Skip to main content

Wie is Jesus? Matteus 14:13-17:8 Preek

God neem ook dikwels vir ons op reis.  Op voorheen onbekende paaie.  En dit is op hierdie nuwe, onbekende paaie, wat ons vir God leer ken.  Dit is op die onbekende paaie waar ons ou belydenisse oor wie Jesus en wie God is, nuwe betekenis kry.

Toetrede

Lied 168 v 1 en 3 gemeente, v2 koor Heilige Jesus

Votum

(uit:  Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan)

Ons glo in God die Vader

wat Hom geopenbaar het in Sy Seun,

die Mens wat tussen ons kom woon het

as die Waarheid teen die Leuen.

 

Ek glo in hierdie Jesus

wat opgevaar het na die Vader

en vandaar die sagte oordeel bring

omdat Hy nader aan my is

as wat ek aan myself is;

my kern ken,

verby die vel

tot in die chemie van die sel;

wat weet hoe diep my blindheid is

en my vashou ­–

styf teen die braille van Sy lyf.

 

Ek glo in die Heilige Gees

die Wind van God

wat oor die leegheid van my lewe waai

en die koers bepaal ­

weg van myself weg van Tarsis

na die nood in Ninevé.

 

Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei

tot nuwe skeppingswerk;

om alle mense

met geloof en hoop en liefde te verbind

aan die Koninkryk van God se Kind.

Seëngroet

Lofsang

Lied 264 Hoe heerlik is die Jesus Naam

Lied 175 Majesteit

Wet

Matt 16:24-26

24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Skuldbelydenis

Vonkk 63 v 1, 2 en 3 gemeente, v2 koor Die Here Jesus Christus

Genadeverkondiging

Dit kan nogal swaar op ons rus, hierdie oproep van Jesus dat ons ons kruis moet opneem, onsself verloën en hom volg. Maar dis juis omdat ons vir Jesus volg – en weet wie Jesus is – dat ons kan oorgee en kan rus in God se liefdevolle genade.

Omdat ons vir Jesus ken, weet ons soos wat Romeine 8:1 sê:

Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie

Geloofsbelydenis (n.a.v. Matt 16:13-20)

Gestel jy kom by ‘n heel vreemde plek, waar niemand nog ooit van Jesus gehoor het nie.  Wie sal jy vir hulle sê:  wie is Jesus?  Nie in belydenisse, of kerk-taal nie, maar meer spesifiek:  wie is Jesus vir jóú?

Vertel vir mekaar – veral gesinne.

Vandag se Skriflesing gaan oor hierdie vraag – wie is Jesus.  Kom ons bely met die woorde van ons teks ook ons geloof in Jesus, en dan saam met die kerk regoor die wêreld:

Voorganger: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?

Gemeente: Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.

V: Maar julle, wie sê julle is Jesus?

G: Hy is die Christus, die Seun van die lewende God.

V: Anders as die dissipels in Matteus 16 kan ons dit hardop bely en wyd verkondig:

G: Apostoliese Geloofsbelydenis

Gebed

Skriflesing

Video:  Matteus 7:1-8

Inleiding

Verjaarsdae

Wie is Jesus?

Jesus is God, wat mens geword het sodat ons God beter kan ken, gesterf sodat ons sonde vergewe kan word, leef nou, sodat ons elke dag saam met God kan leef

Interlude

Lied 379 I Koor, II Gemeente Jesus Christus, Lam van God

Preek en Skriflesing

Ons Skriflesing vanoggend is Matteus 16:24-17:8, ons gaan dit stuk-stuk lees soos wat die verhaal opbou.  Ons het reeds met die einde begin, waar God uit die hemel sê wie Jesus is.

13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Op onbekende paaie

Die heel beste dae op skool, was altyd die dae wat ons op uitstappies gegaan het.  Dan het jy nie skool gaan nie.  Almal is in ‘n bus gelaai om iewers te besoek.  Ek onthou nou nog hoe ons in Gr 1 ‘n Kellogg’s fabriek besoek het!

Jesus neem sy dissipels op so ‘n uitstappie.  Na Sesarea-Filippi, ‘n streeks-hoofstad van die Romeinse Ryk.

Voor Romeinse okkupasie was dit bekend as Panias, ‘n sentrum van aanbidding van die Kanaänitiese God Baäl, later van die Griekse God Pan.  Die aanbidders het nisse in die kranse gekerf, wat vandag nog sigbaar is, waar beelde van gode gestaan het.  Dit was ook ‘n plek van ‘n massiewe militêre nederlaag, ‘n gebied wat onder leiding van Alexander die Grote ingeneem is.  Later is dit oorgeneem deur die Romeine.

Toe Herodes die Grote sterf, het sy seun Herodus Filippus die area bekend as Panias oorgeneem.  En die naam verander na Sesarea-Filippi.  Sesarea, verwysende na Sesar – om Keiser Augustus te vereer.  En met die tweede naam, Filippi, het hy homself vereer.  Hierdie is Filippus se Keiser-ville.

Hierheen bring Jesus sy dissipels en vra:  “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”  En dan:  “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

En dis Petrus wat antwoord:  “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

As hy dit in Galilea gesê het, het dit dalk ‘n ander klank gehad.  Maar hier, in Filippus se Keiser-ville, dra dit ‘n spesifieke gewig.

Christus is die Grieks vir Messias, die een wat gesalf is as die verlossende koning.  Om “verlossende koning” te sê op enige plek waar die Romeine regeer – en veral in ‘n stad wat die keiser se naam dra – is gevaarlik.  Deur Jesus “die Christus” te noem, sê Petrus dat Jesus die verlosser is wat God al lank gelede beloof het.  Die Koning wat hulle gaan verlos van die keiser.

Ook “die Seun van die lewende God” klink anders in Keiser-ville.  Want keisers het vir hulleself die titel “seuns van god” toegeëien.  Petrus sê dat die keisers se aansprake  leuens is, dat al die gode in die nisse afgode is.  Dat die ware, lewende God by Jesus is.

God neem ook dikwels vir ons op reis.  Op voorheen onbekende paaie.  En dit is op hierdie nuwe, onbekende paaie, wat ons vir God leer ken.  Dit is op die onbekende paaie waar ons ou belydenisse oor wie Jesus en wie God is, nuwe betekenis kry.

So die vraag is, waar is jy tans?  Waarheen het God jou geneem in die lewe?  En wie, sê jy, is Jesus?

Want dis een ding om Jesus in kategese en belydenisskrifte te leer ken.  Dis ‘n goeie begin.  Maar dis nie genoeg nie.  Dit is om te sê:  wie sê die mense is Jesus.  Dit moet ook ‘n persoonlike belydenis raak.  In ons lewe, in die paaie waarop God ons neem, leer ons vir Jesus ken.  En raak ons belydenisse oor Jesus persoonlik, werklik.  Word dit gebore uit verhouding, uit kennis wat ons uit ervaring opdoen.

Op watter onbekende plek staan jy?  En wie, sê jy, is Jesus?

Na Petrus se geloofsbelydenis is daar hierdie pragtige oomblik, waar Jesus sê dat hierdie kennis nie uit homself kom nie, maar ‘n openbaring deur God is.  Spreek Jesus hierdie toekoms van krag oor hom uit.

En dan begin Jesus om vir die dissipels te verduidelik presies wat hierdie belydenis beteken:

Matteus 16:21-23

21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Van reg na só verkeerd

Sjoe.  Van:  op hierdie rots sal ek my kerk bou, ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee… na:  Satan, struikelblok.

Nou praat jy nie meer wat God vir jou openbaar het nie, maar wat mense wil hê.

Dit is ‘n asemrowende ommekeer.

En een waarmee ons ongelukkig dikwels só bekend is.  Dat ons in die een oomblik dink ons weet presies wie God is.  Ons weet wat hy van ons verwag.  Ons staan sterk, onwrikbaar in die geloof.

En die volgende oomblik staan ons verstom voor ons eie dwaasheid.  Oor hoe verkeerd ons eintlik was.  Oor hoe min ons eintlik verstaan.  Hoe dikwels gebeur dit nie dat jy dink jy verstaan God – en dan gebeur daar dinge wat jy net glad nie verstaan nie en wat jy nie weet hóé om te versoen met jou verstaan van wie God is nie.

Want dikwels is ons belydenisse eintlik ‘n poging om vir God in boksies te plaas, om God darem net ‘n klein bietjie meer beheerbaar te maak, dat God darem net so klein bietjie meer by ons planne inpas.  Hy gaan die Romeine oorwin en vir ons die mag gee!

Maar dan is ons menslike idees die teenoorgestelde van wie God is.

Haat kan nie haat oorwin nie.  Vrees kan nie vrees oorkom nie.  Geweld eindig nie geweld nie.

God se pad lyk anders.  God behaal oorwinning deur verslaan te word.  Eer deur skande, krag deur swakheid, leierskap deur dienaarskap, lewe deur die dood.

God se pad is so radikaal anders as ons wêreldse idees, dat ons dit nie oornag kan begryp nie. Ons gebruik dalk in een oomblik die regte woorde, maar ons het ‘n leeftyd nodig om die inhoud daarvan persoonlik te leer ken.

En dis hoekom ons saam met Jesus op reis gaan.  Dikwels na onbekende, ontwrigtende plekke.  Want dan besef ons ewe skielik vir die eerste keer wat ons belydenisse regtig beteken.  Wanneer ons sê dat God teenwoordig is.  Dat God liefde is, genadig is, heilig is, regverdig is, in beheer is.

Leef die belydenis

Wie, sê jy, is Jesus?

Die vraag is nie wat is die belydenis, die woorde wat jy oor en oor herhaal nie.  Die vraag is:  wat sê jou lewe?  Wat bely jou lewe oor wie Jesus is?  Wat bely jou bankrekening?  Jou verhoudings?   Jou energie?  Jou tyd?  Wie, sê jou lewe, is Jesus?

Want dis die punt.  Ons belydenisse is nie net woorde nie.  Dis woorde wat ons vorm.

Dit is omdat ek glo dat Jesus God is wat uit liefde vir ons gesterf het sodat ons genade en lewe in God kan ontvang, dat ek probeer leef op ‘n manier wat gevul is met God se liefde, dat ek daardie liefde probeer deel, diep bewus van die gebrokenheid van die wêreld, maar ook méér bewus van God se genade en die krag van die opstanding.  Dit beteken dat ek na my lewe kyk – my tyd, my verhoudings, my beursie, my drome, my uitdagings – deur die lens van God se liefde en God se opstandingskrag.

Wie, sê jy, is Jesus?  En hoe gaan dit jou lewe vorm?

Nooi om aan twee sinne te dink, wat jou belydenis oor Jesus beskryf, soos wat jy hom op onbekende paaie leer ken het.  Dink dan hierdie hele week – lydenstyd, miskien terwyl vas – aan maniere waarop daardie belydenis jou lewe vorm.

Gebed

Dankoffer

Koor Lied 389 Is dit, is dit my Koning?

Slotsang

Lied 514 Ek weet vir seker

Seën

Respons

Lied 541 Refrein

Matteus 16, Petrus, preek, Rethie van Niekeerk, Wie is Jesus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.