Skip to main content

Tag: geestelike groei

Kolossense 1:1-14 Preek

Ek het in 1991 my lewe aan God oorgegee.  Geestelik is ek dus nou 25 jaar oud.  Dis eintlik die belangrikste vraag:  hoe vergelyk jou geestelike lewe vandag met geestelike lewe 20 jaar gelede, 10 jaar gelede, verlede jaar? Het jy geestelik gegroei? Verander? Ken jy vir God beter? Kan jy God se stem beter onderskei?  Volg jy meer op Jesus se spoor?

Continue reading

Handelinge 2:42 – Die Connect Faktor – Son 2 Nov 08

 

Dit strook met die bevindinge van Willow Creek:

  • Die behoeftes wat mense aan die begin van hulle geestelike reis het, is om te connect.  Daar moet ‘n connection wees met Jesus, en ‘n connection met ander wat die pad saam kan loop.  
  • Daarom is kleingroepe en geleenthede waar mense mekaar kan ontmoet en leer ken, so belangrik.  Want as dié behoefte ontmoet word, groei mense, skuif hulle van ontdekkers na gelowiges, skuif hulle van beginners na groeiendes.

En dié connection het met geloof in Jesus te make, en veral met ‘n besig wees met die Bybel, die vanilla faktor in geestelike groei.

Is dit nie ook wat nou onlangs hier gebeur het met oom Angus Buchan se byeenkoms nie?  21 000 mense by die atletiekstadion wat connect aan Jesus en ‘n besondere band met mekaar ervaar.

Maar dit is lewensbelangrik dat die connection in die gemeenskap van gelowiges in die kerk voortgesit sal word, met die Bybel en met die gemeenskap van gelowiges.  Want die plek waar Christene begin om geestelik te groei, veral aan die begin van hulle reis, maar eintlik regdeur die reis, is in die saam, heelhartige toelê op die leer van die apostels, en die onderlinge verbondenheid, die saam-eet en die saam-bid.

Ek het met ‘n hele paar mense in die week gesels wat by Angus se byeenkoms was.  En daar was baie positiewe kommentaar, sommige met ‘n paar konstruktiewe opmerkings.  Die volgende stap is nou om in te skakel, om met jou hele hart deel te raak van die gemeenskap van gelowiges, hier by ons, of waar die Here jou ook al lei.

Kyk, ons kan nie agter Angus aan toer nie – al sal dit lekker wees om 200 000 of 300 000 mense volgende jaar in Natal bymekaar te sien.  En as jy dit kan doen – “by all means”.  Maar die bergtop ervaring van so ‘n byeenkoms moet in geestelike groei oorgaan, wat te make het met die dissipline om saam te wees, saam te lees, saam te eet, saam te bid, en saam te bedien.

Ek wil jou uitdaag – as Jesus vir jou belangrik is, en jy ‘n nuwe commitment aan Hom maak, skakel dan in die gemeenskap van gelowiges in.  Raak deel van ons saam-lees, saam,-wees, saam-eet, saam-bid.

En as jy ingeskakel is, reik uit na dié wat nog nie in ‘n groep is nie.  Doen moeite!  Dit is die evangelie!

Connect!

TWEEDE FASE: INOEFENING

Die tweede fase is INOEFENING. 

Dis interessant – die volgende hoofstuk in die verhaal van die eerste kerk – het te make met ‘n genesing wat sterk teenstand uitlok.  Petrus en Johannes gaan saambid by die tempel, bid dat die Here ‘n verlamde man genees, en die Joodse raad kom in aksie, dreig hulle en probeer hulle stil maak.
En die vraag vir die gelowiges onmiddellik is: wat doen ek wanneer ek teenstand kry as ek goed doen?

En die antwoord kom as hulle die dissipline van gebed beoefen.  As die gelowiges saambid en vir die Here vertel van die vroeëre sameswering van Herodes, Pilatus en die huidige groeiende teenstand Joodse Raad teen die boodskap van Jesus, en hulle verbind aan die Here om Hom te dien al is daar ook hoe baie dreigemente, dan skud die plek waar hulle saam is, en word hulle met die Heilige Gees vervul en met vrymoedigheid om die Woord van God verder te verkondig.

Hulle beoefen dus die geestelike dissipline van intersessie, wat hulle geestelik versterk.  Hulle geloof skuif al hoe meer van ‘n passiewe ontvang van God se gawes, na ‘n aktiewe betrokkenheid by wat met die evangelie gebeur in die wêreld.  Hulle doen saam die dinge wat ‘n aktiewe persoonlike en intieme verhouding met Christus voed.

En let op, dit is toenemend ‘n twee-rigting verhouding.  Hulle praat nie net met God nie, maar hulle luister ook na Hom en ervaar gebedsverhoring en die vrymoedigheid om verder getrou en gehoorsaam aan God te bly.  En as ‘n mens die gebed gaan ontleed (4:24-30), kom jy agter dat hulle gebed deurspek is van Skrifverwysings.  Hulle bid die Woord, hulle reflekteer daaroor, hulle bring dit in verband met wat so pas by die Joodse Raad gebeur het, en dit bring transformasie by hulle.  Hulle denke en hulle lewe verander.

En die jong gemeente se mense groei deur hierdie inoefening.  ‘n Mens sien hulle worstel met die dissipline van rentmeesterskap, meer spesifiek, die verkoop van grond.  Josef, of meer bekend as Barnabas, van Siprus, wat later in Egipte saam met Johannes Markus ‘n groot rol sou speel, verkoop ‘n stuk grond en skenk dit.  Baie meer as ‘n tiende (terwyl dit ook vandag tiende maand dankoffer is).  En Ananias en Saffira, wat so graag ook soos hy offervaardig wil wees, verkoop ook ‘n stuk grond, maar jok oor hulle bydrae, en dra die prys.  En die gemeente raak bewus van die erns van hulle commitment en van die dissipline van rentmeesterskap.
En dieselfde gebeur met die dienslewering aan die weduwees, waar hulle moes leer om struktuur te gee aan hulle omgee vir mekaar.

Oefen, oefen, oefen. Nog steeds natuurlik ge-connect aan mekaar.  Maar nie as ‘n eenmalig ervaring nie.  Aan mekaar en aan mekaar, treetjie vir treetjie, saam met mekaar.

Sonder hierdie inoefening van die geestelike dissiplines kan ‘n gemeente, kan ‘n gelowige, nooit volwasse word nie.  En dit is nooit te laat om te begin nie.
Kom ons vul sommer nou die Gemeenskaps barometer in:

Waar is jy nou, op hierdie oomblik in jou connecting aan Jesus en jou connecting aan jou medegelowiges?

GEMEENSKAP BAROMETER

Dink na oor wie of wat in die gemeenskap met ander gelowiges vir jou die meeste beteken.  Lys tien verhoudings, aktiwiteite, plekke of ervarings met ander gelowiges wat aan jou lewe betekenis gee.
1.
2.
3.
4.
5.
6.
7.
8.
9.
10.
Watter hiervan het in die laaste drie maande, ses maande, jaar gebeur?

Hoe kan jy jou lewe verander om meer tyd te gee aan dié lewe-gewende verhoudings, aktiwiteite, plekke en ervarings met ander gelowiges?

“Jesus never wrote a book; He formed a community”  Lesllie Newbigin

DERDE FASE: BEDIENING

Maar dit is nog lank nie al nie.

Die geestelike pad se fokus is nie op die begin nie.  Dit is op die eindpunt.  Dit is nie op die ervarings per se nie.  Dit is om die krag van die Gees, die belofte wat Jesus gegee het reg in die begin van Handelinge, om ‘n getuie vir Jesus te wees, in Jerusalem en Judea, in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld te gaan verkondig.

Dit gaan nie om jou nie, hoe moeilik dit ook al is om te verstaan.  Die koringkorrel moet ‘n koringplant word.  Die ontdekker moet ‘n beginner word.  Die beginner moet ‘n groeiende word.  Dit groeiende moet ‘n Christus-gesentreerde word.

Die derde fase van geestelike groei is dat gelowiges Christus-gesentreerd word en met oorgawe begin dien in ‘n bediening.

Baie keer is dit op hulle eie of met ‘n klein groepie super-committed (connected!) mense rondom hulle. 

Jy sien hulle by die Joodse Raad (hfst. 7) – ‘n Stefanus wat getrou bly ten spyte van die klippe wat op hom reën.

Jy sien hulle by die gemengde ras van die Samaritane (hfst. 8) – ‘n Filippus wat groot blydskap vir ‘n veragte volk bring, al is daar ouens wat wil geld maak daaruit.

Jy sien hulle by die Ethiopiese man (hfst. 8) – weereens Filippus  wat die ras-grens oorsteek en ook nog ‘n ontmande, en die evangelie aan Afrika bring.  Afrika is eerste, voor Sirië, en Turkye, en Griekeland en Rome en die res van Europa, al met die evangelie bedien, en elke nuwe biskop van Ethiopië sou vir eeue deur die woestyn na Alexandrië reis vir ‘n aanstellingsprosedure.  Geen wonder dat baie kerke in Afrika hulleself Ethiopiese kerke noem nie, want hulle wil die band met daardie eerste kerstening beklemtoon.

Jy sien hulle by die Romeinse soldate – ‘n Petrus wat sy vooropgestelde idees oor wie in is en wie uit moet laat vaar, sodat Christus ook van sy lewe die sentrale punt kan word.

En so kan ‘n mens die hele Handelinge deurblaai: Paulus, Barnabas, Silas, Timoteus, Lukas, Markus, Petrus ensovoorts, ensovoorts.

Dit is asof die geskiedenis vir ons leer – dit is hoe dit werk in die koninkryk.

  • Mense connect aan Jesus en aan mekaar.  
  • Hulle groei saam en leer saam en eet saam en dan …
  • dan begin die bediening, van mense wat eenvoudig hulle lewens nie meer as so belangrik beskou nie, maar hulle lewens weggegee vir die saak van Christus.  En geen geld of eiendom is ontsien nie, en geen opoffering was te groot nie, en geen grens te ver om oorgesteek te word nie.
  • Insiggewend hoeveel keer die grense sosiale en kultuur grense was.  Die kerkhistorici wys juis uit dat gemeentes wat dit regkry om Christus-gesentreerd te begin lewe, wat grense van kultuur en stand en klas oorsteek, dié gemeentes is wat gegroei het.  En dié wat dit nie gedoen het nie, maar laer getrek het om hulle eie kultuur en stand en klas het gekwyn en doodgegaan.

Ek sluit af:

Jy hoef nie nou te wees waar Filippus was nie.

  • Miskien is dit vir jou net nodig vandag om te connect.  Jesus is jou antwoord.
  • Miskien het jy met Hom ge-connect, miskien by Angus.  Dan is inskakeling, connection, met ander gelowiges jou antwoord.  En moet jy die dissiplines van lees, en bid en eet saam met ander en natuurlik op jou eie begin beoefen.
  • Miskien het jy al ge-connect met Jesus en met jou medegelowiges en oefen jy al jare … dan is dit tyd vir bediening.  Die kerk kan jou nie daarmee regtig help nie. Dit is iets wat jy by die Here moet hoor.  Maar die kerk het ‘n rol – dit is een van afrigting, van begeleiding, van mentorskap, van ‘n platform gee vir die uitlewe van jou bediening.

Dit is tyd om te kies: Jesus, jou Gemeente, jou Bediening.

Laai die joernaal hier af.

Johannes 12:22-26 – Son 19 Okt 08

 

‘N KORINGKORREL WORD ‘N KORINGPLANT

En dan gebruik Jesus ‘n diepsinnige beeld om dit te bevestig, en sy offer aan die kruis te beskrywe, ‘n offer wat Hy ook van almal vra wat sy voorbeeld wil navolg, nog dieper, wat Hom wil volg.  Hy praat oor die feit dat as ‘n koringkorrel nie geplant (begrawe) word nie, kan dit geen koringare, wat op hulle beurt ‘n oorvloed koringkorrels dra, voortbring nie.

Dit is met die begrafnis van ‘n lewe vir jouself, wat die krag van ‘n nuwe oorvloedige lewe ontkiem en begin groei en begin vrug dra.

Nou ons moet dit goed hoor.  Dit is ‘n sterf aan ‘n lewe vir jouself, om ‘n lewe vir ander te kan lewe.  ‘n Mens moet hierdie woord, apothnēskō, “as die koringkorrel nie in die grond val en STERF nie” nie in ‘n wetenskaplike sin verstaan nie, asof die “sterwe” sou beteken dat daar letterlik doodgegaan moet word nie (EP Groenewald).

Dit is in elk geval ook nie wat met ‘n koringkorrel gebeur nie.  Die bedoeling is dat die gestalte, die uiterlike vorm van die saadkorrel vergaan, maar die kiem van die lewe bly behoue en spruit voort (pherō) in ’n nuwe gestalte.

Die bedoeling is dat Jesus in sy aardse gestalte ‘n offer moes bring, waardeur God se krag in werking gestel kon word, en die oes van God sigbaar kon word.  Deur Jesus se opstanding uit die dood in ‘n ander gestalte kon God nou die ewige lewe gee aan elkeen wat in Hom glo, en wat Hom navolg om nie meer vir hulleself te lewe nie, maar vir God.

En dit is die punt – Ons is koringkorrels!  En ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om vir jare sy kragte te spaar vir homself ( en dit kan hy suksesvol doen deur in die skuur te bly en te sorg dat die boer hom nie in die hande kry nie).  Of ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om sy lewe vir ander te gee, deur in die grond geplant te word en in die transformasie van homself ‘n koringplant te word wat are het en koringkorrels lewer wat op hulle beurt geplant kan word om die lewe aan te gee dat ander kan lewe en so die lewe wat in hulle opgesluit is, te kan vermenigvuldig.

Koringkorrels moet koringplante word.

Soos Beasley-Murray in die Word kommentaar op Johannes sê: “The law of life through death in v 24 has in view making life possible for others, whereas in v 25 it is to gain life for oneself.”

Om te sterwe aan ‘n lewe vir jouself, en ‘n lewe te begin lewe vir ander – dit is wat dit beteken om Jesus te volg.  Om ‘n koringkorrel te wees wat ‘n koringplant word.

DIE BEGEERTE NA MEER

Nou waar begin dit alles?  Hoe kan ek dit prakties begin doen?

Wel jy begin waar jy is!  Maak nie saak watter stoel nie (Deon se vier stoele van laasweek wat die verskillende segmente van geestelike groei verduidelik)!

En jy maak ‘n keuse: Ek wil Jesus volg.

Want dít is die begin, en dit is die resep selfs vir die vêrste gevorderde, mees geestelike volwasse kind van God, om Jesus te volg.  Om Jesus te volg, is waar verandering begin (soos die storie van die 6 jarige Len) en waar verandering uitgebou word.

Die begeerte is die begin.

Hoekom?  Want Jesus werk met ons begeerte.  Die begeerte na Hom trek Hom in die kern van ons bestaan in.
Daarom die fokus die kwartaal op die teks van Handelinge: hulle het hulle HEELHARTIG toegelê op die lering van die apostels, die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

GEESTELIKE DISSIPLINES

Hoekom is dit so belangrik?

Want, reg deur die eeue het gelowiges hierdie behoefte aan en na God gekoppel aan sekere geestelike dissiplines of gewoontes of praktyke.

Die navorsing van Willow Creek Community Church in Chicago bevestig dit.  Een van die vier katalisators van geestelike groei is persoonlike geestelike praktyke.

Die vier katalisators is:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite (formeel)
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander (informeel)

Want elke keer as ‘n mens ‘n geestelike dissipline doen, skep jy ruimte in jou lewe vir Jesus.  Soos Adele Calhoun sê: dit gee die Gees: “space to brood over our souls.”

As jy ‘n behoefte aan verandering het in jou lewe, dan is die eerste stap om dié behoefte na die Here toe te bring.  En vir elke behoefte is daar ‘n dissipline of ‘n aktiwiteit wat jy kan beoefen om vir Hom tyd te maak om dié behoefte te vervul.

En deur dit stap vir stap te doen, treetjie vir treetjie, begin die verandering in jou lewe kom.

HOU ‘N JOERNAAL

Een van die beste maniere om Jesus te volg, as die Here vandag hierdie begeerte om Jesus te volg in jou hart weer aangeblaas het, is om die dissipline van stiltetyd te laat herleef, en meer spesifiek ‘n joernaal te hou sodat die pad wat jy met Hom stap met tyd vir jou meer sin kan begin maak.

Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons lewe – op die blaadjie is ‘n Stiltetyd barometer.  Vul dit in om ‘n waarderende blik te kry op wat in jou stiltetyd al gebeur het met jou.  En dink na oor hoe jy meer van die goeie dinge kan doen.

Wat doen ‘n mens met ‘n joernaal (scrapbook)?

Adele Calhoun sê: dis om jou in te stel “to be alert to my life through writing and reflecting on God’s presence and activity in, around and through me”.

‘n Joernaal help jou om jouself in te stel om raak te sien wanneer God opdaag in jou lewe.  Hy is natuurlik altyd daar, maar omdat ons nie onsself instel om Hom raak te sien nie, sien ons Hom nie raak nie!  In ‘n sekere sin help ‘n joernaal ons natuurlik eintlik om die waarheid oor onsself raak te sien … dat ons in God se hande is, dat Hy met ons ‘n pad stap … en dit gebeur wanneer ons ruimte maak in ons lewe om te kan agterkom wat aangaan.

En onthou: daar is eintlik niks waardeur God nie met ons praat nie!    Jy kan skryf oor dinge buite jou en dinge binne in jou.  Jy kan jou gebede neerskryf.  En soos wat ons herhalende temas, sondes, gevoelens, behoeftes, beperkings, bekommernisse, verwagtinge begin raak sien, kom ons in aanraking met die genesende teenwoordigheid van God.  En ons joernaal word ‘n reis van ons siel na God toe.

Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier vir ‘n joernaal nie.  Daarom het ek die voorbeeld van ‘n scrapbook gekies om met die kinders te behandel.  Jy kan teken, skryf of plak.  Jy kan sleutel woorde onderstreep om agter te kom watter dinge by herhaling vir jou betekenis het.  En baie gou sal jy agterkom dat jy met jou joernaal in ‘n gesprek met God betrokke raak waar jou joernaal nie net jou kreatiwiteit ten toon sal stel nie, maar ‘n getuienis van God se teenwoordigheid in jou lewe sal wees.

Jy moet jou eie ritme vind, daagliks, weekliks, maar verseker gereeld.  En dit is absoluut noodsaaklik as daar veranderinge in jou lewe is, of jy besluite moet neem, of jy worstel met goed … asof dit nie elke dag is nie!?

En dit help as jy plek en tyd maak vir ander om saam met jou die pad te stap.  Veral vir ons families: die dissipline van huisgodsdiens kan bestaan in die deel met mekaar van ons joernale.  Dit kan ook ‘n welkome afwisseling vir kleingroepe wees om vir ‘n tyd spesifiek hierop te fokus.

Laat elkeen kom met dié een ding wat die week in stiltetyd duidelik geword het, en dit met mekaar te deel.  Dit kan soms ook ‘n vraag wees, of ‘n gebedsversoek, of ‘n stuk leed en hartseer waarmee geworstel word.

Maar dit begin by stiltetyd … en ‘n joernaal.

UITDAGING

Ek sluit af.

Christen wees is Volgeling wees.

Volgeling wees is om ‘n Koringplant te word.

Die koringkorrel moet in die grond val, en dit moet ‘n koringplant word, lewe ter wille van ander.

Begin met ‘n joernaal om dié reis neer te pen, sodat dit ‘n getuienis vir jouself kan wees van die proses waarin jy ‘n volwasse volgeling van Jesus Christus word.

“Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”

KINDERTYD (vooraf)

Wat is dié?

‘n Scrapbook.

Ja – dit is ‘n verjaardag maatjie s’n.

Maar daaroor so ‘n bietjie later.

IN JESUS SE VOETSPORE

Die sesjarige Len was gedurig op sy ma se hakke, so veel so dat sy selfs amper op ’n keer oor hom geval het!  Sy raas toe en vra hom of hy nie liewers buite wil gaan speel nie.  Sy antwoord aan haar was dat hy liewer saam met haar wil wees!

Toe sy egter die hoeveelste keer op sy tone trap, het sy haar geduld verloor en gevra:  “Hoekom tree jy so vreemd op?”

Toe kyk Len sy ma in die oë en antwoord:  “Wel, juffrou het gesê ek moet in Jesus se voetspore loop.  Maar ek kan nie vir Jesus sien nie, so nou loop ek maar in Mamma s’n!”

Mooi storie nê?!

VOLG MY!

Want die Bybel sê mos: ons moet in Jesus se spore loop. 

Onthou julle nog hoe julle laasweek agter oom Deon aangeloop het.

Die Bybel sê ons moet vir Jesus volg.

Hoe doen ‘n mens dit?

Bid, Lees, Dien, Praat, Lief, ens.

Ek wil vandag vir julle iets voorstel wat julle nog baie in julle lewe gaan help om Jesus te volg.

‘n Mens kan nie vroeg genoeg daarmee begin nie!

Kom ons kyk nou in hierdie Scrapbook.

Ons hou ‘n Scrapbook van alles in ons lewe – van jou geboorte, van jou verjaarsdae, van plekke waar ons vakansie gehou het, van groot partytjies of feeste wat ons hou.

  • Hier is Jan se geboorte – hy is sowaar 19 jaar oud vandag.
  • Hier is Jan se doopdag 31 Desember 1989.  
  • En hier is sy kamer.
  • En hier sy eerste verjaardag.
  • En hier sy matriekafskeid.

Nou ons kan ook ‘n Scrapbook hou van hoe ons Jesus volg in ons lewe.

Wat sit ‘n mens daar in?

  • Jy kan foto’s van jou ma en pa daar sit – want as Hy nie vir hulle bymekaar gebring het nie, was julle nie hier nie!  Dit sê iets van wat Jesus vir jou gedoen het.
  • Jy kan foto’s van jou doop daar sit – want toe het God gesê, Hy is baie lief vir jou en Hy maak jou sy kind.
  • Jy kan daarin skryf van gebedsverhorings.
  • Jy kan daarin skryf van ‘n Bybelteks wat jou vir mooi is.
  • Jy kan daarin skryf van kere wat die Here vir julle baie goed was.
  • Jy kan daarin skryf van tye wat die Here julle uit gevaar gered het.
  • Jy kan daarin skryf van ‘n tyd wat jy gehoorsaam was en vir Jesus gevolg het en wat toe gebeur het.
  • En jy kan plak, teken, skryf – enige manier!

En so kan ‘n mens in die Scrapbook alles sit wat vir jou sê: Jesus is in my lewe. Ek volg Hom.

En as ‘n mens eendag twyfel, of dit gaan swaar, of jy wil weet wat moet ek nou doen, dan kan jy kyk in jou Scrapbook.

Julle gaan nou begin met ‘n Scrapbook by die toepassing – maar miskien moet julle vir julle ma’s en pa’s vra vir ‘n groter boek wat julle langs julle bed kan hou sodat dit sommer vir die res van jou lewe gebruik kan word.

By die SKRIFLESING

U weet nou al heel goed, die tema van ons kwartaal is die woorde van Handelinge 2:42: “Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”  Dit verwoord die reaksie van die 3 000 nuwe volgelinge van Jesus wat met die eerste Pinksterdag hulleself aan Jesus en aan die gemeenskap van gelowiges verbind het. 

In die Grieks word die woordjie proskartereō gebruik. 

Dit beteken ‘n toewyding en fokus van gedagtes en gedrag, van volharding en deursettingsvermoë, van aanhou ten spyte van, van onafgebroke jouself te gee vir iets, om vas te byt en deur die pyngrens te breek, om alles te doen wat dit van jou vra. 

Paulus gebruik die woord op ‘n punt in sy mentorskap teenoor Timoteus, waar hy vir hom sê hy moet aanhou om die Bybel in die openbaar te lees (1 Tim 4:13), hom toe te lê daarop, daarin te leef … want daardeur sal hy homself red EN dié wat na hom luister.

Dít is die Christelike weg.  Dít is wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees.  Dít is wat dit beteken om Sy afdruk op jou lewe te hê.

Maarten Luther het mos gesê: “God se Woord is nie ’n Leeswoord nie, maar ’n Leefwoord!”

Johannes 12:22-26; Handelinge 2:42

EKSTRA STOF
DIE MERK VAN CHRISTUS IN ONS LEWE

Die Griekse woord wat gebruik word in die Bybel vir “voorbeeld” is ook gebruik vir wanneer ’n merk agtergelaat is deur ’n harde hou  (byvoorbeeld wanneer ’n motief op ’n muntstuk geslaan is).  Om Jesus as voorbeeld na te volg, beteken dus dat ons toelaat dat Christus ons lewe merk, soos ’n muntstuk geslaan word, of soos ’n bees gebrandmerk word.  Ons is gemerk deur Christus en ons lewe word bepaal deur Christus.  Alles word bepaal deur die beeld wat op ons ingeslaan is!  Die beeld bepaal die waarde van die muntstuk! 

Dit geld natuurlik ook van alle gelowiges.  Die Heilige Gees het ons lewe gemerk met die lewe van Christus. Wat sien mense in ons lewe raak –  vir ons of Christus wie se voorbeeld ons uitleef?

OM JESUS TE VOLG

Ons toewyding om Christus na te volg moet só sterk wees, dat ons bereid sal wees om ons idee van hoe ons lewens gelewe moet word, en wat belangrik is, en waarvoor ons moet werk, prys te gee. En te luister na wat God wil hê, Hom te dien, soos wat Jesus hier sê, en dit met ons hele hart te doen. 

Jesus gebruik eintlik twee woorde wat mekaar komplimenteer hier in Joh 12:22-26, om God te dien (diakoneō), en om Hom te volg (akoloutheō). Die woord om te volg, is saamgestel uit die eerste letter van die alfabet a wat ‘n deelwoord van eenheid is, en keleuthos (‘n pad) – d.w.s. ‘n mens kan daarin die idee inlees van agter iemand aan te loop, dieselfde pad as hy te volg. 

Dit beteken dus nie dat ons moet of graag sal wil sterf nie, maar dat ons bereid moet wees om enigiets: posisie, besittings, gerief, op te offer – sodat ons God kan dien, en agter Jesus aan kan stap, Hom kan volg, kan doen wat Hy vra, kan gaan waar Hy wys, sy wil en wens te gehoorsaam.  Dit kan selfs beteken dat ons ons lewens verloor om Christus te verheerlik, hoewel vir die meeste van ons dit meer van belang is dat ons bly lewe, maar vir Christus.

IGNATIUS SE STORIE

Ignatius, ‘n biskop van Antiochië in die begin van die eerste eeu n C, was op pad na Rome.  Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus.  Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.

Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël.  Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie.  Inteendeel.  Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.

Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons sendelinge op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde: 

“I fear your kindness, which may harm me.  You may be able to achieve what you plan.  But if you pay no heed to my request it will be very difficult for me to attain unto God.”

Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:

“If you remain silent about me, I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.” (Letter from Ignatius, Romans 1,2-2.1)

Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matt 18).

PROSKARTEREŌ IN DIE WOORDEBOEKE –“HEELHARTIG TOEGELÊ”

Enhanced Strong’s Lexicon AV translates as “continue” four times, “continue instant” once, “continue steadfastly” once, “attend continually” once, “give (one’s) self continually” once, “wait on” once, and “wait on continually” once. 1 to adhere to one, be his adherent, to be devoted or constant to one. 2 to be steadfastly attentive unto, to give unremitting care to a thing. 3 to continue all the time in a place. 4 to persevere and not to faint. 5 to show one’s self courageous for. 6 to be in constant readiness for one, wait on constantly.

The New Strong’s Dictionary of Hebrew and Greek Words: to be earnest toward, i.e. (to a thing) to persevere, be constantly diligent, or (in a place) to attend assiduously all the exercises, or (to a person) to adhere closely to (as a servitor):— attend (give self) continually (upon), continue (in, instant in, with), wait on (continually). 

Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words:  “to take heed, give heed,” is said of the priests who “gave attendance at the altar,” Heb. 7:13. It suggests devotion of thought and effort to a thing. In 1 Tim. 4:13 (in the exhortation regarding the public reading of the Scriptures), the RV translates it “give heed,” for the KJV, “give attendance.” In Acts 16:14, “to give heed” (for KJV, “attended). See BEWARE, GIVE, No. 17, REGARD.
2. proskartereo (προσκαρτερέω, 4342), “to be steadfast,” a strengthened form of kartereo (pros, “towards,” intensive, karteros, “strong”), denotes to continue steadfastly in a thing and give unremitting care to it, e.g., Rom. 13:6, of rulers in the discharge of their functions. See CONTINUE, WAIT. In the Sept., Num. 13:21.¶

OOR VOLGELINGE

Terloops: Joh. 12:26 wys daarop dat baie mense, onder andere Jesus se dissipels, gedink het dat Jesus net vir die Jode gekom het. Maar Jesus verkaar dat almal wat opreg na Hom soek, welkom is as sy volgelinge, wie hulle ook al is. Sy boodskap is vir almal. Ons mag dus nooit toelaat dat sosiale en rasseverskille struikelblokke word as dit by die verkondiging van die Evangelie kom nie. Die Woord moet na alle mense uitgedra word en alle mense moet welkom wees in die gemeenskap van die gelowiges.

NAVORSING VAN WILLOW WAT OP DIÉ WOORDVERKONDIGING BETREKKING HET (UIT DIE BOEK: FOLLOW ME)
1.  WAT MENSE VAN DIE KERK EN SY LEIERS VERWAG

Gelowiges verwag transformasie en wil die vertroue hê dat die kerk en sy leiers hulle daarmee sal help.

Een van die sleutel verwagtings van gelowiges wat uit die navorsing gekom het, was: “Challenge me to grow and take the next step in my spiritual life.”
Reveal – Where are you? (die eerste boek in die reeks) en Follow Me werk met die “vision gap” tussen 1) waar mense nou is (werklikheid) en 2) waar hulle graag wil wees (visie) op voetspoor van Peter Senge (Fifth Discipline) se navorsing.  Sy tese is dat die gaping tussen werklikheid en visie ‘n “creative tension” veroorsaak wat as sodanig die energie voorsien om die gaping te oorbrug.  Dit is soos ‘n rubberband wat jou vorentoe trek.

Vir verandering om te gebeur, moet die kerk ‘n werkbare plan voorsien om die gaping te oorbrug. 

En dit is die hooffokus van die Follow Me boek se refleksie as opvolg van die vorige boek Reveal – Where are you?:

om te verstaan hoe werklike mense prakties te werk gaan om die geestelike gapings in hulle lewens te oorbrug, sodat die kerk werkbare planne daarvoor kan voorsien.

Die kerk moet dus die gapings in geestelike groei identifiseer en spesifieke stappe aanbied sodat mense die gapings in hulle geestelike groei kan oorbrug.

Uiteraard wil hulle nie ‘n honderd stappe gee nie, maar net die eerste 3 of 4 om ‘n beweging te begin om die gaping te oorbrug.

Leiers moet dus die rol van geestelike breiers inneem om mense te help met die werklikheid (waar is ek?) en die visie (waar wil ek wees?) om hulle eie gapings te kan identifiseer.

  • Dié gapings moet nie te groot gedefinieer word nie, anders sal dit demotiverend wees.
  • Die stappe moet ook verpersoonlik word, sodat mense ingeligte keuses kan maak – “one size does not fit all”.

Wat gelowiges (en leiers) hiermee help is die bril van segmentering. 

Dit word in detail in die eerste boek Reveal – Where are you? bespreek, gebaseer op die navorsing van Copeland en Arnson oor predictiveness.  Dit is ‘n meetinstrument wat in verbruikersnavorsing gebruik word om vas te stel: “the degree to which we can predict whether or not someone is likely to behave in a certain way or to try a new product.” 

‘n Hoë korrelasie tussen houdings en gedrag is “predictiveness”, waaruit segmente (groepe mense met gemeenskaplike eienskappe) geëkstrapoleer kan word.
Die segmente wat uit hulle navorsing na vore gekom het, is:

a.    Ontdekkingstog van die boodskap van Christus (Exploring Christianity)
b.    Groei in Christus
c.    Naby aan Christus
d.    Christus-gesentreerd

Die behoeftes wat mense in dié segmente het, is die volgende:

a.    ONTDEKKERS: Soeker eredienste en geleenthede om met ander te connect
b.    BEGINNERS: Kleingroep geleenthede en basiese persoonlike geestelike praktyke
c.    GROEIENDES: Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke
d.    CHRISTUS-GESENTREERDES: Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Benewens die metafoor van ‘n rubberband wat jou vorentoe trek, gebruik hulle ook die metafoor van water wat vloei – ons is soos water wat na God toe wil vloei en diep intieme gemeenskap met Hom wil hê – en die kerk moet mense hiermee help.

2.  KATALISATORS

In hulle aanvanklike ondersoek van 200 kerke en 80 000 mense (met die skrywe hiervan het 500 kerke en 157 000 mense al deelgeneem) is vier kategorieë van geestelike katalisators gevind wat mense help om van een fase van geestelike groei na die volgende te beweeg.

Die vier kategorieë is afgelei uit die meting van die impak van meer as vyftig faktore op geestelike groei.

Die vier katalisators is:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander

In die bespreking van dié katalisators fokus hulle op drie bewegings wat mense van een segment na ‘n volgende laat beweeg:

  1. Beweging Een: die vroegste fase van geestelike groei (Ontdekker na Beginner) – veral die aanvaarding van Jesus as die enigste weg tot saligheid (laerskool).
  2. Beweging Twee: die intermediêre fase van geestelike groei (Beginner na Groeiende) – veral waar mense begin om meer aktief in hulle persoonlike geestelike ervarings te word (hoërskool). 
  3. Beweging Drie – die meer gevorderde fase van geestelike groei (Groeiende na Christus-gesentreerde) – veral waar mense begin skuif van ‘n daaglikse bewussyn van Christus se teenwoordigheid en betrokkenheid na ‘n herdefinisie van ‘n persoon se identiteit as Christus-gesentreerd (universiteit).

Die vyf hoof behoeftes is dieselfde vir al drie geestelike groei bewegings:

  1. Help my om die Bybel in diepte te verstaan,
  2. Help my om ‘n persoonlike verhouding met Christus te ontwikkel,
  3. Voorsien stewige programme vir kinders,
  4. Daag my uit om te groei en “next steps” te neem, 
  5. Voorsien “compelling” eredienste.

Belangrike ander bevindinge:

  • ‘n Begeerte dat Jesus ‘n prioriteit in my lewe sal wees (first in my life), is ‘n betekenisvolle katalisator in al drie bewegings, sowel as ‘n groeiende oortuiging van die outoriteit van die Bybel.
  • Die impak van die kerk, soos reeds in die eerste rondte van hulle navorsing bevind, is die hoogste in die eerste twee bewegings van geestelike groei: Ontdekkers na Beginners, en Beginners na Groeiendes.
  • ‘n Verstommende ontdekking is dat diensgeleenthede meer betekenisvol is in geestelike ontwikkeling as georganiseerde kleingroepe!
  • Verdere leer-ervarings oor geestelike temas het ook ‘n betekenisvolle impak in beweging twee (Beginner na Groeiende).
  • Verdere leer- en aanbiddings dienste het ook ‘n betekenisvolle katalisator effek in beweging drie Groeiende na Christus-gesentreerde).
  • Refleksie oor die betekenis van die Bybel vir my lewe is die nommer een faktor in al drie bewegings.
  • Geestelike gemeenskap is ‘n kritiese katalisator vir geestelike groei in al drie geestelike groei bewegings.  Dit skuif wel van meer spontane vriendskappe na sterker mentor verhoudings wat meer verantwoording asook meer risiko’s impliseer.
  • Alle segmente sê dat geestelike vriendskappe hulle mees belangrike bron van geestelike gemeenskap is.

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

 

LEWE TER WILLE VAN CHRISTUS

Paulus is hier weer in die tronk (waarskynlik in Rome).  En as hy hier skryf dat hy onseker is of hy wil leef of sterf (vers 22), moet ‘n mens in gedagte hou, dat vir baie gevangenes dit werklik beter was om te sterf as om in ’n Romeinse tronk te probeer oorleef. 

Die omstandighede in tronke was haglik.  Die tronke was vuil, donker, warm, bedompig en onhigiënies.  Gewoonlik was daar nie individuele selle nie, maar is mense eerder aan mekaar in groepe vasgeketting (vgl. Fil. 1:14).  Gevangenes het min slaap gekry, en moes deur hulle families van kos en klere voorsien word (Kyk bv. na Fil. 4:18 waar Paulus die gelowiges bedank vir wat hulle vir hom gestuur het om van te oorleef: “… ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg”). Vriende het baie keer die gevangenes in die tronk bygestaan, soos ons hier lees van Timoteus en Epafroditos se diens aan Paulus (van wie Paulus in hfst. 2:19-30 sê: “wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan”).  Die hulp van vriende buite die tronk, was dikwels die verskil tussen lewe en dood vir gevangenes. 

Maar – Paulus is nie bekommerd oor die tronk as sodanig nie.  Hy dink nie oor lewe en dood vanuit sy omstandighede nie.  Hy dink uitsluitlik aan die effek van sy lewe (of dood) op die gelowiges.  Vir hom is dit beter om hemel toe te gaan … maar wat dan van dié wat agterbly?  En as hy aan hulle dink, dan besef hy, dit is nog nie tyd om te gaan nie. Hy het nog iets om te doen hier op aarde.  Hy bestaan immers ter wille van Christus en sy saak op aarde.

Hoekom dink hy so?

Want die lewe is vir hom Christus.  En hy is bereid om sy lewe weg te gee ter wille van Christus.

En dit is die uitdaging aan ons as Christene – dat die lewe ook vir ons Christus sal wees, dat ons ook bereid sal wees om ons lewe weg te gee.

Nou dit kan wees dat jy nou na my luister, en net besef, dit is nie waar ek is nie.

En dit is ‘n goeie gedagte – want dit is wanneer ons eerlik na ons eie lewe as Christene kyk en ons meet aan die lewe van ‘n volwasse Christen soos Paulus en ons bewus raak van die gapings in ons eie lewe, dat ‘n kreatiewe krag (Peter Senge) in ons aangesteek word, om verander te word, sodat die lewe ook vir ons Christus kan wees, en ons Christus-gesentreerd kan lewe.

Kyk, ‘n mens begin nie waar Paulus geëindig het nie.

Jy begin presies waar jy nou is.

En waarop konsentreer jy?

Wel, Paulus druk dit hier só uit: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

D.w.s. ons lewe moet al hoe meer in lyn kom met die boodskap van Christus.  In kort, ons lewens moet ooreenstem met die Bybel.  Nou, die interessante is, dat empiriese navorsing oor geestelike groei aandui – presies dít wat Paulus al aan die begin van ons jaartelling skrywe – dat gelowiges die Bybel as die mees kragtigste katalisator ervaar in hulle lewe, dié ding wat hulle lewens verander.

En hoe Paulus dit hier uitspel, is dat ‘n mens twee goed doen in geestelike groei, jy kyk na jou lewe en jy kyk na die Bybel en jy begin algaande die twee met mekaar in verband bring.  Dít is hoe jy geestelik groei.  Dit is hoe jy verander.  Jou lewenswandel kom in ooreenstemming met die boodskap van Christus.

Dit beteken – in jou stiltetyd lees jy die Bybel, jy dink na oor jou lewe, en jy laat toe dat die Bybelse visie, God se visie, want die Bybel is immers sy Woord, jou lewe verander.  In Bybelstudiegroepe lees jy die Bybel, dink na oor jou lewe, en laat die Bybelse visie jou lewe verander.  En ons doen dit in die erediens en ons doen dit in die kursusse wat ons aanbied.

Dit is die motivering agter die Didage aanbiedinge in die vierde kwartaal op Woensdae.  Didage beteken leer.  En dit is wat ons gaan doen, ons gaan leer hoe om ons lewens al hoe meer in ooreenstemming met die Bybel te bring:

  • Bybelskool – lees die eerste 5  boeke in die Bybel en dink na bv. oor hoe God met families in Genesis gewerk het, en probeer daaruit leer hoe om in ons eie families die Here te dien;
  • Bly in voeling – leer ‘n paar beproefde gewoontes aan om God se stem te kan onderskei en in voeling met God te kan bly;
  • Lectio Divina – leer baie spesifiek hoe om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering;
  • Alpha Huwelikskursus – leer saam met mekaar hoe ons huwelike in lyn kan bring met wat God oor die huwelik in die Bybel leer.

Dink ‘n bietjie eerlik oor jou lewe – stem jou lewe ooreen met dít wat die Bybel leer?  Het jy ‘n groeiende verhouding met die Here?  Lewe jy Christus-gesentreerd?

Oorweeg dan om in te skakel by ons Woensdagaand sessies.  Neem die volgende stap in jou geestelike reis.  En bring mense saam met jou, familie, vriende, kennisse, kleingroep lede, wie ook al.

LEWE AS VRIENDE

Want, en daarmee sluit ek af, die Christelike lewe is nie ‘n alleen reis nie.  Dit is bedoel vir vriende in die geloof.

Paulus het ‘n klomp goeie dinge om oor die Filippense te sê.  Hulle het van die begin af met hom saamgewerk. Hulle lê hom na aan die hart.  Op ‘n punt was hulle al gemeente wat hom finansieel bygestaan het (hfst. 4).

Maar daar was een ding wat hy wou hê dat hulle nog moes doen – en dit is dat hulle soos vriende eensgesind moes saamstry vir die Evangelie en saam moet leer wat die evangelie, die Bybelse boodskap, vir hulle lewens beteken.  Daarom versoek hy vir hulle om soos een mens saam te stry vir die geloof en praat hy oor “hulle” lewenswandel.

Paulus versoek hulle ook in die volgende hoofstuk in dieselfde “vriendskap”-taal om een in liefde, hart en strewe te wees (2:2-4).  En wanneer Paulus vir Euodia en Sintige in hfst.. 4:2 vermaan om eensgesind te wees, bedoel hy dat hulle weer soos vriende moet leef.

Geestelike groei is dus nie vir Paulus ’n individualistiese saak nie. Hy wil hê dat die gemeente as geestelike vriende sal lewe. Vir die Grieke was ware vriende immers een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe, en dit is hoe Paulus wil hê dat die gemeente moet lewe.

Kom ons stap só ‘n pad met mekaar in dié gemeente, die pad van gelowige vriende.

KINDERTYD

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde (Usain Bolt); die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi (Barbora Spotakova). En ons leer by die atlete: om nooit op te hou nie, om hard te probeer, om alles te gee.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat vir ons die meeste geleer het. Mense wat ‘n gebrek het, net een been, of net een arm, of blind en dan die beste doen met wat hulle het. En dit lyk mos asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese maats die Spele geniet.

Een van die grootste atlete daar was ‘n Suid-Afrikaner, wat eers by die Olimpiese Spele geswem het en toe ook by die Paralimpiese Spele, Natalie du Toit, en vyf goue medaljes gewen het.

Maar ek wil vir julle vandag vertel van hierdie meisie.

Het julle al vir haar gesien?

Haar naam is Shireen Shapiro.

Toe sy sewentien jaar oud was het ‘n vreeslike ongeluk haar getref.  Sy was ‘n goeie swemmer. Haar droom was om by die Olimpiese Spele deel te neem. Maar toe ry ‘n motorboot bo-oor haar, en die skroewe skeur haar liggaam uitmekaar.

En sy was baie hartseer, en wou haar droom om op die Olimpiese Spele te swem, laat vaar. En toe kom kuier Natalie du Toit vir haar.  En sy praat vir Shireen moed in.  En Shireen besluit sy gaan tog weer swem en begin oefen om in die Paralimpiese Spele te swem.

En daar wen sy en stel boonop ’n wêreldrekord op in die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas).  Sy het die beste gemaak van wat sy gehad het!

Nou die Bybel vertel ons van die apostel Paulus.

Een keer is hy in die tronk gegooi, omdat die mense nie wou hê hy moes vir ander van Jesus vertel nie.

En die tronk was ‘n baie slegte plek.

En wat dink julle doen hy?  Gee hy moed op?

Nee, hy besluit, ek kan mos nog skryf.  En hy skryf ‘n brief vir die mense in Filippi.  Dit is ‘n dorpie in Griekeland.  En hy sê vir hulle, julle moet onthou om alles te doen wat Jesus vir julle vra.  En julle moet onthou om lief te wees vir mekaar. En julle moet onthou om met ‘n glimlag te lewe.  Hoekom?  Want die Here is lief vir julle.

En dan sê hy vir hulle: as mense nie glo wat julle sê nie, moenie moedeloos word nie, moenie vir hulle skrik nie, maar hou by wat julle geleer het.

En so maak Paulus die beste met wat hy het, en hy moedig die mense van Filippi ook aan om die beste te maak met wat hulle het.

SKRIFLESING

Drie tekse uit Filippense vir die volgende drie weke.

Filippi was ’n kleinerige stadjie in die Noordoostelike deel van Masedonië (vandag Griekeland) waar talle Romeinse soldate afgetree het (Hand 16:12).  In ruil vir landbougrond het die veterane gehelp om die belangrike via Egnatia  – die pad tussen Europa en Asië – te beveilig.  Dit het ook gekeer dat Rome oorbevolk word met afgetrede soldate wat niks het om te doen nie. 

Filippense 1:20-30

20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.