Wees Getrou II – Eksodus 20:2, 12-17 Preek
Die wet gaan nie oor jou nie. Dit is t.w.v. jou naaste. God het jou naaste so lief, dat hy vir jou die wet gee. God het jou so lief, dat hy vir jou naaste die wet gee.
Sodat ons almal vry kan wees, sodat ons almal met die waardigheid behandel kan word wat hoort by mense wat aan God behoort, nie soos slawe gaan geen waarde het nie.
Verwelkoming & Afkondigings
Toetrede
Lied 164 Ons is almal hier tesaam
Votum
(Ps. 119:4-7, 10-12)
4U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. 5As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! 6As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. 7U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met ’n opregte hart. 10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. 11Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. 12Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte.
Seëngroet
119 Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. 2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, 3geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel.
Dit gaan goed met ons. Ons leef onder die seën van die Here, want God is by ons en gee vir ons sy genade en vrede.
Lofsang
Lied 205:1-2 Bring lof aan die Vader
Wet en Toewyding
Voorganger: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.
V: Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.
V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.
V: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.
V: Eer jou vader en jou moeder.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.
V: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.
V: Jy mag nie egbreuk pleeg nie. G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.
V: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.
V: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Dankie dat U ons in die waarheid lei.
V: Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.
Verootmoediging
Lied 308 verse 1, 2 en 5 Neem my lewe, laat dit, Heer
Gebed
Skriflesing
Eksodus 20:2,12-17
Inleiding
Interlude
Lied 526 Afr., Latyn, Engels Waar daar liefde is
Preek
Oorsig
Verlede week se preek was deel een van twee weke oor wat ons die “Tien Gebooie” noem. Ek het gesê ons moet altyd die Tien Gebooie binne die konteks van die storie lees. Christelike moraliteit is nie ‘n lysie reëls wat ons kan afmerk nie, maar stories wat ons oor en oor vertel. Anders word dit wettisisme. Die storie is dié van ’n groepie slawe, wat geen besef van menswaardigheid, van hoe om ’n nasie te wees, gehad het nie. God bevry hulle, vestig ’n verhouding met hulle en sê dan vir hulle hoe om mens te wees – in verhouding. Die verhouding, die bevryding, kom éérste. Die reëls het niks te doen met hoe jy deel kry aan die verlossing nie. Jy gehoorsaam nie die wet om gered te word nie. Jy is gered, jy is deel van die verbond. Die wet is dan hoe dit lyk wanneer jy bevry is, wanneer jy as geliefde van God leef.
Die eerste “tafel” van die wet sê: “wees lief vir God”. Vandag kyk ons na die tweede “tafel” – liefde vir die naaste.
Die wet gaan oor ander mense
Die eerste wat jy hier moet oplet, is dat die wet gaan oor ander mense. Let wel: nie “dis vir ander bedoel nie”, maar: “dit gaan oor ander mense”. Die wet is nie ’n selfhelp-projek, vir ’n beter geestelike lewe, of ’n handleiding vir selfverbetering, oor hoe om ’n beter mens wees nie. Dit gaan nie oor jou lewe en jou belange nie.
Die punt van die wet is juis dat jy buite jouself kyk. Dit sê dat die lewe nie oor jou gaan nie, maar oor ander mense en hulle belang. So die nakom van die wet gaan nie oor reëls wat jy nakom nie, maar oor jou naaste. Nie jou lewe nie, maar jou naaste se lewe.
God praat met hierdie groepie bedremmelde slawe – met ons – en sê dat hy ons ken. Hy weet hoe ons sukkel, dat ons terug default na die slaaf-manier van wees, dat ons nie ander se waarde ag nie, dat ons maak asof hulle slawe, goedters is. Daarom sê God: “Jy moet jou naaste liefhê.” Ons reageer: “Wonderlik Here, ons sal dit doen. Maar hoe moet ek my naaste liefhê?” Dan God sê: Goed, kom ek spel vir jou uit hoe liefde lyk. Kom ek wys vir jou hoe die lewe lyk as mense nie slawe is nie. Wanneer mense waarde het en met respek behandel word.
Die wet gaan nie oor jou nie. Dit is t.w.v. jou naaste. God het jou naaste so lief, dat hy vir jou die wet gee. God het jou so lief, dat hy vir jou naaste die wet gee.
Sodat ons almal vry kan wees, sodat ons almal met die waardigheid behandel kan word wat hoort by mense wat aan God behoort, nie soos slawe gaan geen waarde het nie.
Ons is nou vry. Maar ons verstaan vryheid natuurlik verkeerd. Ons dink ook oor vryheid soos wat slawe oor vryheid dink. Ons dink vryheid is ’n doel in sigself. Ons dink vryheid beteken onbeperkte keuses en opsies. Ons dink vryheid beteken die mag om te vat wat jy wil hê.
Maar God kom sê ons is net vry wanneer ons mekaar respekteer, wanneer ons ons bes doen om mekaar te help om ons eiendom te behou en te onderhou. Vryheid is nie wanneer die sterkes die swakkes domineer nie, maar wanneer die liggame en die lewens van almal – die armes, die behoeftiges, die broses – gerespekteer en beskerm word.
Dink daaroor! As ons almal mekaar se waardigheid respekteer en beskerm, sal ons almal vry wees. Dan sal ons nie meer in vrees lewe nie. Dan het ons nie meer elektriese heinings nodig nie. Want ons sal weet ons is veilig. Vry.
So die doel van die naaste-wette is ook om ons vryheid te bevestig, om verhoudings te bou, om mense se waardigheid te bevestig, om gemeenskap te vestig.
Ek dink die laaste twee weke baie aan die ervaring wat ek en Henry destyds in Swede gehad het. Daar het ons besef hoe ons in SA en die Swede verskillend dink oor wette. Wette in SA is eintlik meer riglyne as enige iets anders. En kom ons wees eerlik: nie net vir taxi’s nie, maar vir ons almal. Stopstrate. Nie drink en bestuur nie. Nie drink onder 18 nie. … Dis suggesties, eerder as vaste reëls.
In Swede sou mense gereeld vir ons sê: “Ons het ooreengekom om x of y te doen”. Dit het ons ’n tydjie gevat om te besef dat hulle oor landswette praat. Maar dis nie iets ekstern wat op hulle afgedwing word nie. Dit is ’n ooreenkoms wat hulle gemeenskap versterk.
Dis die tien gebooie. Dis nie iets ekstern wat op ons afgedwing word nie. Dis iets wat ons help om na ander te kyk, om ons gemeenskap te versterk, sodat ons almal vry kan wees.
So kom ons kyk na die gebooie wat vir ons sê hoe vry mense in gemeenskap met mekaar leef:
Gebod 5: respek vir gesag wat lewe moontlik maak
12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
Wat ’n lekker een om op Vadersdag te lees!
Dis nie blinde gehoorsaamheid of navolging van tradisies of verwagtings nie. Onthou, dit gaan oor mense wat voorheen slawe, besittings was. Dit sê hulle is mense. Hulle het waarde, hulle verdien respek.
Die vyfde gebod sê vir ons om ontsag te hê vir die mense wat die verhaal van God se bevryding onthou, wat dit vir ons oorvertel, wat vir ons ’n voorbeeld is in hoe ’n mens leef as bevryde kind van God. Hierdie gebod herinner ons aan die verbond, dat ons die volk van God is wat deur God uit slawerny bevry is – en dat ons van geslag na geslag mekaar daaraan moet herinner.
Ses: Koester lewe.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
Die lewe gaan oor lewe. God se wil is lewe. Dit is nie binne ons bestek om te besluit wie het waarde en wie nie. Alle mense het waarde, elke enkele lewe is kosbaar en elke keer wanneer iemand doodgaan, maak nie saak wie dit is nie, is dit ’n tragedie.
Hierdie wet roep ons op om lewe te respekteer. Alle lewe. Destyds tydens Fees Must Fall, was daar ’n foto uit Kaapstad van ’n student wat met sy kop voor ’n polisievoertuig se band geval het. Hy is byna doodgery. Die kommentaar op die internet was in die lyn van: jammer hy is nie doodgery nie, dit sou sy verdiende loon wees. Dit is ’n oortreding die sesde gebod – om iemand dood te wens, om nie die waarde van menslike lewe te ag nie. Maak nie saak wie daardie mens is nie.
Dit gaan ook oor dinge wat lewe neem, al klop die hart nog, wat mense lewend-doodmaak. Dinge soos geweld, substansmisbruik, armoede, stigma. Wat hierdie gebod vir ons sê, is dat mense en mense se lewens kosbaar is. Ons taak is om lewe te bewaar. Wat nie beteken dat ons net die hartklop bewaar nie, maar dat ons elke mens se menswaardigheid bewaar, dat ons streef na ’n wêreld waar elkeen met waardigheid, vry, kan leef.
Jesus het natuurlik verder gegaan (Matteus 5:21-22):
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
Waarmee Jesus bevestig dat hierdie wet nie net gaan oor fisiese moord nie, maar oor die waarde van mense. Dat ons mense sal liefhê, sal ag. Hulle is nie slawe nie, maar mense wat ons respek en liefde verdien. Jesus stel moord gelyk aan enige onvrede tussen mense. Enige bakleiery, haat, liefdeloosheid.
Hierdie wet roep ons op om in vrede met mekaar te leef. Om mekaar lief te hê.
Sewe: “Ja!” vir die liefde
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
Vir mense wat voorheen slawe was, kom leer God dat ons in verhoudings met mekaar ontdek dat ons waarde het. Dat ons nie besittings is nie, maar mense. Waardig. Geliefd.
Die ruimte waar ons dit ten diepste beleef, is in ons intieme verhoudings. Dit is die ruimtes waar ons op ons mees weerlose is. Dis die ruimtes waar ons die duidelikste leer wat dit beteken om geliefd te wees, om waarde te hê, om aanvaar te word.
Juis omdat ons so weerloos, eintlik blootgestel en uitgelewer, in intieme verhoudings is, is dit so belangrik dat ons dit sal beskerm en koester. Dat ons die waarde van die mens met wie ons ons lewens deel, sal erken. Dat hulle veilig sal wees by ons.
Jesus help ons weereens om te verstaan presies wat hierdie wet beteken, wanneer hy sê (Matteus 5:27-30):
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.
29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”
Ek lees in die week iets oor hierdie gedeelte, wat praat oor hierdie fenomeen waar mans sê vrouens moet ander klere aantrek, want die vrouens se klere laat hulle struikel. Die persoon sê toe Jesus het raad gegee presies oor daardie situasie. En die raad was nie dat jy vir die vrou sê sy moet ander klere aantrek nie.
Maar waaroor gaan dit hier? Dit gaan nog steeds oor menswaardigheid. Oor die waarde wat elke mens in hulleself het, nie bloot as slaaf of besitting, oor wat jy met hulle kan doen nie. As jy dus na ’n vrou kyk en haar begeer, dan maak jy haar weer tot slaaf – tot ’n objek wat iets vir jou moet doen. Wat hierdie wet ons leer, is om mense te ag, om hulle waarde te erken en hulle nie te misbruik en tot objekte te maak nie.
Die sewende gebod gaan nie net eenvoudig oor egskeiding nie. Dit gaan oor soveel meer.
Jesus gaan vêrder (Matteus 5:31-32):
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
Nou gaan ons natuurlik weer en haal die wet uit die storie uit en maak dit ’n algemene reël, maak nie saak wat nie. En natuurlik is egskeiding nie goed nie, want egskeiding is juis om die mens vir wie jy moet lief wees, te verwerp. Dit doen presies wat die wet sê ons nié moet doen nie. Ons moet vir mekaar lief wees, mekaar ag en respekteer. Egskeiding breek af en vernietig.
Maar kyk mooi na wat Jesus sê. Onthou die konteks. Jesus praat in ’n wêreld waar vrouens nie van hul mans kon skei nie. Maar mans kon van hul vrouens skei vir enige simpel rede, soos bv. – en dit was een van die reëls wat genoem is – dat sy die kos gebrand het. Al wat die man hoef te doen, is om drie keer te sê “ek skei van jou” en die huwelik is ontbind. Hulle is geskei.
Dink dan verder aan die wêreld waarbinne Jesus praat. Waar vroue afhanklik is van ’n man om hulle te versorg. Hulle kon nie werk om ’n inkomste te verdien nie. ’n Ongetroude vrou wat nie onder haar pa se beskerming staan nie, was uitgelewer aan al die onreg en kwaad van die wêreld. Verdoem om óf te vergaan van armoede, óf te doen wat ook al nodig is om te oorleef.
Jesus praat in hierdie wêreld. En sê ’n man mag nie van sy vrou skei nie. Hy hou steeds by die waardes van die wet. Dit gaan oor die waardigheid en lewenskwaliteit van elke mens. Jesus is besig om kwesbare, uitgelewerde vroue te beskerm.
So daar is meer maniere om egbreek te pleeg as net om te skei. Wanneer jy na ’n mens kyk met wie jy nie getroud is nie en jy dink aan hulle as ’n objek van jou begeerte, eerder as ’n waardevolle mens uit eie reg, dan pleeg jy egbreek. Pornografie, skurwe wat ook al, sal ongetwyfeld tel as egbreek.
As jy geweld pleeg teenoor jou lewensmaat, as jy nie jou lewensmaat met respek behandel nie, as sy of hy nie veilig is by jou nie – fisies of emosioneel – as jy jou lewensmaat selfsugtig misbruik vir jou eie begeertes en behoeftes, as jy liefdeloos teenoor jou lewensmaat optree, dan is jy nie besig om te doen wat hierdie wet sê nie.
God wil hê dat ons mekaar lief het. Dat ons sal vry wees. Veral in ons intieme verhoudings. Dit gaan nie net oor wat ons nié doen nie, maar ook oor hoe ons mekaar lief het en respekteer, hoe ek my huwelik ’n veilige ruimte maak vir my lewensmaat.
Agt: Mededeelsaamheid en medemenslikheid
15“Jy mag nie steel nie.
Steeds gaan dit oor liefde en respek vir ons medemens. Want ons medemens kan net vry wees, as ons ook hulle eiendom respekteer.
Maar hierdie gaan weereens oor meer as net om nie iets te vat wat aan iemand anders behoort nie. Dit gaan oor die hele manier waarop ons meet besittings omgaan. Dit het spesiale uitdagings vir dié van ons wat het en besit, om ook op ’n respekvolle, liefdevolle, waardige manier te leef teenoor diegene wat in armoede leef, wat nie kos het of ’n warm plek om te slaap nie.
Jy kan nie in weelde leef en jou beroep op hierdie gebod, as jy nie ook aktief en kreatief meewerk tot sosiale opbou wat ’n waardige lewe vir jou medemens moontlik maak nie.
Daar is selfs mense wat sê dat jy die kos wat jy weggooi, gesteel het by diegene wat niks het nie. Dis dalk bietjie ekstreem, maar die punt is geldig. As ek vermors, dan vermors ek middele wat ek kon deel met diegene in nood. As God ons in gemeenskap met mekaar plaas, as die wet gaan oor my medemens en nie oor my goed nie, dan beteken dit dat ek my medemens in die oog moet hê in die manier waarop ek my geld en besittings bestuur.
Nege: Hou die regspraak en geregtigheid in stand
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
Hierdie ene gaan nie oor jok nie. Dit gaan oor ’n gemeenskap waar reg en geregtigheid seëvier. Waar mense nie omgekoop word nie. Waar politieke partye nie ’n hele stad gyselaar hou in ’n politieke speletjie om politieke mag te kry nie. Hierdie gebod sê dat ons leiers die mense se beste belange op die hart moet dra, nie hul eie belange of eie meerderheid of mag nie. Die weerloosste mense in ons samelewing moet veilig wees. Hulle moet kan weet dat ons regsprosesse hulle beskerm, dat ons eerlik en met respek met mekaar omgaan.
Tien: Die rykdom van ’n eenvoudige lewe
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
Ons leef in ’n wêreld waar ons al meer en meer wil hê. Waar niks ooit genoeg is nie. Waar ons bure die maatstaf is om te weet wat ons nog kort. Waar ek weet ek het waarde wanneer ek beter is as my bure.
Hierdie gebod sluit nou aan by die “steel” gebod. Dat ons in gemeenskap met mekaar leef. En mekaar gun wat elkeen het.
Maar uiteindelik bring hierdie gebod ons terug na die aanvanklike gebooie: om op God te vertrou. Hierdie gebod herinner ons om dankbaar te wees. Jy hoef nie al daardie beeste en donkies te hê nie. Want jy is God se kind. God sal vir jou sorg. Jy hoef nie al hierdie besittings te vertrou nie. Jy kan maar net vir God vertrou. Vir God aanbid.
Dis genoeg.
Vrygemaak
Nou het ek lekker gepreek oor die tien gebooie. En hier aan die einde het ’n mens waarskynlik allerhande gedagtes en emosies.
Maar ek raai daar is een gevoel wat ons almal het: skuld. Want elke enkele een van ons staan skuldig. Dalk het jy begin verlede week nog gedink die tien gebooie is ’n lysie wat jy kan afmerk. En dat jy eintlik nogal okay doen. Dat jy die lysie kan merk en ’n goue sterretjie kan kry.
Maar wanneer ons voor God staan, dan staan ons elkeen skuldig. Ons is bevry, maar toe gaan staan leef ons al weer soos slawe.
Erger nog: toe gaan staan behandel ons mekaar weer soos slawe.
Want nie alleen oortree ons teenoor God nie, ons oortree ook teenoor mekaar. Ons kry dit nie reg om mekaar lief te hê soos God sê nie. Ons maak mekaar seer. Dan leef ons met skuldgevoelens en wrokke en woede en haat en vrees… Dan leef ons soos… slawe.
Daarom wil ek jou herinner: jy is vrygemaak. Jy is God se kind. Onthou, God het éérs sy volk vrygemaak en tóé vir hulle die wet gegee. Die wet is nie die voorwaarde nie. Die wet is die ding wat ons vertel hóé ’n mens wat vry is, leef.
Maar God ken ons goed. En hy werk met liefde en deernis met ons. Hy weet dat ons aanmekaar default na die slaaf-manier.
Romeine 3 sê:
23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Ons elkeen oortree die wet.
Maar jy is vry. Nog steeds vry. Al verval jy soms nog in die slaaf-manier. Jy is vry deur die genade van Jesus wat jou vrygemaak het. Intussen moet jy leer wat dit beteken. En dis ’n proses. Soos ’n kind wat leer loop, gaan jy soms val. Soms gaan jy seerkry. Maar die genade van Jesus is altyd daar om jou op te tel, om jou vas te hou.
En as jy dan met jou ou slaaf-neigings iemand anders seergemaak het, of seergemaak is, dan is dit my gebed dat jy ook daar, met die nerwe aan jou knieë, sag en liefdevol sal werk. As ons nou reeds oortree het, dan kan ons kies hoe op die mislukking gaan reageer. Gaan ons reageer met nóg slaaf-maniere, deur die pyn te koester, met woede en wraak? Of gaan ons reageer soos vry mense, met liefde, vergifnis, deernis?
My gebed vir jou is dat jy sal vry wees. Vry van jou eie verlede. Vry van jou eie skuldgevoelens en skaamte. Maar ook vry van die seer wat jou aangedoen is. En dan bid ek dat jy nie net sal vry wees nie, maar dat jy ook sal kan vryspreek. Dat jy sal vergewe waar vergifnis nodig is. Dat jy sal aanbeweeg waar aanbeweeg nodig is. Dat jy sal liefhê, altyd, maak nie saak wat nie.
Gebed
Dankoffer
Slotsang
Lied 532 Ons Vader, neem ons hande
Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
Respons
Lied 313 Amen
Eksodus 20, Rethie van Niekerk, tien gebooie, Wees Getrou, wet