HuisGeloof 11-17 Aug: Ons Gee Om
OMGEE GESPREKKE
Dr. Gary Chapman skryf dat daar vyf liefdes-tale is: opbouende woorde, kwaliteit-tyd, geskenke, diensbaarheid en fisieke aanraking. (Hier kan julle meer leer – en selfs ’n vraelys invul om seker te maak wat jou of jou kinders se liefdestaal is.) Gesels oor hoe julle elkeen wys dat julle iemand lief het. Wanneer voel julle dat iemand regtig vir julle omgee: wanneer hulle vir jou opbouende goed sê, tyd saam met jou spandeer, vir jou iets spesiaal gee, vir jou iets spesiaal doen of ’n drukkie gee?
BYBEL LEES
Lees Filippense 4:15-20 uit Die Nuwe Testament vir Kinders:
Onthou julle nog, aan die begin wou niemand my help nie, behalwe julle? Selfs toe ek na ’n ander dorp toe is, het julle my nog steeds bly help. Julle het vir my geld, kos en klere gegee. Ek sê dit nie omdat ek bedel vir nog nie. Ek weet die Here gaan baie goed vir julle wees en vir julle wonderlike dinge teruggee.
Epafroditos het vir my die presente gegee wat julle vir my gestuur het. Baie dankie, ek waardeer dit. God hou baie daarvan dat sy kinders mekaar so help. God sal vir julle ook baie goed wees, want julle is mos sy kinders. God is baie belangrik. Niemand is so sterk en belangrik soos Hy nie.
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Paulus vertel hier hoe die gemeente in Filippi vir hom omgegee het en sê vir hulle dankie. Wat is nog maniere waarop ons vir mekaar kan omgee?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Dink weer aan die liefdes-tale en wat julle elkeen se liefdestaal is. Watter gewoontes kan julle as gesin begin om seker te maak dat elkeen van julle altyd geliefd voel? Wees kreatief en prakties!
GESEËN OM TE SEËN
- Dink aan iemand wat julle ken wat dalk alleen is of ekstra liefde nodig het. Maak ’n plan om in die week na daardie persoon uit te reik – dalk deur hulle te nooi vir ete, kos te maak, te bel, ens.
- Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Is daar iets spesifiek waaroor iemand in jul gesin tans die Here se wil soek? Bid saam daarvoor en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.
Chapman, Filippense 4, huisgeloof, huuisgodsdiens, liefdestale, love languages, omgee, Ons Gee Om