Numeri 6 – Die Here sal julle seën
Die hele Bybel is vol van die gedagte van God wat ons seën – van begin tot einde! Soos wat God se liefde ’n lyn regdeur die Bybel is, so is God seën ‘n lyn regdeur, ’n sentrale tema van die Bybel.
Heel aan die begin, by die skepping al, seën God die mens (Genesis 1:28). Dis die kern van die verbond: dat God vir Abraham seën om ’n seën te wees (Gen. 12:1-3). Jesus begin die bergpredikasie deur dieper betekenis aan seën te gee (Matteus 5). En Openbaring trek die seën deur tot heel aan die einde.
God se seën is ’n deurslaggewende sleutel om die Bybel, God se ganse plan met die mensdom, te verstaan. Dit is ’n kern aspek van God se plan. God wil ons seën.
Maar wat is hierdie seën?
Toetrede
Lied 178 Dona Nobis Pacem 2x [koor sing kanon]
Votum
Psalm 67
2Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn, 3sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende krag onder alle nasies. 4Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! 5Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei.
Seëngroet
God, ons God, het ons geseën. 8God het ons geseën. Die mense op die hele aarde moet Hom eer.
Lofsang
Lied 509 vv 1, 2 & 4 Op berge en in dale
Die Wil van God
Ons praat vanoggend oor God se seën. Ons probleem is dat ons dikwels dink dat ons geseënd is wanneer ons voorspoed beleef. Wanneer goeie dinge gebeur – finansieel, of met ons familie, ens. – dan is ons #blessed.
Jesus het vir ons God se seën kom verduidelik. Hy het vir ons nuwe perspektief gegee op die inhoud van seën, op wanneer ons geseënd is:
Matteus 5:3-11
3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”
Respons
Lied 251 Salig dié wat arm voor God is
Genade en vrede
Die seën van die Here word opgesom in twee woorde. Die meeste briewe in die NT begin met hierdie woorde, as ’n groet en herinnering aan wat God se seën inhou: Genade en vrede.
Ons ontvang God se seën – maak nie saak wat ons omstandighede is nie – in die genade en vrede wat God gee.
As ontvangers van hierdie seën, word ons ook instrumente van seën, wat hierdie genade en vrede deel. Kom ons wy onsself aan God toe en onderneem om instrumente van sy seën te wees.
Toewyding
Lied 284 (koor v 2) Laat Heer, U vrede deur my vloei
Gebed
Skriflesing
Numeri 6:22-27
22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: 24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! 27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”
Ek lees ook weer Chris se letterlike vertaling van verlede week:
Die Here seën jou en beskerm jou. Die Here se gesig skyn oor jou en hy is jou genadig. Die Here lig sy gesig op na jou en hy gee aan jou vrede.
Inleiding
Ek het netnou gesê God seën. Ons soek God se seën op verkeerde plekke. Ons dink ons word net geseën as dit goed gaan. Maar God se seën is nie in goed gaan nie. God se seën is dat God altyd by ons. God is altyd by ons, al kan ons dit nie sien nie, al voel dit soms nie so nie.
Dianna Wyles soek oral harte. Dit herinner haar dat God by haar is. Onthou, die harte is nie God nie, dit herinner – soos wat jou skooluniform jou herinner aan watter skool jy behoort.
Kom ons lees haar boek en soek die harte:
[Lees op skerm – soek elke keer hart]
Kinders gaan na groepies
Koor
Die Here sal julle seën
Preek
Inleiding
24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Sekerlik van die bekendste woorde in Numeri. Woorde wat in ons harte gegraveer is, wat letterlik op juweliersware gegraveer is. Soos in ons harte en om ons nekke, so was dit ook vir die Israeliete van die vroegste tye af. In 1986 het argeoloë opgrawings gedoen in die Hinnom Vallei van Jerusalem. Daar vind hulle twee klein silwer amulette, silwer boekrolle wat fyn opgerol is. Hulle het dit versigtig oopgerol, moet met ’n mikroskoop lees: “Die Here sal julle seën en julle beskerm…” Die juweliersware was uittreksels uit hierdie seën.
Ook geen wonder! Dis ’n pragtig aangrypende belofte. Die idee van God se seën – God, die skepper en onderhouer van die heelal wat ons mense seën, is wonderbaarlik!
Seën in die Bybel
En dis ook Bybels. Die hele Bybel is vol van die gedagte van God wat ons seën – van begin tot einde! Soos wat God se liefde ’n lyn regdeur die Bybel is, so is God seën ‘n lyn regdeur, ’n sentrale tema van die Bybel.
Heel aan die begin, by die skepping al, seën God die mens:
Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” (Genesis 1:28)
Dis die kern van die verbond, dat God vir Abraham seën om ’n seën te wees (Gen. 12:1-3).
Jesus begin die bergpredikasie deur dieper betekenis aan seën te gee – Matteus 5 wat ons netnou gelees het. Hy herinner die volk dat hulle ’n seën moet wees vir ander.
En Openbaring trek die seën deur tot heel aan die einde:
Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is. (19:9)
Die finale seën in die Bybel word uitgespreek deur die helder Môrester – die Een wat uiteindelik die seën van Bileam sal vervul, waaroor ons later die kwartaal gaan praat – die ster uit Jakob, Jesus.
God se seën is ’n deurslaggewende sleutel om die Bybel, God se ganse plan met die mensdom, te verstaan. Dit is ’n kern aspek van God se plan. Dit is God se doel. God wil ons seën en wil hê ons moet ’n seën wees.
Maar wat is hierdie seën?
Die teks
Voordat ons daarby kom, wees gou net ’n rukkie geduldig terwyl ek jou terugneem na jou skooldae se begripstoetse. Die prag van hierdie seën word oopgemaak wanneer sien hoe slim dit geskryf is. Letterkundig geniaal.
Hierdie hele seën bou op na ’n dramatiese hoogtepunt, soos musiek dramaties opbou tot die crescendo.
Elke keer: “Die Here, die Here, die Here.” Dit maak baie duidelik dat die Here die subjek is, die een wat handel.
Daar is drie seënbede. Elke keer twee aspekte: wat God doen, wat die gevolg is van wat God doen.
Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde. 15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant). 11, 13, 16 lettergrepe.
24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm
Tot by die laaste woord, die sewende woord van die laaste reël: shalom. Vrede.
En as jy nou gekonsentreer het op skool, sal jy weet dat dit vir ons ’n paar dinge sê.
God seën
Eerstens: dit is God wat seën.
Daar is deesdae ’n fyn lyn tussen geloof en bygeloof, wat al meer vervaag. Daar bestaan die gedagte dat ons woorde een of ander magiese krag besit uitspreek; as ons dit uitspreek, dan word dit waar. Natuurlik moet ’n mens versigtig wees wat jy sê, want ons woorde word ons oortuigings. Maar die krag lê nie in die woorde nie. Die seën is nie in die uitspreek daarvan nie. Die seën is in God, van God.
God seën met sy teenwoordigheid
Wat God gee, die inhoud van God se seën, is God se teenwoordigheid. Dit, in ’n neutedop, is die inhoud van God se seën. Wanneer is ons geseënd? Wanneer God by ons is.
God se seën het uiteindelik niks te doen met ons omstandighede nie. Maak nie saak of ek #blessed is met ’n pragtige huis of talentvolle kinders nie. Al is daar nie water nie en al stort die markte ineen en al kry ons kinders seer – ons is geseënd, want God is daar.
Die Here se gesig skyn oor jou… Die Here lig sy gesig op na jou.
As God se doel met die skepping is om ons te seën, dan is dit om in verhouding met die skepping te leef, om ons te ken en deur ons geken te word. Dis hoekom ek so baie hou van Chris se vertaling van hierdie teks: in die 1983 vertaling sien mens nie die gedagte van God se gesig, die lig van sy gesig nie. Maar watter mooier beeld is daar van verhouding, van mekaar ken, as die idee van gesig – van ’n aangesig tot aangesig verhouding.
God se gesig skyn. Natuurlik dra dit die idee van die glans en glorie van God, maar ek kan nie help om te dink aan wat met mens se gesig gebeur wanneer jy glimlag nie. Gesigte lyk soms donker, nors – tot iemand glimlag. Dan is dit asof ’n lig opkom. Die lig van God se gesig verteenwoordig helderheid, openbaring, verlossing uit koue donkerte, vernuwing, vreugde.
God draai sy gesig na ons toe, kyk na ons met liefde en genade.
God seën met sy genadige teenwoordigheid
Daar is weer ’n belangrike punt. Want om deur God gesien te word, is skrikwekkend. Om in God se teenwoordigheid te kom, verlig te word deur die helder lig van sy gesig, maak ons bewus van al die vuil en gemors wat aan ons kleef. Dis die ervaring wat Jesaja gehad het toe hy die visioen van God se teenwoordigheid gesien het.
Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” (Jesaja 6:5)
Vir ons om in God se teenwoordigheid te wees, is daar versoening nodig. Ons kan eenvoudig nie in God se teenwoordigheid staan sonder vergifnis, sonder genade nie. Daarom is dit so wonderlik dat die belofte van God se seën die belofte van God se teenwoordigheid én God se genade is. God se genadige teenwoordigheid. God handel nie met ons volgens ons sonde nie, maar volgens sy vrye genade en liefde. Genadiglik!
Hierdie seën van God se genadige teenwoordigheid beleef ons natuurlik die heel beste deur Jesus Christus:
Die ware lig wat elke mens verlig (Joh. 1:9)
Die lig vir die wêreld wat lewe gee (Joh. 8:12)
G’n wonder dat die Nuwe Testament skrywers mekaar elke keer gegroet het met die woorde nie: genade en vrede.
Vrede
Want dit is die crescendo, die uiteinde van God se genadige teenwoordigheid: vrede. Shalom.
Weereens: hierdie vrede is nie afhanklik van ons omstandighede nie. Ons maak so dikwels die fout om God se seën net te sien in voorspoed. En dan mis ons die wonderbaarlike, genadige teenwoordigheid van God – soos die prentjies van hartjies in die foto’s wat ons saam met die kinders gekyk het.
Wanneer ons nie die hele tyd net fokus op voorspoed nie, maar juis ons gedagtes fokus op God se genadige teenwoordigheid – dan ontdek ons ook die wonderbaarlike vrede wat met God se seën kom. ’n Omvattende vrede. Die vrede van die wete dat jy deel is van God se verbond, deel is van God se plan.
Die vrede van die wete dat, al is daar nou nog plekke in ons wêreld – in ons eie lewens – waar daar onvrede is, God se seën is ook op pad met ons en met die wêreld. Die seën is vir ons die realiteit van God se genadige teenwoordigheid, maar dit is ook ’n belofte: ’n belofte van Openbaring 22:
5Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ’n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.
Dalk sal dit help as jy dink aan die plekke in jou lewe waar jy voel daar nié vrede is nie – en dan, soos die prentjies wat ons vir die kinders gewys het, die Gees vra om jou oë oop te maak vir God se teenwoordigheid, juis daar in jou bekommernis, hartseer, pyn. Vra die Gees om jou oë oop te maak vir God se genade, juis daar, te midde van onvrede en onreg.
Gebed
Geleentheid vir stil gebed: dink na oor die afgelope week. Waar het jy God se genadige teenwoordigheid beleef? Waar nié? Waar het jy juis onvrede beleef, asof God sy gesig weggedraai het? Vra die Gees om jou ook in daardie omstandighede God teenwoordigheid en vrede te wys.
Stilte.
Dankoffer
Koor: Vonkk 316 Die Here is voor jou
Slotsang
Psalm 67
Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
Respons
Lied 268 – *ons
Met 'n kierie en 'n koperslang, Numeri 6, preek, Rethie van Niekerk, seën
Mariette
Was ‘n baie besonderse diens.
Goed om weer te hoor dat wanneer ons God se seën (lees ‘hart’) en genade ervaar (het), ons almal tot seën vir mekaar kan wees.
Terloops, sê die Hebreeus in vers 26 dat God verhoor, of dat God hoor….?
Seënende groete!
Rethie van Niekerk
Mariette, die 1953 Vertaling van vers 26 is ‘n direkte vertaling van die Hebreeus: “die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” Die 1983 vertalers het “aangesig verhef” geïnterpreteer as “gebede verhoor”.
Mariette
Dankie Rethie. Ja, dit is beslis anders en maak ‘n verskil om dit te weet.
Ek het vir Marie en Alf Kruger in UK die ‘link’ vir jou preek gestuur. Hulle gaan deur ‘n moeilike tyd met sy gesondheid. Sy sê in ‘n e-pos:
Baie dankie, het pas die preek gelees. Goeie preek. Sal weer en weer.
Ons sê vir mekaar ons moenie so verstrengel in ons stryd nou raak, dat ons nie rondom ons die goeie sien nie. Sluit so goed aan by Rethie se preek.
Annemarie vn Zyl
NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.
Chris van Wyk
Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.
Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde. 15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant). 11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).
24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm
Hoop dit maak sin.