Skip to main content

1 Johannes 4:7-21 – die Opstanding van Jesus (Paassondag)

Johannes skryf vir opponente binne die kerk in sy 1 Johannes brief. Hierdie mense het Christus aangeneem – hulle glo in Hom. Maar, nie alles wat hulle glo oor Hom is vir Johannes aanvaarbaar nie. En dan vat hy hulle deeglik aan oor hulle wanpersepsies en verdraaiings. Hierdie mense veroorsaak onsekerheid en verdeeldheid as gevolg van dit wat hulle glo. In die lig hiervan skryf Johannes dat God liefde is, en dat, om hierdie God lief te hê noodwendig beteken om mekaar lief te hê. Die een kan nie van die ander geskei word nie. Ten diepste gaan dit dus in ons teksgedeelte (1 Johannes 4:7-21) om die korrekte verstaan van die inhoud en praktiese uitspeel van ons geloof in Christus.

Tydens Paasfees dink ons weer oor Jesus se kruisiging, Sy dood en Sy opstanding. En ons herinner onsself daaraan dat dit die hartklop vorm van wat ons glo as navolgers van Jesus: dat God se Seun aarde toe gekom het om te sterf en op te staan. Als sodat ons ewig kan lewe. Ons moet dit natuurlik ook glo. Tydens Paasfees weet ons verder ook dat ons uitsien na ons grootste troos en hoop as gelowiges, naamlik die wete dat ons ook eendag sal opstaan uit die dood. Opstanding is ons hoop. Hierna sien ons met groot opgewondenheid uit en ons wag hartstogtelik daarop. Maar, wat doen ons intussen? Dis sekerlik nie genoeg of enigsins sinvol om maar net rond te sit totdat ons eendag uit die dode opgewek kan word nie? Daar moet meer wees in ‘n lewe saam met God as net dit …

Volgens ons teks lê die antwoord op hierdie vraag in ons verstaan van die woord agape – die woord vir liefde wat Johannes gebruik in ons teksgedeelte. Om hierdie woord eng te verstaan en te vertaal, maak ons arm. As ons dit doen skop ons klippies in die gange van God se paleis rond, terwyl ons eintlik vrye toegang het tot die skatkamers van God. Agape-liefde is liefde wat verstaan dat God ons nie net vrymaak om ewig te lewe as ons eendag tot sterwe kom nie. Dit beteken juis dat ons in Jesus nou reeds voluit kan lewe. Lewe soos Hy dit droom. Jesus maak ons vry van sonde. Hy maak ons egter ook vry tot ‘n nuwe, multidimensionele, ryk lewe wat kliphard skreeu dat Jesus opgestaan het, en dat ek self ook eendag weer sal opstaan! Jesus wil ons almal vrymaak van ons blindekolle: vry daarvan om altyd reg te wees, om altyd moedeloos te wees, om sonder vertroue in Hom te leef, om ‘n blinde oog te draai vir die nood om ons. Vry van dood. Vry tot ‘n lewe van liefde en geduld en omgee en vriendelikheid en sagmoedigheid. Dis agape-liefde.

Mag ons so nuut leef deur die krag van die opstanding van Christus, sodat dit waar is – elke dag. Volgens Johannes is dit wat ons moet glo en is dit wat ons moet doen. Help ons, Here, asseblief.

Wynand Fourie

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.