Om die skottelgoed te was – Filippense 2 preek
Ons onderstebo wêreld van gedien word
Die wêreld leer ons die ideaal waarna ons moet strewe, is om gedien te word, beslis nie om te dien nie. Ons is “upwardly mobile”. Ons wil bo uitkom, die sosiale leer klim, ’n hoër lewenstandaard bereik, ’n hoë posisie beklee. Selfs in ons godsdiens mik ons hoër, fokus ons op ’n hemel daar ver, wil ons weg van die aardse na die hemel daar bo.
Maar die Gees lei ons af ondertoe. Tot heel onder. Na die posisie van diens.
Ons hele prentjie van die wêreld is onderstebo. Ons prentjie van God is onderstebo. Filippense 2 kom draai ons wêreld weer reg om, herinner ons weer aan wie God in God se wese is.
