Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Hand 8:26-40 Week vanaf 14 Mei 2012

Huisgodsdiensmateriaal

Week van 14-20 Mei 2012

RUS

  • Sondag was Moedersdag.  Vertel vir Mamma hoekom sy vir julle kosbaar is.
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Handelinge 8:26-40 uit ‘n eenvoudige vertaling van die Bybel.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Kyk hoe die Gees vir Filippus stuur om saam met die Etiopiër te stap!  Die Gees praat altyd met ons, maar ons erken dit nie altyd as Sy stem nie.  Gesels met mekaar:  hoe praat God met jou?  Vertel van ‘n keer wat die Gees jou al gelei het – wat het gebeur;  hoe het jy geweet dis die Here se leiding?
  • Die Etiopiër was besig om die Bybel te lees, maar het dit nie verstaan nie.  Na wie toe gaan jy om jou te help wanneer jy iets in die Bybel nie verstaan nie (of wat doen jy om dit beter te verstaan)?  Vertel vir mekaar van ‘n keer wat jy iets in die Bybel gelees het wat vir jou baie beteken het. 

LEEF

  • Wat vra die Here nou van jou?
  • Pinkster begin volgende week!  Bid vir Oom Chris, wat mense gaan leer hoe om na God se stem te luister, vir Oom Kobus, wat dieselfde by die aftree-oorde gaan doen, en vir Tarine & Theunis de Ridder, wat Pinkster vir die kinders gaan lei.  Bid dat die Here hierdie Pinkster met julle elkeen sal praat.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Hooglied 3 Week vanaf 6 Mei 2012

RUS

  • Ons het die laaste paar weke Prediker gelees.  Vertel vir mekaar wat dit vir julle beteken het – wat wil jy graag onthou van wat jy by Prediker geleer het?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Hooglied 3:6-11 uit Die Bybel vir Almal

“Wie is dit wat daar uit die woestyn kom soos ’n rookwolk? ’n Mens kan die mirre en die wierook ruik, en al die goed wat lekker ruik wat die handelaars verkoop. [Mirre: ’n Boom se gom, dit ruik lekker. Mense het wyn met mirre gemeng en hulle het dit gedrink om pyn minder te maak. Wierook: Wierook is ’n soort gom van ’n boom. Die priesters het wierook en speserye gemeng en dit gebrand om wierook-offers te wees wat lekker ruik.]  Kyk, dit is die dra-stoel van koning Salomo! Daar is 60 spesiale manne rondom die dra-stoel, dit is 60 van die spesiale manne van Israel. Elke man het ’n swaard, hy weet hoe om oorlog te maak, elke man dra sy swaard langs sy heup, elke man is gereed vir die gevaarlike dinge in die nag. Koning Salomo het sy troon laat maak van hout uit die Libanon-berg. Die pote van die troon is van silwer, die rug is van goud, en die kussing is van pers wol. Die vroue van Jerusalem het die kussing geborduur, want hulle is lief vir die koning.

Vroue van Sion, julle moet kom kyk na koning Salomo, hy dra die kroon wat sy ma op sy kop gesit het die dag toe hy getrou het, die dag toe hy baie bly was.”


Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Hooglied is ‘n gedig.  Vertel gou eers vir mekaar wat ‘n gedig is.
  • Hierdie is heel spesifiek ‘n liefdesgedig.  In Hooglied beskryf ‘n vrou haar droom en ervaring van die liefde.
  • Gee kans dat Mamma en Pappa vertel hoe hulle ontmoet het en hoe Pappa vir Mamma geval het.
  • Omdat Hooglied in die Bybel is, weet ons dat liefde vir God baie belangrik is.  God wil graag hê dat mense verlief moet wees en die lewe saam moet geniet. 
  • Hoekom dink julle is romantiese liefde so belangrik vir God? 

LEEF

  • Wat vra die Here nou van jou?
  • Sê vir die Here dankie vir Pappa en Mamma se liefde!
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Prediker 12 Week vanaf 29 April 2012

RUS

  • Vertel vir mekaar wat julle die afgelope week geniet het.
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Prediker 12:11-14 uit Die Bybel vir Almal

Die dinge wat wyse mense sê, is soos skerp stokke, dit is soos spykers wat hulle diep inslaan. Dit is een Herder wat vir ons die wyse mense gee wat spreuke bymekaarmaak. 

Ek het al hierdie dinge vir jou gesê, maar ek wil ook nog dít sê: My seun, jy moet versigtig wees, ’n mens maak nooit klaar wanneer jy baie boeke wil skryf nie, en as jy baie hard werk om die boeke te skryf, dan sal jy baie moeg word.  Wanneer jy klaar na alles geluister het, dan moet jy dít onthou: Jy moet vir God respekteer en jy moet Hom dien. Jy moet doen wat Hy sê, want Hy sê dit vir elke mens.  Ja, God sal alles oordeel wat jy doen, Hy sal ook die dinge oordeel waarvan ander mense nie weet nie, die goeie dinge én die slegte dinge.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • God gee vir ons wyse mense, sodat ons kan weet hoe om te leef (v11).  Vertel vir mekaar wie die wyse mense in julle lewens is.  Julle kan ook vertel van wyse woorde wat mense al vir julle gesê het, wat julle gehelp het.
  • Nadat alles gesê is, is daar een ding wat die meeste saak maak:  Jy moet vir God respekteer en jy moet Hom dien. Jy moet doen wat Hy sê (v 13).  Kyk gou na Psalm 111:10. 

LEEF

  • Hoe kan jy vir God dien?  Wat vra die Here nou van jou?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Prediker 9 Week vanaf 22 April 2012

RUS

  • Vertel vir mekaar waar julle hierdie week die Here sien werk het.
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Kyk by die Kleingroepmateriaal:

‘n Manier om Prediker te lees, is om te onthou:

  1. Ons moet eerlik wees oor wat regtig gebeur
  2. Ons moet leer om die goed te aanvaar wat ons nie kan verander nie
  3. Ons moet leer om die lewe te geniet en te leer uit wat met ons gebeur.

Lees Prediker 9:3-12 uit diebybel@kinders.co.za

Dit is sleg dat dit so is dat dit met goeie en slegte mense dieselfde gaan.  Dit is hoekom mense nie probeer om goed te doen nie.  Dis hoekom hulle aanhou om niks om te gee nie en dan gaan hulle op die ou end dood.  Solank ‘n mens lewe, hoop jy dit sal met jou goed gaan.  ‘n Lewendige hond beteken tog meer as ‘n dooie leeu!  Mense wat nog lewe, weet darem hulle moet doodgaan.  Maar dooie mense weet niks nie!  Daar is niks wat hulle kan bly maak nie.  Mense vergeet van hulle.  Alles wat hulle gedoen het, is weg.  Hulle kan nie meer liefhê of haat of jaloers wees nie.  Dit is hoekom ek sê:  “Eet jou kos, drink jou wyn en wees gelukkig.  God sal nie daaroor vir jou kwaad wees nie.  Dra vrolike klere en sorg dat jy skoon is en lekker ruik.”  Wees gelukkig saam met die vrou vir wie jy lief is.  Dit is wat ’n mens gelukkig maak in jou kort lewe waarin jy so swaar kry.  Sorg dat jy alles goed doen.  As jy eers dood is, kan jy nie werk of planne maak of verstandig wees nie.

Gesels oor die teksgedeelte (ouers kan ook na die inligting in die kleingroepmateriaal kyk).

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Hoe voel julle daaroor dat dit met goeie en slegte mense soms goed en soms sleg gaan? 
  • As ons reg leef, beteken dit nie dat dit vir seker met ons sal goed gaan nie.  Hoekom sal ‘n mens dan reg leef?

LEEF

  • Kyk weer na die riglyne vir hoe om prediker te lees.  Vertel vir mekaar wat die goed in julle lewens is waaroor julle eerlik moet wees:  wat gebeur wat vir jou sleg is?  Wat gebeur wat vir jou lekker is?
  • Is daar goed wat jy moet aanvaar, wat jy nie kan verander nie?  Vertel vir mekaar daarvan.
  • Wat is daar in jou lewe wat jy kan geniet?  Beplan hoe julle nog meer daarvan kan maak.
  • Sê vir God dankie vir die goed wat julle geniet. 
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Prediker 1 Week vanaf 15 April 2012

Prediker 1-6 Huisgodsdiensmateriaal

16-22 April 2012

Rus

  • ­ Gesels oor die vakansie – wat was die beste deel daarvan?
  • ­ Gee kans dat elkeen dink waaroor hulle lewens gaan – waarmee hou jy jouself besig?  Deel dit met mekaar.
  • ­ Laat iemand bid en jul byeenkoms aan die Here opdra.

Hoor

Lees Prediker 1:2, 12-14;

  • ­ Gesels oor die teksgedeelte.  Wat tref julle?  Watter vrae laat die gedeelte by julle opkom?
  • ­ Ouers verduidelik vir die kinders wat ons bedoel as ons praat oor die “sin en betekenis” van die lewe. 
  • ­ Gesels saam:  in watter goed soek mense alles sin en betekenis? 
  • ­ Deel met mekaar:  wat maak die lewe vir jou die moeite werd?

Leef

  • ­ Is daar dalk areas van jou lewe wat jy te ernstig opneem? 
  • ­ Lees Markus 8:36.  Wat sê dit oor die teksgedeelte van die week?
  • ­ Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Paasweek! 2-8 April 2012

Huisgodsdiensmateriaal PAASWEEK

Volg elke week julle “Rus/Hoor/Leef”- patroon:  Rus – vertel vir mekaar waarmee die Here besig is in jul lewens en bid dat God met julle sal praat;  Hoor – lees die gedeelte en praat daaroor;  Leef – gesels oor hoe julle gaan reageer op wat julle gehoor het.

Maandag 2 April

Lees Johannes 13:4-15  uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • In Jesus se tyd het mense hulle hande én voete gewas voordat hulle geëet het.  Mense het nie self hulle voete gewas nie – iemand anders het dit vir hulle gedoen.  Dit was ‘n baie slegte werk en die onbelangrikste mens moes altyd die ander se voete was.  Hoekom dink julle het Jesus dan gekies om sy dissipels se voete te was?
  • As Jesus mense se voete gewas het, hoe kan ons ook soos Jesus wees?  Dink aan praktiese voorbeelde.
  • Gebruik ‘n bak met water, ‘n koekie seep en ‘n handdoek.  Was mekaar se hande en sê vir mekaar dat julle bereid is om mekaar te dien en die minste te wees.

Dinsdag 3 April

Lees Markus 14:22-24 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Ouers gesels met die kinders oor die Nagmaal.  Onthou, ons gaan Vrydag saam Nagmaal gebruik!  Jesus het (in die teks wat ons nou net gelees het) gesê ons moet gereeld so saam eet.  Die Nagmaal is ‘n onthou-ete:  wanneer ons dit saam gebruik, onthou ons vir Jesus en wat hy vir ons gedoen het.  (Laai die dokument “Berei jou kinders voor om deel te neem aan die Nagmaal” af by http://bit.ly/xTcDXB)
    • Voer Jesus se laaste maaltyd op:  berei die tafel voor met druiwesap en ongesuurde brood of beskuitjies.  Sit op ‘n kombers of by ‘n lae tafel en gesels oor wat Jesus gedoen het en wat dit gaan beteken wanneer ons Sondag Nagmaal gebruik.

Woensdag 4 April

Lees Johannes 14:32-41  uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Wat beteken dit vir jou dat Jesus bang was?  En wanneer jy self bang is, wat sal dit dan vir jou beteken dat hy bang was?
  • Let op dat Jesus bid wanneer hy bang is!  Gesels oor wanneer elkeen van julle bid, hoe julle bid en wat dit vir julle beteken om met God te kan praat. 

Donderdag 5 April

Lees Johannes 19:17-41 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties.  [As julle nie môre saam kan kerk toe gaan nie, lees net vv 17;27]

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou gesterf het?
  • Gesels weer oor môre se erediens.  Verduidelik dat ons kerk toe gaan om vir Jesus dankie te sê dat hy vir ons aan die kruis gesterf het.  Herinner mekaar ook weer aan die Nagmaal en wat dit beteken.
  • Maak kruise van spykers.
  • Sê vir Jesus dankie dat jy God se kind kan wees omdat hy vir jou aan die kruis gesterf het.

Vrydag 6 April – Goeie Vrydag

Gaan saam kerk toe! 

As julle nie kan kerk toe gaan nie, lees Johannes 28-41 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou doodgegaan het?
  • Hoe dink julle het die dissipels gevoel toe Jesus doodgaan en hulle hom begrawe?  (Onthou, hulle het nog nie geweet dat hy gaan opstaan nie.)
  • Print die prent en kleur dit in.

Saterdag 7 April

Lees Johannes 20:1-8 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

Gesels oor die teksgedeelte.

  • Wat in die teksgedeelte spreek julle aan?
  • Jesus het doodgegaan, maar hy lewe weer!  En omdat hy lewe, kan ons God se kinders wees en sal ons vir altyd en altyd by God wees wanneer ons eendag hemel toe gaan.  Vertel vir mekaar wat dit vir jou beteken om God se kind te wees en te weet dat Jesus leef.
  • Rangskik die prentjies in die regte volgorde.

Sondag 8 April Paasfees!

Staan vroeg op.  Kyk hoe die son opkom, sing lofliedere en sê vir Jesus dankie dat julle God se kind kan wees.

Gaan saam kerk toe.

As julle nie kan kerk toe gaan nie, lees Johannes 20:19-25 uit ‘n eenvoudige Kinderbybel of vertel dit dramaties. 

  • Steek Paaseiers en hasies weg.  Voordat die kinders dit gaan soek, verduidelik vir hulle dat eiers en hasies vir ons ‘n simbool is van nuwe lewe en baie lewe!  Dis vrolik versier, omdat ons bly is.  Dis leeg aan die binnekant, want Jesus se graf was leeg!  Elke eier wat ons vind, is vir ons ‘n lekker verrassing waaroor ons bly is – soos die dissipels se blydskap toe hulle ontdek dat Jesus leef!  Met elke eier wat ons vind en eet, sê ons vir Jesus dankie vir die lewe wat ons by hom kry.