Goddelike golflengte ontdek – Matt. 17:1-8 – kleingroepe: 16-22 Febr.
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.
RUS
Die Ons Vader is so ’n belangrike gebed, dat ons vandag weer daarby stilstaan. Laat iemand die Ons Vader se ses bedes een vir een voorlees (6:9-13). Gee minstens een minuut tussen elke bede sodat mense stil dié gebed hulle eie kan maak en daaroor nadink en met die Here daaroor gesels.
Sê amen en gee dan geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd met die Ons Vader. Indien hulle vrymoedigheid het, kan julle saam vir van dié sake bid en ook op julle groep se gebedslys sit.
HOOR
1. Lees Matteus 17:1-8. Dit is die Sondag van Verheerliking in die kerkjaar. Daarom lees ons dié teks.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Dié verhaal het verskillende raakpunte met die ervaring wat Moses op die berg Sinai gehad het (Eks. 24). Op Sinai was daar ook drie wat saam met Moses opgeklim het, Aäron, Nadab en Abihu, ook die wolk wat die berg oordek het, Moses se gesig wat gestraal het en die feit dat God daar sy wet vir Moses gegee het. Waarom is dit vir Matteus so belangrik om die ooreenkomste in te weef in sy weergawe van wat op die berg (waarskynlik Meron naby Kapernaum) gebeur het?
4. Aan die ander kant is hier meer aan die gang as met Moses. Jesus het van gedaante verander. Hy het die vorm aangeneem wat Hy gehad het voor sy menswording en ná sy opstanding weer sou aanneem. Daarby is Moses en Elia, die verteenwoordigers van die wet en die profete, d.w.s. van die hele OT getuienis, in gesprek met Jesus, die een waarom die hele NT getuienis draai. En God sê op beslissende wyse, “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Wat word daarmee van Jesus se wese en betekenis gesê? Wat word daarmee van die OT boodskap gesê? Waarom is dit so belangrik dat die dissipels nie net iets wonderliks ervaar nie, maar ook geleer word hoe om dit te interpreteer?
5. Jesus se verheerliking op die berg was net vir die drie dissipels in die binnekring beskore, maar is ook met die ander dissipels gedeel. Wat sou dié ervaring vir die vroeë kerk beteken het in terme van hulle getuienistaak? Wat beteken dit vandag vir ons?
LEEF
Hoe kan julle die week inskakel op die Goddelike golflengte, by wyse van spreke? Oorweeg om weereens die Ons Vader gebed dié week te gebruik as model vir julle gebede. Deel volgende week hoe dit vir julle gewerk het.
Kleingroeptekste vir die res van die kwartaal:
Bekendstelling van nuwe wyn – Matt. 26:26-30 |
Onverwagse opbrengste – Matt. 6:19-34 |
Boontjie kry sy loontjie – Matt. 7:1-29 |
Jesus en die Samaritaanse vrou – Joh. 4:5-42 |
Genesing van die blinde man – Joh. 9:1-41 |
Lasarus se opstanding – Joh. 11:1-45 |