Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Joh 12 (2) Week vanaf 26 Maart 2012

Huisgodsdiensmateriaal 26 Maart – 1 April 2012

RUS

• Wat het die week gebeur waarvoor julle dankbaar is? Vertel vir mekaar en sê vir die Here dankie. Laat iemand dan bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Johannes 12:12-15. Lees dit uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.

Gesels oor die teksgedeelte.

• Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?

• Die mense het takke gewaai omdat hulle vir Jesus wou wys hulle is lief vir hom soos wat ‘n mens lief is vir ‘n koning.

• Wat beteken dit dat Jesus jou koning is?

• Hoe kan jy vir Jesus wys dat jy lief is vir hom?

LEEF

• Maak Palmkruisies! Kyk by http://www.kingofpeace.org/palmcrosses/ hoe om dit te doen. As julle wil, kan julle sommer baie maak. Bring dit dan Sondag saam kerk toe en gee dit vir van die mense.

• As julle Sondag aan die diens wil deelneem deur palmtakke of klere te swaai, kontak vir Rethie.

• Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir die dinge op jul lys.

Joh 12 Week vanaf 19 Maart 2012

RUS

  • Die skool sluit hierdie week!  Dink hierdie week saam terug oor die afgelope kwartaal.  Wat het die Here in julle lewens gedoen?  Wat het julle geleer?  Sê vir die Here dankie in gebed.
  • Laat iemand dan bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Johannes 12:27-33  uit Die Nuwe Testament vir kinders.

“Ek voel so ’n bietjie omgekrap,” sê Jesus. “Moet Ek bid: ‘Vader, help My om nie dood te gaan nie?’ Nee! Ek het juis gekom om dood te gaan, maar weer lewendig te word. Ek sal liewer bid: ‘Vader, doen wat gedoen moet word. Dan sal mense sien hoe groot en sterk U is.’”

“Ek het al vir mense gewys hoe groot en sterk Ek is. En Ek sal dit weer doen,” sê ’n stem skielik uit die hemel uit. Vir party mense het die stem soos donderweer geklink.

“Dit het soos ’n engel geklink,” sê ander.

“Dit was ’n stem,” sê Jesus. “Hy het met julle gepraat. Mense gaan een van die dae hoor wie reg is en wie verkeerd is. Party mense dink mos die duiwel is die sterkste. Maar hy is platgeslaan. Hy kan niks meer doen nie. Ek is die sterkste. Ek gaan op ’n kruis opgelig word. My vriende sal by My wees; daarvoor sal Ek sorg.”

 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Ons vier hierdie vakansie Paasfees.  In dié tyd gaan ons spesiaal dink aan Jesus se kruisiging en opstanding.  Hierso praat Jesus reeds oor sy swaarkry, wat hy weet naby is.  Kan julle uit hierdie teks agterkom hoekom Jesus moes swaarkry en doodgaan?
  • Hoe help Jesus se kruisiging en opstanding ons om te weet hoe groot en sterk God is?

LEEF

  • Paasfees is die beste tyd in die kerkjaar!  Dis is die tyd waaroor Christene die blyste is – selfs meer as Kersfees!  Wat van julle gebruik die tyd voor Paassondag spesiaal om saam aan Jesus te dink?  Gesels hoe julle die vakansie spesiaal saam met Jesus gaan vier.
  • Woensdag is Menseregtedag.  Ouers verduidelik vir kinders wat menseregte is. (Julle kan dalk by die ouer kinders hoor of hulle al by die skool gesels het oor kinders se regte.  Laat die kinders vir julle vertel wat daardie regte is – of soek dit op die internet.)  In Suid-Afrika is daar baie kinders in tronke, kinders wat mishandel word, kinders wat nie skool toe gaan nie, kinders wat nie genoeg kos of klere het nie en kinders wat nie ‘n huis het om in te woon nie.  Bid spesiaal vir hulle, dat die Here hulle sal bevry en versorg.  Bid ook dat God mense sal stuur om hierdie kinders te help.  Dink dan saam wat julle kan doen.  Onthou, ons moet nooit vir mense/kinders op straat geld gee nie – sodoende hou ons hulle net op straat.  Die Thand’usana Safe Home for Babies in Newtonpark benodig dringend Pelargon Formule melk, asook doeke (2, 3 en 4+), vars vrugte en groente, 1l bokse 100% vrugtesap, ens (besoek hul webtuiste .za/).  Daar is ook Ithemba Lam in Forest Hill, wat ook doeke, formule, kos, ens benodig (gaan kyk hier).  Vir ouer kinders is daar die Kamvalethu Straatwerk Program.  Om meer oor hulle uit te vind, kontak die kerkkantoor.  Moet ook nie vergeet van ons gemeente se eie Barcelona Sopkombuis nie, wat vir kinders in Helenvale kos gee – kontak die kerkkantoor vir inligting.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Fil 4:10-20: Week vanaf 12 Maart

Week van 12-18 Maart 2012

RUS

  • Ons was nou die hele kwartaal besig met Filippense.  Laat elkeen vertel wat dit vir hulle beteken het – wat was jou hoogtepunt of wat het jy geleer?  Hoe het die Gees julle gesin hierdie kwartaal gevorm?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Filippense 4:10-20  uit Die Bybel vir Almal.

Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie.  Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad.  Christus gee vir my die krag om enige iets te doen, maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het.

Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het. Julle het ook ’n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee. [Seën: Wanneer die Here mense seën, dan laat Hy dit goed gaan met hulle.]

Ek het alles gekry wat julle gestuur het en ek het nou genoeg. Epafroditos het vir my die goed gebring wat julle gestuur het, en nou het ek genoeg. Dit wat julle gestuur het, is ’n offer wat julle vir God gegee het, ’n offer wat Hy graag wil hê, ’n offer waarvan Hy baie hou. [Offer: Wanneer mense ge-offer het, dan het hulle iets vir die Here gegee.] My God sal vir julle alles gee wat julle nodig het, want Hy het baie wonderlike dinge wat Hy vir ons wil gee, dinge wat van Christus Jesus kom. Ons prys God, ons Vader, altyd en altyd! Amen.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Kyk hoe Paulus vertel hoe hy altyd tevrede was met wat hy het.  Ons sukkel soms om tevrede te wees – al het ons baie!  Hoe kan ons ook soos Paulus tevrede wees?

LEEF

  • Vertel vir mekaar waartoe Jesus julle nou roep.  Is daar dalk iemand wat julle kan ondersteun soos wat die gemeente in Filippi vir Paulus ondersteun het?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Fil 4:1-8: Week vanaf 4 Maart

RUS

  • Vertel vir mekaar waar julle hierdie week die Here sien werk het.
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Filippense 4:1-9  uit Die Nuwe Testament vir Kinders (kyk ook na The Message se aangrypende vertaling!)

Twee van ons vriende, Euodia en Sintige, is op die oomblik kwaad vir mekaar. Hulle moet asseblief gou weer vriende maak. Ons is mos almal die Here se kinders—ons mag nie kwaaivriende wees nie. Ek vra jou, my goeie vriend, help hulle asseblief om weer goeie vriende te wees. Hulle het al so baie mooi dinge saam vir die Here gedoen. Hulle is soos Klemens en baie ander wat vir Jesus lief is en hard vir Hom werk. Hulle name is op Jesus se lys van almal wat hemel toe gaan.

Wees altyd vrolik en bly, want jy is Jesus se kind. Wees altyd gaaf en vriendelik met jou vriende en ander mense. Onthou dat die Here jou gaan kom haal om saam met Hom hemel toe te gaan.

As jou hart seer is, of jy bang is of miskien nie weet wat om te doen nie, gaan vra God om jou te help. Bid en vertel Hom hoe jy hier binnekant voel. Hy sal jou help, want Hy kan jou help. Moenie bang wees dat Hy jou ooit sal vergeet nie. As jy gebid het, hoef jy nie meer bang te wees nie. Jesus is mos jou goeie vriend. Al verdwyn al die dinge waarvoor jy bang is nie dadelik nie, kan jy maar solank vir die Here baie dankie sê. Hy sal jou help. Daarvan kan jy seker wees.

Moenie oor lelike dinge dink nie, want as julle lelike dinge dink, gaan julle lelike dinge doen. Maar as jy aan mooi dinge dink, gaan jy mooi dinge doen. Moenie verkeerde dinge van jou maats of ander dink nie. Dink altyd aan iets moois oor iemand. Dink aan mooi dinge wat God se hart bly sal maak. God is altyd by jou en by Hom sal jy altyd veilig en gelukkig voel.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Dit gebeur soms dat God se kinders kwaad raak vir mekaar.  Hoe moet ons dit dan hanteer?
  • Dink julle Paulus bedoel ons moet altyd bly wees, al het ons seer gekry?  Hoe kan ‘n mens verstaan wat hy hier sê?
  • Is daar spesifieke goed waaroor van julle tans bekommer of bang is?  Hoe kan hierdie gedeelte julle help om dit te hanteer?

LEEF

  • Vertel vir mekaar waartoe Jesus julle nou roep.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.
  • Bid ook vir mekaar en die goed wat julle in jul gesprek genoem het

Kerkbiblioteek

Hulpmiddels vir Families in ons Kerkbiblioteek

Die biblioteek is oop Sondag-oggende na die erediens.  Aan die bo-kant van die trappe by die mansbadkamer.

aaFaith Begins At Home – The Family Makeover with Christ at the Center

Mark Holmen

In the past, faith was a central part of the family’s home life, yet the reality for many families today is that faith is no more than one-hour, drop off Christianity. To become the strong, healthy, joy-filled families God intended begins with parents establishing their homes as the primary place where faith is nurtured. Faith Begins at Home combines inspirational stories and practical ideas with biblical truth to help families rediscover how to bring the basics of faith back into their home.

aa3Faith Begins @ Home Prayer

Mark Holmen

Parents want to pray at home with their children but many don’t know where to start. Parents will find step by step tips and age-appropriate guides for leading kids into a lifestyle of prayer, as well as true life stories from families experiencing the power and blessing of God in their homes as they develop their “spiritual skills” with their children.

aacFaith Begins @ Home Devotions

Mark Holmen

Christian parents hear all the time about the importance of family devotions, but if they never experienced the impact of seeking God together as a family during their own childhoods, getting started can be intimidating. Parents will find step by step tips and age appropriate guides for leading daily family devotions, as well as true life stories from other parents experiencing the power and blessing of God in their homes as they develop their “spiritual skills” with their children.

aa1Faith Begins @ Home Mom

Maria & Mark Holmen

There is a special bond between mothers and their children. In Christian families, this bond can grow beyond biology to the life of the spirit, but many moms don’t know how to begin nurturing their children’s relationship with God. Moms will find step by step tips and age appropriate guides for instilling a vibrant and growing faith in their children’s lives, as well as true-life stories from other moms experiencing the power and blessing of God in their homes as they develop their “spiritual skills” with their children.

aabFaith Begins @ Home Dad

Mark Holmen

Most Christian dads want to be the kind of father who guides his children in their walk with God but many don’t have the first clue where to start. Dads will find step-by-step tips and age appropriate guides for leading their family’s spiritual development, as well as true life stories from other dads experiencing the power and blessing of God in their homes as they develop their “spiritual skills” with their children.

 

03I’d Choose You!

John Trent

Have you ever been the last one picked for a team?  Everyone knows what it’s like to have a bad day. And when Norbert comes home from school, he has had a “really” bad day. As he and his mother talk through the day’s mishaps, she gently imparts “The Blessing” on him through spoken word, meaningful touch, attachment of high value, portraying a special future, and genuine commitment.  By the end of the book, Norbert knows he is loved, and that even if he wasn’t the first pick for the team, he will always be chosen by his parents . . . and by God.

04Grandma, I Need Your Prayers – Blessing Your Grandchildren Through the Power of Prayer

Quin Sherrer, Ruthanne Garlock

Powerful stories and practical advice to motivate and equip grandmothers to pray consistently and strategically for the emotional, physical, and spiritual well being of their grandchildren, no matter how young or old.

 

01Seën Met Slaaptyd

John Trent

Gebruik saans die kosbare oomblikke saam met jou kind en seën jou kind. Seen met slaaptyd volume 1 bevat 100 prettige idees om jou kleinding saans in die bed te sit, wat onder andere stories vir voorlees, verstommende eksperimente, boeiende kopkrappers, verbeeldingryke aktiwiteite en nog vele meer insluit. Op elke slaaptydaktiwiteit volg boonop ‘n seengebed – sodat jy jou kind volgens die Bybelse voorbeeld van seen kan bekragtig en van God se liefde kan verseker.

02Seën Met Slaaptyd, Volume 2 

John Trent

Seën met slaaptyd 2 is spesifiek gemik op kinders jonger as sewe en sal slaaptyd vir jou en jou kind ‘n heerlike ervaring maak. Nes die uiters gewilde Seen met slaaptyd volume 1 bevat die opvolgboek ook 100 maklike idees, waaronder stories wat jy vir jou kind kan voorlees. En net voordat jy die ligte afskakel, is daar ook ‘n gebed wat jy hardop kan lees. Op hierdie manier bevestig jy jou liefde vir jou kind en verdiep jy jou kind se verhouding met God.

Fil 3: Week vanaf 27 Feb

RUS

  • Vertel vir mekaar waar julle hierdie week die Here sien werk het.  Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Filippense 3 uit Die Nuwe Testament vir Kinders [Julle kan gerus die teks opdeel en elke dag hierdie week ‘n entjie verder lees – daar’s baie om oor te gesels in hierdie hoofstuk!]

Onthou, jy is Jesus se Kind

3      1–6 Onthou altyd, jy is die Here se kind. Daarom moet jy nie met ’n lang gesig rondloop nie. Wees liewer vrolik en glimlag.

Oppas vir maats wat vir jou sê hulle is God se kinders, maar dan wil hê jy moet lelike dinge saam met hulle doen. Dit is mos nie hoe jy wil wees nie. Jy is ’n kind van God. Daarom sal die Heilige Gees jou ook help om net vir God gelukkig te maak. En weet jy wat? Dit maak nie saak as mense lelike dinge vir jou sê of jou ongelukkig maak nie. Nee wat, al wat eintlik saak maak, is dat jy sal onthou dat Jesus vir jou lief is en dat jy vir Hom belangrik is. Dit moet jou baie bly maak.

Ek, Paulus, het ook eers gedink dat mense se dinge belangriker as God se dinge is. Ek wou eerder mense tevrede stel as vir Jesus. Dit was ’n groot fout. Ek het wel gereeld kerk toe gegaan. Ek het ook my kerklesse goed geleer en het beter gedoen as my vriende. Maar al het ek al die dinge gedoen, was ek nie vir Jesus lief nie. Dit was ’n baie groot fout.

Jesus is vir my die Belangrikste van Alles

7–8 Jesus is nou vir my die belangrikste van alles. Niks is vir my so belangrik as dat Jesus my groot Vriend is nie. Dat ek sy vriend mag wees en Hom goed ken, maak my die gelukkigste van alles. Daarom maak dit nie saak of ander mense vir my lag of my spot as ek nie lelike dinge wil doen nie. Luister ’n bietjie hier, sê nou ek moet kies tussen:

•      vriende wat almal met my gesels en sê hoe belangrik ek is net sodat ek verkeerde dinge saam met hulle moet doen wat vir Jesus ongelukkig maak, of

•      om vir Jesus gelukkig te maak, al spot en lag mense vir my.

Wat sal ek kies? Ek dink jy het reg geraai: natuurlik sal ek kies om Jesus gelukkig te maak. Weet jy wat? As iets vir Jesus hartseer maak, wil ek dit nie doen nie, maak nie saak hoe lekker dit vir my lyk om dit te doen nie. Jesus is vir my belangriker as enigiets wat ek ken. Daarom sal ek alles doen, net sodat Jesus my Vriend kan wees en ek Hom nie hartseer maak nie.

Jesus se Vriende is Welkom by God in die Hemel

9–11 God is ook jou Vriend, as Hy sien dat jy Jesus se vriend is. God gaan nie vir jou vra hoe belangrik jy vir jou maats is en of jy maar net altyd soet was nie. Nee, Hy gaan vir jou vra of jy Jesus se vriend is. Dit is wat vir Hom belangrik is. Jy hoef nie bang te wees dat God vir jou gaan kwaad wees omdat jy partymaal ook stout was nie. Hy gaan dit alles vergeet omdat jy Jesus se vriend is.

Ek, Paulus, wil maar net Jesus se vriend wees, dis al. Weet julle, Jesus was mos dood en al begrawe. Toe het God Hom lewendig gemaak. God is so sterk dat Hy dit kan doen—niemand anders kan nie. Omdat ek Jesus se vriend is, weet ek dat God my ook eendag so gaan lewendig maak, sodat ek in die hemel saam met Hom kan wees. Daarom maak dit nie vir my saak as ander mense nou met my lelik maak of met my spot omdat ek nie verkeerde dinge wil doen nie. Ek weet, mense het Jesus ook seergemaak en lelik met Hom gepraat toe Hy net vir God gelukkig wou maak. Slegte mense sal dit met my ook doen. Maar dit maak nie saak nie en dit pla my ook nie, want dit wys vir my dat ek en Jesus vriende is. Maar ek weet ook dat, soos Jesus nou in die hemel is, ek ook eendag in die hemel gaan wees – ons is mos vriende.

Ek Doen my Bes vir Jesus

12–16 Jy het seker al by die skool resies gehardloop? As die skoot klap, is daar mos net een ding wat vir jou belangrik is—jy wil eerste by die wenpaal kom. So moet elkeen wat vir Jesus liefhet, ook leef. Ons probeer elke dag net vir Jesus gelukkig maak. Ek, Paulus, kry dit nie altyd reg nie, want ek doen partymaal ook maar verkeerde dinge. As ek ’n fout gemaak het, probeer ek my bes om net weer so te leef dat dit Jesus gelukkig sal maak. En as ek die verkeerde ding so wil-wil doen, sien ek Jesus se hand wat my styf vashou. Hy help my, want Hy is altyd by my.

Elke ding wat ek doen, probeer ek so doen dat God sal sê ek het gewen. Ek laat my nie afsit as ek foute maak nie. Soos iemand wat resies hardloop, kyk ek nie om nie—ek probeer net vir Jesus gelukkig maak. En as God bekers na die resies uitdeel, sal Hy vir my ook een gee. Dit sal nie sommer ’n gewone beker wees nie—die prys sal wees dat ek hemel toe sal kan gaan, omdat ek geleef het soos iemand wat net vir Jesus geleef het. Jy weet mos nou hoe om ’n gehoorsame kind vir die Here te wees. Gaan wees dit nou, net vir Hom.

Jesus gaan jou Hemel toe Vat

17–21 As jy vir Jesus lief is, moet jy, net soos ek, jou bes probeer om Hom gelukkig te maak. Dit maak my baie hartseer dat daar nog mense is wat nie van Jesus hou en niks vir Hom omgee nie. Hulle doen dinge wat Jesus baie seermaak. Hulle wil net dinge doen wat vir hulle lekker is—dit maak nie vir hulle saak of Jesus daarvan hou of nie. Hulle dink hulle is baie oulik as hulle dinge doen wat sleg is. Maar hulle moenie met die Here sukkel nie. As hulle hulle oë uitvee, sit hulle in die hel.

As jy Jesus se vriend is, hoef jy nie bang te wees dat jy hel toe sal gaan nie. Nee, jy sal hemel toe gaan. Jesus Christus sal eendag van die hemel af kom om jou te kom haal. Dan sal jy saam met hom hemel toe gaan. Hy sal jou dan ’n baie spesiale liggaam gee. So sal jy dan saam met God en die engele in die hemel kan bly. Jesus kan dit doen, want Hy is baie sterk. Hy kan doen net wat Hy wil.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?  Hoekom spreek dit jou spesifiek aan?  Wat sê die Here daardeur vir jou?
  • Vertel vir mekaar waartoe Jesus julle nou roep.
  • Sondag is Nagmaal!  Gesels saam oor wat dit beteken.  (Ouers kan die boekie Berei jou kinders voor om deel te neem aan die Nagmaal aflaai – dit gee riglyne hoe om met jou kinders te gesels oor die Nagmaal.)

LEEF

Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die