Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Jesaja 8:23-9:6 – Kersdag 09

Verwelkoming

Ons vier vandag die misterie van die menswording van God in Christus Jesus.

Die 4 kerse hiervoor staan vir Hoop, Vrede, Vreugde en Liefde.  Dit is 4 kerse, en vier beloftes wat God gedurig aan ons maak.  Met die aansteek van die wit Christuskers herinner dit ons daaraan dat alles in Hom vervul is.  In Christus vind ons die hoop, die vrede, die vreugde en die liefde.  In Christus vind ons lig en lewe en die moed om soos Hy te wees, om op Sy roepstem te antwoord én in Sy voetspore te volg!

Terwyl ons die Christuskers aansteek, steek ons dit aan die brand in die naam van die Een wat die lig self is en soos Maria en Josef lank terug gemaak het, noem ons hierdie lig ‘Jesus’.

Votum

Here Jesus, mag die lig van U lewe in ons brand

Mag dit ons lei om opnuut te ontdek

die brandende waarheid van God met ons,

God vir ons

en God in ons.

Amen.

Lofsang

Lied 365:1-3 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied

Lied 345:1-4 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem

Toewyding

Lees Titus 2:11-14

Lied 344:1-3 – O die goeie tyding, o die blye tyding – helder klink dit met Kersfeestyd

Kindertyd

Storie: Die heel belangrikste werk (Wendy Hartmann)

Gebed

Skriflesing

Twee opmerkings vooraf:

Die Siro-efraimitiese oorlog van 735-732 v C

1.  Die profesie van Jesaja moet in die lig van die Siro-Efraimitiese oorlog (735-732 v.C.) gelees word.

Sirië en die noordelike stamme van Israel het ‘n veldtog onderneem om Juda se koning, Agas, te forseer om by hulle alliansie teen die Assiriërs aan te sluit.  Agas het hom egter eerder by die Assiriërs geskaar teen Israel se noordelike stamme en Sirië (2 Kon 16:5-9). Assirië het teen Damaskus (die hoofstad van Sirië) opgetrek en hulle oorwin.

Groot dele van die noordelike stamme van Israel is by die Assiriese Ryk ingelyf.  Dele van Israel se bevolking is weggevoer en verskeie stede is verwoes (dié dat vers 2 verwys na die wat nie meer ‘n nasie is nie – vgl 2 Kon 15:29).  Vir Israel se noordelike stamme was dit die begin van die einde, wat 10 jaar later finaal in 722 v.C. aangebreek het.

Vir Juda was die gevolg dat hulle voortaan onderdanig aan Assirië moes wees.  Dit het godsdienstige onderdanigheid aan die gode van Assirië beteken (lees 2 Konings 16:10-18; Jesaja 2:6-8 en Miga 5:12-14) én swaar belastings (daar is selfs van die tempelskatte geneem om Assirië mee te betaal).

Dit was dus ‘n donker tyd, waarin baie mense gewanhoop het.

Hoop kom deur ‘n Kind

2.  Jesaja verkondig dat God sy volk vir hulle ongehoorsaamheid gaan straf, maar dat Hy tog midde-in die krisis hoop bring.  En die interessante van sy aankondiging van verandering is dat telkens met ‘n kind verband staan. In hoofstuk 7-11 word daar telkens in 8 gedeeltes gepraat van die verandering wat gaan kom, en dat dit nie deur volwassenes gaan kom nie. Nee, die verlossing kom in sommige gedeeltes deur kinders of word ervaar in ander gedeeltes deur kinders.

  • In hoofstuk 7 is dit die Immanuel wat vir die maagd gebore sal word, die God-met-ons.
  • In hoofstuk 7-8 is dit twee van Jesaja se eie seuns wat die naam kry van Oorblyfsel-keer-terug en Plunder-en-Roof waarmee voorspel word dat Samaria oorwin gaan word, maar ook dat ‘n oorblyfsel sal terugkeer.
  • In hoofstuk 8-9 is dit die seun, die Vors van Vrede, waarvan ons vanoggend gaan lees, wat God self is wat verandering gaan bring, maar as ‘n kind in die wêreld sal kom.
  • In hoofstuk 10 is dit ‘n klein seuntjie wat die getal van die Assiriërs sal kan tel wat oorbly na God met hulle klaar is.
  • In hoofstuk 11 word van die takkie uit die loot van Isai gepraat, op wie die Gees van die Here sal rus en wat ‘n regverdige en betroubare regering sal vestig. En weereens is twee kinders die simbool van hierdie regering, een wat vee aanjaag en ‘n ander een wat by die gat van ‘n slang speel, om te wys hoe anders en vol vrede sy regering sal wees.

Lees Jesaja 8:23-9:6

Woordverkondiging

Agas se dilemma

Ons kan ons indink in die dilemma van Agas in die Siro-Efraimitiese oorlog.  Sy bure maak teen hom oorlog, omdat hy nie saam met hulle teen Assirië wil veg nie.  Hy wil sy onafhanklikheid behou en nie betrokke raak in ‘n stryd teen die wêreldmoondheid van daardie tyd nie.  Maar sy opsies op politieke vlak is min.  Hy kon sy voelers uitsteek na Egipte, maar dan sou hy in elk geval in ‘n oorlog betrokke wees, en dit teen die magtige Assiriërs.

Hy soek op alle maniere hulp, onder andere by ander gode, met die gruwelike besluit om ‘n kind van hom te verbrand as ‘n offer (2 Kon 16:3).  Einde ten laaste besluit hy om die weg van die minste weerstand te volg, en sluit ‘n alliansie met die vyand van sy bure, juis die een teen wie hulle hom wil inspan, en soek beskerming by die grootste mag van die tyd, Tiglat-Pileser, die koning van die Assiriës.  Hy noem homself nogal die seun van die Assiriese koning.  Hoe ironies!

Maar dit beteken dat hy ‘n onderdaan van Assirië word, en selfs ‘n altaar vir hulle gode in die tempel aanbring.  Sy soewereiniteit is daarmee heen en sy godsdiens en dié van sy volk is gekompromitteer.

Sy fout?

Dat hy die Here nie geraadpleeg het nie, maar op sy eie planne staat gemaak het.

Nie dat die Here nie verskeie kere met hom probeer praat het deur sy profeet Jesaja nie. In die 16 jaar van sy regering was daar konstant ‘n woord van God aan hom deur die profeet Jesaja.  Maar hy het gekies om dit te ignoreer en sy eie kop te volg, tot groot skade vir sy volk, vir hulle aanbidding van die Here en vir homself.

God bring hoop wanneer dit hopeloos lyk

Maar, en dit is die eerste verrassende boodskap van die gedeelte, die Here laat Hom nie afsit deur ‘n halsstarrige koning nie.  Hy bring hoop selfs wanneer dit regtig hopeloos lyk. Daarmee los Hy nie net eensklaps alle probleme op nie.  Hy bring ook oordeel oor Agas en sy volk in die hoop dat dit hulle tot inkeer sal bring.  Maar in die aankondiging van die oordeel, blink daar alreeds die lig wat hoop bring vir die volk wat verdruk word.

Die tweede verrassende aspek van die verandering wat die Here gaan bring, is dat dit kom deur ‘n kind.

Nou, dit is alreeds baie betekenisvol, omdat dit wys hoe anders God is as koning Agas, wat een van sy eie kinders doodgemaak het.  Jesaja gebruik dus doelbewus die voorbeeld van ‘n kind, maar verkondig onomwonde dat God nie in die dood van kinders belangstel nie, soos Agas gedoen het, maar in die lewe van kinders.

En, nog dieper as dit, wys dit hoe God nie magtiges nodig het om sy wil te laat geskied nie.  Hy kan dit laat gebeur deur die lewe van ‘n kind, ‘n kind wat aan Hom behoort en in verhouding met God lewe.

God stuur ‘n kind

En om die boodskap helder te verkondig, wys Jesaja hoe God deur kinders sy nuwe bedeling in werking kan stel.

Die kind gaan drie dinge doen:

  • As gevolg van hulle ligging in die noorde van die land was die gebiede Sebulon en Naftali eerste aan die inval en invloed van heidense magte blootgestel. Juis hulle gebied word in ere herstel (vers 23). God gee hulle ‘n tuiste, ‘n plek om te veilig te bly.
  • Weens die oorlog en wegvoering was die oorblywende mense eintlik geen nasie meer nie. Die belofte is dat hulle weer baie sal word en hulle blydskap groot sal wees (vers 2). ‘n Nuwe gemeenskap word moontlik.
  • Met ‘n verwysing na die oorwinning van Gideon oor die Midianiete (Rigters 7), word belowe dat die juk van die vyand verbreek sal word en dat daar vrede sal kom (vers 3-4). Hulle sal vryheid ervaar.

En dit draai om een werklikheid: God wat weer sy teenwoordigheid in die volk sal laat geld (vers 2) deur die belofte van hierdie kind (vers 5-6).

Daarom sal dié ryk nie gebou word met militêre geweld soos met Dawid en die ander konings die geval was nie.  Dit sal gebou word deur reg en geregtigheid, dit sal billik en betroubaar wees.  Want dit is hoe God is, en dit is hoe sy regering sal wees.  En die waarborg van dit alles lê in God se onverdeelde trou.  Hy sal sorg dat dit gebeur.

Die Seun sal genoem word …

Watter tipe kind?

‘n Seun sal gebore word wat koning sal wees en vrede en voorspoed sal bring (vers 5-6).

  • Hy sal soos God self kan raad gee – Wonderbare Raadsman.
  • Hy sal goddelike krag hê om alle teenstand die hoof te bied – Sterke God of soos Watts vertaal God-Hero.
  • Hy sal soos ‘n Vader sorg vir sy kinders – Ewige Vader of soos Watts vertaal Father of the Future.
  • En Hy sal rus bring, vrede, vir almal en vir altyd – Vredevors.

Kom ons dink bietjie na oor elkeen van hierdie aspekte.

1.  Wonderbare Raadsman

Wat beteken dit?

Een kommentaar vertaal dit met Intelligente Strateeg. Dit is iemand wat met praktiese wysheid kan optree om ingewikkelde en komplekse probleme op te los.

Henry Carter, ‘n dominee en direkteur van ‘n kinderhuis waar die kinders bly wat regtig emosioneel verwaarloos is deur hulle ouerhuise, vertel van een ou Kersaand wat hy nooit sou vergeet nie.  Een van die huismoeders het vir hom kom sê dat Tommy onder sy bed lê en weier om uit te kom.

Hy het by Tommy se bed gaan staan. Hy het Tommy vertel van die liggies op die kersboom en die geskenke onder die boom. Alles wag vir hom as hy net onder sy bed sou uit kom … maar geen antwoord.

Henry het op sy knieë geval en die duvet opgetel.  Kyk, hy kon vir Tommy maklik uittrek onder die bed uit. Hy was net 8, maar het gelyk soos ‘n 5jarige.

Maar uittrek – hardhandigheid – was nie wat Tommy nodig gehad het nie. Nee, dit was vertroue en die vermoë om dinge op sy eie te besluit. Hy het onder die bed ingeloer en vir Tommy vertel van die Oukersaandete – in MONDWATERENDE detail. Maar daar was algehele stilte – geen reaksie van Tommy nie.

Ten einde laaste – kruip Henry onder die bed in en gaan lê langs Tommy. Hy het weer gepraat van die groot adventskrans en die kerse wat hulle gaan aansteek en die kersliedere wat hulle gaan sing!  Toe bly hy stil en lê langs hom.  Na ‘n tydjie, glip daar ‘n kinderhand by sy hand in.

“Weet jy Tommy, dis kwaai beknop hier onder hierdie bed, kom ons kruip hier uit en gaan sit op jou bed.”  En so het Tommy die moed gekry om saam met almal Kersfees te vier.

Henry vertel die storie en verbind dit dan aan Jesus, die Wonderbare Raadsman, die Intelligente Strateeg.

  • Het God nie na ons geroep, soos Henry vir Tommy, van Bo af nie?
  • Het Hy nie ons vertel van al die wonderlike dinge wat vir ons wag as ons saam met Hom lewe nie?
  • Toe ons nie wou luister nie, het HÝ nader gekom – deur sy profete en heilige manne – maar steeds wou mense soos Agas nie luister nie.
  • Maar dit was net waar tot die eerste Kersfees, toe God self onder die bed kom inkruip – een van ons geword – langs ons kom lê het – die Wonderbare Raadsman en ons ons hand in Syne kon plaas!

Dit is wat die Kind van Kersfees vir ons gee – die Wonderbare Raadsman – Iemand wat langs ons kom lê en ons van onder ons beddens na vryheid uitlei.

2.  Sterke God

Letterlik staan daar God-held of God-kryger. Wat beteken dit?

Dit beteken dat hierdie kind nie slegs groot planne maak en magtige besluite neem nie, maar dat Hy die vermoë het en die moed om dit alles uit te voer. Alles is vir Hom moontlik.

Kyk, Kersfees herinner my weer dat die onmoontlike – oorleef in hierdie bose wêreld – God se werk is.  Die moontlike is ons werk.  Die onmoontlike is God se werk.  Eintlik moet ‘n mens natuurlik sê, selfs die moontlike kan net met hope hulp van Bo gedoen word!

Ons het ‘n Sterke God wat die vermoë en die moed het om sy beloftes vir ons waar te maak.

Dit is wat Kersfees vir ons gee – ‘n Sterke God – Iemand wat voor ons die pad kan gelyk maak en ons deur alles kan dra na die bestemming wat Hy vir ons het.

3.  Ewige Vader

Wat beteken dit?

Dit beteken Hy is Pa van dit wat was, die geskiedenis, en dit was ism, die hede, en dit wat kom, die toekoms. Daarom is  “history always His Story”.

Wat ook al jy vandag mag glo, die geboorte van Jesus was so belangrik dat dit die geskiedenis in twee dele verdeel het. Alles wat op planeet aarde gebeur het val in ‘n kategorie – voor Christus of na Christus.

Hierdie Jesus het die wêreld meer as enige persoon verander. Selfs as mense vloek, gebruik mense Sy naam. Dit sou vreemd klink as ‘n golfer sy set mis en hy uitskree: “My Mandela!” of ‘n loodgieter sy vinger raakkap en skreeu: “My Gandhi!”

Ons kan nie wegkom van hierdie man Jesus nie. Hy het die wêreld verander of jy dit nou glo of nie. En Hy hou steeds die hele wêreld in sy hande.

Soos HG Wells tereg oor Jesus gesê het: “Jy kan die grootte van ‘n skip skat deur die volgstroom wat dit agterlaat. Jesus was ‘n groot skip!” Ons sien nou nog die volgstroom!

En dit is nie net vir die verlede nie.  Hy is ook die Vader van die toekoms, die Een wat Ewig lewe.

4.  Vredevors  (Prins van vrede)

Wat beteken dit?

Hy is die Kaptein (soos een kommentaar dit vertaal) wat ons lei na ‘n era van vrede.  Daarvoor het Hy vir ons ‘n stel nuwe lewensreëls kom gee, riglyne wat die vrede kan bring wat ons verstand te bowe gaan. (Matt 5-7 kom nie verniet net na dié verwysing in Matteus 4 na hierdie profesie uit Jesaja nie!)

Maar, en dit is betekenisvol, Hy doen dit anders as wat ons sou verwag:

Daar was ‘n man wat eenmaal in die land van die dwase beland het. Hy het agtergekom dat hulle vreesbevange is vir iets in die koringland waarin hulle werk.  “Daar is ‘n monster in die land” het hulle hom vertel.  Hy het gaan kyk en sien toe dat die monster ‘n groot waatlemoen is.

Hy bied toe aan om die monster dood te maak.  Hy het die waatlemoen gepluk, dit oopgesny en daarvan begin eet.  Toe raak hulle banger vir hom as vir die waatlemoen!  En hulle verdryf hom, want sê hulle: “Hy gaan ons hierna doodmaak, tensy ons van hom ontslae raak.”

Kort hierna het nog ‘n man in die land van die dwase aangekom.  Maar in plaas van om die monster uit hulle midde te verwyder – het hy saamgestem dat dit gevaarlik móét wees. Hy het stilletjies saam met hulle van die waatlemoen af weggesluip en het so hulle vertroue gewen.

Hy het ‘n lang tyd saam met hulle gebly.  Bietjie vir bietjie het hy hulle die basiese feite geleer wat hulle nie net instaat sou stel om hulle vrees vir waatlemoene te verloor nie, maar ook uiteindelik vir hulle te leer om waatlemoene te plant.

Dis presies soos Jesus gedoen het – die lewe is soos ‘n waatlemoen – eet, leef, groei dit en geniet dit – Hy het vir ons gewys hoe! Sy manier van lewe bly nog steeds die beste !

Slot

Ek het nou reeds verkondig dat dié kind Jesus was, soos Matteus in hoofstuk 4:12-25 sê.

Maar wat my tref in dié gedeelte van Matteus is hoe Jesus se bediening direk verband hou met die boodskap van Jesaja, nie net in die enkele vers wat aangehaal word nie, maar in die hele wyse waarop die begin van Jesus se bediening vertel word:

  • Dit is Hy wat spesifiek kies om aan die begin van sy bediening in Kapernaum te gaan bly, in dié gebied van Sebulon en Naftali, wat later Galilea genoem is. En eer bring aan dié gebied soos Jesaja voorspel het. Jesus kon op baie ander plekke begin het, Betlehem waar Hy gebore is, Nasaret waar Hy groot geword het, Jerusalem waar die tempel van God was. Maar, nee, Hy kies Galilea, die plek wat in die tyd van Jesaja so ernstig getref is deur die oorlog en die magspel van die politieke heersers van die tyd. En daardeur kom hulle tuis by God, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.
  • En Jesus kies mense van dié gebied as sy dissipels, twee stelle broers, mense wat gewone vissermanne was, kinders in die oë van die rykes en magtiges van die tyd. En Hy word hulle God-held, die Een wat voor hulle uitloop en hulle aan ‘n nuwe wêreld blootstel en uiteindelik van hulle self helde maak wat voor kon loop in die era van die Heilige Gees en die kerk se uitbreiding oor die aarde. En daardeur vorm hulle ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van die gelowiges, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.
  • En dan vertel Matteus dat Jesus in die hele gebied van Galilea rondgaan, die mense van God leer, elke soort kwaal en siekte genees, en vryheid vir almal bring. Hy bevry hulle van onderdrukking, van elke kwaal en siekte. En daardeur kom ‘n ware vryheid, wat die hoop laat opvlam vir ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar geen kwaad of boosheid sal heers nie, soos die belofte in Jesaja 9 belowe het.

Maar, en daarmee sluit ek af, wat my die meeste tref in Matteus se evangelie, is dat hy sê dat berigte oor Jesus deur die hele provinsie Sirië versprei het en almal van daar af na Hom gekom het en deur Hom aangeraak is en verander het.

Dit verstom my, dat selfs hierdie vyandige gebied, dié mense wat toentertyd uit Damaskus teen Agas en die Jode oorlog gevoer het, dat hulle ook die woord van God hoor, die woord van vrede en vreugde.

Wat my bring by die hoofboodskap van hierdie Kersfees.

“Daar is nie genoeg donkerte in die ganse wêreld wat die lig van een klein kersie kan verdoof nie” (Robert Alden).

Die lig van ‘n Kind in die stal by Betlehem het alles verander.

Een liggie verander alles – Een kind verander alles.

Dit was waar van Jesus.

Dit is waar van elkeen van ons.

Herinnering

Lied 348 – Stille nag, heilige nag

Gebed

Slotlied

Dankoffers by die deure

Lied 364 – Herders op die ope velde het dié nag die eng’lekoor met die blye evangelie uit die hemel aangehoor

Seën

Amen

Lied 314

Miga 4:14-5:5 – Son 20 Desember 09

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

Coetzer kinders speel saam met Albert

Lied 332 – God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak

Lied 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding, helder klink dit met Kersfeestyd

Toewyding

Miga 6:6-8

Lied 353:1,3 – vers 1: Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel … vers 3: Wie glo in Jesus Christus, word nou sy eiendom.

Gebed

Skriflesing

Om oor die profete te preek, is ‘n groot uitdaging.  Dit is maklik om ‘n teks uit te lig, soos hierdie pragtige een in Miga 5:1 oor die Messias wat uit Betlehem gaan kom, en daaroor te preek.  Maar om dit in sy konteks te plaas in die 8ste eeu v C, en boonop die onderlinge dele van die boek met mekaar te versoen, is nie so maklik nie.

1.      Wat my help in my hantering van die profete, is om in die eerste plek te onthou dat hulle nie gaan sit het om ‘n verhaal te skrywe wat met ‘n plot en karakters werk nie, en ‘n begin, en ‘n einde, en ‘n inhoudsgedeelte gehad het nie.  Daarom is daar so min kronologie in hulle uitsprake, en is die uitsprake boonop selde gedateer.

2.      Miga dateer wel al sy uitsprake in die tyd van drie konings, Jotam, Agas en Hiskia, ‘n tydperk van meer as 50 jaar, in die 8ste eeu v C, maar sonder om te sê: hierdie woorde kom nou uit dié tyd (1:1).  Sy profesieë is daarom eerder ‘n versameling uitsprake wat oor ‘n tyd gelewer is, en uiteindelik deur ‘n profeteskool saamgegroepeer is, en mettertyd in ‘n boek saamgestel is.

3.      As ‘n mens, in die tweede plek, goed lees, kan jy sekere merkers in die teks kry wat jou help om die organisasie van die uitsprake te begryp.

a.      Bv., die woordjie Luister, in 1:2, 3:1 en 6:1, deel Miga gerieflik  in drie dele op: hfst 1-2; hfst 3-5; en hfst 6-7.

b.      In elkeen van die drie dele is daar verder gedeeltes wat onheil voorspel, sowel as gedeeltes wat hoop gee.  Dit gee ‘n mens alreeds ‘n goeie idee van die oorhoofse boodskap van Miga: God bring onheil oor die volk weens hulle ongehoorsaamheid, hulle nie-luister.  Maar, Hy laat hulle nie in sak en as nie, Hy gee ook die hoop dat dinge anders kan word.

c.       Nog dieper: die deel wat ons gaan lees, 4:14-5:5, is die middelste aankondiging van hoop, amper soos die middelste sirkel van ‘n aantal konsentriese sirkels, die bulls-eye, wat geleerdes (Allen) laat dink dat die belofte van die ideale koning die hoofboodskap van Miga is.

Maar daar is nog ‘n laaste ding wat belangrik is om die teksgedeelte te kan verstaan.  Ons moet bepaal wie is aan die woord in die verse, net Miga of moontlik ook ander stemme:

1.      Volgens die tradisionele uitleg is Miga die hele tyd aan die woord.  Dit maak vers 4-5 egter baie moeilik om te verstaan.  Waar God se krag in vers 3  die deurslag gee, gee die volk se krag die deurslag in vers 4-5.  Waar vers 3 van die vrede praat wat God sal bring, praat vers 4-5 van geweld en oorlog.  Dit maak die uitleg baie moeilik omdat die temas mekaar weerspreek.

2.      ‘n Ander manier om dit te verstaan (van Woude), is dat Miga in gesprek is met sy opponente in Jerusalem.  In die eerste deel tot vers 4a is Miga aan die woord.  En in vers 4b-5 is sy opponente aan die woord.

a.      Waar Miga dus sê in vers 14 dat die Assiriërs die huidige koning sal oorwin, sê die opponente in vers 4-5 dat die huidige koning die Assiriërs sal platloop met die swaard en dat die regeerder uit Betlehem vir Israel sal red uit die hand van die Assiriërs.

b.      Waar Miga praat oor ‘n koning wat sal kom ná die nederlaag teen Assirië, verskil sy opponente en sê dit sal nou gebeur.  Israel sal nie ondergaan nie, maar die Assiriërs verslaan.

c.       Met só ‘n interpretasie maak die hele gedeelte van hoofstuk 2 af meer sin.  Dit is bv. ook waar van net die volgende verse, vers 6 en 7 van hoofstuk 5, waar Miga in vers 6 praat van vrede wat sal heers, Jakob wat soos dou sal wees wat van die Here af kom, en die opponente in vers 7 wat praat van geweld wat sal heers, Jakob wat sal wees soos ‘n leeu tussen ‘n trop skape.  Vers 6 kom van Miga en vers 7 van die opponente.

Ek kies vir die tweede manier van interpretasie en gaan dit dan nou só lees: Miga 4:14-5:5

Woordverkondiging

Miga se skerp oordeel

Die tyd waarin Miga optree is ‘n tyd waarin sosiale en ekonomiese ongeregtigheid hoogty vier. Ryk grondeienaars lê snags wakker en bedink nuwe planne om hulle mag en rykdom uit te brei (2:1-2). Vroue en jong kinders word hulle huise ontneem, omdat hulle nie die mag het om vir hulleself op te staan nie (2:9). Die politieke leiers is daarop uit om hulle onderdane te misbruik en mishandel (3:1-3). Arbeiders word uitgebuit (3:10) en in die howe is omkopery aan die orde van die dag (3:11).

Op godsdienstige gebied is die posisie ewe benard. Miga veroordeel die afgodery van die volk (1:6-7). Die profete verlei die volk en pas hulle profesie aan om by hulle betaling te pas (3:5, 11). Die godsdienstige leiers is met ‘n gerusstellende teologie besig en stel die wederstrewige volk gerus, al is alles ver van reg af.

Miga, die profeet van Moreset, so 40 km van Jerusalem af in die Suide, tydgenoot van Jesaja, spreek daaroor ‘n verdoemende oordeel uit.  Hy is besonder skerp in die oordeel wat hy uitspreek oor mense wat dink hulle kan onafhanklik van God leef, dat hulle selfgenoegsaam is.  Hy verdoem die eensydige Sionsteologie wat voorspoed gepredik het al is die mense ver van God af; mense wat sê ” Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

Hy oordeel skerp oor die feit dat God voorgestel word as ‘n goedige oupa, een wat net goed sal wees vir sy mense, maak nie saak wat hulle doen nie.  Selfs Vader Krismis het meer tande as dié God – hy gee immers net presente vir dié wat soet was deur die jaar.

Daarom, sê Miga, móét die Here ingryp en sy volk tot hulle sinne ruk. Telkens. Dalk vandag ook nog?

God se teenwoordigheid is ‘n tweesnydende swaard

Miga is geen mooi-weer-teoloog nie. Sy uitsprake wissel tussen oordeel en hoop. Daardeur bring hy ons by die ongemaklike waarheid dat God se teenwoordigheid soos ‘n tweesnydende swaard is. En wat op die oog af lyk na magtig en veilig – die stad Jerusalem met sy mure, die vooraanstaandes se sosiale status, die regering se politieke mag – word deur die profeet ontmasker as onder God se oordeel.

Die koning, heel moontlik Hiskia, sal deur die vyand met ‘n kierie op die kakebeen geslaan word.  Julle kan gaan lees in 2 Konings 18-20 oor die stryd van Hiskia met Assirië en die afloop daarvan.  Hoewel die Here hom die gevaar van Sanherib die hoof laat bied, val hy in die strik van hoogmoed toe hy later gesante van die koning van Babel al sy skatte wys.  Die skatte, soos Jesaja voorspel, is uiteindelik weggevoer na Babel in die 6de eeu v C met die ballingskap.

Maar, sê Miga, God wil nie net voor die voet straf nie.  Nee, Hy wil oë oopmaak vir die ware toedrag van sake – dat hulle Hom verlaat het, en op hulleself en hulle eie planne begin vertrou het.  En in die ontmaskering, wil Hy juis ‘n boodskap van hoop bring, sodat as mense luister, Hy hulle kan red en ware vrede kan bring.

God straf dus om die goeie weer te vestig, om ‘n nuwe verhouding met Hom en ‘n nuwe verhouding met mekaar tot stand te bring.  God se oordeel is nooit doelloos of boos nie.  Hy straf om dinge anders te maak, om dinge beter te maak, om die goeie uit die kwade na vore te bring.

God se redding kom uit ‘n onverwagse hoek

Maar, daarom kom God se redding uit ‘n plek waar mense dit die minste verwag. Nie vanuit die vooruitstrewende Jerusalem nie, maar vanuit die kleine Betlehem; nie met duisende soldate red Hy nie, maar met ‘n Gideonsbende; nie met die belangrike broers van Dawid hou Hy Hom op nie, maar met die een wat nie eens belangrik genoeg geag is om by die huis te wees nie, en skape moes oppas, Dawid.

Die wonder van die God van Abraham, Isak en Jakob is dat Hy hom telkens met die geringstes bemoei en dat sy ingrype telkens vanuit die onwaarskynlikste nederigste hoek kom.

Wat wel kenmerkend van die koning sal wees, is dat hy aan God sal behoort; hy sal die volk lei met die krag wat die Here gee; en sy heerskappy sal universeel wees, en tot in die uithoeke van die aarde strek.  Hy sal sterk wees en vrede bring.

Voorwaar ‘n groot visie, wat verder as die grondgebied van Israel sou strek, en wat God se koningskap oor die hele aarde sou vestig.

Matteus en die belofte van Miga

Die geskiedenis leer ons dat dié belofte van Miga nie in die tyd van Hiskia of enige ander koning na hom gerealiseer het nie.  Die ongehoorsaamheid van die volk het so toegeneem dat die Here toegelaat het dat hulle weggevoer is in ballingskap.  En selfs met die terugkeer na die ballingskap, is hierdie belofte nooit volledig vervul nie.

Tot met die geboorte van Jesus in Betlehem aan die begin van ons jaartelling.

Matteus beskryf in 2:6 Jesus se geboorte as die vervulling van die profesie van Miga 5:1: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.  Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”

Interessant dat Matteus die despotiese Herodes kontrasteer met die Nuwe Koning van die Jode wat uit Betlehem kom.  Die skynbaar veilige Herodes, die Grote, in Jerusalem word gekontrasteer met ‘n bedreigde Jesuskindjie in Betlehem. En die drie wyse manne kom van buite Israel se grense om hulde te kom bring aan die Koning van die Jode – die wêreld wat kennis neem van Jesus, toe die Jode dit nog nie kon raaksien nie.

Daarmee verkondig Matteus die hoop dat daar ‘n redder oppad is, juis toe alles nie daarop gedui het nie, juis toe hulle in ‘n staat van beleg was en al die tekens daarop gedui het dat daar nie redding is nie, selfs nie van die koning wat rigter/redder moes wees nie, maar gruwelik in sy doel faal.

Jesus se geboorte vind dus plaas in ‘n staat van beleg, soortgelyk aan die situasie in Juda in die 8ste eeu, waar Herodes hier probeer om die Jesuskind te vermoor deur alle seuntjies onder die ouderdom van 2 jaar uit te wis.  Terloops: Hierdie Herodes is self kort hierna dood, in 4 v C, wat beteken dat Jesus net voor hierdie datum gebore is.

Matteus gebruik dus Miga se profesie nie net om bloot die geboorteplek van Jesus aan te dui nie. Hy wys hoe die hoop midde in die wanhoop gestalte kry; hoe die Redder gebore word as ‘n kind en deur die ingrype van die Here beskerm word van die magtige koning wat sy lewe bedreig en daarmee saam die hoop vir die volk van God.

Wat sê dit vir ons?

1.  Die Here wil vanoggend aan moontlike siniese en mismoedige mense sê dat Hy nog steeds met ons besig is. En met ons geskiedenis. Ek dink ons lees die koerante en neem kennis van soveel onreg en verydeling, dat ons wanhoop aan ‘n toekoms.  En dit is nie net in die koerante wat ons van ander mense dié dinge lees nie, ons ervaar dit aan ons lyf.  Net in my kleiner vriendekring dié week was daar drie gevalle waar ons deel van die statistiek van dié land geraak het: ‘n Taxi wat Rethie van Niekerk se motor afskryf, vier jong mans wat Stephan en Alida Bothma se dogter Karlien en ‘n vriend probeer beroof, en twee vrouens wat in ‘n restaurant Christelle Strydom se handsak onder ons oë steel.

Nou, ‘n mens kan alreeds dankbaar wees dat daar soveel geluk by die ongeluk was, Rethie kon dood gewees het, as die motor voor haar nie begin beweeg het nie, Karlien hulle het net skrape opgedoen en het niks verloor nie, en Christelle kon haar kaarte stop voor daar geld uitgetrek is.  En die waarde van ‘n gemeenskap waarbinne ‘n mens opgevang is en wat oor en weer kan sorg en instaan en omgee, kan ‘n mens nie oorskat nie.

Maar breër as dit kan ons moed skep uit ‘n paar ander goed wat ons ook in die koerante kan lees, dié week bv. oor die hele projek by Addo, met mense wat op grondvlak die nood in die vorige eeu raakgesien het, toe die olifante byna uitgeroei is, grond gekoop het, ‘n natuurbewaringsprojek begin het en dit uitgebou het sodat ons nie nou net meer as 400 olifante in Addo het nie, maar die grondgebied gaan uitbrei en die enigste plek in die wêreld gaan wees waar die Groot Sewe besigtig kan word.

Dit is sulke tipe inisiatiewe wat nodig is, ook hier by ons, sodat misdaad en roekeloosheid die hoof gebied kan word.  En ek probeer nou nie sê dat ek daarmee ‘n aller antwoord gee wat die pyn van verlies gaan verlig nie, maar slegs sê dat waar meer sulke inisiatiewe kom, sal die impak van wetteloosheid minder wees.

En moenie dink dat sulke dinge nie vir God belangrik is nie. Hy wil nie net vir ons in die hemel kry nie.  Hy wil sy koningskap oor alle terreine van die aarde uitbrei, soos Miga dit al voorspel het.  En elke inisiatief wat orde en verantwoordelikheid en veiligheid en respek vir ander bring, is ‘n inisiatief wat die koninkryk laat kom.

2. Die gedeelte wil ook sê dat God meesal (altyd?) anders opereer as wat ons dink en wil. Dat ons tragedies sy triomfe kan word. Hiskia het gefaal in sy koningskap in die tyd van Miga.  Sy pa, Manasse het ook gefaal.  Ten spyte van Josia se hervormings in die tyd van Jeremia geleef het, het sy opvolgers ook gefaal en is die volk in ballingskap weggevoer.  En ten spyte van die terugkeer na die ballingskap het die volk nooit weer dieselfde hoogtes bereik as in die tyd van Dawid en Salomo nie.  Selfs die profete stem het stil geword na Maleagi … totdat Jesus in Betlehem gebore is.  En alles het daarna verander.  Die tragedie van die Joodse konings het die triomf van die Seun van Dawid, Jesus geword.

Wat nodig is, is dat ons Hom nie in die slegte tye verlaat nie. Dit is waar dat ons, soos Johan Rossouw sê, God as ‘kontrasterend’ kan beleef. Dat ons Hom soms as oordelend kan ervaar. Dat die God wat vir ons is, soms as die God wat teen ons is, ervaar kan word; Een wat teister in plaas van troos; Een wat aanval in plaas van red. Hy is immers nie net Redder nie, Hy is ook Regter.

Maar ons moet onthou, dat al sal God nie noodwendig altyd die goeie oor ons bring nie, is die goeie nuus, dat HÝ in die slegte tye nie verander nie, dat Hy steeds die Een bly wat ons tragedies in triomfe kan verander.

Die gedeelte wil ons dus aanspoor om aan hierdie God vas te hou. As die lewe vir ons ‘n raaisel word, kan ons weet dit is tog ‘n raaisel met hoop, want daar is vir ons Een gebore, en Hý is vir ons prysgegee, en Hy sal vrede bring.

As ons vanoggend hierdie boodskap gehoor het, kan ons hoopvol hier uitgaan – dit is wat Miga, Matteus en Kersfees wil sê.

Gebed

Geloofsbelydenis

Dankoffers

Slotlied

Lied 345 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem! Vers 2 dames eerste deel, almal refrein; vers 3 mans eerste deel, almal refrein

Seën

Amen

Lied 314

Sefanja 3:14-20 – God is bly oor jou – Son 13 Des 09



Sefanja 3:14-20

13 Desember 2009

Verwelkoming

Hierdie Sondag word Vreugde Sondag genoem. Pienk kers.  Dit is ook die simboliek agter die trompet prent van die PowerPoint.

Hier is sommer ‘n storie op Vreugde Sondag om ons te laat glimlag:

Many years ago, before anti-discrimination laws were in effect, Mrs. Rosenberg was stranded late one night at a fashionable resort on Cape Cod – one that did not admit Jews.

The desk clerk looked down at his book and said, “Sorry, no room. The hotel is full.”

The lady said, “But your sign says that you have vacancies.”
The desk clerk stammered and then said curtly, “You know that we do not admit Jews. Please try the other side of town.”

Mrs. Rosenberg stiffened noticeably and said, “I’ll have you know, I have converted to your religion.”

The desk clerk said, “Oh, yeah, let me give you a little test. How was Jesus born?”
“He was born to a virgin named Mary in a little town called Bethlehem,” she replied.
“Very good,” replied the clerk. “Tell me more.”

“He was born in a manger.”

“That’s right,” said the hotel clerk. “And why was he born in a manger?”
Mrs. Rosenberg said loudly, “Because some idiot behind a hotel desk wouldn’t give a Jewish lady a room for the night! Any more questions?”
“No.”
“Didn’t think so.”

Toetrede

Lied 334 staan

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 209 (2x) staan

Lank, lank terug in Betlehem v1 en 3 sit

Gebed

Skriflesing

Die opskrif van Sefanja plaas dié boek in die tyd van koning Josia van Juda (640-609 v.C.).  Op internasionale gebied was dit die laaste jare van die Assiriese Ryk met die hoofstad in Nineve (die stad Mosul aan die Tigris in moderne Irak).  Sedert die dood van koning Assurbanipal in 633 v.C., was dié Ryk sodanig verswak dat Juda prakties weer as ‘n onafhanklike land gefunksioneer het.

Koning Josia is bekend vir sy hervormingsmaatreëls wat hy in 622 v.C. begin het.  Te oordeel aan die sondes waarteen Sefanja profeteer, moes hy as profeet vóór die hervormings opgetree het.  Die twee konings wat voor Josia regeer het, Manasse en Amon, se bewind was juis gekenmerk deur die aanbidding van ander gode, sosiale ongeregtigheid en korrupsie.  Sefanja se prediking voor die hervormings van Josia, het dus bygedra tot die terugkeer tot die Here tydens sy regeringsjare.  Sefanja waarsku die volk dan ook telkens teen die oordeel van die Here wat uiteindelik sou uitloop op die Babiloniese ballingskap van die ballingskap van 586 v.C.

Sefanja begin met ‘n inleiding (1:1) wat beklemtoon dat wat nou volg, die Woord van die Here is tydens die regeringstyd van koning Josia van Juda.

Die res van Sefanja kan in vier groot afdelings verdeel word.

  • 1:2-2:3 – Die eerste deel van die boek bestaan uit ‘n oordeelsaankondiging oor Juda en Jerusalem. Die oordeelsuitspraak begin universeel (“Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde, sê die Here” – 1:2) en word dan toegespits op Juda en Jerusalem. Die oordeel gaan plaasvind op die dag van die Here. Let wel, die moontlikheid van uitkoms is egter nog daar (“Miskien bly julle die straf gespaar…” – 2:1-3).
  • 2:4-15 – Die tweede deel bestaan uit ‘n oordeelsuitspraak teen die heidense bure van Juda.
  • 3:1-8 – Die derde deel is ‘n samevatting van die eerste twee dele en bevat ‘n oordeelsuitspraak teen Jerusalem (3:1-5) én die heidense nasies (3:6-8).
  • 3:9-20 – Deel vier van Sefanja bevat egter ‘n boodskap van troos en redding vir beide die heidense nasies én Juda.

Lees Sefanja 3:14-20

Woordverkondiging

Ons is baie gewoond daaraan om oor God te dink as ‘n God van oordeel.  Soos dit ook duidelik blyk uit die eerste drie dele van die boek Sefanja.

Ons dink ook oor Hom as ‘n God van genade, soos Sefanja beskryf in hoofstuk 3.

Maar, hoe baie dink jy aan God as ‘n God wat bly is oor jou, soos Sefanja hier doen in vers 17?

God is bly oor jou

Sefanja beskryf God besig om te sing, vers 17: “Hy is vol vreugde oor jou … Hy jubel en juig oor jou.”

En dit is nie ‘n sagte ingehoue lied nie.  Die Hebreeuse woorde praat van jubeling.  Dit is ‘n jubeling soos ‘n bruidegom oor sy bruid bly is.  Of ‘n blydskap soos toe Dawid voor die ark gedans het.  God is bly.

Die prentjie wat hy teken is van ‘n God wat nie daar ver besig is om ons met arendsoë dop te hou nie.  Hy is nie die God van Bette Midler se lied: “From a Distance” nie.  Nee, Hy is naby, Hy is by jou.  Hy is vol vreugde.  Hy is bly oor jou.

Hoe pragtig staan daar nie in vers 17 nie: “Hy is stil-tevrede in sy liefde.”  Die woordjie stil-tevrede kan ook met rus vertaal word.  Hy is rustig-tevrede in sy liefde oor jou.

Geen wonder dat CS Lewis gesê het nie: “The chief business of heaven is joy.”

Ek lees dié week die verhaal van die Ledford familie in Amerika.  Burnam Ledford was ‘n formidabele man, gebore in die laat 19de eeu.  As hy terugdink aan sy vormingsjare is daar een spesifieke insident wat uitstaan bo al die ander.  Dit was toe hy sy ouma-grootjie gaan besoek het toe hy 5 jaar oud ws.  Sy is reeds die vorige eeu gebore, in die tyd van George Washington, en reeds vir baie jare blind.  Ledford onthou haar hoe sy in ‘n groot stoel gesit het.  Sy het hom nader getrek na haar toe, en met haar krom vingers oor sy oë, neus en gesig gevoel om uit te vind na wie hy lyk.  En toe gesê: “Yep, he’s one or ours.” Lenford onthou dit as ‘n moment wat hom gehelp het om te verstaan wie hy was: Een van ons.

Dis hoe God oor ons voel: Jy is een van myne.  En Hy is bly oor jou.

Dit laat my dink aan die predikant wat besig was met preekmaak toe sy 3 jarige dogtertjie inkom en vra of hy nie met haar wil speel nie.  Hy sê toe, hy kan nie nou nie, maar so oor ‘n uur.  Sy is toe heel tevrede, en sê, ek sal pappa ‘n groot drukkie gee as ons netnou speel.  Terwyl sy so uit sy studeerkamer loop, draai sy egter om en hardloop na hom toe en gee vir hom ‘n groot druk.

Hy sê toe vir haar, maar ek dog jy gaan my netnou eers druk?  Haar antwoord – ek wou vir pappa wys waarna pappa kan uitsien.

Dit is hoe God oor ons voel – soos ‘n drie-jarige dogter wat nie kan wag om ‘n groot drukkie uit te deel nie.

Daarom is dit so merkwaardig vir my dat wanneer God Sy eerste Woord spreek in die Nuwe Testament, die Woord ‘n baba word! ‘n Kind word met ‘n loflied aangekondig, nie met die donderweer en weerligstrale van ‘n oordeelswoord nie. ‘n Kind word gebore by flou lig, in die stilte van die nag.  In plaas van ‘n Woord wat die berge skud, wat riviere van lava oor die berge laat afvloei, word die Woord ‘n kind, wat aangeneem kan word en ons nie kan seermaak nie, ‘n  Woord wat ons nie kom bangmaak nie.

Dit is ‘n prentjie van God wat ons vandag moet omhels.

Mense is baie keer gereed vir God se woede en glo God is geregtig daarop om so oor mense te voel. Wat egter so merkwaardig is, is wanneer Hy onder ons bly, ongeag hoe ons Hom seergemaak het, kom Hy na ons in liefde, selfs as ‘n Kind wat vatbaar en broos is.

Geen wonder dat Henri Nouwen sê in The Life of the Beloved, die belangrikste ding wat jy en ek oor onsself behoort te weet, is dat ons die geliefde van God is.

En Sefanja bevestig dit alreeds in die OT!

Dis met die wete waarmee jy en ek moet leef!

God verander jou lot

Maar dit is nie al manier waarop God hier geteken word nie.

God word ook hier geteken as die Krygsman, die een wat ‘n einde maak aan die straffende vyand; wat die rampe afweer, wat die moedeloses opbeur: “moenie jou hande moedeloos laat hang nie!” – vers 16.   Hy red en Hy maak bymekaar, dié wat treur van ver af in die ballingskap, wat die smaad namens almal gedra het, en dié wat vernederd agtergebly het in Jerusalem.

Dit sê vir ons, God se glimlag oor ons, sy blydskap oor ons, is die glimlag van ‘n Oorlogsheld, wat sy swaard gebruik om die kwaad af te weer, en weer orde en vrede bring.  Dit is waarom Hy ‘n lied kan sing oor sy mense, want Hy kan hulle lot verander.

En let op hoe groot God se visie van die verandering is.  Dit is opvallend dat in vers 14 en 15 Israel telkens naas en uitruilbaar met Jerusalem gebruik word. Die inwoners van Jerusalem sowel as die verstrooide volk van die Here (vgl. 10) sal in die heil deel as die nuwe volk van God.

D.w.s., beide dié mense wat weggevoer is, as dié wat agtergebly het met die ballingskap gaan deel in God se vreugde en die verandering wat Hy gaan bring.

Nou, ons weet uit Jeremia se brief aan die ballinge in Babel, dat die mense in ballingskap ongelooflik moedeloos was, toe dít wat Sefanja aangekondig het gaan gebeur, inderdaad plaasgevind het, en veral die Joodse adel weggevoer is.  En dat dié wat agtergebly het, gedink het dat hulle beter daaraan toe was, en eintlik neergesien het op die ballinge.

God se visie is egter, dat beide dié wat weggevoer is, én dié wat agtergebly het, in sy nuwe volk saamgesnoer sal word.

Hy bring dié wat ver van die feestelikheid af is nader.  Hy help die kreupeles.  Hy maak die verstrooides bymekaar.  Hy verander hulle vernedering dat hulle weer in ere herstel is.

En voeg Hy daaraan toe – Julle sal dit met julle eie oë sien. Julle lot sal verander word.

Wat sê dit vir my?

Eerstens – eien dit vir jouself toe

Julle sal dit met julle eie oë sien!  Vers 20!

Ek weet nie wat jou pyn of verwagting is nie.  Maar dié boodskap is nie vir ‘n veraf tyd nie.  Dit is vir nou.  Jy kan dit vandag vir jou toe-eien.

Tweedens – wees altyd bly

1 Tessalonisense 5:16: “Wees altyd bly.”

In ‘n tyd waar jy nie die koerant kan oopslaan sonder om ‘n angsaanval te kry oor watter ramp nou al weer die land of die wêreld getref het nie, kom hierdie oproep tot lewensvreugde. En dit uit die Bybel!

Ons moet ontdek dat ons geskape is om vir God ‘n plesier te wees. Die pragtige Westminster belydenis sê immers dat die hoofdoel van die mens is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.

Is dit nie waarvan die engele sing by Christus se geboorte nie, oor die groot blydskap wat met Hom gekom het? Noem die dissipels nie die Christusverhaal die goeie tyding, die blye nuus, die evangelie nie? Sê Jesus nie self: “Dit sê ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” nie?

C S Lewis was reg toe hy sy boek oor redding Surprised by Joy genoem het en gesê het dat die hemel se hoofsaak die vreugde is.

Dit is die wonder van Kersfees, en van die geboorte van Jesus in ‘n stal in Bethlehem.  God wat bly is, wat sing, wie se stem weergalm oor die aarde, daar by die herders eenmaal, maar ook hier by ons.  Ek is bly oor jou.  Ek stuur my Seun vir jou.  Ek sing omdat Ek bly is oor Hom en wat Hy vir jou kan beteken.  En jy sal dit vandag ervaar – die belofte is vir nou.

Derdens – sing jou lied oor God met hande wat omgee vir ander

God se lied moet ons aansteek om self ‘n lied oor Hom te sing.

Interessant is hoe Sefanja hier die volk aanmoedig om op drie maniere te sing:

  • Eerstens moet hulle bly wees oor die groot krag van hulle koning, die een wat hulle vyande kan oorwin.
  • Tweedens moet hulle bly wees oor die Koning se invloed regoor die wêreld, want hy kan nasies oordeel.
  • Derdens moet hulle bly wees, want dié Koning is in hulle midde.

Hierdie dinge moet hulle laat uit jubel en sing.  Soos Sefanja sê: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly!  … Die Here jou God is by jou.”

Maar, en dit is belangrik, dié lied is ook ‘n lied wat ons met ons hande moet sing – ons hande hoef mos nie meer moedeloos langs ons sye te hang nie, soos vers 16 sê!

Dit beteken dat ons na ons naaste moet omsien en ‘n lied in hulle hart moet bring (verhaal van Nxelo).

Feredinand Deist het gesê, soos Christus in ons gestalte kry, neem Hy soms die gestalte van armes, noodlydendes en verdruktes aan. En Hy wag gespanne om te sien of die liefde ons na ons naaste dryf, soos ons ook Matteus 25 lees, waar die skape en die bokke juis geskei word oor wat hulle aan hulle naaste gedoen het.

En waar dit gebeur, bring ons ‘n stukkie van die toekoms in die hede in en breek ‘n deel van die nuwe hemel en aarde deur waarop ware blydskap en vreugde vir ewig sal woon.

Voorbidding

Dankoffers

Orrel: Lied 358 (Somerkersfees)

Slotsang

Lied 417 staan

Seën

Lied 228

The Dawkins Delusion? Atheist fundamentalism and the denial of the divine

1. Deluded about God?

In ‘n eerste hoofstuk antwoord die McGraths Dawkins se argumente dat geloof 1) infantile en 2) irrational is en gebaseer is op ‘n Godsbeeld wat 3) uiters onwaarskynlik is en eintlik net 4)  ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis is (The God of the gaps).

Vele gevalle van mense wat later in hulle lewe eers begin glo het, sowel as die wêreldwye toename in geloof, maak argument 1 onwaar en onsinnig.  Dawkins se 2de argument, dat geloof onredelik is, word deur sy eie metodiek ondergrawe, deurdat hy óf Christen teoloë verkeerd aanhaal (Tertullianus) óf hulle argumente ongenuanseerd aanhaal (Luther).

Die argument oor God se onwaarskynlikheid berus op die idee dat alles wat iets anders verduidelik, ook self verduidelik moet word.  Dawkins dink dat God self ook verduidelik moet word, anders is dit onwaarskynlik dat Hy bestaan.  McGrath wys twee foute in hierdie redenasie uit.

  • Eerstens het Dawkins geen probleem met die wetenskaplike soeke na ‘n “grand unified theory” of “theory of everything”, maar wel as die Christelike godsdiens dit doen.  Dit wys onteenseglik daarop dat hy inkonsekwent in sy argumentasie is.
  • Tweedens is dit ook onwaarskynlik dat die mens bestaan, soos Dawkins self argumenteer in Climbing Mount Improbable, maar tog is ons hier.  Onwaarskynlikheid is dus nie ‘n argument vir nie-bestaan nie, en kan dus nie as argument aangevoer word vir God se nie-bestaan nie.

God as ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis, is ‘n argument wat geen teoloog meer voer nie.  Dit beteken dat dié argument van Dawkins ook platval.  McGrath haal dan vir Richard Swinburne aan wat aanvoer dat die blote kapasiteit van die wetenskaplike soeke na verklarings self verduideliking nodig het en dat die mees ekonomiese en betroubare rede hiervoor in die idee van ‘n Skepper God lê.  Dit is dus nie die gapings in ons kennis wat na God wys nie, maar die feit dat ons die kapasiteit het om kennis te kan opdoen wat na God wys.

2. Has science disproved God?

Regdeur Dawkins se aanpak in The God Delusion is daar die fundamentele aanname dat die wetenskap God se nie-bestaan bewys het.  Die wat aangaan om in God te glo, is mislei.  Ateïsme is die enigste opsie vir die ernstige denkende persoon.  (Die ateïs Stephen Jay Gould is nader aan die waarheid, as hy die redelikheid van beide geloof en ongeloof aanvaar, soos hy dit onder sy wetenskaplike kollegas aantref.  Wetenskaplike uitnemendheid is nie gelyk te stel aan ateïsme.)

McGrath wys egter uitvoerig aan dat die wetenskappe nie “ultimate questions” of meaning kan beantwoord nie (Karl Popper).  Die groot vrae van die lewe kan nie deur die induktiewe afleidings van die wetenskappe bewys of afgewys word nie, dinge soos die betekenis van die lewe en die bestaan van God.  Die wetenskappe se beperking lê in die feit dat dit slegs die waarneembare fenomene van die werklikheid kan beskryf en nie dieper vrae oor bv. die doel daarvan nie.

3. What are the origins of religion?

In hierdie hoofstuk neem McGrath Dawkins se ontwikkeling van Ludwig Feuerbach se idees oor God as ‘n projeksie van menslike behoeftes onder die loep.  Dit is immers die kern argument van ateïsme.

Feuerbach se argument het min of meer as volg geloop:

Daar is nie ‘n God nie.

Baie mense glo in God.  Hoekom?

Want hulle soek vertroosting.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God”.

McGrath wys egter hoe absurd dit is om uit ‘n behoefte af te lei dat iets nie bestaan nie.  Die feit dat ‘n mens dors is, beteken tog nie dat ‘n mens ‘n uitspraak kan maak oor die bestaan óf nie-bestaan van water nie.  ‘n Mens sou die argument ook as volg kon omkeer:

Daar is ‘n God.

Baie mense glo nie in God nie.  Hoekom?

Want hulle soek selfstandigheid en onafhanklikheid.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God-bestaan-nie”.

Dawkins se kern-oortuiging van die bestaan van godsdiens is dat dit “accidental” is.  Interessant dat hy nie die logiese gevolgtrekking maak dat dit daarom deel van die evolusie proses ook van die mens is nie, want dit is immers ook die fundamentele aanname oor die evolusie proses, dat dit toevallig is.

Die belangrikste vraag wat McGrath egter aan Dawkins stel, is waar is die wetenskaplike ondersoek hiervan?  Een van die redes vir dié gebrek in Dawkins se aanpak, is dat hy nie probeer om ‘n definisie van godsdiens te gee nie, en hoogstens na die gevolgtrekkings van uitgediende navorsing uit die 19de eeu verwys (Sir James Frazer).  ‘n Nog dieper gebrek is dat Dawkins nie onderskei tussen godsdiens en die vraag na God en geloof in God nie.

Twee idees van Dawkins word vervolgens bespreek, 1) die idee van God as ‘n soort “virus of the mind” en 2) die idee van ‘n kulturele replikator (oordraer) wat hy op voetspoor van die gene-navorsing (’n geen is ‘n biologiese replikator) ‘n meem noem.  Die blote feit dat nie een van hierdie idees in die wetenskaplike wêreld enige groot aanhang gekry het nie, wys alreeds op die swak onderbou van Dawkins se argumente.  Daar is geen wetenskaplike getuienis vir enige van die twee idees nie.

4.  Is Religion evil?

Die Mc Graths stem saam met Dawkins dat godsdiens bose dinge kan te weeg bring,  Hulle wys egter uit dat dieselfde van ateïsme gesê kan word, waarvan die ateïstiese Soviet geweld ten godsdiens in die 20ste eeu ‘n prima voorbeeld is, iets wat Dawkins gerieflik verswyg.  Elke godsdiens moet ook aan sy beste eksponente en sy basis dokumente getoets word, nie net aan die bose uitwasse daarvan nie.

Slot

Samevattend: Dawkins se kritiek op geloof in God is onwetenskaplik.  Hy werk met uitgediende idees oor geloof en God wat eerder van randfigure af kom en nie gewig dra in die hoofstroom godsdienste nie.  Sy poging om biologiese verklarings van toepassing te maak op godsdienstige en kulturele idees slaag nie.  Dit is eerder ‘n verbete poging van ‘n oortuigde ateïs om geloof ten alle koste verdag te maak, maak nie saak hoe swak of hoe onoortuigend sy argumente is nie.

Die McGraths sluit af met die betekenisvolle vraag:

Might atheism be a delusion about God?”

Dag 5 – Om met toewyding te leef

Lees Matteus 16:24-26

Al het Jesus hierdie woorde aan sy dissipels gerig, is dit tog woorde wat ook elke dag vir ons oproep tot dieselfde optrede.  Jesus maak dit duidelik dat hy ‘n algehele toewyding van sy volgelinge verwag.  As ‘n mens nie alles gee nie, verloor jy alles.  As jy alles prysgee, kry jy juis die volle lewe.

Een van Og Mandino se tien algemene oorsake van mislukking is dat jy toe vroeg tou opgooi.  Hy vertel die storie van mans wat in ‘n droë rivierbedding diamante gedelf het.  Op ‘n dag het ‘n moedelose Raphael Solano gesê dat hy nou 999 999 klippe opgetel het,  Dis nou genoeg, hy gee nou op.  Die ander sê toe hy kan dan net so goed nog een klip optel om dit ‘n miljoen te maak.  Daardie miljoenste klip was toe grootste en suiwerste diamant wat nog gevind is!

Jesus sê aan sy volgelinge:  Neem julle kruis op en volg My.  Niks minder as ‘n algehele toewyding sal die vervulling en geluk wat jy soek, bring nie.

Dag 4 – Hoe dit werk

Lees Habakuk 3:17-18

Geloof, oorgawe, toewyding … ten spyte van!  ‘n “Danksy- geloof” is nie geloof nie, dit is ‘n ruil transaksie.  Om te sê ek sal toegewyd wees as …, is tog om nie op God gefokus te wees nie, maar eerder op wat Hy vir jou kan doen of gee!  Habakuk sê selfs al sou hy niks in ruil vir sy oorgawe ontvang nie, dan sal hy steeds toegewyd aan God wees.

Geen mens sal sy of haar lewe aan iets onbelangriks toewy nie.  Uiteindelik is die vraag oor ons toewyding aan God die vraag oor hoe belangrik God vir ons is.