Psalm 19 Kleingroepmateriaal – 13 Nov 2011

Ons lees die Psalm met die Lectio Divina metode:

1.  Kom tot rus – (Silencio)

Gee ’n tyd van stilte.  Dink aan dinge wat jou ontstel en gee dit een vir een vir die Here.  Dink aan dinge wat jou inspireer en dank die Here daarvoor.  Vra dat die Here deur hierdie Psalm met jou sal praat (5 min).  Die leier sluit af deur Psalm 19:11-12 te bid (effens aangepas): “Die Woord van die Here is kosbaarder as goud, selfs as fyngoud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. U dienaars laat hulle daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is hulle beloning .

2.  Lees die Psalm – (Lectio)

Laat iemand Psalm 19 – ‘n lied om God te belewe –  lees. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref. Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie. Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin:

DIE PSALM HET TWEE FOKUSPUNTE:

GOD BESTAAN – Die heerlikheid van God in die skepping

  • In vers 2 word die sigbare heerlikheid van God in die heelal geskets
  • In vers 3-5a word die onsigbare teenwoordigheid van God wat dag na dag en nag na nag op ‘n woordelose maar ervaarbare manier oorgedra word besing.
  • In vers 5b-7 word die son as sigbare verteenwoordiger van God geskets wat van die een kant van die aarde af tot die ander kant die wêreld verlig en verwarm met sy gloed.

GOD PRAAT – Die heerlikheid van God binne ons

  • In vers 8-10 word die waarde van die Woord beskrywe in terme van die impak wat dit in ‘n mens se lewe kan hê, nie as ‘n paaiboelie nie, maar as ‘n inspirasie.
  • In vers 11 word die waarde vergelyk met dié van goud en heuning
  • In vers 12-13a word dié waarde uitgespel as ‘n leerervaring wat uitmond en afsluit …
  • In vers 13b-15 met die gebed dat God van binne-af sal verander, sal reinig deur sy Woord en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

OPGESOM:

God bestaan. God is teenwoordig.  Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag.  Jy voel dit brand op jou vel in die dag.

God praat. Jy kan dit ervaar in die effek wat die Woord op jou kan hê.  Dit is soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek.  Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart.

NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer.  Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel:

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.  Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.

KOLOSSENSE 1:15-20

In Kolossense 1:15-20 werk Paulus met ‘n herinterpretasie van hierdie Psalm, en noem hy Jesus die vervulling van die skepping (1:15-16) sowel as van die verbond (1:18b-20).  Die SkepperGod is ook die verlossende VerbondsGod. Die verskil tussen Psalm 19 en Kolossense 1 is natuurlik dat die teologie van Jesus, die Messias, die een deur wie beide die skepping as die verlossing te weeg gebring is, die verhaal van Psalm 19 herskrywe.  Let ook op hoe daar in Kolossense klem gelê word op Jesus as die beeld van God, met woorde wat aan die skeppingsverhaal ontleen is (Gen 1:26).

3.  Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)

  • Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.

4.  Antwoord die Here in gebed – (Oratio)

  • Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.

5.  Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)

  • Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).

6.  Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)

  • Gaan doen wat julle gehoor het!
  • Jy kan ook elke Woensdagaand 17:30-18:30 met Rethie die Psalm van die week met Lectio Divina saamlees.
  • En daarna kan jy die Bybelskool bywoon van 18:30-19:30 oor die ander Psalms wat ons die week saamlees.
  • Kry die daaglikse dagstukkies oor die Psalms deur te registreer by www.bybelskool.com.
     

Trackback from your site.

Leave a comment