Paasweek! 2-8 April 2012
Huisgodsdiensmateriaal PAASWEEK
Volg elke week julle “Rus/Hoor/Leef”- patroon: Rus – vertel vir mekaar waarmee die Here besig is in jul lewens en bid dat God met julle sal praat; Hoor – lees die gedeelte en praat daaroor; Leef – gesels oor hoe julle gaan reageer op wat julle gehoor het.
Maandag 2 April
Lees Johannes 13:4-15 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- In Jesus se tyd het mense hulle hande én voete gewas voordat hulle geëet het. Mense het nie self hulle voete gewas nie – iemand anders het dit vir hulle gedoen. Dit was ‘n baie slegte werk en die onbelangrikste mens moes altyd die ander se voete was. Hoekom dink julle het Jesus dan gekies om sy dissipels se voete te was?
- As Jesus mense se voete gewas het, hoe kan ons ook soos Jesus wees? Dink aan praktiese voorbeelde.
- Gebruik ‘n bak met water, ‘n koekie seep en ‘n handdoek. Was mekaar se hande en sê vir mekaar dat julle bereid is om mekaar te dien en die minste te wees.
Dinsdag 3 April
Lees Markus 14:22-24 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- Ouers gesels met die kinders oor die Nagmaal. Onthou, ons gaan Vrydag saam Nagmaal gebruik! Jesus het (in die teks wat ons nou net gelees het) gesê ons moet gereeld so saam eet. Die Nagmaal is ‘n onthou-ete: wanneer ons dit saam gebruik, onthou ons vir Jesus en wat hy vir ons gedoen het. (Laai die dokument “Berei jou kinders voor om deel te neem aan die Nagmaal” af by http://bit.ly/xTcDXB)
- Voer Jesus se laaste maaltyd op: berei die tafel voor met druiwesap en ongesuurde brood of beskuitjies. Sit op ‘n kombers of by ‘n lae tafel en gesels oor wat Jesus gedoen het en wat dit gaan beteken wanneer ons Sondag Nagmaal gebruik.
Woensdag 4 April
Lees Johannes 14:32-41 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus bang was? En wanneer jy self bang is, wat sal dit dan vir jou beteken dat hy bang was?
- Let op dat Jesus bid wanneer hy bang is! Gesels oor wanneer elkeen van julle bid, hoe julle bid en wat dit vir julle beteken om met God te kan praat.
Donderdag 5 April
Lees Johannes 19:17-41 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. [As julle nie môre saam kan kerk toe gaan nie, lees net vv 17;27]
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou gesterf het?
- Gesels weer oor môre se erediens. Verduidelik dat ons kerk toe gaan om vir Jesus dankie te sê dat hy vir ons aan die kruis gesterf het. Herinner mekaar ook weer aan die Nagmaal en wat dit beteken.
- Maak kruise van spykers.
- Sê vir Jesus dankie dat jy God se kind kan wees omdat hy vir jou aan die kruis gesterf het.
Vrydag 6 April – Goeie Vrydag
Gaan saam kerk toe!
As julle nie kan kerk toe gaan nie, lees Johannes 28-41 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou doodgegaan het?
- Hoe dink julle het die dissipels gevoel toe Jesus doodgaan en hulle hom begrawe? (Onthou, hulle het nog nie geweet dat hy gaan opstaan nie.)
- Print die prent en kleur dit in.
Saterdag 7 April
Lees Johannes 20:1-8 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
Gesels oor die teksgedeelte.
- Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
- Jesus het doodgegaan, maar hy lewe weer! En omdat hy lewe, kan ons God se kinders wees en sal ons vir altyd en altyd by God wees wanneer ons eendag hemel toe gaan. Vertel vir mekaar wat dit vir jou beteken om God se kind te wees en te weet dat Jesus leef.
- Rangskik die prentjies in die regte volgorde.
Sondag 8 April Paasfees!
Staan vroeg op. Kyk hoe die son opkom, sing lofliedere en sê vir Jesus dankie dat julle God se kind kan wees.
Gaan saam kerk toe.
As julle nie kan kerk toe gaan nie, lees Johannes 20:19-25 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.
- Steek Paaseiers en hasies weg. Voordat die kinders dit gaan soek, verduidelik vir hulle dat eiers en hasies vir ons ‘n simbool is van nuwe lewe en baie lewe! Dis vrolik versier, omdat ons bly is. Dis leeg aan die binnekant, want Jesus se graf was leeg! Elke eier wat ons vind, is vir ons ‘n lekker verrassing waaroor ons bly is – soos die dissipels se blydskap toe hulle ontdek dat Jesus leef! Met elke eier wat ons vind en eet, sê ons vir Jesus dankie vir die lewe wat ons by hom kry.