Skip to main content

Numeri 11 – God se inspirasie wanneer die las te swaar raak

Ons mense is maar brose goed.  Die 2 Korintiërs 4 praat van “kleipotte wat maar maklik breek”.  Maar wat maak ’n mens as jy breekpunt bereik?  As jy totaal en al moedeloos is, oorweldig voel? Jy weet jy moet iets doen, maar jy voel in jou beendere:  jy het nie die krag nie.  Nie die vermoë of die tyd nie.  Die teenstand is net te veel.  Jy kan nie meer nie…

Wat maak jy as jy heeltemal moedeloos is?

Wel, in die eerste plek is jy in goeie geselskap!  Selfs Moses het – dikwels! – gevoel hy kan nie meer nie, dat hy eenvoudig nie in staat is daartoe om alles te doen wat van hom gevra word nie.

Toetrede

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees

Votum

Kom, Heilige Here, Vuur en Fontein,

Kom deur die krag van u Gees.

Help ons om u te aanbid in Gees en Waarheid.

Help ons om woorde van waarheid te hoor.

Help ons om woorde van liefde te spreek.

Inspireer ons, beweeg in ons, skyn deur ons.

Ons maak onsself oop vir U.  U ken alles, sien alles en het almal lief.

Maak ons instrumente van u vrede.  Amen

Seëngroet

Lofsang

Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons

Flam 104 Weet jy nie jy’s ’n tempel

Toewyding

Ons voel dikwels in die kerk dat ons moet maak asof ons alles onder beheer het, asof alles voor die wind is;  dat ons nie mag erken dat ons moeg is, sukkel of swaarkry nie.

Ek wil vanoggend vir jou kans gee om juis jou worstelinge, jou moedeloosheid, vir God te gee.  Om vir God te sê wat jou bekommer, wat jou magteloos laat voel.  Neem ’n paar oomblikke en praat in stilte met die Here oor die dinge wat vir jou te veel voel.

Flam 58 Skepper Gees

2 Korintiërs 4:7-10 sê aangrypend

7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8In alles word ons verdruk,

maar ons is nie teneergedruk nie;

ons is oor raad verleë,

maar nie radeloos nie;

9ons word vervolg,

maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi,

maar nie vernietig nie.

10Die sterwe van Jesus

dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus

sigbaar kan word in ons liggaam.

En verder, in hoofstuk 12:9

 “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

Gebed

Lied 442 Gees van God wat in my woon

Skriflesing

Chris het verlede week ook gepreek oor hierdie hoofstuk.  Hy het gefokus op die verhaal van die kwartels.  Ons het die hoofstuk so opgedeel, dat ons vanoggend weer kyk na dieselfde gedeelte, maar hierdie keer fokus op die verhaal van die leierskap:  Numeri 11.  Verlede week het ons gelees hoe die volk kla.

10Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. 11Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? 12Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met ’n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het’? 13Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ 14Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. 15As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

16Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan. 17Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie.

….

24Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. 25Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s’n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27’n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”

28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.

Inleiding

Wat is die?  Dis ’n Ridder (knight).  Hoe word mens ’n ridder? ’n Koning of koningin van ’n swaard, slaan jou saggies op jou skouers en sê:  “I dub thee, Knight!  Rise, Sir…”

In die kerk is daar ook so iets.  [Gaan staan by doopvont.]  Oom Chris  het ook ’n paar weke gelede hieroor gepraat.  Hy het gesê die doop maak ons deel van die kerk.  In die doop word ons ook gesalf, soos knights.  Behalwe, ons is nie “knights” nie – ons praat in die kerk van priesters en profete.  Wanneer iemand gedoop word – wanneer die water op hul voorkop gesit word – sê God hy gee vir ons sy Gees, maak ons sy priesters en profete

Elkeen van julle is ’n priester en ’n profeet.  Wat beteken dit?  Dit beteken jy kan vir God ken, met God praat, na God luister.  Jy kan ook met ander oor God praat.

Preek

Wat as alles te veel voel?

Ons mense is maar brose goed.  Die Korintiërs teks van netnou praat van “kleipotte wat maar maklik breek”.  Maar wat maak ’n mens as jy breekpunt bereik?  As jy totaal en al moedeloos is? Oorweldig voel?  Jy weet jy moet iets doen, maar jy voel in jou beendere:  jy het nie die krag nie.  Nie die vermoë of die tyd nie.  Die teenstand is net te veel.  Jy kan nie meer nie… As jou werkgewer vir jou vra om nóg ’n taak op jou te neem; of jou kinders se skool nóg vrywilligers soek;  of die kerk iemand soek om met nóg iets te help; of daar is konflik in verhoudinge, kinders met uitdagings…

En dis maar net die dinge in ons eie klein lewetjies.  Dan praat ons nog nie eers van ons land nie – dis net droogte en korrupsie en ekonomiese verval – of die wêreld – dis net haat en dreigemente van oorlog en onenigheid.

Wat maak jy as jy heeltemal moedeloos is?

Wel, in die eerste plek is jy in goeie geselskap!  Selfs Moses het – dikwels! – gevoel hy kan nie meer nie, dat hy eenvoudig nie in staat is daartoe om alles te doen wat van hom gevra word nie.

Praat met God

En wat doen Moses met hierdie gevoel van oorweldig wees?  Moses praat met God!

Julle sal my nie glo nie – of dalk sal julle juis – hoe gereeld mense my kom sien en ek vra:  “het jy al gebid hieroor?”  Die antwoord is 99% van die kere:  “nee”.  Ons kla in ons binneste.  Ons kla teenoor mekaar.  Ons maak lysies van moontlike planne van aksie.  Maar ons praat nie met God nie.

Moses kla!  Maar hy gaan kla by God.  Laat ek nou eers bieg:  ek normaalweg erg geïrriteerd met ’n aanhoudende gekla.  Maar hierdie klagte van Moses in vandag se teks, is van die mooiste klagtes wat jy in jou lewe sal hoor:

11Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? 12Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met ’n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het’? 13Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ 14Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. 15As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

Dis effens dramaties en oordrewe.

Praat met God in geloof

Maar het jy gehoor wat Moses implisiet van God sê?  In sy klagte is daar steeds ook ’n geloofsbelydenis.  Moses is natuurlik nie perfek nie – in die deel wat ons verlede week gelees het, sien ons dat Moses só gefokus het op sy eie probleme en sy eie viesheid vir die nonsens, dat hy nie glo God kan voorsien nie!

Maar so tussen die klagtes en die ongeloof en die drama, sê Moses dat God Israel se moeder is.  Dat God self hierdie volk as God se kinders gebaar het.  En dat God self, volgens Moses, die volk soos ’n suigeling aan die bors moet dra.

Dis nie ’n algemene beeld van God in die Bybel nie, maar dit kom tog op meer plekke voor as net hier.  Dat God soos ’n moeder is.  Met al die implikasies wat daarmee saamgaan:  dat God omgee – tot die dood toe omgee, lief het, sorg.

En dan maak God se reaksie ook sin:

’n Mens sou dink, as jy nou na die algemene trant van Numeri kyk, dat God vir Moses swaar sal straf vir hierdie insubordinasie.  Hoe durf hy, nietige mensie, so praat met die God van die heelal?  Nie net kla nie, maar aankla.  Sommer parmantig, disrespekvol.

Maar dis nie wat God doen nie.

Dis nie die eerste keer dat Moses vir God sê dat hy wat Moses is nie kan doen wat God van hom vra nie.  Die vorige keer het God na Moses geluister – en hom gehelp.  Toe Moses in Eksodus 3 vir God sê:  “Ek is gestremd,  ek het ’n spraakgebrek” – het God vir hom vir Josua gegee om hom te help!  God het nie gesê:  “Ruk jou reg!  Probeer harder!  Vertrou net!” nie.  Nee, God het gesê:  “Hier is vir jou iemand om jou te help.”

Hierdie keer weer:  God luister na Moses se parmantige, oordrewe klag.  En God help hom.

God luister.  God help.

Nie altyd presies soos wat ons in gedagte gehad het nie. Moses wou doodgaan, of dan ten minste nie meer die leier van die volk wees nie.  Maar God luister na ons moedelose gekerm. En hy gee vir ons wat ons benodig om te doen wat ons moet.

God gee vir Moses mense om hom te help, om saam met hom die las te dra.

Die Gees werk op onverwagse plekke en maniere

Dan gebeur daar hierdie hele interessante ding waar Moses die 70 leiers van die volk bymekaarbring en God se Gees op hulle kom en hulle profeteer.

En ’n entjie vêrder, daar in die kamp tussen die tente, ontvang nog twee, Eldad en Medad, die Gees en begin as profete optree.

Die 1983 Afrikaanse Vertaling laat dit lyk asof hulle twee van die 70 was, wat om een of ander obskure rede nie na die tent gegaan het soos God gesê het nie.  Maar in Hebreeus is dit nie so duidelik nie. Daar is millennia van onsekerheid en geskille hieroor:  was Eldad en Medad deel van die 70, of was hulle twee ekstra mense deur God gesalf is, maar nié deel van die 70 nie?  ’n Mens kan sien die geskil het in die Nuwe Testament nog bestaan.  In Lukas 10 stuur Jesus ’n aantal mense voor hom uit.  Jy kan maar kyk in die Bybel – sommige vertalings sê hy het 70 mense gestuur, ander sê  72.  Afhangende van die manuskrip wat gebruik is.  Daar is ongeveer ewe veel manuskripte wat sê 70 of 72.  Wat vir ons sê dat in Jesus tyd daar ook onsekerheid was of dit net die 70 wat wat  Gees ontvang het daardie dag in Sinai se wildernis – of was dit 72.

Maar of dit 70 of 72 was, die punt is dieselfde:  dat ons nie God se Gees kan beperk nie.  Want ai, ons is tog so lief om dit te doen!  Om vir onsself handige boksies te maak van hoe en waar en deur wie die Gees kan werk.  Om die Gees van God in te perk.

En telkens verras die Gees ons.  Telkens werk die Gees op plekke en maniere wat ons nie verwag het nie.  Dikwels nie vanuit die sentrum nie, maar op die kantlyne.  Daar waar daar nie mag is nie.  Tussen die kinders.  Die armes.  Wêreldwyd groei die Christelike kerk die meeste in wat voorheen die derde wêreld genoem is – wat voorheen die kantlyne van die Christendom was.

Soos die hartjies van twee weke gelede, wat ons dikwels miskyk, so is die Gees aan die werk.

Net soos ons vandag, het Jesus se dissipels dit ook gesien en nie daarvan gehou nie.  In Lukas 9, net voor Jesus die 70/72 uitstuur, stuur Jesus 12 uit.  Johannes kom terug en sê:

Luke 9:49–50 (AFR1983)

49Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

50Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”

Johannes reageer soos Josua hier in Num. 11.

28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

Hierdie droom van Moses word die belofte van God by monde van die profeet Joël 2:28–29 (AFR1983)

28Wanneer dit alles gebeur het,

sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters

sal as profete optree,

julle oumense sal drome droom,

julle jong mans sal visioene sien.

29In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.

Let op dat die belofte van die Gees steeds op onverwagse plekke is:  kinders, oumense, vroue sowel as mans, armes (letterlik slawe).  Daar is mense na wie die samelewing gemaklik luister, aan wie maklik gesag en eer toegesê word.  Maar, sien ons, God werk juis vanuit onverwagse oorde, deur die mense wat die samelewing nié ag, by wie ons dink ons niks kan of hoef te leer nie.

Die Gees uitgestort op die kerk

En dan, eeue later, in ’n onverwagse plek, met ’n onverwagse groepie mense, word hierdie belofte waar.  Die dissipels kruip weg in ’n bokamer.  Oorwin.  Gebreek.  Bang.  Hulle kan nie meer nie.  Hulle weet nie hoe nou verder nie.

Dan, onverwags, word die Gees uitgestort en kry hulle krag.  Kan Petrus praat oor die belofte van Joël en sê dat dit nou in vervulling gegaan het.

Ook vir ons.

Nou kom die Gees nie meer net op sekere uitverkore mense nie, maar op elke gelowige.  Nou kry ons nie meer die Gees net vir ’n sekere tyd en ’n sekere taak nie, maar vir altyd en in alle omstandighede.  Ek en jy – gedooptes – het die Gees van God.

Vanjaar vier ons 500 jaar van die reformasie.  Jy gaan nog baie daarvan hoor!  Die Reformatore het dikwels, op grond van 1 Petrus 2, gepraat van die “Priesterskap alle gelowiges”.  Daarmee het hulle ook gesê dat ons nie die Gees kan inperk – kan beperk net tot priesters / clergy nie.  Elke gelowige het die Gees en het daarom ook ’n amp en roeping en taak.  Elke gelowige, het Calvyn gesê, is ’n profeet, priester en koning.

Dit beteken dat jy toegang het tot God.  Jy kan met God praat, God sal luister.  Wanneer dinge te veel raak, wanneer jy voel jy voel weet nie watter kant toe nie:  jy kan na die Allerheiligste God gaan en jou hart eerlik uitstort.

Dit beteken dat jy self ook kán luister na God.  Jy kan weet wat God se wil is.  Jy is geroep om daardie wil te gehoorsaam.

Dit beteken dat jy vir ander kan en moet vertel van God.

Dit beteken dat jy ander gelowiges kan ondersteun wanneer dinge te veel raak en dat ander gelowiges jou ondersteun.  Ons is saam in gemeenskap.  ’n Mens is nie ’n gelowige op jou eie nie.   Geloof is ’n saak van saamwees, an verhoudings.

Dit beteken dat ons agente van versoening is, dat jy opstaan teen onreg, omsien na siekes, armes versorg.

Dit beteken elkeen van ons hier – al is ons soms moedeloos, al voel ons ons het nie krag vir nóg iets nie – het ’n roeping.  Ons is geroep om as gelowige te leef – in jou huis teenoor jou eggenoot, teenoor jou kinders, by die werk teenoor jou kollegas of kliënte /studente, by die kerk in bedieninge:  sending of barmhartigheid, of erediens of bestuur.  Ons is geroep om te leef en werk op ’n manier wat ander ondersteun, ander help om God te leer ken en dien.

Jy is ’n ridder.  Gesalf om die Here te dien.  En God self gee vir jou die krag om dit te doen.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 440 vv 1, 2 en 4 Die Here salf ons met sy Gees

Seën

24Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

25die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

26die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Respons

Lied 313

Gees, Leierskap, Met 'n kierie en 'n koperslang, Numeri 11, preek, Rethie van Niekerk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.