Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Leer jou kind bid

DOEL: 

Om families met Gr 1-3 kinders te bemagtig om kinders toe te rus om ‘n groeiende gebedslewe te hê.

VOORAF:

  • Ark met rondte tafeltjies vir 30 mense
  • Boekmerke en inkleurkryte op elke tafeltjie
  • Skoon papier op elke tafel vir hand-tekeninge
  • Papiere met teksverse op tafeltjie
  • Kopie van Psalms vir Families vir elke gesin
  • Blaaibord & koki

BYEENKOMS

Aankoms

Elke gesin gaan sit by ‘n tafel, Kleur solank hul boekmerke in

Verduidelik dit

Welkom!

Doel van byeenkoms:  help ouers om kinders te help om groeiende gebedslewe te ontwikkel.

  • Gebed verbind kinders op kragtige manier aan God!
  • Beplan om saam met jou kinders te leer van gebed.
  • Moenie verwag om ‘n gebedskundige te wees nie.  Jy hoef nie lang gebede met groot teologiese woorde te bid nie.
  • Al wat jy moet doen, is om te bid!  Wees eg (authentic) en God sal die res doen!

Modelleer

Wat sê ons wanneer ons bid?  Ons het nie regtig patrone en modelle nodig nie. Ons kan gewoon bid wat op ons hart is.  Tog help dit om in ons gereelde gebedstyd ‘n sekere patroon te volg.   Sodoende leer ons ons kinders om nie net selfsugtig te bid nie, maar om die volle omvang van gebed te leer ken.

Daarom wil ons in gebed:

  • Loof
  • Jammer
  • Dankie
  • Vra

 

Elke kind sit hand op papier, ouers teken omtrek van hand. Skryf soos ons aangaan by elke vinger waaraan dit ons herinner.

 

Loof

Duim is eerste – ons begin altyd by God deur God te loof – deur vir God te sê hoekom ons lief is vir hom.

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ons vir God loof?  (Voltooi die sin:  Ek loof God, want hy is… liefdevol, magtig, genadig, slim, getrou…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons prys U, want u is (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Jammer

Wysvinger – wanneer iemand met jou raas of sê wat jy moet doen, wys hulle met hierdie vinger.

Volgende sê ons vir God jammer vir die goed wat ons verkeerd gedoen het.  Billy Graham het gesê dat die Christelike lewe nie ‘n konstante “high” is nie. Soms moet ons met trane in ons oë na God toe gaan en vra:  ‘Here, vergewe my’, of ‘Help my’.”

1 Joh 1-9 Ons moet vir Hom sê ons is jammer oor wat ons gedoen het. Ons moet ook sê dat ons nooit weer daardie lelike ding wil doen en sy hart so seermaak nie … en dit regtig bedoel. God sal ons vergewe en nie meer vir ons kwaad wees oor die sonde nie. Ons kan God maar vertrou. Hy doen altyd wat Hy sê en Hy weet wat reg is. (Die Nuwe Testament vir Kinders)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God jammer sê?  (Voltooi die sin:  Here, ek is jammer dat ek… nie my kamer skoongemaak het nie, ongeduldig was met ‘n familielid, lelik was met mamma, gejok het…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons is jammer vir al die dinge wat ons verkeerd gedoen het.  Ons is jammer vir al die kere wat ons … (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

Dankie

Middelvinger – dis die langste vinger, want dis belangriker dat ons “dankie” sê as om te vra vir goed.

Ons sê ook vir God DANKIE wanneer hy ons gebede beantwoord, wanneer hy iets in ons lewens doen en vir al die seëninge wat hy vir ons en ander gee. 

Psalm 107:1 Julle moet vir die Here dankie sê, want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het. (Die Bybel vir Almal)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God dankie sê?  (Voltooi die sin:  Here, dankie dat U… my hond gesond gemaak het, my Pappa veilig teruggebring het na sy reis, my beter laat voel het, altyd by my is, vir my wonderlike vriende gegee het, vir ons die Bybel gegee het…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, dankie vir alles wat U vir ons doen.  Dankie vir … (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Vra

God wil ook hê ons moet VRA vir wat ons of ander mense nodig het. 

Ringvinger – dis die swakste vinger, daarom bid ons vir ander mense wat swak is.

Pinkie – dis die kleinste, so ek bid heel laaste vir myself.

Matt 7:7-8 7–8 “Bid gereeld. Moet nooit ’n dag oorslaan nie. Elke gebed is soos ’n klop aan die deur van God se hemelse paleis. Hoe ernstiger jy bid, hoe harder klop jy aan sy deur. En nou ’n stukkie goeie nuus: as jy so bid, sal God die deur vir jou kom oopmaak! Hy luister na elkeen wat ernstig bid. (Die Nuwe Testament vir Kinders)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God vra?  (Voltooi die sin:  Here, sal u asseblief… by ouma wees, my help met my toets, gee dat ek ‘n kontrak kry, help my om met my boetie oor die weg te kom…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

om ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons het U so nodig en is so dankbaar dat U ons versoeke hoor.  Ons vra… (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Hersien & Oefen

  • Duim = God = Loof
  • Wysvinger = Jammer
  • Middelvinger = langste = Dankie
  • Ringvinger = swakste = Vra vir ander
  • Pinkie = kleinste = Vra vir jouself

Gesinne oefen ‘n kort gebed saam

Neem dit huis toe

Elke gesin kry ‘n Gebede uit die Psalms vir julle Familie-plakkaat.

Verdere bron:  Faith Begins @ Home Prayer – jy kan dit hier koop.

Kind vernuwing 2-8 September 2012 Psalm 127

kind vernuwing

Lees hierdie week Hoofstuk 3 van “Faith Begins at Home”

 

RUS EN ONTVANG

  • Dink aan die mense wat ‘n invloed op jou gehad het toe jy ‘n kind was.  Watter rol het hulle gespeel (of nie gespeel nie) in die ontwikkeling van jou geloof?
  • Hoeveel ervaring het jy van geloof gehad toe jy groot geword het? Hoe het geloof in julle huis gelyk?  [vir huisgodsdiens:  ouers vertel vir hul kinders hoe geloof en godsdiens in jul ouerhuise gelyk het.]
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

 HOOR EN ONTGIN

Lees Psalm 127

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar en gesels oor die teks.
  • Ouers verduidelik vir kinders wat ‘n “fondament” is.  Wat beteken dit prakties dat die Here ‘n huis bou? 
  • Kyk ook na Matteus 6:25-27.  Vertel vir mekaar van ‘n geleentheid wat jy die Here moes vertrou om vir jou te sorg, omdat jy magteloos was. 
  • [Vir grootmense:]  Vir die moderne leser kan vv 4-5 van die Psalm vreemd klink.  Ons verstaan nie meer die gevare van ‘n antieke samelewing waar ‘n nageslag beskerming was teen siekte, oorlog en hongersnood nie.  Dit kan daartoe lei dat ons die Psalm verkeerd verstaan.  Ons kan óf hunker na ‘n geromantiseerde verlede waar families hoog geag is (terwyl daar in der waarheid geen tyd in die geskiedenis was wat so ‘n hoë premie op families en kinders geplaas het soos wat vandag die geval is nie).  Of dit kan die pyn van kinderlose mense verdiep (om nie eers te praat van die patriargale fokus nie).  Die doel van die Psalm is om mense se basiese kwesbaarheid te onderstreep.  Die Psalm sê wat Jesus in Johannes 15:5 bevestig:  “Sonder [God] kan julle niks doen nie.” Watter troos, dink julle, sou hierdie Psalm vir die antieke gelowiges inhou?  Hoe help dit ons om die Psalm beter te verstaan?

 LEEF EN ONTPLOOI

  • Ouers verduidelik vir kinders dat die vyand in die stadspoort enige iets is wat ons bedreig of bang maak.  Vertel vir mekaar wat die “vyand” in julle lewens is.
  • Wie is die mense wat saam met jou in die stadspoort staan?  En saam met wie staan jy in die stadspoort?
  • Wat vra God nou van julle?  Hoe gaan julle daarop reageer?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Gesin vernuwing 26-31 Aug Deut 6

gesin vernuwing

Lees hierdie week Hoofstuk 2 van “Faith Begins at Home”

 

RUS EN ONTVANG

  • Watter gewoontes of gedrag of houdings het jy by jou ouers geleer?  As jy self ‘n ouer is, watter gewoontes of gedrag of houdings sien jy by jou kinders wat jou eie gewoontes/gedrag/houdings reflekteer?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

 

HOOR EN ONTGIN

Lees Deuteronomium 6

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar en gesels oor die teks.
  • Deuteronomium beteken letterlik “tweede wet” – die herhaling of onderstreping van die wet.  Hoekom word God se opdragte soveel keer herhaal?
  • Kyk weer na verse 5-6.  Hoe lyk ‘n lewe wat getrou is aan hierdie verse?  Hoe kan ons so leef?

 

Net vir volwassenes:

Dink na oor jou eie lewe saam met God.  Maak ‘n merkie langs die stellings wat tans waar is van jou en ‘n sterretjie langs dié wat jy mee wil begin:

 Ek lees die Bybel en word bemoedig deur ander gelowiges se voorbeeld.

 Ek vertrou op Jesus en bid dat die Gees my sal lei deur my lewe.

 Ek is verbind aan ‘n Christelike kerk.  Ek aanvaar dat, hoewel die kerk foute het, ek die kerk nodig het.

 Ek het ‘n groep mede-gelowiges wat saam met my op reis is.

 In my lewe tans is ek

__ op ‘n gemaklike plek in my lewe

__ bang en kan die stormwaters hoor aankom

__ in die middel van ‘n stroomversnelling

__ op pad na ‘n groot rots wat ek met ‘n slag gaan tref

__ net besig om uit die stroomversnellings na die rustiger water te beweeg

__ in die versoeking om op te gee

__ naby aan die einde van die reis – en gereed om dit weer van voor af te doen!

 

LEEF EN ONTPLOOI

  • As julle wil, kan julle jul gewaarwordinge uit jul nadenke oor jul persoonlike reis met mekaar deel.
  • Waar is jy in jou reis saam met God?  Waaraan moet jy aandag gee?  Wat gaan jy doen?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

 

Hoe om saam te bid (4-6 jariges)

HuisGeloof:  Familie Gebed : 4-6 jariges 

DOEL: 

Om families te bemagtig om die gereelde gewoonte van gebed te ontwikkel en sodoende die volgende generasie op ‘n kragtige manier aan God te verbind.

VOORAF:

  • Ark met rondte tafeltjies vir elke gesin
  • Inkleurprente en inkleurkryte op elke tafeltjie
  • Papiere met teksverse op tafeltjie
  • Kopie van Psalms vir Families vir elke gesin
  • Kopie van CLF pamflet “Kom, laat ons bid” vir elke gesin
  • Blaaibord & koki

BYEENKOMS

Aankoms

Elke gesin gaan sit by ‘n tafel

Kleur solank hul prente in

Verduidelik dit

Welkom!

Doel van byeenkoms:  help gesinne om gebed as gereelde gewoonte te ontwikkel

  • Gebed verbind kinders op kragtige manier aan God!
  • Beplan om saam met jou kinders te leer van gebed.
  • Moenie verwag om ‘n gebedskundige te wees nie.  Jy hoef nie lang gebede met groot teologiese woorde te bid nie.
  • Al wat jy moet doen, is om te bid!  Wees eg (authentic) en God sal die res doen!
  • Vandag net inleiding – om mekaar te herinner dat gebed belangrik is en ‘n commitment te maak om saam te bid.

     

Gesels as gesin:  Wat is gebed?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Tyd saam met God
  • Kommunikeer met God
  • Praat met God
  • Vra vir God om hulp
  • Luister na God
  • Laat God jou lei in jou lewe
  • Soek God se wil vir jou lewe
  • Vertel vir God hoe lief jy hom het
  • Vra vir God om ander te help

ð 

Gesels as gesin:  Hoekom is gebed belangrik?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Help ons om God te ken
  • Herinner ons dat God by ons is
  • Herinner ons dat God ons kan help
  • Help ons om ons moeilikhede en moeilike tye met God te deel.

Hierdie is fundamentele goed!  Ons wil graag hê ons kinders moet selfversekerd kan bid.

ð 

Gesels as gesin:  Hoekom bid mense nie?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Geïntimideer:  Ons voel dat ons lank moet bid en groot woorde moet bid.  Jesus sê dit is nie so nie! 

Matteus 6:7-8 Wanneer julle bid, moenie ’n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra.  [Die Bybel vir Almal]

  • Dis nie ‘n gewoonte nie:  Ons is dalk nie gewoond daarom om gereeld te bid nie.
  • Besig:  Ons lewens  is so vol, dat ons nie altyd tyd maak vir gebed nie. 

Mark 4:19 Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies  toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God.

  • Nie effektief nie:  Kan God ons hoor wanneer ons met hom praat?

Psalm 4:3 Die Here sal nou ook hoor wanneer ek roep en vra dat Hy my moet help.

Twee benaderings

Julle gesin kan op twee maniere ‘n lewe van gebed vestig.

Eerstens, ontwikkel ‘n roetine van gebed. 

Alle mense het roetine nodig – veral kinders!  Roetine help ons om belangrike goed te onthou en konsekwent te wees.  Ons moet ‘n tyd kies wat ons elke dag kan gebruik om met God te praat.

Gesinne noem voorbeelde van verskillende tye wat kan werk as daaglikse gebedstyd:

  • Voor ons bed toe gaan
  • Voor etes
  • In die oggend
  • Voor skool
  • Wanneer Mamma en Pappa terugkom van werk af
  • Wanneer ons saam in die kar ty op pad êrens heen.

ð  Gesinne gesels:  Wil julle ‘n gereelde gebedstyd vestig?  Wanneer gaan julle gebedstyd wees?

 

Tweedens, wees op die uitkyk vir gebedsgeleenthede.

Dis dalk selfs nog belangriker as gereelde gebedstye – om daaglikse geleenthede te gebruik om ons kinders te leer, nie net van gebed nie, maar ook van God se krag en werk in ons lewens.  Wanneer ons as deel van ons daaglikse lewe na God toe draai, demonstreer ons op ‘n kragtige manier vir ons kinders dat God altyd by ons is en dat ons in ‘n verhouding met hom leef.

1 Tessalonisense 5:17 17 Bid elke keer as julle die kans kry. Moet nooit moeg word om te bid nie. God hoor julle!  (Die Nuwe Testament vir Kinders)

Inspireer

Dave Teixeira vertel:

My vrou is baie lief vir diere en is veral ‘n honde liefhebber.  Gevolglik is sy baie sensitief oor hoe mense hul diere versorg.  Sy raak veral gespanne wanneer sy sien dat mense hulle honde sommer agter op bakkies laat ry.  So, as ons in ons kar ry en ons sien ‘n hond agter op ‘n bakkie, dan word daar vir die hond gebid. 

Hierdie gewoonte het afgesmeer op ons dogtertjie van drie.  Sy freak letterlik uit en dring daarop aan dat daar gebid word elke keer wat hy ‘n hond agter op ‘n voertuig sien. 

Oor-gebruik van gebed?  Dalk, maar die wonderlike deel van die storie is dat gebed uit die roetine van kerk en etes beweeg het, in ons kar in, enige dag op enige oomblik.  Ons gebruik ook gebedsgeleenthede wanneer ons ‘n motorongeluk of ambulans sien.  Die punt is om te kyk vir geleenthede en om dwarsdeur die dag te bid.

ð  Gesinne gesels:  Wat sal goeie geleenthede wees om te bid?

  • Wanneer iemand seerkry.  In plaas van die tradisionele “Laat mamma dit beter soen”, gebruik die seerkry om hulle te leer dat ons met God kan praat wanneer ons seer het.  ‘n Eenvoudige troosgebed kan ‘n groot impak hê.
  • Wanneer iemand hartseer is.  Kinders voel hartseer oor verskillende goed.  Leer jou kinders om regtig hulle bekommernisse op Jesus te werp en eerlik hul gevoelens te verwoord.
  • Wanneer iemand bang is.  Kinders voel dalk bank vir die donker, vir skool toe gaan, vir Kersvader, vir die bure se hond.  Moedig hulle aan om vir God te vertel van hul vrese en te vra vir sy beskerming.
  • Wanneer iemand suksesvol is.  Vier jy kind se suksesse deur God te prys vir die gawes wat hy vir hulle gegee het.
  • Wanneer iemand iets nuuts probeer.  Daar is altyd ‘n nuwe sport, nuwe vermoë, nuwe stokperdjie.  Herinner hulle om God te vra om hulle te help.

Modelleer

Julle het nou twee goed bepaal:

  • ‘n Roetine van gebed – gereelde gebedstye.  (Sê weer vir mekaar wanneer dit gaan wees.)
  • Wees op die uitkyk vir gebedsgeleenthede

Ons gaan nou saam bid.  Party mense noem die manier waarop ons gaan bid, ‘n “popcorn gebed”,  omdat springmielies so een-een pop.

Elke gesin vat hande.  Ek gaan ‘n sin sê en elke gesin gaan dan op die ry af die sin voltooi.  Ons wag in stilte totdat ek die volgende sin sê.  Wanneer ek “amen” sê, sê julle ook almal “amen”.

  • Here, dankie vir…
  • Here, kyk asb mooi na…
  • Here, help ons gesin om…
  • Here, help my om…
  • Amen

Neem dit huis toe

Elke gesin kry ‘n Gebede uit die Psalms vir julle Familie-plakkaat.

Elke gesin kry “Kom, laat ons bid” pamflet van CLF.

Verdere bron:  Faith Begins @ Home Prayer – beskikbaar by loot vir R70.

 

[Vertaal en aangepas uit Take it Home van Mark Holmen en Dave Teixeira] 

Oop Kaarte

Oop Kaarte is ‘n kaartspel vir 3 tot 7 spelers.  Die spel wil mense help om mekaar beter te leer ken en lewendige gesprek aanmoedig.

Illustrasies deur Alida Bothma.

Gebruik gerus die aangehegte dokumente (ongeveer 5MB) om jou eie kaarte te maak.  (Ons het dit soos visitekaartjies laat druk.)

Ons vra net twee goed:

  • Moenie geld vra daarvoor nie.
  • Stuur vir ons ‘n e-pos as jy dit gebruik

Laai die dokumente hier af:

Oop Kaarte Voor

Agterkant van kaarte

Huis Vernuwing 13-19 Aug Jos 24

huis vernuwing

Lees hierdie week Hoofstuk 1 van “Faith Begins at Home”

 

RUS EN ONTVANG

  • As totale vreemdelinge by julle aan huis kom en in jul huis rondkyk, wat sal hulle dink aanbid julle?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

 HOOR EN ONTGIN

Lees Josua 24

  • Josua is hier al ouer – soos ‘n oupa.  God het sy beloftes aan die volk nagekom en hulle leef ‘n goeie lewe.  Hierdie is as’t ware Josua se afskeidsboodskap. 
  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar en gesels oor die teks.
  • Kyk na alles wat God in die verlede vir die volk gedoen het.  Hoekom, dink julle, word daar soveel klem op die verlede geplaas?
  • Kyk weer na die laaste sin van vers 15.  Hoekom is dit belangrik dat Josua van homself en sy familie praat – nie net van sy familie nie?

 LEEF EN ONTPLOOI

  • As jy een ding aan jou familie kon verander, wat sou dit wees?
  • Word jy en jou familie uitgedaag om God volledig te dien?  Watter uitdagings is daar in jul lewe saam voor God?
  • Hoe kan julle familie leef op ‘n manier wat jul verbintenis aan God reflekteer?  En julle as kleingroep?
  • Skryf as familie en/of kleingroep ‘n missiestelling:

Wat is nie onderhandelbaar nie?  As iemand jul gesin/kleingroep aan iemand anders moes beskryf, watter woorde sou julle wou hê hulle moet gebruik?

  • Waartoe roep die Here julle nou?  Hoe gaan julle op die roeping reageer?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.