Matteus 10:42-44 – 22-28 Junie
Ons fokus vandag in Matteus 10:42-44 op gasvryheid. Jesus is besig in sy tweede belangrike toespraak in Matteus met die uitsendingrede. Jesus het die dissipels nou al voorberei vir die werklikheid van vervolging (10:16-25). Hy het hulle bemoedig om nie bang te wees nie, want God sal sorg (10:26-31). Hy het hulle aangemoedig om Hom as Christus te bely en nie te verloën nie (10:32-33), want die werklikheid is dat lojaliteit aan Hom skeiding sal bring (10:34-39). Maar, Hy bemoedig hulle ook dat Hy sal sorg dat hulle gasvry ontvang word, en dat dié mense wat hulle gasvry ontvang, deur God self beloon sal word. Gasvryheid is dus ‘n kanaal waardeur God se beloning ontvang word, en ‘n manier waarop gasvry mense deel het aan die koms van die koninkryk.
RUS
Gesels met mekaar oor wat gasvryheid al vir jou beteken het. Dink aan geleenthede waar mense gasvry teenoor jou opgetree het. Dink ook aan geleenthede waar jy gasvry teenoor ander was. Gee genoeg geleentheid hiervoor omdat dié gesprek ‘n atmosfeer skep vir die Woord om grond te vat in ons lewe.
Raak stil en bid dat die Here ons opnuut met hierdie boodskap van gasvryheid sal aanraak.
HOOR
1. Lees Matteus 10:42-44. Deel met mekaar wat jou tref in dié gedeelte. Só hoor ons wat God in elkeen se hart wakker maak. Gee vir almal ‘n geleentheid.
2. Adele Calhoun beskryf gasvryheid as volg: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”! Dit het veral te make met vreemde en anderse mense, mense met wie jy nie normaalweg as vriende assosieer nie. Trouens, die Griekse woord vir gasvryheid is philoxenia – liefde vir vreemdelinge. Gasvryheid beteken om uit jou gemaksone te beweeg, ’n grens na ander oor te steek, en vreemdelinge welkom en veilig te laat voel. Hoe verander dié perspektief op gasvryheid jou gevoel en hantering van vreemdelinge?
3. Jesus sê vir ons hier dat God in ons lewens aankom deur die mense wat God na ons stuur. Ons keuse om mense te ontvang, of nie, bepaal dus of God in ons leefwêreld aankom of nie. Deur God te ontvang deur ander mense gasvry te ontvang, neem ons deel aan die koms van God se koninkryk. Of nie. Motiveer en inspireer dié perspektief jou om uit te reik na ander en hulle gasvry te ontvang?
4. ’n Glas koue water kon net met groot moeite vir iemand gegee word in ’n tyd voor yskaste! Die beste manier was om na die naaste put te gaan, soms ’n hele entjie van jou huis af, en daaruit water op te hys met die swaar emmer en dan vir hom of haar in te skink. Is jy bereid om moeite te doen om gasvryheid aan ander te betoon?
LEEF
God wil hê dat ons gasvry sal wees teenoor dié wat Hy oor ons pad stuur. Dit sluit dié in wat nie deel is van ons normale sosiale kring nie. Wie lê die Here nou op jou hart? Bid vir mekaar.
Ons gemeente gaan dié vakansie op Vrydagaande geleenthede skep vir studente wat nie huis toe kan gaan nie, om gasvry ontvang te word met ’n ete en kuier–geleentheid. As die Here dit op jou hart lê, kan jy betrokke raak. Bel vir Líesl by die kerkkantoor – 0415835115. Geseënde vakansietyd!