Pinkster 09 – God skep hemel op aarde vir sy volk – Openbaring 21-22


“Ek kom gou!”
Tema: God skep hemel op aarde vir sy volk
Pinkster 9 – Somerstrand Youtube 09:00 31 Mei 2020 – Pinksterdag – Nagmaal

KYK DIE VIDEO – LAAI DIE BOEK AF

Verwelkoming

Baie welkom by die negende Pinksterdiens op Pinksterdag. Dit is ook ‘n nasionale biddag vir die Covid-19 virus.

Kerke word van môre af toegelaat om eredienste by te woon. Jy kan kyk na die amptelike regulasie in hierdie Staatskoerant. Die dagbestuur sal dit bestudeer, maar met die eerste oogopslag sal die uitvoering van die regulasies groot koste meebring – die kerk, voorportaal, kleedkamers en klaskamers moet gedisinfekteer word vóór en ná elke erediens en ‘n register moet gehou word van elke bywoner, om maar net twee goed te noem. En bó sestigs word in elk aangeraai om niks by te woon nie. So, ons gaan vir eers voort met die Youtube video’s tot verdere kennisgewing.

Waaroor ons bly is, is dat leraars tot ‘n essensiële diens verklaar is, wat ten minste ons vrystel om met meer vryheid diens te lewer. Ons sal egter dit ook met versigtigheid hanteer.

Verjaarsdae

7 Mense verjaar vandag! Besonders, gegewe die betekenis van die getal sewe in die boek Openbaring! Baie geluk: Neels Anker, Helane Botha, Asta Louw, Pieter-Willem Moolman, Kaylin Mostert, Tilla Olivier, Hennie Snyman. Mooi jaar vir julle. En vir die ander wat die week verjaar. Ek plaas hulle verjaarsdae op die web.

Pulse

Groot nuus is dat ons ons informele erediens hervat. Dit het ‘n nuwe naam. Jy kan op die video bo na Karin Becker vir ‘n lusmaker vir volgende week.

Volgende erediens

Ek dink en bid nog oor die volgende reeks vir ons Familiediens op Sondae. Klaagliedere het my oog gevang, omdat ek iets daaruit gaan gebruik vir Pulse.

Ek dink, lees en bid baie oor die inperking weens die Covid-19 virus.

Daar is baie positiewe gevolge van die inperking. Al is dit die eerste keer in die geskiedenis dat gesonde mense ingeperk word, en nie siekes nie, het dit natuurlik aanvanklik die gewenste uitwerking. Die spoed waarteen mense geïnfekteer word, is stadiger. Families kan meer fokus op mekaar, en die waarde daarvan sal waarskynlik vir lank met ons wees.

Daar is egter ook baie negatiewe gevolge van die inperking. Gesonde mense word ingeperk. Sosiale verkeer word afgeskaf. Die ekonomie krimp teen ‘n enorme spoed in. Eensaamheid neem toe. Onsekerheid neem toe. Skuld hoop op. Werkloosheid neem toe. Besighede maak toe. Mense gaan nie vir noodsaaklike mediese ondersoeke nie. Ons kinders word noodsaaklike sosiale interaksie ontneem.

Nou, ek wil nie hiermee kritiek lewer nie. Dit is nog te naby aan ‘n mens se lyf. Maar, ek wil hoop preek in ‘n situasie wat ‘n groot invloed gaan hê vir nie net maande nie, maar waarskynlik jare. En daar is seker nie ‘n beter boek om te lees juis in só ‘n tydperk nie. Die Klaagliedere van Jeremia.

Hoor hoe kla hy oor die ballingskap wat aangebreek het in 586 vC met al die hooggeplaastes wat weggevoer is. En ‘n bedremmelde klompie mense wat saam met Jeremia in die land agter gebly het.

  • “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was!” (Klg 1:1).
  • “My kinders is verbyster” (Klg 1:16).
  • “My jongvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.” (Klg 1:18).
  • “My hart draai om in my binneste.” (Klg 1:20).

Wat maak ‘n mens in só ‘n situasie?

Wel, een ding het Jeremia geleer. Hy het ‘n nuwe lied geleer, ‘n lied wat wyd oor die wêreld gesing word:

“The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end.  They are new every morning, new every morning.  Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” (Robert Davidson – Klg 3:21-25)

Ek oorweeg daarom ‘n reeks oor Klaagliedere. Dit sal goed wees as in elk geval julle die boek saam met my lees. Een hoofstuk ‘n week. Vir die volgende vyf weke. Vrae en bydraes vir my stuur. Dan werk ek dit in my prediking die volgende week in.

Laai die boek af op die webtuiste en gebruik die tyd van die inperking wys. Om na te dink, maar ook ‘n nuwe lied aan te leer.

Noodfonds en behoeftes

Mense dra nog steeds by vir ons noodfonds. Onthou Theo se lysie en die ACVV. Enige hulp word waardeer.

Youtube

Like sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.

Votum en Seëngroet

In die woorde van Johannes aangepas vir Somerstrand:

4Van Johannes aan die gemeente in Somerstrand. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is.

5En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde.

7Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

Toewyding

Lied 442 – Gees van God wat in my woon

Nagmaalsformulier

Die evangelies vertel vir ons dat die Here Jesus in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, dit gebreek en gesê het:

  • “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê:

  • “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

“Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”

Gebed

Kom ons aanbid die Here, bely ons sonde, dank Hom vir sy vergifnis en maak gereed vir die Nagmaalsviering, terwyl die koor vir ons sing.

Lied 303 Eet die brood, drink die wyn

Geloofsbelydenis

Sê saam met my:

  1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  2. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  3. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
  4. gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die vlees
  12. en ‘n ewige lewe.

Nagmaalsbediening

Lied 303 gaan saggies in die agtergrond speel terwyl ons die tekens instel en ons dit elkeen by die huis gebruik.

  1. Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem, eet, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

Stilte

  1. Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

Stilte

Gebed

Kindertyd

Hier is die ID dokument wat julle moet invul.

Skriflesing en prediking

Ons behandel die boek Openbaring. Vanoggend fokus ons op God wat hemel op aarde skep vir sy volk – hoofstuk 21-22.

Openbaring 21-22

Openbaring 21 is geskryf om jou opgewonde te maak oor wat vir ons as kinders van die Here wag. Johannes beskryf die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde, en die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel om ons te inspireer dat dit ons einddoel is. Dat alles nuut gemaak sal word. Dat ons in God se heerlikheid vir ewig sal bly.

Openbaring 22 rond dié prentjie af met ’n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei. Die boek sluit af met ’n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus om ons aan te moedig om aan te hou omvas te hou aan die woorde van God.

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

21:1En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see was nie meer daar nie.

2Ek het toe die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, uit die hemel van God af sien neerdaal. Sy was voorberei soos ’n bruid wat vir haar eggenoot versier is.

3Van die troon se kant af het ek toe ’n kragtige stem hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is by die mense en Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle woon as hulle God.

4Hy sal elke traan van hulle oë afdroog en die dood sal nie meer bestaan nie; nie rou en ook nie ’n smartkreet of pyn sal meer bestaan nie, omdat die vroeëre dinge verbygegaan het.”

Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers beskrywe. Dit vervang die ou hemel en aarde wat so pas met die laaste oordeel tot niet gegaan het. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.

Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).

Die Nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereed gemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word. Die versierde vrou staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.

In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand). Die plek ís ook die mense! Die gelowiges ís ook die stad van die Here God. Die droom van Jesaja 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!

Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees. Hierdie is die vervulling van die OT ideaal van God wat ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is. Dit was die ideaal van die Ou Verbond. Dit het die ideaal van die Nuwe Verbond gebly. Maar, soos in die Ou Verbond, het die vervulling van die belofte steeds ‘n effek op die nasies. Presies hoe dit werk, is moeilik om te verklaar. Maar dit is wat die teks sê.

Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou God se woonplek word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie. Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom.

Ek maak alles nuut

5En Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Hy sê verder: “Skryf op, hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.”

6Verder het Hy aan my gesê: “Dit het gebeur!” Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Ek sal aan die een wat dors is van die fontein van lewende water verniet gee.

God maak alles nuut. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Want Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Alle gelowiges sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees.

Eden en die ideaal wat God vir die mens gehad het – ‘n intieme lewensgemeenskap met Hom in daardie gebied tussen hemel en aarde – is hiermee herstel.

Ons is erfgename

7Die een wat oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n seun wees.

8Vir die lafaards egter, asook vir die onbetroubares, losbandiges, moordenaars, onsedelikes, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars, wag hulle deel in die poel wat brand met vuur en swael, dit is die tweede dood.”

Maar let op die kontras, net so in die verbygaan.

Die een wat oorwin – wat getrou en gehoorsaam bly tot die einde toe – dié sal alles erf, sal die woorde uit God se mond hoor, jy is myne.

Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose driemanskap saam met die dood en die doderyk reeds is.

Agt karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel: lafaards (dié wat bang geword het), onbetroubares óf ongelowiges (dié wat ontrou geword het), losbandiges (seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes (pornois), towenaars (pharmakois – mense wat towerspreuke en dwelms gebruik), afgodsdienaars en al die leuenaars.

Hulle lot is vir ewig verweef met die vuurpoel, die tweede dood. Dit is die plek waar God nie is nie. Alleen maar die boosheid in al sy afgryslike glorie.

Die nuwe Jerusalem

9Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou na vore gekom en met my gepraat deur te sê: “Kom hierheen, ek sal aan jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”

10Hy het my toe in die Gees weggevoer na ’n groot en hoë berg en aan my die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel neerdaal, gewys.

11Dit bevat die heerlikheid van God, haar glans is net soos ’n baie kosbare edelsteen, soos kristalhelder jaspis.

12Dit het ’n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is die name gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van die seuns van Israel.

13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte en aan die westekant drie poorte.

14Die muur van die stad het twaalf fondamente, en op hulle is twaalf name van die twaalf apostels van die Lam.

Een van die sewe engele met die sewe bakke wys dan vir Johannes die bruid, die vrou van die Lam.

In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is. Haar glans is dié van kristalhelder jaspis soos in Openbaring 4. Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas. Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam”

Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die ou bedeling en die nuwe bedeling.

Jerusalem se heerlikheid

15Die engel wat met my gepraat het, het ’n goue meetstok vasgehou om daarmee die stad en haar poorte en haar muur te meet.

16Die stad is vierhoekig uitgelê, haar lengte is dieselfde as die breedte. Hy het toe die stad met ’n meetstok gemeet, twaalfduisend stadia: die lengte, die breedte en die hoogte daarvan was dieselfde.

17Hy het toe ook die muur daarvan gemeet. Dit is honderd vier en veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is.

18En die boumateriaal van die muur daarvan is van jaspis en die stad van suiwer goud, net soos ’n skoon spieël.

19Die fondamente van die stadsmuur is versier met elke soort edelsteen, die eerste fondament met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

20die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis.

21En die twaalf poorte is twaalf pêrels, elkeen van die poorte was uit een pêrel. Die straat van die stad was van suiwer goud, soos deurskynende glas.

Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openbaring 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort.

Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is – 12 000 stadion. Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus – so groot soos die hele Suid-Afrika, hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is nie. Netso is die muur 65 m hoog is.

Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!). Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig. Die Here God woon in die stad, d.w.s. in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom. Die son en maan is oorbodig, want God is daar. Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom.

Die heerlikheid van die nuwe stad Jerusalem eggo God se heerlikheid, want die belangrikste boustof van die mure is ook jaspis. Die stad is verder van suiwer goud gebou. Die glans daarvan is soos suiwer glas of kristal.

Die fondamente van die stad is versier met edelgesteentes, twaalf van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, moontlik omdat wanneer suiwer lig daarop hulle val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne.

Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie, maar iets wat sin maak uit ons kennis daarvan vandag. Dit is waarskynlik wel ‘n getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.

Hier is die 12 edelgesteentes waarmee die fondamente versier is, die fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan:

  1. JASPIS (ἴασπις) – groen – die hele stad Jerusalem is van jaspis gebou(Openb. 21:10-11), maar dit is ook die eerste edelgesteente op die fondamente (Openb. 21:19);
  2. SAFFIER (σάπφιρος) – blou (Openb. 21:19);
  3. AGAAT (χαλκηδών) – melkerig grys (Openb. 21:19);
  4. SMARAG (σμάραγδος) – groen (Openb. 21:19);
  5. SARDONIKS (σαρδόνυξ) – wisselende kleure (Openb. 21:20);
  6. KARNEOOL (σάρδιον – Sardius) – rooi (Openb. 21:20);
  7. CHRISOLIET (χρυσόλιθος) – geelgoud (Openb. 21:20);
  8. BERIL (βήρυλλος) – blou of groen (Openb. 21:20);
  9. TOPAAS (τοπάζιον) – geel (Openb. 21:20);
  10. CHRISOPRAAS (χρυσόπρασος) – groen (Openb. 21:20);
  11. HIASINT (ὑάκινθος) – blou (Openb. 21:20);
  12. AMETIS (ἀμέθυστος) – pers of violet (Openb. 21:20).[1]

En dan is daar nog die poorte van die stad wat elkeen uit ‘n kosbare massiewe pêrel gebou is en die strate van goud wat so deurskynend soos glas is.

Die heerlikheid van God

22’n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige en die Lam is haar tempel.

23Die stad het ook nie ’n behoefte aan die son en aan die maan om daarin te skyn nie, want die heerlikheid van God verlig dit en die Lam is haar lamp.

24En die nasies sal leef in haar lig en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid na haar.

25En haar poorte sal beslis nie bedags gesluit word nie, want die nag sal nie meer bestaan nie.

26Hulle sal ook die heerlikheid en die eerbetoon van die nasies na haar toe bring.

27Ook sal niks wat besoedel is in haar ingaan nie en niemand wat iets afskuweliks en vals doen nie, slegs hulle wat opgeskryf is in die Boek van die Lewe van die Lam.

Die heerlikheid van God is ‘n ontsagwekkende kaleidoskoop van kleure. Johannes sê in Openbaring dat Hy die voorkoms het van ‘n kristalhelder jaspis is. In Openbaring 4 sê Johannes dat God ook die kleur van karneool uitstraal – rooi. Rondom sy troon is ‘n reënboog of “halo” wat soos groen smarag skyn.

Daarmee word natuurlik ‘n verband gelê met die OT teken van die reënboog (qěšěṯ) met sy betekenis as ‘n teken van die verbond van God met die aarde en almal daarop om nie weer die hele aarde met water te vernietig nie (Gen. 9:12-17).

Esegiël beskryf sy troon as gebou van saffiere – blou – en sy voorkoms soos blinkende brandende metaal. Soos Moses dit ook in Eksodus waarneem: “onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self.” (Eks. 24:9). Esegiël sê ook: “Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ’n wolk na die reën.” (Eseg. 1:22-28).

Let op dat dit die primêre kleure is waarmee alle fotograwe werk, RGB, Rooi-Groen-Blou. Die beskrywing van God hou ook verband met die primêre kleure van die verf waarmee kunstenaars werk: rooi, geel, blou. Maar hier is dit veral die primêre kleure van lig wat in fokus is.

Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem

22:1Toe het die engel aan my ’n rivier van water wat lewe gee, gewys. Dit is helder soos kristal en het uit die troon van God en die Lam gevloei.

2In die middel van haar straat aan die een kant en die rivier aan die ander kant is die boom van die lewe wat twaalf keer vrugte dra; elke maand gee hy sy vrug, en die blare van die boom lei tot genesing van die nasies.

3Geen vloek sal daar meer wees nie. Die troon van God en van die Lam sal in haar wees en sy diensknegte sal Hom dien.

4En hulle sal sy gesig sien, asook sy Naam op hulle voorkoppe.

5Daar sal nie meer nag wees nie en die nodigheid aan die lig van ’n lamp en die lig van die son bestaan nie meer nie, omdat die Here God hulle sal verlig en hulle sal vir ewig as konings heers.

Die Nuwe Jerusalem word as ‘n paradys beskryf wat herinner aan die oorspronklike paradys, die tuin van Eden in Genesis 2.

Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER so helder soos kristal, wat lewe gee.

Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy maandelikse vrugte en oorvloed blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat ‘n mens ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.

In dié Utopia, hierdie Eden, sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar: “Geen vloek sal daar meer wees nie.” In die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef. Die vloek van die sondeval van Genesis 3 is opgehef.

Sy Naam sal op hulle voorkoppe geskryf staan. En hulle saam met Hom vir ewig as konings leef.

Die Here Jesus Christus kom verseker weer

6En die engel het vir my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en eg en die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

7“En kyk, Ek kom gou!

Gelukkig is die een wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol bewaar.”

8En ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. En toe ek dit hoor en sien, het ek neergekniel in aanbidding voor die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het.

9En hy sê toe vir my: “Oppas, moenie! Ek is ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, die profete en van hulle wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Kniel voor God in aanbidding neer!”

Johannes sluit die boek af met ’n versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring.

Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: vers 7, 12, 20: “Kyk, Ek kom gou!”.

Dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”

Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.

God sal ons beloon

10Hy sê toe ook vir my: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die tyd is naby.

11Dié wat kwaad doen, moet meer kwaad doen; wie vuil is, moet nog meer vuil lewe, en wie reg optree, moet nog meer reg doen, en wie heilig optree, moet nog meer heilig word.”

12“Kyk, Ek kom gou! En Ek bring my loon saam om elkeen te beloon, elkeen volgens sy dade.

13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

14Gelukkig is dié wat hulle klere was sodat hulle volle reg sal hê op die boom van die lewe en om by die poorte van die stad in te gaan.

15Die honde word buite gelaat, ook die towenaars en die onsedelikes en die moordenaars en die afgodsaanbidders en elkeen wat die leuen liefhet en doen.

16Ek, Jesus, het my engel gestuur om aan julle hierdie dinge in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel en die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.”

Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.

Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe wat loon sal insluit. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars –  ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.

Die Gees en die bruid sê: “Kom!”

17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”

En dié wat dors het, moet kom.

Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!

18Ek lewer getuienis teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor. As iemand hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, byvoeg.

19En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie sou wegneem, sal God sy deel van die boom van die lewe en van die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.

Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die Wortel en Nakomeling van Dawid (vgl Jes. 11:1), die helder Môrester (Num 24:17).

Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is, ondervind nie, maar ook uit die Boek van die Lewe uitgeskryf word.

“Ja, Ek kom gou!”

20Hy wat getuig oor hierdie dinge sê:

“Ja, Ek kom gou!”

Amen! Kom, Here Jesus!

21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.

Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.

Die genade van die Here Jesus is met julle almal.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan aan die einde.

Bydraes

Loflied

Vonkk 183 – Net soos die hemelkoor – let op die woorde – dit sing Openbaringstaal. Dit begin by die geboorte van Jesus en eindig by die bruilofsmaaltyd van die Lam! Dankie Albert!!!

1. Net soos die hemelkoor sy lof op aarde sing.

Die Seun van  God wat mens kom word en vrede bring.

So klink ons lied vir Jesus Christus, God se Seun: U is ons Heer!

2. Rejoice the Lord is King! Your Lord and King adore.

Rejoice, give thanks and sing and triumph evermore.

Lift up your heart, lift up your voice. Rejoice, again I say, rejoice!

3. He sits at God’s right hand till all his foes submit,

bow down at his command and fall beneath his feet.

Lift up your heart, lift up your voice. Rejoice, again I say, rejoice!

4. Die graf is oopgebreek; Hy het die dood oorwin.

Ons lewe tot in ewigheid het nou begin.

So klink ons lied vir Jesus Christus, die Oorwinnaar: U is Heer!

5. Ons glo dat Hy sal kom, dat ons by Hom sal wees.

Ons glo dat ons sal aansit by sy bruilofsfees.

Dan klink ons lied: Die Bruidegom het ons kom haal. Hy is die Heer!

Seën

17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”

En dié wat dors het, moet kom.

Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!

21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.

En die gemeente sê: Kom!

Snapscan

[1] Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.24.

     

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment