingroep byeenkoms
RUS
Deel met mekaar hoe God julle tans seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word. Dank die Here daarvoor in gebed.
LUISTER
Lees die verhaal van Haggai 1.
- Wat tref julle in hierdie verhaal van Haggai wat Serubbabel, Jesua en die volk motiveer om die huis van die Here te herbou?
- Die ballinge is met hoë verwagtings uit Babel terug na hulle land. Hulle sou weer tuis voel en weer die Here vryuit kon aanbid. Maar daarvoor moes die tempel herbou word. Die meeste het egter hulle eie belange eerste gestel en die bouwerk onder Serubbabel het tot stilstand gekom. Op watter maniere sien jy dit vandag nog in die kerk? En in jou eie lewe?
- Die boodskap van Haggai 1 plaas ons voor die moeilike keuse tussen ons eie belange en God se belange. Om regtig gehoorsaam te word aan die Here se opdrag het ons ook nodig om “aangevuur” te word deur die Here (vers 14). Op watter maniere vuur die Here jou reeds aan om vir Hom te kies?
LEEF
- In die NT lees ons dat Paulus Timoteus aanmoedig om ook van sy kant af die genadegawe wat God hom gegee het soos ’n vuur weer aan te blaas. Lees 2 Tim 1:6-7 en gesels oor wat julle daarin hoor. Hoe kan jy verseker dat die vuur in jou nie doodgaan nie?
Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.