Skip to main content

die profeet

elizabeth meen dat elia by krit
dikwels met sy gesig tussen sy bene gesit
en wag gewonder het of dit wat hy manhaftig
geprofeteer het sou gebeur
here moet ek van die voëls wat u onrein verklaar
kos kry die water wat vrot
die laaste holtes ingeplof het, drink
laat my sién wat ek gesê het
die reën ruik
die gras sien spruit
u doen tog niks voor u profete weet
maar die dae kom nie meer in díe vallei
en die water is ‘n skeppie dooie gras en klei;
maar sê sy,
toe hy eers weer aanskuif tot teen God se sy
het hy gehoor en wéét…
bly dus, gee elizabeth weer raad,
‘n rukkie langer in jou vereenkanting
en wag totdat jy hóór
om dan soos elia sonder groot lawaai
met God se vuur die water van die altaar op te lek,
die weduwee van sidon
of brits of waar ook al
se seun terug uit die dode in die lewe in te lei,
of dít my liewe mens wat jy begeer:
soos ‘n gaselle die hoogtes af
die wind te sny

deur Rosa Smit

uit “Krone van die Narsing” (Tafelberg, 1986)

elia, krone van die narsing, profeet, rosa smit

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.