Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Ps 37 Huisgodsdiensmateriaal – 27 Nov 2011

Rus

  • ­ Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
  • ­ Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor

Lees Psalm 37:1-6 uit Die Boodskap:

1Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie. Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie.  Moenie op hulle jaloers wees nie. 2Hulle verdwyn sommer op ‘n dag. Vandag is hulle daar; môre is hulle weg. 3 Glo liewer in die Here. Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly  getrou aan die Here. 4 Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy  sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. 5 Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. 6 Hy sal jou op die regte pad hou. Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef.

  •  ­ Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal).  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die Psalm – wat sê dit vir julle?
  • ­ Laat elkeen vertel wie die “slegte mense” is wat hulle pla.  Gesels oor wat hierdie Psalm julle leer oor hoe julle kan reageer op daardie mense.
  • ­ Kyk ook na Fil 4:6-7 (uit diebybel@kinders.co.za):

As jou hart seer is, of jy bang is of miskien nie weet wat om te doen nie, gaan vra God om jou te help.  Bid en vertel hom hoe jy hier binnekant voel.  Hy sal jou help, want hy kan jou help.  Moenie bang wees dat hy ou ooit sal vergeet nie.  As jy gebid het, hoef jy nie meer bang te wees nie.  Jesus is mos jou goeie Vriend.  Al verdwyn al die dinge waarvoor jy bang is nie dadelik nie, kan jy maar solank vir die Here basie dankie sê. Hy sal jou help.  Daarvan kan jy seker wees.

Leef

  • ­ Wat vra God nou van julle?  Vertel vir mekaar wat julle gaan doen in reaksie op die Psalm.
  • ­ Sondag (20/11) wat Biddag vir Beskermingsdiense.  Bid vir die polisie – dat hulle veilig sal wees en reg sal doen. Dalk kan julle selfs vir hulle blomme of koekies vat?
  • ­ Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

 

Psalm 29 Huisgodsdiensmateriaal – 20 Nov 2011

Rus

  • ­ Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
  • ­ Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor

Lees Psalm 29 (probeer om dit uit ‘n eenvoudiger vertaling te lees).

  • ­ Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal).  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die Psalm – wat sê dit vir julle?
  • ­ Verduidelik vir die kinders wat dit beteken om God te loof.  Laat die kinders saam dink waarvoor ons God alles kan loof.

 Leef

  • ­ Loof die Here!  Laat elkeen sê wat hul gunsteling loflied is en sing dit saam.
  • ­ Bid ‘n gesamentlike lofgebed – maak beurte om vir God te sê waarvoor julle hom loof.
  • ­ Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

 

Psalm 29 Kleingroepmateriaal – 20 Nov 2011

Ons lees die Psalm met die Lectio Divina metode:

1.  Kom tot rus – (Silencio)

Gee ’n tyd van stilte.  Dink aan dinge wat jou ontstel en gee dit een vir een vir die Here.  Dink aan dinge wat jou inspireer en dank die Here daarvoor.  Vra dat die Here deur hierdie Psalm met jou sal praat (5 min).  Die leier sluit af deur Psalm 29:10-11 te bid (effens aangepas): “Die Here heers oor alles, Hy heers vir altyd as koning.  Die Here gee krag aan ons, die Here seën ons met oorvloed” .

2.  Lees die Psalm – (Lectio)

Laat iemand Psalm 29 lees – ’n Lied oor die God van die natuur wat ook vir sy kinders sorg. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref. Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie. Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin:

Psalm 29 is een van die Psalms wat God se teenwoordigheid in die natuur verheerlik.  God se stem word met ’n aantal natuurverskynsels in donderstorms vergelyk om daarmee die inherente en allesveranderende krag van God oor te dra.  Die Psalm sê dus dat die Here nie net die God van die geskiedenis is nie, maar ook die God is van die natuur.  Die Psalm is ‘n lofpsalm met drie dele:

Vers 1-2:

Dawid roep die hemelinge (letterlik “seuns van God” = sy hemelse “familie” of “raad”) op om saam met die geloofsgemeenskap op aarde God te loof en voor Hom te buig en hulle stem by God s’n te voeg.

Vers 3-9:

Dawid loof God vir Sy magtige allesveranderende stem soos ‘n mens dit in die natuur kan waarneem: in die geluid van onweer (vers 3), in die lig van weerligstrale (vers 5-8) en selfs moontlik in aardbewings (“bokspring”, “bewe” in vers 6, 8).  ‘n Mens kan hierdie “stem” van God waarneem op sewe plekke: rivierwaters (vers 3), see/oseaan (vers 3), Libanon (vers 5-6), Sirjon (vers 6 – vgl Deut 3:8-9 = Hermon), woestyn (vers 8), bosse (vers 9), Sy paleis (vers 9) – en natuurlik in die 8ste plek, die geloofsgemeenskap (vers 10-11) wat eintlik weer ‘n volgende deel van die Psalm is.

Vers 10-11:

Dawid sluit af met ‘n versterkende belydenis oor die krag en oorvloed wat hierdie sprekende God vir sy volk gee (vers 10-11) en in wie se lewens Sy stem tot sy reg kom.  Die krag van die Here is nie net ’n wapen wat vernietig of verstom nie.  Dit seën en versorg Sy volk.

Om oor na te dink:

  • ­ ’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is.  Psalm 29 herinner ons dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is.
  • ­ Dat Jesus op die see juis die storm stilmaak (Mark 4:35-41), het ‘n besondere betekenis: 1) wat enige idee dat God met die natuur gelyk gestel kan word, die nek omdraai; en 2) duidelik stel dat God ook in die stilmaak van ‘n storm teenwoordig is, soos natuurlik ook al in 1 Konings 19:12 gesê is, dat God in : “’n fluistering in die windstilte” was.
  • ­ Gelowiges hoor iets – altans behoort iets te hoor – waarvoor ander mense doof is: die stem van God.
  • ­ As ons ore ingestel is op God, dan doen ons die regte goed.

3.  Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)

Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.

4.  Antwoord die Here in gebed – (Oratio)

Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.

 

5.  Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)

Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).

 

6.  Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)

  • ­ Gaan doen wat julle gehoor het!
  • ­ Jy kan ook elke Woensdagaand 17:30-18:30 met Rethie die Psalm van die week met Lectio Divina saamlees.
  • ­ En daarna kan jy die Bybelskool bywoon van 18:30-19:30 oor die ander Psalms wat ons die week saamlees– dié week lees ons Psalms 25-33.
  • ­ Kry die daaglikse dagstukkies oor die Psalms deur te registreer by www.bybelskool.com.

 

Psalm 19 Huisgodsdiensmateriaal – 13 Nov 2011

Rus

  • ­ Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
  • ­ Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

 Hoor

Lees Psalm 19 of luister na Louis Brittz se verwerking daarvan op die CD “Psalms en ander geestelike liedere”. 

Vir die dirigent.  ‘n Lied van Dawid.

As ‘n mens na die hemel kyk wat God gemaak het, kan jy sien hoe groot en sterk hy is.  In die dag en in die nag is die hemel soos iemand wat vertel hoe wonderlik God is.  Die hemel praat nie regtig nie, maar dit wys hoe groot God is.  ‘n Mens kan dit enige plek op aarde sien.  Die hemel is soos ‘n tent vir die son.  In die oggend kom die son uit die tent.  Die son loop oor die hemel soos iemand wat baie trots en bly is.  Die son skyn oral en maak alles warm.

Die Here se Woord is net so wonderlik.  Dit gee jou nuwe krag.  Dit help ‘n mens om te weet wat jy moet doen.  Die Here se wette is reg.  As ‘n mens dit doen, maak dit jou bly.  Dit laat jou verstaan wat jy moet doen.

Dis goed om vir die Here respek te hê.  Die Here se Woord is waar.  Die Here se Woord is meer werd as baie goud.  Dit is lekker om sy Woord te lees.  Dit help ‘n mens om reg te lewe.  As ‘n mens na sy Woord luister, sal dit baie goed gaan met jou.

‘n Mens doen so maklik sonde sonder dat jy dit weet.  Moet my nie straf oor sonde waarvan ek nie weet nie, Here!  Keer my ook dat ek nie moedswillig sonde doen nie.  Ek is bang dat ek sonde begin doen waarmee ek nie kan ophou nie, Here. As U my help, sal U my nie hoef te straf nie.  Help my om niks te sê of te dink waarvan U nie hou nie, Here!  U is die een wat my beskerm en my red.

  • ­ Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal).  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die Psalm – wat sê dit vir julle?
  • ­ Vertel vir mekaar wat julle laat onthou dat God daar is.  Hoe help die natuur julle om te ont-hou hoe wonderlik God is?
  • ­ Vertel vir mekaar hoe julle God se stem hoor uit die Bybel.  Ouers kan ‘n storie vertel van ‘n spesifieke geleentheid wat God met hulle gepraat het.

 Leef

  • ­ Laat almal in die tuin uitgaan en iets kry wat hulle laat dink aan God se teenwoordigheid.  Kom terug en vertel vir mekaar hoekom jy dit gekies het.  Spandeer hierdie week tyd in die natuur en loof die Here vir sy wonderlike skepping.
  • ­ Eet heuning en sê vir God dankie dat sy Woord net so wonderlik is!
  • ­ Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

 

Psalm 19 Kleingroepmateriaal – 13 Nov 2011

Ons lees die Psalm met die Lectio Divina metode:

1.  Kom tot rus – (Silencio)

Gee ’n tyd van stilte.  Dink aan dinge wat jou ontstel en gee dit een vir een vir die Here.  Dink aan dinge wat jou inspireer en dank die Here daarvoor.  Vra dat die Here deur hierdie Psalm met jou sal praat (5 min).  Die leier sluit af deur Psalm 19:11-12 te bid (effens aangepas): “Die Woord van die Here is kosbaarder as goud, selfs as fyngoud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. U dienaars laat hulle daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is hulle beloning” .

2.  Lees die Psalm – (Lectio)

Laat iemand Psalm 19 – ‘n lied om God te belewe –  lees. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref. Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie. Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin:

DIE PSALM HET TWEE FOKUSPUNTE:

GOD BESTAAN – Die heerlikheid van God in die skepping

  • In vers 2 word die sigbare heerlikheid van God in die heelal geskets
  • In vers 3-5a word die onsigbare teenwoordigheid van God wat dag na dag en nag na nag op ‘n woordelose maar ervaarbare manier oorgedra word besing.
  • In vers 5b-7 word die son as sigbare verteenwoordiger van God geskets wat van die een kant van die aarde af tot die ander kant die wêreld verlig en verwarm met sy gloed.

GOD PRAAT – Die heerlikheid van God binne ons

  • In vers 8-10 word die waarde van die Woord beskrywe in terme van die impak wat dit in ‘n mens se lewe kan hê, nie as ‘n paaiboelie nie, maar as ‘n inspirasie.
  • In vers 11 word die waarde vergelyk met dié van goud en heuning
  • In vers 12-13a word dié waarde uitgespel as ‘n leerervaring wat uitmond en afsluit …
  • In vers 13b-15 met die gebed dat God van binne-af sal verander, sal reinig deur sy Woord en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

OPGESOM:

God bestaan. God is teenwoordig.  Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag.  Jy voel dit brand op jou vel in die dag.

God praat. Jy kan dit ervaar in die effek wat die Woord op jou kan hê.  Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek.  Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart.

NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer.  Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel:

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.  Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.

KOLOSSENSE 1:15-20

In Kolossense 1:15-20 werk Paulus met ‘n herinterpretasie van hierdie Psalm, en noem hy Jesus die vervulling van die skepping (1:15-16) sowel as van die verbond (1:18b-20).  Die SkepperGod is ook die verlossende VerbondsGod. Die verskil tussen Psalm 19 en Kolossense 1 is natuurlik dat die teologie van Jesus, die Messias, die een deur wie beide die skepping as die verlossing te weeg gebring is, die verhaal van Psalm 19 herskrywe.  Let ook op hoe daar in Kolossense klem gelê word op Jesus as die beeld van God, met woorde wat aan die skeppingsverhaal ontleen is (Gen 1:26).

3.  Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)

  • Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.

4.  Antwoord die Here in gebed – (Oratio)

  • Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.

5.  Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)

  • Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).

6.  Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)

  • Gaan doen wat julle gehoor het!
  • Jy kan ook elke Woensdagaand 17:30-18:30 met Rethie die Psalm van die week met Lectio Divina saamlees.
  • En daarna kan jy die Bybelskool bywoon van 18:30-19:30 oor die ander Psalms wat ons die week saamlees.
  • Kry die daaglikse dagstukkies oor die Psalms deur te registreer by www.bybelskool.com.

Psalm 14 Huisgodsdiensmateriaal 31 Okt – 6 Nov 2011

Rus

  • ­ Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
  • ­ Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

 Hoor

Lees Psalm 14.

Vir die dirigent.  ’n Lied van Dawid.  Mense wat niks van God wil weet nie, sê vir hulself daar is nie ’n God nie.  Daarom doen hulle slegte dinge.  Nie een van hulle doen wat goed is nie.

Die Here het uit die hemel gekyk om te sien of daar iemand is wat slim is, wat tot hom bid.  Maar hy kon niemand kry nie.  Nie eers een mens het gedoen wat reg is nie.

Weet al daardie mense dan niks nie?  Hulle laat my volk se mense baie swaar kry.  Hulle vat al my volk se goed vir hulle en lewe lekker daarvan.  Hulle bid ook nie tot die Here nie.

Maar hulle sal skielik skrif, want God is by die mense wat reg lewe.  Julle slegte mense:  julle maak of die arm mense niks is nie.  Maar die Here pas hulle op!

Ag, mag die Here die Israeliete uit Jerusalem kom help.  As die Here dit weer met sy volk laat goed gaan, sal hulle baie, bale bly wees.  (diebybel@kinders.co.za)

  •  Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal).  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die Psalm – wat sê dit vir julle?

 Leef

  • ­ Die Psalm sê dat dwase mense mense is wat nie God se leiding soek nie – wat nie leef soos God wil hê nie.  Kan julle vir mekaar vertel van kere wat julle soos dwase opgetree het en wat die gevolge was?
  • ­ Slim mense is volgens hierdie Psalm mense wat volgens God se wil leef en hom vertrou.  Is daar iets spesifiek in jul elkeen se lewe waarvoor julle op die oomblik God moet vertrou of God se wil soek?  Vertel vir mekaar daarvan.  Bid saam vir die spesifieke sake.
  • ­ Maak ‘n lys van goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.