Kleingroepmateriaal: Numeri 12 – God bevestig Moses as sy betroubaarste dienaar
Rus: Fokus jou gedagtes elke dag op God deur die Aäronitiese seën in Num. 6:24-27 te oordink en vir jouself toe te eien.
Hoor: Lees hierdie week Numeri 12-18 in jou stiltetyd aan die hand van die bydraes by www.bybelskool.com/numeri. Wat doen die verhale aan jou? Watter boodskap het dit vir jou? Spreek dit tot ’n spesifieke situasie? Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies wat by jou opkom. Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat. Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê.
Leef: Bid om helderheid, oortuiging en vrede. Skryf jou gedagtes in jou joernaal, sodat jy oor tyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou te begelei rondom herhalende insigte en ingewings. Wees gehoorsaam aan die lig wat jy ontvang. Gaan leef dit!
SAAM-LUISTER
Ingenooi deur God: Vertel vir mekaar wat tans in jul lewens aangaan op julle reis met God.
Ingaan in God se tyd: Laat iemand Numeri 6:24-27 biddend voorlees. Gee tyd vir stilgebed. Eien dié seën van die Here vir julle toe.
Luister na God se Woord:
Mirjam en Aäron se opstand teen Moses word in hoofstuk 12 in vier bewegings vertel: verset teen Moses oor sy Kussitiese vrou (Num. 12:1-3), teregwysing deur die Here waarin Moses as God se betroubaarste dienaar bevestig word (Num.12:4-10a), voorbidding deur Moses dat Mirjam genees word (Num. 12:10b-14), en die uiteindelike reiniging voor die volk verder trek (Num. 12:15-16). Hierna sou Aäron se gesag ook uitgedaag word soos ons in Numeri 17 gaan lees.
Lees Numeri 12. Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer: wat staan vir jou uit, wat raak jou?
Luister na mekaar: Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.
Luister na ander en die tye:
Mirjam kom hier in opstand teen die gesag van Moses, en Aäron volg haar na. Op die oppervlak lyk dit asof sy en Aäron Moses aanvat oor hy buite die verbond met ‘n Kussitiese donkerkleurige vrou getrou het. Wat dink julle gaan onder die oppervlak aan?
Wat sê dit vir ons houding teenoor mense wat van ons verskil?
Die Here roep hulle aldrie na die tent van ontmoeting en kom daar af in die wolk vir ‘n teregwysing van Aäron en Mirjam. Die Here verklaar dat sy profete Hom in visioene en drome hoor waarin daar soms dinge is wat moeilik is om te verstaan. Só is dit nie met Moses nie: “Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie.” Die sin lees letterlik so: “Mond tot mond praat Ek met hom, en helder, en nie in raaisels nie.” Moses is God se vertroueling. Geen wonder nie, want die Here beskou Moses as sy betroubaarste dienaar – ‘n term wat vir uitsonderlike persone soos Dawid en die Messias gereserveer is – in sy “hele huis”.
Wat sê dit vir ons eie toewyding aan die Here? Is só ‘n verhouding met Hom ook vir ons moontlik?
Luister weer na God se Woord:
Aäron, wat die straf van melaatsheid vrygespring het, tree vir haar in by Moses oor hulle dwaasheid en sonde. In wese het hulle die tiende gebod oortree deur hierdie begeerte na meer, na dít wat ander gehad het, in dié geval die intieme verhouding wat Moses met God gehad het. Moses doen onmiddellik voorbidding by die Here om Mirjam gesond te maak. Hy illustreer daarmee sy afhanklikheid van die Here. Sy intieme verhouding met die Here verlei hom nie om arrogant en familiêr teenoor God op te tree nie.
Die Here illustreer in sy reaksie sy bereidheid om te vergewe, maar ook die feit dat Hy nie sonde ongestraf laat bly nie (Eks. 34:7; Num. 14:18). Hy antwoord dat Mirjam die normale tyd van sewe dae buite die kamp moes deurbring, die tydperk wat die wet voorgeskryf het dat iemand moes wag om van ‘n velsiekte rein verklaar te kon word.
Wat sê dit vir julle van julle God se vergifnis? Wat beteken dit vir julle dat Hy niemand sonder meer vry spreek nie (Eks. 34:7; Num. 14:18)?
Fokus op wat God nou doen: Wat, dink julle, sê God vandag vir julle? Wat, dink julle, sê God vir ons gemeente? Wat wil julle met julle saamneem uit julle nadenke oor die Skrif?
Antwoord met ons lewe: Bid saam. Reageer op wat julle uit die Woord gehoor het. Bid ook vir mekaar. Dink veral aan die goed wat julle heel aan die begin met mekaar gedeel het.
FAMILIE-LEWE
Rus: Laat iemand bid en vir die Here vra om julle harte en gedagtes tot rus te bring in die seën wat Hy vir ons gee (Num. 6:24-27).
Hoor: Lees Numeri 12. Waarom val Mirjam en Aäron vir Moses aan? Wat leer julle uit Moses se reaksie? Waarom reageer God só teenoor dié drie leiers? Wat leer ons van God se vergifnis in sy antwoord op Moses se voorbidding?
Leef: Wat leer Moses se verhouding met God ons?