Psalm 31 Preek – Die regte goed in die regte hande
Ek spot altyd: toe “ball sense” uitgedeel is, het ek agter in die ry gestaan en toe nog boonop mis gevang ook. ’n Rugbybal in my hand is… uhm – waarskynlik nie meer in my hand nie. ’n Rugbybal in dok Hannes se hand maak internasionale kampioene! Ek kan so bietjie aangaan: ’n Trekklavier in my hand klink soos ’n sterwende donkie. Dieselfde trekklavier in Langpiet se hand, kan spinnekoppe laat dans. ’n Verfkwas in my hand voorspel iemand gaan moet skrop. In Rina se hand is dit ’n asemrowende kunswerk. ’n Clivia (of enige plant) in my hand voorspel ’n dooie Clivia. In Christine hand voorspel dit ’n pragtige, rustige tuin. Ons almal kan sulke voorbeelde noem! Dis belangrik dat die regte goed in die regte hande kom.
Stil refleksie
My tye is in U hand
Verwelkoming en afk.
Toetrede
Psalm 31:1
Votum
Psalm 31:2-3
Respons
Psalm 31:6-7
Seëngroet
Respons
Psalm 31:9
Oproep
Inleiding Heilige Week
Lied 391:1, 3 en 6 Vervul, o Heer, my hart
Geloofsbelydenis
N.a.v. Filippense 2
V: Ek glo in Jesus Christus
G: die eniggebore Seun van God die Vader…
V: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word
G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.
G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.
Gebed
Lied 578 Jesus wat my lief het, Heer
Skriflesing
Psalm 31
Preek
Die regte goed in die regte hand
Ek spot altyd: toe “ball sense” uitgedeel is, het ek agter in die ry gestaan en toe nog boonop mis gevang ook. ’n Rugbybal in my hand is… uhm – waarskynlik nie meer in my hand nie. ’n Rugbybal in dok Hannes se hand maak internasionale kampioene! Ek kan so bietjie aangaan: ’n Trekklavier in my hand klink soos ’n sterwende donkie. Dieselfde trekklavier in Langpiet se hand, kan spinnekoppe laat dans. ’n Verfkwas in my hand voorspel iemand gaan moet skrop. In Rina se hand is dit ’n asemrowende kunswerk. ’n Clivia (of enige plant) in my hand voorspel ’n dooie Clivia. In Christine hand voorspel dit ’n pragtige, rustige tuin. Ons almal kan sulke voorbeelde noem! Dis belangrik dat die regte goed in die regte hande kom.
Klag in die hande van geloof
Verlede week het ons gepraat oor Marta wat deel vorm van die lang tradisie van klag – lament; oor hoe sy geloof en klag bymekaarhou; dat klag deel is van geloof, maar dat die twee saam hoort.
Psalm 31 is een van daardie klaagpsalms waarna ek verlede week verwys het. Saam met Ps. 22 en 69 is dit een van die langste psalms van hierdie genre. Sulke Psalms weeklag oor omstandighede, soebat om hulp. Tipies van hierdie Psalms is elemente van klag én uitdrukkings van vertroue en lof. Gewoonlik is daar ’n eerste beweging van klag, waar probleme uitgespel word. Dan volg daar ’n tweede beweging, waar vertroue dat God sal ingryp uitgespel word.
Psalm 31 is uitsonderlik, want die klag en geloof is die hele tyd verweef. Daar is nie ’n duidelike klag gevolg deur vertroue nie. ’n Mens sien dit so saam-saam: klag en vertroue. Daarom praat iemand van Psalm 31 as die gebed wat twee keer gebid moet word. Die pyn en worsteling en teëstand is so baie, die bidder moet dit oor en oor sê, kan nie ophou om dit op te noem nie, daar is aanmekaar nog. Maar die geloof, die vertroue in God, is óók so baie dat dit aanmekaar bevestig word, tussen die probleme deur ingeweef word.
Dan sê die Psalmdigter so pragtig, in vers 6: In u hande gee ek my lewe oor. BDV: In u hand lê ek my lewe. Daardie woord vir “oorgee”, neerlê is ’n interessante woord. Dit word in ander kontekste gebruik om troepe moed in te praat en aan te moedig – soos ’n tipiese opruiende toespraak in ’n Amerikaanse fliek, om die troepe aan te spoor. Die punt is, dis ’n woord wa gewoonlik in ’n militêre konteks gebruik word. Dit pas by vers 3 en 4 se “bergvesting”.
Die Psalmdigter beleef die teëstand soos oorlog, met aanvalle van alle kante. Sy oorlogstrategie is om op God te vertrou.
In die hande van God
Kan jy jou indink hoe hierdie wêreld sou lyk as dit ons almal se oorlog strategie was? Vertrou op God! Eerder as terugbaklei, eerder as wraak: vertrou op God. En dis nie ’n opgee–tipe oorgee nie. Om jouself in God se hande oor te gee, is ’n dapper tree in die geveg in.
Hande is ’n belangrike metafoor in Ps. 31:
• V6: In u hande gee ek my lewe oor
• V9: (nie in N.A.V. vertaling) my nie oorgelewer in die hand van my vyande nie
• V 16: my tye is in u hand… Red my uit die hande van my vyande
Hande beteken greep, mag, gesag. Dit beteken, aan die een kant, dat die vyande ook mag het, dat om jouself in God se hande oor te gee, beteken dat jy tog ook jou vyande se mag moet verduur. MAAR dit beteken dat God se mag groter is. Om jou lewe in God se hand te gee, beteken om God se mag te vertrou, om te erken dat jy self geen invloed of beheer het oor die toekoms, maar dat God in beheer is, dat jy veilig is in sy hand.
En omdat die Psalmdigter in God se hand is, kan hy voort stry, is hy bemagtig om met moed en hoop te leef – te midde van die moeilike omstandighede wat tussendeur sy geloof vervleg is. Want dis nie sy geveg nie. God is in beheer. Die mag lê by God.
So God se hand is God se mag en gesag, maar God se hand is ook die plek van God se troue liefde (v8), onfeilbare liefde (v17), trou (v22) (BDV ook “troue liefde”). Dis elke keer dieselfde woord: hesed. Dit word verskillend vertaal, want dit het nie regtig ’n ekwivalent nie. Dit word ook vertaal met uitdrukkings soos “liefde van geslag tot geslag”, “loving kindness” en “steadfast love”.
Hesed het ’n konnotasie van medelye. Ons sien hesed in baie van die wette in die OT. Een vb.: Lev. 19:9-20 praat oor lande oes en sê jy moenie die randte oes of twee keer oes nie – sodat die armes kan kry wat oorbly. Of die wette rondom uitleen / pand: Deut. 24 sê, as iemand hulle klere vir jou gee, moet jy dit teen slaaptyd teruggee en jy mag glad nie hul maalklip vat nie.
Genade, hoflikheid, deernis – dis hesed. Medelye. Liefdevolle omgee.
So God se hand is God se mag en God se hesed – God se deernisvolle liefde.
Hierdie woorde het vir ons natuurlik soveel meer betekenis:
Lukas 23:46
46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
Dit was Jesus se laaste woorde aan die kruis.
Jesus in die hande van God
Met hierdie een sin bid Jesus nie net ’n stukkie van die Psalm, maar roep hy die hele Psalm op. Hy erken dat God getrou is; dat God mag het, in beheer is; dat God liefdevol is; dat hy sy lewe aan God kan oorgee, God kan vertrou.
Jesus het nou net Ps. 22 gebid: My God my God, waarom het U my verlaat. Nou bid hy: In u hande gee ek my lewe oor. Selfs toe hy van God verlaat gevoel het, het hy nie opgehou om God te vertrou nie.
Vertrou op God, maak nie saak wat nie.
Jesus haal die eerste deel van die vers aan wat sê:
6In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
En daarom kan ons ook hierdie Psalm bid. In ’n wêreld vol vyande en magte wat vir ons ’n vangnet stel, waar ons bedreig en oorgelewer voel, in nood, vol verdriet en kommer, kan ons bid: 6In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
Ons kan, soos Psalm 31, ons klag verweef met geloof. Kan ons in dieselfde asem wat sê dat ons glo, vir God wys op ons pyn en ons teëstanders. In dieselfde tree waarmee ons op die stadsplein opstaan teen korrupte magte, sê dat God groter is as korrupte leiers. Omdat Jesus hierdie Psalm aan die kruis gebid het, kan ons dit in ons moeilike omstandighede bid.
15Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. 16My tye is in u hand.
Die regte goed is in die regte hande.
Gebed
Kerkraadsvoorstelling
Lied 281 v 2 (sal sien op plekke “ons” met “hul” vervang)
Dankoffer
Slotsang
Lied 280
Seën
Vertrou op die Here
Hy is ons God
Ons tye is in sy hand.
Hy sal tot ons redding verskyn
Ons red deur sy onfeilbare liefde.
Respons
Lied 280 v 2 drie laaste reëls
passiesondag, preek, Psalm 31; hande; in u hande gee ek my lewe oor, Rethie van Niekerk